Agste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

In die sleutelteks word vertel dat Dawid voel dit is nie reg dat hy in ‘n pragtig versierde paleis woon en die ark van die Here – die simbool van God se teenwoordigheid – in ‘n tent staan nie. Psalm 89 besing die trou wat God aan Dawid en sy koningslyn deur die profeet beloof.

In Efesiërs 2:11-22 word Christus se redding van Jode en nie-Jode beskryf en in Markus 6:30-34, 53-56 sien ons dat Jesus op soek is na ‘n oomblik van stilte, maar die skare volg Hom oral op soek na God se teenwoordigheid.

Ander tekste

Psalm 89:20-37
20U het ’n openbaring gegee,
oor u troue dienaar het U gesê:
“Ek het aan ’n held my bystand geskenk,
aan ’n dapper jong man uit die volk
’n ereplek gegee.
21Ek het Dawid as my dienaar uitgesoek,
hom met my heilige olie
tot koning gesalf.
22My mag sal hom ondersteun,
my krag sal hom sterk maak.
23Vyande sal hom geen leed aandoen nie,
gewetenlose mense
sal hom nie verdruk nie.
24Ek sal sy teëstanders
voor hom verpletter
en dié wat hom haat, verslaan.
25My trou en liefde sal by hom wees:
deur My sal hy oorwin.
26Ek sal sy heerskappy uitbrei
tot oor die see,
sy gesag tot oorkant die riviere.
27Hy sal My aanroep met die woorde:
‘U is my Vader,
my God, die rots wat my redding is.’
28Ek stel hom eerste,
die magtigste koning op aarde.
29Vir altyd handhaaf Ek my trou
teenoor hom;
my verbond met hom staan vas.
30Ek sal vir hom altyd
nakomelinge verseker
sodat sy troon vas sal staan
so lank daar ’n hemel is.
31As sy nakomelinge nie handel
volgens my woord nie
en nie lewe volgens my bepalings nie,
32as hulle my voorskrifte verontagsaam
en my gebooie nie nakom nie,
33sal Ek hulle oor hulle oortreding straf
en hulle oor hulle sonde
met swaar slae tref.
34Maar my liefde sal Ek van hom
nie terughou nie,
my trou nie verbreek nie.
35Ek sal my verbond nie versaak nie,
nie een van my beloftes terugtrek nie.
36Ek, die Heilige, het ’n eed afgelê,
en my woord aan Dawid
sal Ek nie verbreek nie:
37daar sal altyd nakomelinge
van hom wees,
sodat sy troon so blywend soos die son
sal wees.

Efesiërs 2:11-22
Een nuwe mensheid
11Hou dan in gedagte wat julle vroeër was. Van geboorte was julle heidene, en julle is “onbesnedenes” genoem deur dié wat hulleself “die besnedenes” noem, al is die besnydenis net mensewerk aan die liggaam. 12In dié tyd was julle sonder Christus, uitgesluit uit die burgerskap van Israel, ver van God af sonder deel aan die verbonde en die beloftes wat daarmee saamhang, sonder hoop en sonder God in die wêreld.

13Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër  ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus. 14Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ’n muur skeiding gemaak het. 15Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode, en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig. 16Deur sy dood aan die kruis het Hy ’n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig. 17Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. 18Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader.

19Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. 20Julle is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. 21In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, 22in wie julle ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon.

Markus 6:30-34, 53-56
Die twaalf apostels kom terug
(Matt 14:13–14; Luk 9:10–11; )
30Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het. 31Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ’n stil plek toe en rus ’n bietjie.”

32Hulle het met ’n skuit na ’n stil plek toe vertrek waar hulle alleen kon wees. 33Baie mense het hulle egter gesien en agtergekom waarheen hulle gaan. Hulle het vinnig van al die dorpe af te voet daarheen gegaan en nog voor Jesus en sy dissipels daar aangekom. 34Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy ’n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie ’n wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer.

Jesus genees mense in die landstreek Gennesaret
(Matt 14:34–36)
53Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan. 54Toe hulle uit die skuit klim, het die mense Hom dadelik herken 55en in daardie hele landstreek rondgegaan en dié wat ongesteld was, op draagbare begin aandra na waar hulle gehoor het dat Hy is. 56Waar Hy ook al in dorpe of stede of op plase gekom het, het die mense die siekes op die bymekaarkomplekke neergesit en Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak; en almal wat aan Hom geraak het, het gesond geword.

