Agste Sondag in Koninkrykstyd (Gelykenisse 3)

Picture of Woord en Fees

Agste Sondag in Koninkrykstyd (Gelykenisse 3)

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Matteus 13:31-33, 44-52
Ander tekste: Genesis 29:15-28; Psalm 105:1-11, 45b of Psalm 128;  Romeine 8:26-39

Inleiding

Al vandeesweek se tekste het te make met die langsame pad van groei en transformasie wat van gelowiges in hulle koninkrykslewe geverg word.

Genesis 29 vertel die verhaal van Jakob wat veertien jaar lank vir Laban moes werk om uiteindelik vir Ragel as vrou te kry. Psalm 128 vertel dat diegene wat die Here dien en sy wil doen die vrug van hulle arbeid sal geniet. Romeine 8 vertel dat die lewe van Christus deur die Gees in ons gevorm word, terwyl die gelykenis van die mosterdsaadjie en die suurdeeg in Matteus 13 vertel hoe die koninkrykslewe op geheimenisvolle wyse in ons gevorm word.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Doopherinnering
Die liturg nooi die kinders om rondom die doopbak te kom sit. Sy dompel haar hand sigbaar in die water, en terwyl sy die gebaar herhaal, sê sy die volgende:
Die waterdruppeltjies van die doop is soos die mosterdsaadjies waarvan Jesus gepraat het. ’n Klein mosterdsaadjie kan ’n baie groot boom word.
Die waterdruppeltjies van die doop is soos die koninkryk van God wat in ons geplant word. Al is die waterdruppeltjies baie klein, sê dit vir ons dat die volle lewe van Jesus Christus nou ook óns lewe is. Al wat ons moet doen, is om baie dankie te sê daarvoor. Daarna moet ons toelaat dat die lewe van die Here Jesus in ons groei. Sodat dit soos ’n groot boom van liefde sal word.

Diens van die Woord

Vryspraak
Voorganger: Wie kan die uitverkorenes van God aankla?
Gemeente: God self spreek hulle vry.

Voorganger: Wie kan ons veroordeel?
Christus Jesus het gesterf.
Gemeente: Hy is uit die dood opgewek.

Voorganger: Hy sit aan die regterhand van God.
Gemeente: Hy pleit vir ons.

Voorganger: Wie kan ons van die liefde van Christus skei?
Gemeente: Niks kan ons van die liefde van God in
Christus skei nie!

Voorganger: Geen dood of lewe,
Gemeente: geen engele of magte,

Voorganger: geen teenswoordige of toekomstige dinge
of kragte of hoogte of diepte
Gemeente: of enigiets anders in die skepping

Voorganger: kan ons van die liefde van God in Christus skei nie.
Gemeente: Ons is meer as oorwinnaars deur Hom wat
vir ons liefhet!

Diens van die tafel

Gebed voor die nagmaal
Voorganger: Ons weet nie wat en hoe ons moet bid nie,
Gemeente: maar die Gees help ons in ons swakheid.

Voorganger: Die Gees self pleit vir ons
Gemeente: met versugtinge wat nie met woorde gesê
kan word nie.

Voorganger: God, wat die harte deurgrond,
Gemeente: weet wat die bedoeling van die Gees is.

Voorganger: Die bedoeling van die Gees is dat ons
gelykvormig sal wees aan die beeld van
God se Seun, Jesus Christus.
Gemeente: Here, vorm ons lewe deur die brood en
die wyn om gelykvormig te wees aan die
beeld van u Seun, Jesus Christus.

Voorganger: Laat die brood en die wyn in ons groei
soos mosterdsaadjies, Here,
Gemeente: en laat die lewe van u Seun, Jesus
Christus, in ons gevorm word.

Almal: Amen.

