Agste Sondag van Konikrykstyd

Sections

Oorsig

Die fokus val op ’n Christelike lewe wat die kern van die wet uitleef deurdat liefde vir God en liefde aan  medemense niemand uitsluit nie, maar al jou kosbaarhede insluit as middele waarmee jy moet lief hê. So laat ons sy koninkryk kom. Die ander tekste ontbloot genadeloos sondes van skelm selfbelang. Die teks in Kolossense beloon en bemoedig ’n leefstyl tot eer van God; wat vol goeie werke is; God beter leer ken; geduldig volhard en met blydskap gedurigdeur God dank. Vandag se erediens kan met groot gemak die verwoestende gevaar uitlig waarmee selfbelang die skoonheid van opregte liefde verkruppel.

Ander tekste

Amos 7:7-17
Die derde gesig: ’n Skietlood
7Hy het my ’n gesig laat sien: Die Here het by ’n loodregte muur gestaan, en daar was ’n skietlood in sy hand. 8Hy het vir my gevra: Wat sien jy, Amos? en ek het gesê: “’n Skietlood.”
Toe sê die Here vir my:
Ek gaan ’n skietlood aanlê
in my volk Israel,
Ek gaan hom nie meer spaar nie.
9Die hoogtes van Isak sal verwoes word,
die heiligdomme van Israel
sal in puin gelê word,
en Ek sal met die swaard optree
teen die koningshuis van Jerobeam.

Amos en Amasia
10Die priester Amasia van Bet-El het vir koning Jerobeam van Israel laat weet: “Amos is besig om hier in Israel ’n komplot teen u te smee. Die land kan dit nie uithou met alles wat hy sê nie. 11Amos het gesê Jerobeam sal deur die swaard sterf, en Israel sal uit sy land in ballingskap weggevoer word.”

12Amasia het vir Amos gesê: “Maak dat jy wegkom, siener, gaan na Juda toe en verdien jou brood daar, tree daar as profeet op! 13In Bet-El mag jy nie meer as profeet optree nie, want dit is die koninklike heiligdom, die staatstempel.”

14Amos het toe vir Amasia geantwoord: “Ek is nie so ’n profeet nie en ek behoort nie tot die profetekring nie, ek boer met vee en kweek wildevye. 15Maar die Here het my agter die kleinvee weggevat en Hy het vir my gesê: Gaan tree as profeet op teen my volk Israel.

16“Hoor dan nou die woord van die Here! Jy sê ek moenie as profeet optree teen Israel nie, ek mag nie as siener teen die nageslag van Isak praat nie. 17Maar so sê die Here:
Jou vrou sal ’n prostituut word
in die stad,
jou seuns en jou dogters sal
met die swaard afgemaai word,
jou grond sal tussen ander verdeel word,
jy sal in ’n onrein land sterf,
en Israel sal in ballingskap
weggevoer word uit sy land uit.”

Psalm 82
God beskik oor al die nasies
82 ’n Psalm van Asaf.
In die hemelse vergadering,
tussen die hemelwesens,
staan God op om uitspraak te lewer:
2“Hoe lank gaan julle nog
onregverdige beslissings vel,
nog partydig wees vir die goddelose?
3Julle moet reg laat geskied
aan die mens in nood
en aan die weeskind,
’n regverdige uitspraak vir die hulpelose
en die behoeftige lewer,
4julle moet die mens in nood
en die arme bevry,
hulle uit die mag van die goddelose red;
5maar julle weet niks,
julle verstaan niks,
julle gaan eenvoudig in duisternis voort,
en so word die fondamente
van die wêreld geskud.
6Ek het wel gesê:
Julle is almal gode,
almal met mag beklee.
7Maar nou, julle sal elkeen sterwe
soos ’n mens
en aan julle einde kom
soos enige maghebber.”
8Kom tog, o God! Lewer uitspraak
oor die wêreld,
want al die nasies
behoort aan U.

Kolossense 1:1-14
1 Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en van die broer Timoteus.

2Aan almal in Kolosse wat aan God behoort, getroue broers in Christus.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader!