Fokusteks

2 Samuel 7:1-14a
Dawid wil vir die Here ‘n huis bou
(Vgl 1 Kron 17:1–27)
7  Toe koning Dawid in sy eie huis woon, nadat die Here hom rus gegee het van al sy vyande in die omgewing, 2sê hy vir die profeet Natan: “Kyk, ek woon in ‘n huis wat met sederhout versier is, maar die ark van God staan in ‘n tent.”

3Natan het die koning geantwoord: “Doen gerus alles wat u in gedagte het. Die Here is by u.”

4Dieselfde nag het daar egter iets gebeur: die woord van die Here het tot Natan gekom en vir hom gesê: 5“Gaan sê vir my dienaar Dawid: So sê die Here: Wil jy vir My ‘n huis bou om in te woon? 6Vandat Ek die Israeliete uit Egipte laat trek het tot nou toe het Ek nog nooit in ‘n huis gewoon nie. Ek het in tent en tabernakel rondgeswerf 7saam met al die Israeliete. Het Ek ooit vir een van die stamme wat Ek beveel het om die leiding van my volk Israel op hom te neem, gesê: ‘Waarom bou julle nie vir My ‘n huis wat met sederhout versier is nie?’

8“Nou moet jy vir my dienaar Dawid sê: So sê die Here die Almagtige: Ek het jou uit die weiveld agter die kleinvee weggevat om oor my volk Israel te heers. 9Oral waar jy gegaan het, was Ek by jou; al jou vyande het Ek voor jou oë uitgedelg. Ek het jou so beroemd gemaak soos die grotes op die aarde. 10Ek het ‘n woonplek aan my volk Israel gegee en hom gevestig, sodat hy sonder vrees in sy plek kan woon. Slegte mense sal hom nie meer verdruk soos voorheen 11toe Ek leiers oor my volk Israel aangestel het nie. Ek sal jou rus gee van al jou vyande. Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou ‘n koningshuis gaan vestig. 12Wanneer jy te sterwe kom en jy by jou voorvaders rus, sal Ek een van jou nageslag, jou eie seun, koning maak en aan hom ‘n bestendige koningskap gee. 13Hy sal vir my Naam ‘n huis bou, en Ek sal sy koningskap vir altyd laat voortbestaan. 14Ek sal vir hom ‘n vader wees en hy sal vir My ‘n seun wees.

As hy ontrou is, sal Ek mense gebruik om hom te straf, hom te kasty. 15Maar my trou sal Ek nie aan hom onttrek soos Ek dit aan Saul onttrek het om vir jou plek te maak nie. 16Jou koningshuis en jou koningskap sal vir altyd vas staan; jou troon sal altyd voortbestaan.”

17Volgens hierdie openbaring het Natan die hele boodskap aan Dawid oorgedra.
18Daarna het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gesê: “Wie is ek, Here my God, en wie is my nageslag dat U my só ver gebring het? 19Selfs dít was vir U nog nie genoeg nie, Here: U het ook nog vir die nageslag van u dienaar tot in die verre toekoms beloftes gemaak. Wat ‘n toesegging aan ‘n mens, Here my God!

20“Wat sou ek, Dawid, nog verder vir U kon sê? U ken immers u dienaar, Here. 21U het hierdie groot ding gedoen omdat dit u besluit en wil was en boonop het U dit nog aan u dienaar bekend gemaak. 22Daarom, groot is U, Here my God! Daar is niemand soos U nie. Buiten U is daar geen God nie, van hoeveel gode ons ook al gehoor het. 23Watter volk is soos u volk Israel? Hulle is die een nasie op die aarde wat U vir U as volk vry gemaak het. U het u Naam bekend gemaak en in hierdie land aan nasies en hulle gode groot en vreeslike dinge gedoen ter wille van u volk wat U vir U uit Egipte vry gemaak het. 24U het u volk Israel vir U gevestig as ‘n volk wat vir altyd aan U behoort. En U, Here, U het hulle God geword. 25En nou, Here God, bevestig tog vir altyd wat U oor u dienaar en sy nageslag gesê het. Doen tog soos U belowe het, 26sodat u Naam vir altyd groot kan wees as daar gesê word:

‘Die Here, die Almagtige, is God van Israel.’
“Laat die nageslag van u dienaar Dawid voor U voortbestaan. 27Here, Almagtige, God van Israel, U het nadruklik vir u dienaar gesê: ‘Ek sal vir jou ‘n koningshuis vestig,’ en daarom het u dienaar die vrymoedigheid gehad om hierdie gebed tot U te rig.