Uitsending

Uitspreek van die seën
Geseënd hy wat handel
soos God wil en Hom vrees.
Wie op sy weë wandel,
sal gelukkig wees.
Jy word gevoed met goedheid,
jy wat die Here dien;
die opbrengs van jou arbeid,
dit sal jou oë sien.
Net soos die wynstok, vrugbaar
is in jou huis jou vrou;
soos jong olywe staan daar
jou kinders rondom jou.
So sal jou huis in bloei staan,
jy wat die Here dien.
Mag dit met jou so goed gaan
dat jy jou kindskind sien (uit Liedboek Ps 128).

Musiek en sang

Aanvangslied: Lied 164 “Ons is almal hier tesaam”; NSG 351
Lofsang: Lied 205 “Bring lof aan die Vader”; NSG 45; Lied 215 “Besing die lof van Jesus saam”; NSG 130
By die opening van die Woord: Lied 255 “Woord van God, Woord van die lewe”; NSG 334
Vryspraak: Lied 345 “Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het”; NSG 81
Verootmoediging: Lied 286 “Here God van liefde”; Flam 8 “Al die lof, aanbidding en ere”
Slotsang: Lied 168 “Heilige Jesus”; NSG 160; Flam 20 “U is die Lig”

Preekstudie: Matteus 13:31-33, 44-52

Inleiding

Matteus 13:44-53 vorm die afsluiting van Jesus se derde groot preek (13:1-53). Dit kan in drie dele verdeel word: 13:44-46; 13:47-50 en; 13:51-53. Die afgebakende Skrifdeel bevat ’n versameling van 5 of 6 gelykenisse (ses as vers 51-52 as ’n gelykenis gesien word) wat oor die koninkryk van die hemel handel. Die koninkryk word nie in sistematiese orde beskryf nie. Dit is eerder ’n paar foto’s vanuit verskillende hoeke geneem. Nie een foto is volledig nie. Elkeen dra ’n deel by om die koninkryk verder te beskryf. Elke gelykenis bevat die woorde: “Die Koninkryk van die hemel is soos.” Matteus gebruik waarskynlik die benaming “Koninkryk van die hemel” uit respek vir die heiligheid van die Godsnaam.

Ons kan die versameling gelykenisse in pare indeel: die mosterdsaad (31-32) en die suurdeeg (33). Albei beklemtoon die skynbaar onbenullige begin van die koninkryk met ’n uiteindelike groot resultaat. Klem val op die groot krag van God se handelinge. Die twee gelykenisse word aan die skare gerig. Die tweede paar is die verborge skat (44) en die pêrel (45). Hulle het te doen met voorwerpe van baie groot waarde wat groot toewyding vra. Hierdie gelykenisse is aan die dissipels gerig. Die derde paar is die visnet (47-50) en die onkruid (24-30). Hierdie gelykenisse handel oor die huidige openheid van die koninkryk vir almal en die oordeel aan die einde, waar die goeie en die slegte geskei sal word.

Die breë prentjie van die evangelies wys duidelik dat die koninkryk beide teenwoordig en toekomstig (komende) is. Jesus se dissipels moes besef God se koninkryk sal eers ten volle in ons wêreld werklikheid word met Jesus se wederkoms.

Teks

Vers 31-33. Die Jode het die koninkryk van God en die koninkryk van Israel as dieselfde werklikheid gesien. Daarom is dit ’n groot verrassing wanneer Jesus die koninkryk van God met ’n mosterdsaadjie vergelyk. Dit verwys na Jesus se werkswyse. In Hom is die koninkryk van God in hierdie wêreld teenwoordig. Die dissipels het ’n andersoortige aanbreek van die koninkryk verwag. Albei gelykenisse kontrasteer die beskeie begin van die koninkryk met die enorme uiteinde daarvan.

Die mosterdsaad
“Saad van mosterdplant.” Die mosterdsaad is baie klein, maar nie noodwendig die kleinste saad nie. Die “klein” is eerder spreekwoordelik vir effek. Die saad was moontlik die kleinste van die bekende sade. Die uitdrukking “klein soos ’n mosterdsaad” is spreekwoordelik gebruik om iets baie klein te beskryf (bv geloof – 17:20).