Ons dank God vir julle
3Wanneer ons tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus, bid, dank ons Hom altyd vir julle 4omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges. 5Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is. 6Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is. 7Julle is daarin onderrig deur Epafras, ons geliefde medewerker en ’n getroue dienaar van Christus in julle belang. 8Dit is ook hy wat ons vertel het van die liefde wat deur die Gees in julle gewek is.

Ons bid vir julle
9Daarom, van die dag af dat ons dit van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, 10sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. 11Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. 12Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. 13Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. 14Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes.

Fokusteks

Lukas 10:25-37
Die barmhartige Samaritaan

(Matt 22:34–40; Mark 12:28–34)
25Daar was ’n wetgeleerde wat aan Jesus ’n strikvraag wou stel. Hy staan toe op en vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

26Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?”

27Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.”

28“Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal die lewe verkry.”

29Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: “En wie is my naaste?”

30Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe ’n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. 31Dit gebeur toe dat daar ’n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. 32Net so het daar ook ’n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby. 33Maar ’n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. 34Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind. Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na ’n herberg toe geneem en hom daar verder versorg. 35Die volgende dag haal hy twee muntstukke uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê: ‘Sorg vir hom, en as jy meer onkoste met hom het, sal ek jou betaal wanneer ek hierlangs terugkom.’

36“Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?”

37Die wetgeleerde antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het.”

Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Vooraf
Wys die “Show Mercy Loop

Toetrede 
Lied 526 Ubi Caritas
Wys steeds/weer die Show Mercy loop terwyl julle ding.  Jy kan ook ‘n mooi verwerking van Ubi Caritas speel terwyl lidmate na die video kyk, soos die en deur Connie Dover:

Votum
Liturg:
Die Here slaan ag op die armes.
Hy wag nie dat ons eerste roep
Voordat hy ons red nie.

Gemeente:
Terwyl ons nog verlore was in ons gebrokenheid en sonde
Het God na ons gekom
Tussen ons gewoon
Ons dood gestef
En opgestaan
Om ons die lewe in te lei.

Daarom kom ons in aanbidding saam,
Om vir God ons toewyding en liefde,
Ons danksegging en lof te gee,

Want God is waardig.
Loof die Here.
(N.a.v. Litrugy of Compassion by sacredise.com)

Seëngroet
(Trinitariese seëngroet)

Lofsang
Lied 334 “God is Liefde!” juig ons harte
VONKK 42 “Jubilate! Loof Die Here!”
F144. “God Is Liefde”

Wet: Heidelbergse Kategismus 4:
Liturg:  Wat eis die wet van God van ons?
Gemeente: Jy moet die Here jou God liefhê met jou  hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod. En die tweede wat hiermee gelyk staan: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. Aan hierdie twee gebooie hang die hele wet en die profete.

VONKK 57 “Ek Gee Aan Julle ‘n Nuwe Gebod “

Skuldbelydenis
Barmhartige Christus,
U het u liefde vir ons gewys in genesing,  vergifnis en geregtigheid,
deur uself te gee aan ons en vir ons,  in u lewe en opstanding.
Tog is ons stadig om te vergewe en te dien.  Ons wil eers ons eie behoeftes bevredig hê, voordat ons na ander omsien.    Ons gee nie van onsself nie, maar kies om eerder ons veiligheid, gemak en voorregte te behou.
Vergewe ons.  Genees ons.  Leer ons om lewens van medelye en barmhartigheid te leef, in navolging van U voorbeeld.
(N.a.v. Litrugy of Compassion by sacredise.com)

Genadeverkondiging: Kolossense 1:3-5, 9-14

Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 42 “Jubilate! Loof Die Here!”
Psalm 100
Teks: Jubilate, everybody – Fred Dunn 1977; Afrikaanse teks: Jacques Louw 2009 ©
Musiek: Fred Dunn 1977
Kantoryverwerking: Marcha Geyer 2007 ©
© 1977, 1980 Thankyou Music (Admin CopyCare SA). Met toestemming gebruik.
RUBRIEK: Kontemporêr – Lofprysing

Jubilate! Loof die Here,
almal op die hele aarde kom
en dien die Here met gejubel,
kom voor Hom en prys sy heil’ge Naam.
Gaan sy tempel in met vreugde,
juig en sing, kom dank die Heer,
want aan sy liefde is geen einde.
Loof die Here, almal saam.