28“En nou, Here, U is God. U woorde sal bewaarheid word. U het hierdie goeie belofte aan u dienaar gemaak. 29Begin tog nou en seën die huis van u dienaar om vir altyd in u diens te wees! Here my God, U het gepraat en omdat U seën, is die koningshuis van u dienaar vir altyd geseën.”

Ekstra stof

1 en 2 Samuel handel oor die oorgang van die laaste rigter, Samuel, na die eerste koning, Saul en die opkoms en heerskappy van Dawid, in die elfde eeu v.C.  Hulle drie is dan ook die vernaamste karakters.  Die boeke van 1 & 2 Konings voltooi die verhaal van die konings tot en met die ballingskap in 586 v.C.

Hierdie boeke vorm deel van die Vroeë profete, vertel vanuit God se perspektief op die geskiedenis van sy volk .  Profete speel deurgaans ‘n belangrike rol, spesifiek Samuel en Natan.

Histories gesproke was dit ‘n tyd toe geen supermoondheid ‘n rol in Israel gespeel het nie.  Dit het dit moontlik gemaak vir plaaslike rolspelers om na vore te tree.  Die vernaamste teenstanders waarmee Israel te doen gekry het, was nie meer die Kanaäniete nie, maar die Filistyne (soos alreeds in die verhale van Samgar en Simson in Rigters).  Die Filistyne was van die kusstreek aan die Middellandse See met stede soos Gasa, Asdod, Askelon, Gad en Ekron.

Hierdie bedreiging was een van die redes vir die vereniging van die stamme van Israel en vorm ‘n belangrike agtergrond vir die ontvouende verhaal van die boek van Samuel tot by 2 Sam 8, waar vertel word dat Dawid “die mag uit hulle hande geneem het.” (:1)

Daar is talle ooreenkomste, maar ook beduidende verskille tussen 2 Samuel en 1 Kronieke.  Die verhaal van Dawid en sy ryk word in beide vertel, maar met verskillende perspektiewe.  Waar 2 Samuel – en die verdere verloop (en verval) van Israel se verhaal in 1 en 2 Konings – uiteindelik ‘n belangrike motivering verskaf hoekom ‘n ballingskap nodig was, wil 1 Kronieke, geskrywe ná die ballingskap, die volk juis moed laat skep uit die helde van die verlede.

Betekenisvolle momente in die boek Samuel
1.  OORGANGE – Die verhaal is een van oorgange:

  • Van ‘n periodieke, gedeeltelike teokrasie van die rigterstyd,  na ‘n geïnstitusionaliseerde afkoms-gebaseerde monargie;
  • Van ‘n koning, Saul, wat soos die tipiese Midde-Oosterse konings optree na ‘n koning, Dawid, wat aan God gehoorsaam is;
  • Van veelvuldige aanbiddingsplekke na die nuwe sentrum in Jerusalem as woonplek van God se Naam.

Hierdie oorgange het natuurlik met baie spanning gepaard gegaan.  Dit sien ‘n mens onder andere in:

  • die konflik tussen koningskap en die verbond – vgl. bv. die kontrasterende sentimente tussen Samuel en die volk oor die behoefte aan ‘n koning in 1 Sam 8-12, en Saul wat eerder sy eie kop volg as om lojaal te bly aan God.  Vgl. ook Dawid se verhaal, wie se verbondslojaliteit juis ‘n nuwe belofte aan hom en ‘n verbond met God tot gevolg het (2 Sam 7 – let ook op die messiaanse ondertone), waarin koningskap en die verbond geïntegreer word.
  • die konflik tussen Saul en Dawid (1 Sam 16-31) – waar dit uiteindelik nie gaan óf Israel ‘n koning moet hê nie, maar watter tipe koning Israel gaan hê.  Die sleutelperspektief hier is of die koning lojaal aan God gaan wees en God se karakter gaan vertoon of nie, omdat die koning God se verteenwoordiger op aarde gaan wees.  Saul word verwerp omdat hy dink soos elke ander koning, en dat hy verhewe is bo die wet en onafhanklik van God kan optree.  Dit is juis wat die profetiese tradisie telkens onder die volk se aandag gebring het, dat die konings nie outonoom was nie, en dat sy hooftaak was om die mense in gehoorsaamheid aan God te begelei.
  • Die konflik in Dawid se koningskap (2 Sam 1-24) – vgl. hoe kort Dawid se oorwinnings as koning vertel word (2 Sam 8) teenoor hoe lank en vol detail die verhaal van sy sonde en die tragiese gevolge daarvan vertel word (2 Sam 10-20).  Dawid se twee grootse gedigte van toewyding en lof aan God word daarom in die laaste deel (2 Sam 22-23) van die boek geplaas, as ‘n belangrike deel van die samevatting van sy lewe.  Dit gee ‘n gebalanseerde prentjie van hierdie man van geloof, wat wel aan swakhede toegegee het,  maar wanneer daarmee hy gekonfronteer is, deur gebed en offers berou en verootmoediging getoon het.

2.  AANBIDDING – ‘n Sentrale fokus in die boek is die ware aanbidding van God.  Dit begin met die profesie teen Eli (2:29), wat God se voorskrifte verag het.  Dan fokus dit op die verlies van die Ark van die verbond (hfst. 4-7), waarmee die glorie of eer van Israel weggevat is (4:22).  Aan die begin van Dawid se heerskappy, is dit dus ‘n sentrale tema om die Ark weer terug te bring na Jerusalem (2 Sam 6), waarna Dawid ‘n tempel vir God (en die Ark) wil bou, wat hom verbied word.  En die boek eindig met die altaar wat gebou word op die dorsvloer van Arauna (2 Sam 24) waar lesers sou weet, die tempel uiteindelik gebou sou word (2 Kron 3:1).

3.  KONINGSKAP – Nog ‘n sentrale perspektief om in gedagte te hou, is hoe dié verhaal in die Ou Midde-Oosterse konteks inpas.  In die Ou Midde-Ooste was ‘n koning beide ‘n verteenwoordiger van die volk by God as ‘n verteenwoordiger van God by die volk.

Israel se storie in die Vroeë Profete het raakpunte hiermee.  Die storie van die konings is die storie van die volk.  Wat met hom gebeur, het ‘n direkte impak op die volk.  Hy kan selfs namens die volk met God praat, soos bv. in die Psalms gebeur. En die koning kan aanspraak maak op die volk se lojaliteit, natuurlik in dié mate wat hyself gehoorsaam is aan God.

Dit loop die Nuwe Testament verhaal van Jesus vooruit, waar die Seun van Dawid gehoorsaam is aan God, as verteenwoordiger van die volk (mensdom).  En Hy as koning die volk (Sy liggaam) in die regte verhouding met God kan bring.

4.  LEIERSKAP – ‘n Belangrike perspektief in hierdie verhaal is dat God soewerein is en altyd aan die werk is, meesal “behind the scenes”.  Dit het ‘n belangrike betekenis vir hoe ons na leierskap kyk.  Die boek Samuel wys dat daar maar net een manier is om leierskap te beoefen (Saul, Dawid), of net maar jou lewe effektief te leef (Nabal, Abigajil), en dit is om met God rekening te hou en in afhanklikheid van Hom te lewe.

Die karakters in die boek is soos spieëls waarin ons ons eie lewens afgespieël sien, en in wie se lewens ons lewenslesse leer.