“’n Boom.” Die mosterdplant is nie werklik ’n boom nie, maar kon wel so groot word soos een. Dit is ’n tegniek van oordrywing in populêre redevoering.

Die suurdeeg
Soos die mosterdsaad, is suurdeeg ook baie klein in vergelyking met die hoeveelheid deeg wat beïnvloed word. Die klem is weer op die klein maat wat gebruik word teenoor die groot potensiaal wat daarin versteek lê. Die woord vir suurdeeg kom van zeo wat “kook” beteken. Dit is om te gis of te fermenteer. Dit verwys na die vermoë om te beïnvloed of te deursuur. Die mense van Jesus se tyd het selde suiwer suurdeeg gehad soos ons vandag. Dit was heel waarskynlik ’n stuk ingesuurde deeg van die vorige baksel wat gehou is om die volgende baksel in te suur.

Die pêrel
In antieke tye het die pêrel ’n besondere plek in die mense se harte gehad. Mense het begeer om ’n pêrel te besit. Nie net vir die waarde daarvan nie, maar ook vir die skoonheid daarvan.
Hy gaan en verkoop” – dit beskryf ’n ywerige en doelgerigte daad.

“En wegsteek” – dit is nie noodwendig ’n slegte handeling nie. Iets kon weggesteek word om te verhoed dat dit gesteel word. Handelaars koop om te verkoop. Ons kry egter die indruk dat hierdie man nie weer wou verkoop nie, maar dat hy die kosbare besitting vir homself wou hou vir die vreugde van die besit daarvan.

Die visnet.
“’n Net” (treknet). Dit is die enigste plek in die Nuwe Testament waar hierdie woord voorkom. Net soos die saailand die hele wêreld is, vang die treknet al die visse wat in die see is.
“Alle soorte vis” – beide die goeie en die slegte of onbruikbare visse.
“[T]toe dit vol was” – verwys na die einde van die tyd.

“Gaan sit.” Die verdeling van die vangs is ’n stil en doelgerigte handeling. Die vermelding van die finale skeiding/oordeel herinner die hoorders en die lesers daaraan dat dissipelskap nie ’n speletjie of voorgee is nie, maar ’n saak van lewe en dood.

Skat, nuut en oud
“Het julle al die dinge verstaan?” Die woord “verstaan” is ’n belangrike begrip in die Lukasevangelie. Die saak word vroeg in die hoofstuk aangeraak (13:10-17). Die dissipels se besliste “ja” volg op die vraag. Die vrae wat Jesus vra veronderstel gewoonlik die bevestigende antwoord.

“Maak ’n dissipel vir die koninkryk van die hemel.” Hier word ’n skrifgeleerde ’n leerling in die koninkryk gemaak. Die dissipels se vrae en optrede vertel dat hulle nie werklik die gelykenis verstaan het nie. Op die oomblik was Jesus self besig om die funksie van die eienaar wat ou en nuwe skatte uit sy stoorkamer haal, te vervul.

Konteks

Jesus verklaar nie die gelykenis van die mosterdsaad nie. Hy verwys waarskynlik na sy volgelinge wat aanvanklik ’n klein groepie was en vinnig sal groei tot ’n groot getal. Die groep wat Hom volg kon gelowiges en ongelowiges ingesluit het – wat onder andere geteken word met die beeld van die voëls wat kom nesmaak in die takke.

Die spreekwoordelike kleinheid van die mosterdsaad wat as metafoor heenwys na die koninkryk van God, moes die skare geskok het. Dit kan tog nie wees nie. Israel het altyd geglo as God sy koninkryk op aarde vestig, sou dit groot en indrukwekkend wees. Hulle was glad nie voorbereid op die skynbaar onopsigtelike manier waarop die koninkryk nou in hulle wêreld aan die kom is nie. So ’n klein begin sou vir baie van die volgelinge en ook die teenstanders van Jesus rede gewees het om hierdie gedagte aan die koninkryk te minag.