VONKK 57 “Ek Gee Aan Julle ‘n Nuwe Gebod”
Johannes 13:34-35
Teks: A new commandment I give unto you  – Roy Crabtree; Afrikaanse teks:  Daleen Kruger 2008 (Pro Deo)
Melodie: NEW COMMANDMENT – Roy Crabtree
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2009 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: Andy Silver
Kantoryverwerking: Albert Troskie 2011 (Pro Deo)
© Melodie en klavierbegeleiding: Roy Crabtree
© Afrikaanse teks, orrelbegeleiding en kantoryverwerking:  2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Die Wil van God / Liefde, Dankbaarheid en Diens

Ek gee aan julle ‘n nuwe gebod
om soos Ek julle liefhet, mekaar lief te hê,
om soos Ek julle liefhet, mekaar lief te hê.
Want so sien alle mense wie is my dissipels:
deur liefde wat jul vir mekaar het.
Want so sien alle mense wie is my dissipels:
deur liefde wat jul vir mekaar het.

VONKK 158 “Ons Wy Onsself Aan Christus Toe”
Teks: Jacques Louw 2011 ©
Melodie: ELLACOMBE – Wurtemberg 1784; Mainz 1833
Orrelbegeleiding:  Tradisioneel
© Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin BybelMedia)
© Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Liefde, Dankbaarheid en Diens / Barmhartigheid en Getuienis

1. Ons wy onsself aan Christus toe,
aan Hom, ons Redder, Heer.
Laat Hy ons lof en eer ontvang,
die Koning wat regeer.
Hy het ons met sy bloed gekoop
en maak van ons sy kerk.
Ons wil Hom met ons gawes dien,
met blydskap vir Hom werk.

2. Sy liefde, so oneindig groot,
laat ons eerbiedig juig.
Dit dring ons na die wêreld toe,
waar ons sal moet getuig.
Laat ons, gehoorsaam aan sy Woord,
ook dáár betrokke raak,
met omgee en deur diensbaarheid,
sy liefde sigbaar maak.

3. Kom open U ons oë, Heer,
vir ander in hul nood.
Maak ons, soos U, barmhartig, Heer,
waar mense vra om brood.
Maar laat ons tog dié nood besef,
wat in hul harte leef.
Deur U alleen, die Middelaar,
word sondeskuld vergeef.

F41. “Beeld Van God”
(RUBRIEK: Jeuglied/Flammikidz – Lof)
Teks en musiek: Braam Hanekom
© 1998 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

1. Jou lewe is ’n lofgedig, geskryf tot Sy eer.
Sorgvuldig elke woord gekies, soos die reënboog se kleur.
Jy’s beplan in die hemel, verteenwoordiger van God.
Sorgvuldig aan mekaar geweef om te leef met een gebod.
Refrein:
Mag jy omgee en liefhê en so sy beeld uitdra
in ’n wêreld wat verward is en na ware liefde vra.
Mag jy omgee en liefhê en so sy Naam vereer
by almal wat op soek is na die antwoord op hul seer.

2. Jy’s gebore in die wêreld, maar gemaak vir ’n paradys,
om te lag en te lewe, soos ’n prins in ’n paleis.
So waarom dan die sonde waaraan jy so bly klou,
wat steeds Sy beeld vernietig en jou vreugde stukkend kou?

Refrein:

3. Onthou, jy’s ’n beeld van God wat kan skitter soos kristal,
om die wêreld te herinner daar’s ’n God in die heelal.
Kom dan nou en vat sy hand en leef soos sy kind,
wat Hy self gemaak het, en jy sal vreugde vind.

Refrein:

F144. “God Is Liefde” 
(RUBRIEK: Flam – Kersfees / Epifanie, lof)
Musiek: Retief Burger
Teks: Attie van der Colf © NG Kerk Uitgewers
© 2005 Urial Publishing
(1 Joh 4:7-21, Rom 5:1-11, Joh 3:16)

God is liefde,
juig ons harte en bedink wat Liefde doen.
Dat Hy ons sy Seun gestuur het
om ons sonde te versoen.