  • Eli se reaktiewe leierskap in sy huis, kos nie net vir hom en sy huis hulle lewens nie, maar veroorsaak baie pyn en donkerte vir die volk van Israel.  Hy kon wel vir Samuel aan die Here wy, maar sy blindekol in terme van sy eie seuns, het gekeer dat hy hulle dissiplineer voordat dit te laat was.
  • Samuel weer was ‘n man van integriteit, wat met moed en wysheid die Israeliete gelei het van die Rigtertyd af tot en met die oorgang na die koningstyd.  Hy salf beide vir Saul as Dawid as koning, terwyl hy steeds waarsku daarteen dat God nie as die eintlike koning geeër word nie.  En hy nooi Israel uit om sy integriteit as leier te toets.  Daarbenewens tree hy op as leier van die eerste profeteskool.
  • Saul illustreer baie van die gevare van leierskap.  Sy mislukking as leier is ‘n klassieke verhaal van ‘n leier wat opgehou het om te lei, en sy magsposisie begin misbruik het vir sy eie belange.
  • Dawid wys vir ons hoe God iemand wat growwe foute gehad het, se hart raaksien, en hom toerus en gebruik om die volk in ‘n nuwe era in te lei.  En in die tweede boek sien ons hoe Dawid se lewe blom weens sy gehoorsaamheid en dit ‘n ongelooflike bate vir die volk is.  Maar na sy ongehoorsaamheid in hoofstuk 10, staan die res van sy koningskap in die teken van dissipline, met konflikte en bedreigings en teleurstellings wat ‘n hard leerskool vorm.  Die een reddende eienskap van sy karakter, is dat hy telkens terugkeer na God in berou en boetedoening.

5.  ANDER – Let ook op hoe temas wat in die Pentateug ‘n rol gespeel het, ook hier voorkom.  Bv. die motief van die kinderlose vrou (Sara, Rebekka, Ragel – Hanna) en die keuse vir die mindere (Jakob – Dawid).

Die twee-deling van die boek dateer eintlik uit die 16de eeu.  Dit was aanvanklik een boek, soos ook 1 en 2 Konings.  Dele van die boek kom moontlik van die onbekende geskrifte van Samuel en die profete Natan en Dan (1 Kron. 29:29).

Verskeie tradisies kan in die teks onderskei word, soos die Ark narratief in 1 Sam 4-7 en 2 Sam 6, die Opkoms van Dawid in 1 Sam 16 – 2 Sam 5, en die Opvolgingsverhaal van 2 Sam 9-20 wat in 1 Konings 1-2 voortgesit word.  Dit kan verband hou met die wyse waarop hierdie verhale by die onderskeie heiligdomme Gilgal, Mispa,  en Silo bewaar is.  Die finale redaktor het dit egter as een verhaal saamgestel.

2 Samuel 7
Die troonbestyging van Dawid gebeur met baie intriges en konflik met Saul se nageslag, uit die stam van Benjamin, en sy onderdane (vgl. Abner se rol), hoewel die skrywer telkens duidelik laat blyk dat Dawid nie persoonlik daarby betrokke geraak het nie.  Die kloof tussen Noord en Suid bly egter groot, en hoewel Dawid dit regkry om uiteindelik koning van al die stamme van die twee “ryke” te word, bly dit sluimerend tot met die skeuring van Israel na die dood van Salomo.

In hoofstuk 5-7 word vier opeenvolgende gebeure vertel wat gelei het tot Dawid se koningskap van die hele Israel: 1) die verowering van Jerusalem; 2) die oorwinning oor die Filistyne, 3) die Ark se terugkeer na Jerusalem, en 4) die verbond wat God met Dawid sluit dat sy koningskap vir ewig sal wees.

2 Samuel 7 – God sluit ‘n langtermyn verhouding met Dawid en sy nageslag
Dit tref ‘n mens dat Natan Dawid se versoek om vir die Here ‘n huis te bou aanvanklik positief antwoord, en nogal daarby voeg: “Die Here is by u”, die woorde wat later ‘n titel vir Jesus so word, Immanuel, God met ons (Matt 1:23).  En dan korrigeer die Here sy profeet, en keer Dawid om ‘n tempel te bou, omdat God eerder die Dawidshuis gaan bou en bestendig vir altyd.  Daarmee wys God twee goed:

  • dat dit Hy is wat die inisiatief neem en nie afhanklik is van enigiets wat sy volk vir Hom doen nie, en
  • dat Hy nie ‘n korttermyn God is nie, maar een wat op die langtermyn met Dawid se nageslag en die volk Israel ‘n verhouding het.