Die struik wat uit die kleinste saadjie groei, is geweldig groot in vergelyking met die klein begin, maar Jesus het waarskynlik tong in die kies daarna verwys as ’n boom! ’n Mosterdplant word waarskynlik op die grootste 2 tot 4 meter hoog. Dit is glad nie vergelykbaar met die seders van die Libanon nie (soos Israel graag na hulleself verwys het).

Jesus wou nie hê die skynbaar onopsigtelike begin van die koninkryk moet sy dissipels laat moed verloor nie. Die beweging wat nou nog glad nie vir die wêreld indrukwekkend mag lyk nie, sal inderdaad al God se beloftes in die toekoms laat realiseer. ’n Koning wat in nederigheid werk (Matt 11:25-30) en op ’n donkie ry in plaas van ’n oorlogsperd (Matt 21-1-9), kan ’n koninkryk verteenwoordig waarvan ’n mosterdsaad in plaas van ’n reuse boom die simbool is.

Die gelykenis spreek ons aan oor ons idees oor werklike grootheid. Die beeld van die voëls wat kom nes maak in die groot plant, is ’n eskatologiese simbool uit die Ou Testament waar al die nasies tot rus kom in die takke van ’n boom; die koninkryk van God (vgl Dan 4:12; Eseg 17:23).

Sommige reken die suurdeeg simboliseer die bose wat teenwoordig is in die tussentyd voor die koms van die Koning. In die Bybel word suurdeeg dikwels gebruik om die bose te teken (vgl. Eks 12:15; Lev 2:11; 6:17; 10:12; Matt 16:6, 11-12; Mark 8:15; Luk 12:1; 1 Kor 5:7-8; Gal 5:8-9). Die taal van Jesus kan egter nie sommer so omgedraai word nie. Die duiwel word ook soms ’n leeu genoem (1 Pet 5:8) en Jesus word die Leeu van Juda genoem (Op 5:5).

Jesus draai waarskynlik doelbewus die algemene gedagte aan suurdeeg en die kwaad om. Hy wil opnuut die skare laat verstaan hoe die koninkryk van God werk en hoe dit in hierdie wêreld teenwoordig is. Jesus gebruik juis die suurdeeg en die werking daarvan om die positiewe en onverklaarbare werking van die koninkryk van die hemel in hierdie wêreld te teken/te verduidelik.

Die hoeveelheid meel waarvan hier sprake is, is ongeveer vyftig pond meel. Dit sal brood gee vir meer as honderd mense. ’n Huisvrou sou nooit soveel meel kon bewerk of knie nie. Die onnatuurlike hoeveelheid meel in die verhaal wys waarskynlik daarop dat die koninkryk veel meer is as dit wat normaalweg in die gedagte is as aan die koninkryk gedink word. Jesus leer die mense dat hulle nie mislei moet word deur die skynbaar nietige en amper onsigbare begin van die koninkryk in die wêreld nie. Die uiteinde sal aansienlik verskil. Die koninkryk van die hemel is inderdaad dinamies-groeiend, al is dit nie altyd sigbaar nie.

Die suurdeeg druk wel die gedagte van onsigbaarheid uit, maar dra ook die gedagte van verwondering oor die onstuitbare werking van die koninkryk. Soos die suurdeeg onsigbaar werk, maar uiteindelik alles deursuur, so is dit met die koninkryk van God. Dis ’n stille krag wat nie gestuit kan word nie en as gelowiges deel ons hierin. Ons word as ’t ware verstrengel met die wêreld sodat die effek daarvan almal kan raak. Dink ook aan die beeld van die dissipels as die sout vir die aarde (Matt 5:13).