Hy wat eerste liefgehad het,
het in Liefde ons vergeef,
nou kan ons uit God gebore
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef,
uit die bron van liefde leef.

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Lukas 10:25-37

Gebruik die “Show Mercy” video as Skriflesing.  So-nie kan jy dit aan die einde van die preek gebruik vir refleksie.

Jy kan natuurlik ook, as jy diens ‘n meer informele atmosfeer het, kinders vra om die teks op te voer terwyl iemand te lees.

Familie-oomblik

Vertel gewoon die verhaal!

Druk die 10 Gebooie op 10 verskillende papiere.  Lees die opsomming van die wet en vra die gemeente (of net die kinders) om jou te help om dit te rangskik in twee hopies:  een liefde vir God en die ander liefde vir jou naaste.

Laat die kinders (en gemeente) idees noem van manier waarop ’n mens liefde kan betoon.  As jy lekker kreatief wil raak, laat kinders hul hande in verf druk en dan op papier.  Skryf in elke hand iets wat ’n mens kan doen.

Kinders is mal oor pleisters.  Jy kan pleisters uitdeel om hulle te herinner aan die gelykenis en hulle eie roeping om soos die barmhartige Samaritaan te wees.  Daag die kinders uit om nie die pleisters op hulleself te plak nie, maar vier iemand anders te gee wat seer het.

Preekriglyn

“Ek neem ‘n hoë dosis medikasie elke dag van my lewe. Dit doen ek sedert my laaste ernstige ervaring van uitbranding vyf jaar gelede. Die lewe verloor sy sin vir my. Ek verloor my empatie met my medemens. Ek huiwer op die grens van self-benadeling. Sonder medikasie is dit onmoontlik om te lewe.”

“My verlies aan sin en betekenis hou verband met die tipe werk wat ek doen. Dit moet niemand verbaas dat hulpverleners – diegene in die voorste linie van dienslewering aan ander in nood – sélf dikwels met die grootste emosionele stryd worstel nie,” sê Caleb Wilde, ‘n begrafnisondernemer uit die VSA.

“As begrafnisondernemer sien ek rou, hartseer, depressie, angs en die gevolge van trauma elke dag van my lewe. Ek is elke dag op roep, ek moet gereed staan wanneer dood en verlies opduik, 24/7. Op dertig jarige ouderdom voel ek dikwels hoe die dood die lewe uit my dreineer.”

“Ek tree in die publiek professioneel op, ondersteunend en met omgee. Ander ondernemers ook. Agter hierdie optrede skuil daar egter in my beroep dikwels emosionele monsters en wrakke. Dit het met emosionele uitbranding, ‘n gebrek aan voortdurende empatie, en die ontmensliking wat die dood meebring, te doen.”

Volgens Caleb, wat gereeld blog by www.calebwilde.com, Confessions of a Funeral Director, het hy hulp nodig. Daarom soek hy hulp by mense wat kan help. Hy het geleer om sy menslikheid en sy gebrokenheid te omhels – sodat hy troos en krag kan vind. Om hulp te verleen, het egter enorme innerlike konflik en stryd gebring.

Grafika: Grandma’s coffin, eiendom van Justin Mclean, foto geneem op 22 April 2006. Kopiereg gereël deur Creative Commons wat plasing en redigering toelaat.

Die harteloosheid van goeie mense

Wat sit agter die hardvogtigheid waarmee goeie mense dikwels optree? Daar is soveel faktore in Caleb Wilde se lewe dat mens nie te vinnig oor hom gevolgtrekkings moet maak nie.

in ons teksgedeelte het ons ook met goeie mense te doen, mense wat harteloos optree. ‘n Man reis van Jerusalem na Jerigo. Dit is bergagtige terrein met ‘n paadjie wat swaai en draai, tussen klowe, oor hoogtes en deur dieptes heen. In hierdie onherbergsame terrein het baie rowers skuil gehou. Hulle val die man aan, trek hom kaal uit, vat sy besittings, slaan hom en los hom halfdood langs die pad.