Daar is dus ‘n fundamentele verskil in hoe God oor Dawid se nageslag en dié van Saul praat.  God het sy seën van Saul en sy nageslag onttrek, maar NBNB belowe aan Dawid, dat selfs as sy nageslag ontrou is aan God, sal Hy nie sy trou aan hulle onttrek nie. Daar is wel die verwagting dat Dawid en sy nageslag aan God sal behoort en aan Hom getrou sal bly, maar dit word nie as voorwaarde vir God se verbintenis aan hulle gestel nie.

Dit is werklik ‘n grootse belofte, van dieselfde omvang as die verbond aan Abraham, een wat selfs rekening hou met die moontlike sonde en afdwaling van die nageslag.  Geen wonder dat dit in die omgangstaal as ‘n Dawidsverbond bekend geword het nie, veral omdat die woord trou (hesed) wat hier gebruik word, verbondstaal is.  Jeremia sou dié belofte uitbrei na die hele volk (Jer 31) en Jesus, die seun van Dawid, na die hele mensdom (Joh 3).  Dit vorm ook die agtergrond vir Paulus se beskrywing van gelowiges se verhouding met God in 2 Kor 6:16-18.

Hoe pragtig skryf die skrywer:
“Daarna het koning Dawid ingegaan en voor die Here gaan sit en gesê: ‘Wat ‘n toesegging aan ‘n mens, Here my God!'”

En dit word dan Dawid se grootste gebed vir die res van sy lewe: dat God hierdie toesegging sal waar maak, vir hom en sy nageslag EN vir sy volk.  Dit is wat jy ook kan doen!

Liturgie

Aanvangslied: Lied 169 “Heilig (3X) Heer God almagtig vs 1,2,3”

Aanvangswoord 

Seëngroet

Lied 175 “Majesteit vs 1”

Wet: (Miga 6)

Skuldbelydenis: Lied 247 “Heer wees ons genadig” Afr + Latyn

Vryspraak: (Efesiërs 2)

Lofliedere
Lied 220 “Met ons harte sing ons Here” (melodie 219) 1,2,3 en/of
Lied 196O “Kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Epiklese

Skriflesing: 2 Samuel 7:1-14a

Prediking
Geloofsbelydenis
Offergawes

Wegsending: Lied 462 “Aan U, ons Vader, lof en dank 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 169 Heilig (3X) “Heer God almagtig vs 1,2,3″

Aanvangswoord 
Voorganger: Uit die dieptes roep ek na U, Here.
Gemeente: Luister tog na my, Here, hoor tog my hulpgeroep.
Almal: Amen (Ps 130:1-2).
(Uit Basisliturgie by Bybelmedia se Woord en Fees: Preekriglyne en Liturgiese Voorstelle vir 2014-15)

Seëngroet
Aan almal in …………………………. wat aan God behoort en in Christus Jesus glo.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus! Amen

Lied 175 “Majesteit vs 1”

Wet: (Miga 6)
6Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe
gaan,
as ek voor die hoë God gaan kniel?
Moet ek met offers na Hom toe gaan,
met jaaroud kalwers?
7Sal die Here duisende ramme aanvaar
saam met tien duisende offers van olie?
Moet ek my eersgeborene offer
vir my sonde,
hom wat uit my liggaam kom,
vir my oortreding?
8Mens, die Here het jou bekend gemaak
wat goed is:
Hy vra van jou dat jy reg
sal laat geskied,
dat jy liefde en trou sal bewys,
dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.
9Om die Here te dien, dit is wysheid.

Skuldbelydenis: Lied 247 “Heer wees ons genadig” Afr + Latyn

Vryspraak: (Efesiërs 2)
13Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër  ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus. 14Christus is ons vrede, Hy wat dié twee, Jode en nie-Jode, een gemaak het. Deur sy liggaam te gee, het Hy die vyandskap afgebreek wat vroeër soos ’n muur skeiding gemaak het. 15Die wet van Moses met al sy gebooie en bepalings het Hy opgehef, en deur vrede te maak, het Hy in Homself dié twee, Jode, en nie-Jode, tot een nuwe mensheid verenig. 16Deur sy dood aan die kruis het Hy ’n einde gemaak aan die vyandskap en dié twee met God versoen en tot een liggaam verenig. 17Toe Hy gekom het, het Hy die goeie boodskap van vrede gebring: vrede vir julle wat ver van God was, vrede ook vir dié wat naby was. 18Deur Hom het ons almal, Jode en nie-Jode, deur die een Gees vrye toegang tot die Vader.