Die gelykenis wil ’n belangrike begrip by ons tuisbring, naamlik die transformerende krag van die suurdeeg. Die suurdeeg verander die totale karakter van die meel waarmee dit gemeng word. Die gelykenis roep ons op tot betrokkenheid by die wêreld waarin ons bly en nie tot onttrekking uit die wêreld uit nie. Suurdeeg kan slegs werk as dit gemeng word met die deeg. Anders is dit totaal onbruikbaar. So gaan dit met die diens aan Jesus. Hy roep ons om die wêreld in te gaan, dissipels te maak en die mense te doop en te leer (Matt 28:19-20).

Die teenwoordigheid van die koninkryk van die hemel op hierdie aarde is nie baie opspraakwekkend nie. Wat kan meer onindrukwekkend wees as ’n baba in ’n krip, of die geringe Israel teenoor die magtige Romeinse ryk, of die Jood van Nasaret en die klompie vissermanne wat Hom volg, of die kruis? Wat kan minder aandag trek as ’n klein kerkie in ’n klein dorpie, of ’n tent met ’n grondvloer wat êrens staan, of ’n klompie woelige kinders in die Sondagskoolklas, of ’n jong seun wat vorentoe loop om sy lewe vir Jesus te gee, of ’n man en vrou wat in afsondering leef om die evangelie aan vreemdes te verkondig; ’n eenvoudige man wat Sondag na Sondag preek vir gewone mense wat bymekaarkom, of ’n glasie wyn en ’n stukkie brood wat gedeel word? Dit is soos die koninkryk van die hemele lyk! Wie weet van die krag wat daar verborge is in die gemeenskap?

Ons verwag die koninkryk in groot katedrale en megakerke, groot kore en groot orkeste. Die koninkryk van die hemel het nie met groot fanfare en trompetgeskal aangebreek en die goddelose met vuur verteer nie. Daar was ook nie groot tekens wat waargeneem kan word nie. Dit het gekom op ’n stil en verborge manier en sal verborge bly tot die einde toe. Die gelykenisse wil vertel dat werklike koninkrykskrag teenwoordig is in die nederigste plekke en by die onwaarskynlikste mense – in ’n koppie water aan ’n dors bedelaar, of ’n sopkombuis in die kelder van die kerk. Dit alles lyk na niks vir die mens nie, maar Jesus verseker ons dit is waar die koninkryk gestalte kry. Daar waar God se kinders werk – klein en onopvallend – is God deur sy Gees werksaam. Daar kom sy koninkryk! Die geskiedenis het dit bevestig. Die Romeinse ryk bestaan nog net in geskiedenisboeke en ruïnes, terwyl die lof van Jesus oor die wêreld heen besing word. In baie gevalle sal Christene slegs klein bewyse sien van die vordering en groei. In God se hande het elkeen van die klein en skynbaar betekenislose handelinge en optrede die potensiaal om groot en omvangryke resultate te hê.

Dit was algemeen in daardie tyd vir mense om hulle kosbare besittings te begrawe. Daar was nie banke of kluise om hulle geld of kosbaarhede veilig te hou nie. Klein dorpies is dikwels beroof deur rowers. Soldate was vry om te vat wat hulle nodig gehad het. Om kosbaar-hede te begrawe was dus die veiligste wegsteekplek. Ook daarin was egter geen waarborg dat dit wat jy begrawe, veilig is nie. Joodse rabbynse wette het in soveel woorde gesê: “Finders keepers.” Indien jy iets vind wat rondlê, is dit jou eiendom. In vandag se tyd kom goud en olie onmiddellik in die gedagte op.

Die gedagte wat hier beklemtoon word is die groot waarde van die koninkryk. Jesus praat hier met sy dissipels. Hulle is nou weg van die skare – in die huis (13:36). Die doel van die gelykenis is nie om te iets te verberg nie, maar eerder om openbaar en bekend te maak. Die gelykenisse wys op die teenwoordigheid van God se koninkryk in die lewe van Jesus Christus. Of jy dit gesoek het of nie, wanneer jy dit ontdek – of dit/Hy jou ontdek – is die vreugde só groot dat dit jou hele lewe verander. Soos Paulus in Filippense 3:7 sê: “ . . . wat eers vir my ’n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus.” So doen ook die dissipels toe Jesus hulle roep; hulle los alles net so en volg Hom.