Sowaar: daar kom ‘n priester verby. Hy sien die man, maar ignoreer wat hy sien. Hy gaan ver langs verby. Net so kom daar ‘n Leviet by die plek, sien die slagoffer, en gaan ver langs verby.

Die priesters en Leviete was gesiene godsdienstiges. Die priesters het tussen God en mens bemiddel. Hulle het diensbeurte in die tempel waar geneem. Die Leviete was medeverantwoordelik vir die bediening in die tempel, waaronder die musiek.

Hoe is dit moontlik dat godsdienstige mense, ons kan eintlik sê professioneel-godsdienstige mense, wél sien, en tog hulle oë, harte, en hande sluit en doelbewus verbygaan? Waarom is daar nie meelewing, jammerte, sorg by hulle nie? Watter faktore is hier aan die werk?

Eie veiligheid: Kon die priester en Leviet dalk vrees vir hul eie veiligheid? Dalk was die rowers nog in die omgewing? Dalk was die bebloede man die lokaas wat enigeen wat stop die slagoffer van die eintlike rooftog sou maak? Dan is dit beter en maak dat jy wegkom.

‘n Druk program: Kan dit wees dat die priester en Leviet dalk afsprake in Jerusalem gehad het? Was hulle haastig op pad om offerdiens te gaan verrig, en geweet het hulle mag nie laat kom in die tempel nie? Het die gemeente dalk op hulle in die tempel gewag? Moontlik was hul godsdienstige verpligtinge in die tempelritueel belangriker as ‘n gewonde man wat deur die volgende reisiger gehelp sou kon word.

Sosiale aanvaarbaarheid: Kan dit wees dat die man dalk dood gelyk het? As die priester en Leviet aan hom geraak het, was hulle ritueel ontrein, en moes dan deur ingewikkelde prosesse gaan om weer gereinig te word? Sou die priester en Leviet dalk self vuil en besmet gevoel het deur aan ‘n moontlike dooie te raak?

Afstomping: Die pad tussen Jerusalem en Jerigo was gevaarlik, en bekend vir rowers wat in die diep klowe en spelonke skuil gehou het. Dalk was ‘n rooftog en ‘n bebloede slagoffer nie ‘n buitengewone gesig nie. Afstomping en apatie maak dit dan maklik om maar liewer verby te hou en met jou lewe aan te gaan.

Uitbranding: Was die priester en Leviet dalk ooreis, oor te ‘n lang tyd aan te veel menslike nood blootgestel? Was hulle dalk soos ons begrafnisondernemer, Caleb Wilde, wat net nog belangstelling kon veins voor ander mense. Alleen, langs die pad, met net jouself en ‘n noodlydende, kon jy amper nie anders as om ver anderkant verby te gaan nie. Die energie om betrokke te raak, het weens hulp-uitbranding ontbreek.

Verblinding

Jesus meld elke keer dat die priester en Leviet die man sien, maar nie reageer nie. Om een of ander rede lei sien nie tot gepaste aksie nie. Hulle sien, maar die innerlike konneksie tussen die data wat hulle oogsenuwees in die brein vaslê, en medelye wat oorgaan tot hulp, ondersteuning en versorging, bly in die slag.

Dit gebeur ook met ons vandag. In ‘n onlangse rubriek sê Dana Snyman armoede is oral om ons te sien, as mens dit net wíl sien. Die probleem is ons sien dit sonder om te weet wat ons sien. Daar is nie ‘n innerlike alarmpie wat afgaan en mens se hart en hand in beweging bring as jy die armoede sien nie.

Dis asof jy blind is en nie weet wat jy sien nie. Waarom sien ons sonder om te weet wat ons sien?

  • Is dit onveilig om met armes te meng en iets te probeer doen? Sal mens self beroof word as jy hulle terrein betree?
  • Is daar nie tyd nie – die lewe gaan voort, die rat race is volstoom aan die gang, en ander, belangrike take wag?
  • Wat gaan die mense sê as ons met die armes meng? Gaan ons nog sosiaal aanvaarbaar wees in ons eie groep?
  • Is ons so gewoond aan armoede, so gewoond dat ons kindertjies op ‘n koue môre net met dun hempies en kort broekies sien loop, en tog nie reageer op wat ons sien nie?