19Julle is dus nie meer ver van God af nie, nie bywoners nie, maar medeburgers van die gelowiges en lede van die huisgesin van God. 20Julle is ’n gebou wat opgerig is op die fondament van die apostels en die profete, ’n gebou waarvan Christus Jesus self die hoeksteen is. 21In Hom sluit die hele gebou saam en verrys dit tot ’n heilige tempel vir die Here, 22in wie julle ook saam opgebou word as ’n geestelike huis waarin God woon.

Lofliedere
Lied 220 “Met ons harte sing ons Here” (melodie 219) 1,2,3 en/of
Lied 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Liedere

F125. “Wat ‘n Liefde”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Verwondering)
Oorspronklike titel: Wat Een Liefde
Teks en Musiek:Marcel Zimmer
Afrikaanse vertaling: 2006  Faani Engelbrecht
© 2004 Celmar Music

By U is ek tuis,  by U is ek veilig
In U is my huis,  in U is ek heilig, in U…
By U vind ek troos, by U kan ek huil
In U vind ek rus, in U kan ek skuil,  in U…
U neem my in u arms en droog my trane af.

Refrein:
Wat ‘n liefde!  (x6)

By U is dit goed, U gee my U seën
In U is my hoop, in U is my weë, in U

U het Uself vir my gegee
In U kan ek wees, in U kan ek lewe, in U

Ek hoef niks weg te steek nie
want U wys my nooit weg nie

Refrein:
Wat ‘n liefde…  (x6)

Brug:
En dat ek steeds terug mag kom
selfs al het ek ver afgedwaal
En U my altyd wil vergewe
al het ek ook gefaal

Refrein:
Dit is liefde!  (x6)
U is liefde (x8)

F179. “Regeer In My” 
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Teks en Musiek: Rick Moser
© 2006 MAR Gospel Music Publishers

1. Skepper van hemel en aarde
Lewensbron, lig en genade
Kom regeer in my
Kom regeer in my

Die hemele verkondig u werke
U almag word vertoon in die sterre
Kom regeer in my
Kom regeer in my

Refrein:
Regeer in my
dat hierdie hart u huis kan wees
Regeer in my
dat hierdie vlees u Woord kan spreek
Regeer in my
dat hierdie lewe brood mag wees
Woord vir die wêreld,
bring lewe deur my

U is die eerste Woord
U kry die laaste woord
U is die Lewenswoord
wat alles onderhou

God praat met ons en ons luister

Epiklese: Gebed (Ahv Ps 1)
Here- ek wil so graag hê dat dit met my goed gaan…
ek wil nie die raad van goddeloses
volg nie,
ek wil nie met sondaars omgaan
en met ligsinniges saamspan nie,
2maar ek wil in die woord van die Here
my vreugde vind,
dit dag en nag oordink.
Ek wil graag wees soos ’n boom
wat by waterstrome geplant is,
wat op die regte tyd vrugte dra
en waarvan die blare nie
verdroog nie.
Ek wil so graag voorspoedig wees in alles
wat ek aanpak.
Bewaar my dat ek nie soos kaf deur die wind uitmekaar gewaai word nie.
6Waarlik, Here lei my op die pad wat U behaag.
Amen

Skriflesing: 2 Samuel 7:1-14a

Prediking
Familie-oomblik

Familie-oomblik

Kleiner kinders word groot met die gedagte dat die kerk die huis van God is waar Hy woon. Omdat hulle denke letterlik van aard is kan hulle wonder of God dan nie eensaam word in die week wanneer daar niks in die kerk gebeur nie. Hulle sou ook kon wonder hoe dit werk dat God nie net in een kerk woon nie maar in al die kerke teenwoordig is.