Alhoewel die godsdienstige leiers en die skare blind was vir die teenwoordigheid van die koninkryk (Matt 11:25; 13:13-15), openbaar Jesus deur hierdie gelykenisse die onskatbare waarde van die koninkryk aan die dissipels (13:11-12, 16-17). Geen offer is te groot om in die teenwoordigheid van God te leef, sy wil te doen en om in ’n dissipelskapverhouding met Jesus te leef nie. Vir Jesus is die “vind” van die koninkryk die belangrikste gebeurtenis in die lewe. Om die koninkryk te vind, is om immers die “lewe” met hoofletters te vind. Teenoor hierdie onmeetbare groot vonds lyk al die aardse prag en praal maar dof en onindrukwekkend. Vreugde, en nie plig nie, dryf hierdie manne tot aksie! Hulle het nie alles verkoop omdat hulle verplig was nie, maar omdat hulle harte hulle gedryf het. Hulle gee iets van klein waarde prys om iets anders van onskatbare waarde te verkry! In ons aanbied van die evangelie sal dit goed wees as ons die vreugde kan beklemtoon of laat sigbaar word! Om van die goeie te vertel, eerder as om oordeel te verkondig! Roep mense op tot ware lewensvreugde. Daarop sal mense reageer!

Die gelykenis in 13:47-50 het dieselfde strekking as dié van die onkruid tussen die koring (13:24-30, 36-43). Die groot sleepnet was van die oudste nette wat by die meer gebruik is. Tot onlangs toe was dit een van die belangrikste maniere van visvang in die meer. Die sleepnet was 250 tot 300 meter lank en tot 8 meter hoog. Dit is met sinkers onder die water op die grond gehou en met kurk aan die boonste lyn is die bokant bo die water gehou.

Die treknet beeld die loop van God se koninkryk deur die wêreld uit. Dit kan dui op die sendingwerk van Jesus, sy dissipels en ook van die kerk. Die vangs is groot, maar alles is nie bruikbaar nie. Sommige vis is sleg en oneetbaar, of volgens Levitiese wetgewing onrein (vgl Lev 11:10-12). So is daar in die kerk gelowiges en skyngelowiges saam bymekaar. Die kerk se taak is nie om voortydig te oordeel nie, hoewel kerklike dissipline altyd belangrik is (vgl Matt 18:15-18). Alleen die eindoordeel sal die werklike skeiding bring. En dit is volledig God se werk.

Die skeiding tussen slegte en goeie vis was ’n ou gebruik in Israel. Onder die vis wat sleg was, is dié sonder vinne en skubbe as onrein gereken (Lev 11:9-12). In die meer van Galilea was ten minste 24 spesies vis wat as onrein of as oneetbaar gereken is. Die net het geen onderskeid gemaak nie. Tot op die oordeelsdag sal Jesus saam met die sondaars eet om die verlorenes te soek en te red (28-29, 48-50). Die gelykenis moedig die kerk aan tot evangelisasie en ’n oop gemoed teenoor die wêreld – in teenstelling met die Fariseërs wat hulleself as hekwagte en regters gesien het om mense uit te sluit.

So ’n oop benadering maak goeies en slegtes bymekaar. Die gelykenis vertel ons dat dit God se manier is. Sommige onwelkomes sal groei tot werklike koninkryksmense en sommige wat aanvanklik belowend gelyk het, sal Jesus aan die einde verraai. God maak ons nie verantwoordelik om die onaanvaarbares uit te hou of te veroordeel nie. Hy delegeer die verantwoordelikheid om die onderskeid te maak aan die einde van die tye aan sy engele. Hierdie gelykenis is nie ’n oproep om growwe sondes oor die hoof te sien nie. Jesus sal ’n paar hoofstukke verder, spesifieke maniere aandui hoe oortreders hanteer moet word en hoe hulle uit die gemeente gelaat moet word as hulle nie hulle weë verander nie (Matt 18:15-20).