Ons moet ons teks toelaat om ons te help met die konneksie tussen oogsenuwee, hart en hand.

Die verstommende uitsondering

Die barmhartige Samaritaan is die uitsondering op die reël. Die Samaritaan is op reis, kom op die slagoffer af, en reageer op sy nood: “Toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry.”

Die Samaritaan se hart kom in beweging op grond van wat hy sien. Hy kry die halfdood man jammer. Dit lei tot ‘n verstommende aantal aksies:

  • Hy skort sy program op, want hy hou stil en gaan na die slagoffer toe;
  • Hy behandel sy wonde met olie en wyn, en verbind hulle. (Sommige mense sê die Samaritaan was waarskynlik ‘n handelaar in olie en wyn, daarom het hy hierdie voorrade om die man te help.)
  • Hy laai die man op sy rydier, en neem hom na ‘n herberg toe, waar hy hom verder versorg.
  • Die volgende oggend maak hy sy beursie oop en tref reëlings vir die slagoffer se verdere versorging.

Merkwaardig genoeg het die Samaritaan voldoende rede gehad om anderpad te kyk en bloot verby te gaan. In Woord en Fees word die verhouding tussen Jode en Samaritane as volg beskryf:

Die Jode en die Samaritane het mekaar verag. Die Samaritane was ’n afsonderlike etnies-religieuse groep wat hulleself as vyande van die Jode beskou het, met ’n eie Pentateug en tempel op die berg Gerisim. Hulle is deur die Jode as “basters”, oneg, on-joods en onaanvaarbaar afgemaak. Met die terugkeer uit die Babiloniese ballingskap het Kores instemming verleen dat die tempel in Jerusalem herbou word. Die Samaritane het hulle hulp aangebied, maar dis van die hand gewys, omdat hulle “oneg” was. As gevolg hiervan was daar grootskaalse konflik omdat die Samaritane die bouwerk verhinder het (Esra 4:4). Die oprigting van hulle eie tempel te Gerisim het egter ’n finale breuk tussen Jode en Samaritane veroorsaak en die situasie het algaande versleg. Tydens die hewige vervolging deur Antiochus IV Epifanus (2de eeu v.C.) het die Samaritane hul verwantskap met die Jode ontken en vervolging vrygespring. Die Romeine het sekere Samaritaanse stede help herbou en so die guns van die Samaritane gewen. Dit is voor die hand liggend dat Joodse luisteraars na Jesus se gelykenis baie moeilik daaraan sou kon sluk dat dit juis ’n Samaritaan is (sien ook die posisie van beklemtoning in die Griekse teks) wat doen wat die priester en Leviet nie gedoen het nie!

Gegewe die eeue-oue vyandskap tussen Jood en Samaritaan, met die Jode wat neergesien het op die Samaritane, sou mens verwag hy kon dink die beste Jood is ‘n halfdood Jood. Bowendien was die Samaritaan nou op Joodse grondgebied, terwyl hy die Jood onrein sou maak deur bloot aan hom te vat om sy wonde te versorg.

Mens kan jou net die verontwaardiging van Jesus se luisteraars indink by die aanhoor van hierdie gelykenis. Die hooffiguur in die gelykenis is die Samaritaan. Hy was ‘n veragte, ‘n buitestaander, ‘n vyand. Teen alle verwagting in raak hy betrokke. Hy snel die Joodse noodlydende tegemoet, tree daarmee oor ‘n wye, diep kloof van bitter vyandskap, en doen die verstommende ding: hy help.

Om regtig te sien

Die Samaritaan tree anders as die priester en Leviet op. Hy neem aksie. Daar gebeur iets positiefs tussen sy oë en sy hart. Sy brein is reg gekonnekteer. Wat maak die verskil by die Samaritaan?

  • Die Samaritaan sien anders – hy kry dit reg om ‘n medemens raak te sien, en nie ‘n probleem, ‘n vyand, ‘n veragte, ‘n opponent nie.
  • Die Samaritaan kry dit reg om sy vooroordele op te skort. Hy suspendeer al sy oortuigings oor hoe die verhoudinge tussen Jode en Samaritane behoort te werk, hy skuif dit uit die pad, ignoreer dit, gaan daarby verby, en help ‘n medemens.
  • Hy kry dit reg om tyd te maak. Hoe haastig hy ook al was, skort die Samaritaan sy program vir die dag op. Hy trek ‘n streep deur sy te doen-lysie vir die dag, staak alles, en help sy medemens.
Jesus se wil vir ons lewe

Daarmee illustreer die Samaritaan Jesus se bedoeling oor hoe ons moet lewe.

In ons teks is Jesus in gesprek met ‘n wetgeleerde. Die wetgeleerde vra: Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry? Jesus vra hom uit oor die wet, en hy antwoord die wet sê jy moet die Here jou God en jou naaste liefhê. Waarop Jesus sê: doen dit, en jy sal die lewe verkry.

Die gelykenis van die barmhartige Samaritaan illustreer hoe wetsonderhouding lyk. Die priester en Leviet sou hulle op liefde vir God kon beroep, maar hulle optrede getuig nie van naasteliefde nie. Daarmee sluit hulle hulself van die lewe uit.

Die wetgeleerde met wie Jesus gesels, wil hom egter handhaaf. As mens jou naaste moet liefhê, is die vraag sekerlik: wie is jou naaste? Agter die vraag sit die veronderstelling glashelder: almal kan tog nie jou naaste wees nie. Dalk sou die wetgeleerde spesifiek Samaritane wou uitsluit as naastes.

Die gelykenis is Jesus se kommentaar op die vraag. Nadat hy die gelykenis vertel het, draai Jesus die wetgeleerde se vraag om. Die vraag is nie “wie is my naaste” nie. Die vraag is: Vir wie is ek ‘n naaste?”

Wanneer ek vra: “Wie is my naaste?”, hanteer ek my naaste as ‘n objek van my liefde. Ek bly in beheer, en kan besluit wie vir my liefde en diens kwalifiseer. Wanneer ek soos Jesus vra, “Vir wie is ek ‘n naaste?”, kom ekself, my liefde in die kollig. Die vraag is of ek die liefde het, die geestelike daadkrag om ‘n naaste te wees.

Ewige lewe verbind aan liefdesbetoon

Dit is belangrik om die verband tussen naastediens en die ewige lewe in ons teks raak te sien. Die vraag is hoe mens die ewige lewe verkry. Die antwoord is jy moet die Here liefhê, en ook jou naaste. Mens het jou naaste lief wanneer jy altyd bereid is om ‘n naaste te wees vir die mense met wie jou lewenspad kruis.

Wie so lewe, verkry die ewige lewe.

Vir Protestante mag hierdie lering van Jesus moeilik wees om te hoor. Ons verbind ons verlossing aan God wat na ons toe uitreik in liefde, en die ewige lewe aan ons skenk. Ons omhels hierdie geskenk bloot met die leë hande van geloof. Dan het ons die ewige lewe. Ons is vir die ewigheid uitgesorteer.

Protestante loop die gevaar om Jesus se aandrang dat geloof sonder dade dood is (om Jakobus aan te haal) te onderskat. In hierdie teks is dit duidelik: niemand wat nie liefhet nie, kry die ewige lewe nie.

Ons leef met soveel alibi’s: daar is altyd mense wat, meen ons, om een of ander redes nie kwalifiseer vir ons liefde nie. Ons is vol stereotipes en verwerping van die ander. Jesus leer ons om ons voorveronderstellings, besige programme, eie veiligheid, en verblindinge te ontgroei, en te fokus op hoe ons ‘n naaste vir die mense rondom ons kan wees.

Moderne Samaritane

Dalk kan moderne samaritane ons help om meer effektief ‘n naaste te wees.