Dit kan natuurlik ook wees dat hierdie gelykenis eintlik wil vertel dat almal wat op aarde leef, bymekaargemaak sal word vir die finale oordeel. Hier word die bose en die bestaan van die bose en ons houding teenoor die bose nie ter sprake gebring nie, maar wel die feit dat almal, sonder aansien van persoon, ingesleep word om op die strand verdeel te word. Die werklikheid van die oordeel word vasgemaak. Die wêreld, die kerk, die heiliges en die onheiliges sal almal finaal op die oordeelsdag geskei word. So sal dit wees in die koninkryk van die hemel.

Jesus se vraag in 13:51 of die dissipels al hierdie dinge verstaan, verwys na die inhoud van Jesus se preek in die hele hoofstuk 13. Die dissipels verstaan Jesus se boodskap, daarom is hulle terselfdertyd ook skrifgeleerdes (52). ’n Besondere band word hier tussen dissipel (student) en skrifgeleerde gelê. Jesus vergelyk sy dissipels met skrifgeleerdes. Die mense wat gekwalifiseerd is om die betekenis van die skrifte te verklaar. Gelowiges moet God se kennis versprei (skrifgeleerde), maar ons kan dit alleen doen as ons studente van Jesus bly. Hy is die enigste ware Leermeester (vgl Matt 23:8).

’n Skrifgeleerde het tradisioneel net die ou dinge uitgehaal en geleer. Die dissipels van die koninkryk, soos hulle Heer, is geleer om altyd vars en met nuwe gedagtes en nuwe oë na die lewe te kyk. Hulle moes weet hoe om die ou dinge na waarde te skat en te gebruik. So bring hulle ou en nuwe dinge bymekaar. Die dissipels put uit die ryk Bybelse erfenis van antieke Israel (dit wat oud is), maar interpreteer nou hierdie ou woorde in die lig van God se finale openbaring in Jesus Christus; sy boodskap en sy bediening (die nuwe).

Die “skat” mag verwys na die houer waarin die kosbaarhede bewaar is, of na die kosbaarhede self (soos in 44). Hier wys dit waarskynlik na die houer. Die huiseienaar het ’n skatkis of ’n stoorplek vanwaar hy die nuwe en die ou dinge uitbring. Interessant om te let daarop dat die gebruiklike volgorde omgekeer word (nuwe – oue). Daarmee wil Jesus waarskynlik die klem op die belangrikheid/voorkeur van die nuwe plaas.

Hierdie beeld van die nuwe en ou dinge het as agtergrond die pa wat as hoof van die huis die spens of voorraadkamer beheer. Hier word dit op Jesus en die kerk se onderrigtaak toegepas. Jesus het nie net die Skrif (OT, ou dinge) geken en geleer nie, maar dit ook nuut geïnterpreteer (vgl Matt 5:21–22). So het die Matteus-gemeenskap en die kerk tot vandag toe die taak om die evangelie van Christus getrou oor te lewer, maar ook vir elke tyd nuut te interpreteer. Ons staan immers in ’n lewende verhouding met die Koning van die koninkryk van die hemel.

Die Christen-skrifgeleerde moet in staat wees om die ou en die nuwe dinge bymekaar te bring en so duidelikheid en begrip te bring vir die boodskap van die koninkryk van die hemel en vir die implikasies daarvan vir die hede. Die ou en die nuwe is albei onmisbaar vir die verkondiging van die evangelie.