Op 22 Mei is ‘n Britse soldaat helder oordag wreedaardig in Londen vermoor. Terwyl sy aanvallers met bloedbesmeerde wapens en hande hul haat uitgespoeg het, spring Ingrid Loyau-Kennett van ‘n verbygaande bus af en haas haar na die toneel. Sy het eers gedink dit is ‘n ongeluk, maar toe besef wat aangaan., Sy reageer deur met die moordenaars te gesels om hulle te kalmeer. Haar motief was om te keer dat ander, veral kinders seerkry. CNN noem haar ‘n Londense Samaritaan en sê sy het in die tradisie van Oskar Schindler en Paul Rusesabagina (van Hotel Rwanda-faam) opgetree.

Wat het hierdie moderne Samaritane in gemeen? Volgens genoemde CNN-artikel het navorsing die volgende faktore geïdentifiseer:

  • Die moderne “Samaritane” maak doelbewus tyd om te help;
  • Wanneer mense verbonde aan die slagoffer gevoel het – die slagoffer is een van ‘n groep waarmee hul simpatie het, of hulle kon die slagoffer as medemens eien – tree hulle makliker hulpvaardig op;
  • Die “Samaritane” voel hulle beskik oor die vaardigheid of middele om te help;
  • Hulle het kennis van basiese eerstehulp;
  • Dit is mense wat bereid is om aksie te neem selfs al staan ander terug.
  • Alle mense het die potensiaal om ‘n “Samaritaan” te wees.

Hoe interessant ook al, lê die motivering vir Christene dieper. Ons is navolgers van Jesus van Nasaret, die Groot Barmhartige. Daarom maak ons erns met sy leer. Daar beoefen ons geestelike dissiplines, soos Bybellees, bid, die oorsteek van grense na ander, nederige diens, selfopoffering, en voete was. Ons laat God toe om deur Woord en Gees ons te oefen en te brei om vir die ander se belange te kies.

Soos Woord en Fees dit stel: Die gelykenis sluit ten nouste aan by die boodskap van Jesus oor die koninkryk van God. Vanuit die perspektief van die koninkryk van God kan die lewe anders daar uitsien en kan mense anders begin dink en doen. Om iemand se naaste te word, is soos wanneer die Samaritaan hom “inwerp” by die ellende en nood van ’n mens wat hy nie eens geken het nie. Dis eers wanneer ’n mens die liefde vir God en die mens vanuit die perspektief van Jesus sien, dat jy soos die barmhartige Samaritaan kan wees vir iemand in nood. Geloof word geleef!

Navolgers van Jesus vra nie of iemand hulle naaste is nie, hulle word die naaste vir enigiemand wat in nood verkeer, sonder aansiens des persoons. Hulle sien die nood van mense raak, word daardeur aangegryp en op grond daarvan raak hulle betrokke by veragtes, minderbevoorregtes, behoeftiges, die wat troos soek, werkloses en diegene wat op soek is na hoop. Hierdie betrokkenheid by die nood van mense is nooit beperk tot die eie kring nie, dit gaan oor grense van geloof, ras, status en stand. Christene kan gee omdat hulle reeds ontvang het!

Op die manier bly ons moderne Samaritane in talle dade van nederige diensbaarheid.

God stuur ons om te leef

Toewyding
Gee geleentheid dat lidmate nadink oor die vraag wie ons naaste is en na wie die Here ons stuur.  Wys weer die “Show Mercy” video.

Voorbidding
As die gemeente bereid is om hardop te bid tydens ‘n erediens, kan jy kans gee vir popcorn gebede – laat lidmate net die woord noem van diegene vir wie hulle bid, bv. “armes; oorlewendes van misdaad;  mense wat leef met  MIV en Vigs” ens.

Dankoffer
Wys die “Show Mercy Loop”en speel ‘n verwerking van Ubi Caritas terwyl die dankoffer opgeneem word.

Slotsang
Lied 530 “Praat ek mense-, eng’letale”
VONKK 158 “Ons Wy Onsself Aan Christus Toe”
F41. “Beeld Van God 

Wegsending
“Gaan maak jy ook so.”

Respons
Lied 533 “Stuur ons, Here”

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.