Preekvoorstel

So is die Koninkryk van die hemel. Dissipels en volgelinge verwag ’n groot gebeurtenis. God – Heerser oor die heelal – kom bevestig sy heerskappy oor die hele aarde. Dit moet iets geweldig wees. Dan kom Jesus en sê die koninkryk is soos ’n mosterdsaad en soos suurdeeg; klein, onopsigtelik, onbenullig, niksseggend.

Dit kan tog nie. So ’n koninkryk wil niemand tog hê nie. Los die man en sy stories.

Jesus se hele lewe getuig van dit wat Hy hier leer: die krip; die donkie as rydier; die kruis. Mense kon met reg vra: “Watter soort koning is dit?”

Jesus kom vertel van ‘n ander grootheid. God se koninkryk is groot. Maar nie soos ons grootheid beskou of bereken nie. God meet anders. God se koninkryk is soos ’n mosterdsaad en soos suurdeeg.

Ons kan weer met reg vra: “Watter soort grootheid is dit?” Saad is onbeduidend; die suurdeeg onsigbaar en niksseggend. Maar die saad word ’n boom. En die suurdeeg deurtrek die totale stuk deeg en verander die hele struktuur daarvan. Albei werk op onverklaarbare maniere en gaan onstuitbaar voort om groter te word.

So is God se koninkryk: onverklaarbaar; kragtig en onstuitbaar. Die grootheid moet ons raaksien en aangryp: die krip; die klein volkie; die skrynwerker; die vissermanne; ja, die kruis. Die predikant wat getrou die Woord bring; die sendeling onder ’n boom; ’n kind wat stil Bybel lees; ’n bietjie water by die doop; ’n slukkie wyn en ’n stukkie brood. So lyk God se koninkryk.

Ons soek ook groot goed: kerke, katedrale, skares van mense en donderende lofsange. God is daar, maar Hy is ook daar waar stilgesit word by ’n ou mens; ’n koppie sop gegee word; ’n kind se klagte gehoor word; ’n hand van hulp aangebied word. Daar kom God se koninkryk ook.

Daar waar die kinders van die koninkryk ingeknie word in die deeg van die daaglikse lewe – daar kom die koninkryk. Dit is werklike grootheid!

Om dit werklik raak te sien – is om ’n skat te ontdek, die lewe te vind. Hier is God se koninkryk. Ek moet myself prysgee om deel van die grootheid te word.

Ander soek hierdie openbaring van God se koningskap en as hulle dit op die regte plekke vind – gee hulle alles prys om deel daarvan te word en die vreugde van hierdie manier van lewe te ervaar.

Aan die einde van die tyd sal almal ingetrek word. Die wêreld, die kerk, die heiliges en die onheiliges sal almal finaal op die oordeelsdag geskei word. En die kinders van die koninkryk van die hemel sal skyn soos die son.
So is die Koninkryk van die hemel.

Bibliografie 

Barclay M Newman, Stine, Philip C A 1988. Translator’s Handbook on the Gospel of Matthew. London: United Bible Societies; Barclay, William 1957. Gospel of Matthew, Vol. 2. Edinburgh: The Saint Andrew Press; Carson D A 1998. Expositor’s Bible Commentary. Zondervan Corporation; 1999. Die Bybellennium  Eenvolumekommentaar. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy; Donald, A Hagner 1993. Word Biblical Commentary. Dallas: Word Books Publisher; Joubert, Stephan 1994. Matteus Vandag. Halfway House: Orion Uitgewers; Joubert, Stephan 2012. Ontsluit die Nuwe Testament. Vereeniging: Christelike Uitgewersmaatskappy; Keener, Craig S 1997. The IVP New Testament Commentary SeriesMatthew. Downers Grove, Illinois: Inter Varsity Press; Morris, Leon 1992. The Gospel According to Matthew. Grand Rapids: Eerdmans; Wilkins, Michael J 2004. The NIV Application Commentary: Matthew. Grand Rapids: Zondervan; Wright, Nicholas Thomas 2004. Matthew for Everyone. Great Britain: Society for Promoting Christian Knowledge.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.