Vertoon nou foto’s van verskeie kerke van regoor die wêreld in ‘n powerpoint vir kinders (aangeheg). Gesels onderling oor watter verskille en watter ooreenkomste daar bestaan. Verskille en ooreenkomste mag bestaan in die aard van die torings, die glasvensters, kleur, eenvoud ens. Die noemenswaardige ooreenkoms tussen al hierdie kerke is dat God daar aanbid word.

Toe God vir Dawid antwoord (wat op sy eie dit goedgedink het om sommer vir die Here ‘n kerk te bou) moes Dawid hoor dat God Hom nie laat beperk tot ‘n gebou nie- dat Hy inderdaad alomteenwoordig is. Die kerk is nie regtig die huis waar God woon nie- eerder dit is die gebou waar die alomteenwoordige God aanbid word. God is te groot om so beperk te word, God is altyd oral op meer as een plek en in die harte van mense.

Idees van Carolyn Brown.
Vanderbilt library: Die webadres waar foto’s van kerke afgelaai is.
Kerke waarvan grafika ingesluit is:

  • Church of St. George, Kurbinovo, Masedonië
  • Church of the Sacred Heart, Guangzhou, China
  • Cathedral of Isfahan, Isfahan, Iran
  • Chimayo Santuario, Chimayo, New Mexico, Amerika
  • El Ojo de Dios (Eye of God), Lecheria, Venezuela
  • Basilica of Aquileia, Aquileia, Italy
  • NG Kerk Port Elizabeth, een van Wynand Louw se eerste kerkontwerpe. ‘n Toring is later aangebou in die vyftigerjare.
  • Altar area in the Church of the Rotunda of St. George in Thessaloniki, Greece

Preekriglyn

Olifant en Reën kondig aan hulle gaan trou. Die diereryk is opgewonde oor dié glanstroue van twee voorste celebrities. Die paartjie geniet die aandag en verdra selfs die paparazzi.

Maar die wittebrood is skaars verby of die twee groot ego’s begin bots. “Ek is die oorspronklike Groot Man van Afrika, die magtigste in die hele land,” glo Olifant. “Niemand mors met my nie.” Reën, pragtig geklee in ‘n dubbele reënboog, verklaar dat sy die Bron van Lewe is sonder wie alles en almal sou sterf.

Die paartjie probeer elke verhoudingsterapeut, selfs die wyse Uil, die Oprah Winfrey van daardie dae, maar niemand kan die magstryd tussen die twee ontlont nie.

Moeg vir al die New Age-twak besluit Olifant dis tyd vir aksie. Een oggend stap hy bos toe en ruk die een reuseboom ná die ander uit die grond, wortels en al, terwyl hy sy ore flap en só hard trompetter dat selfs die molle in hul tonnels uintjies in hul ore druk.

“Sien julle, ek is die sterkste en die magtigste in die ganse diereryk,” verklaar hy. “Ek is O-li-fant; party van julle kan dit nie eens reg uitspreek nie.”

Reën sit eenkant op ‘n heuwel en kyk na die macho-drifbui. Die verwelkende blare van die verwoeste bome gee haar ‘n idee. Sy gaan staan hande in die sye voor Olifant en sê bedaard hoe onderweldig sy deur sy manewales is. “Jy verdien my nie,” sê sy. “Ek gaan terug na my mense.”

“Ha,” snork Olifant, “ons gaan nie eens agterkom jy is weg nie.”

Stadigaan sterf die bome en die veld, want Reën is weg. Olifant moet later sy trots sluk en droë bas vreet. Maar hy word swakker en swakker. Toe die laaste watergat opdroog, vra hy Sekretarisvoël om sy vrou te gaan haal.

Toe Reën die boodskap kry, sê sy vir Sekretarisvoël haar man moet in die meer gaan spring. “Hehe,” giggel sy, “o ja, ek het vergeet die meer het opgedroog.”

Toe Sekretarisvoël die boodskap aan Olifant oordra, vererg hy hom, en met sy laaste krag klap hy die voël met sy slurp onderstebo.

“Eish,” sê Bobbejaan op ‘n tak daar naby, “dis nou ‘n geval van die boodskapper klap”.

Uiteindelik versag Reën se hart en besluit sy om te gaan kyk hoe dit met haar eggenoot gaan.

Met haar aankoms vloei lewegewende water weer en kan Olifant drink en sterker word.

“Nou ja toe, mnr. O,” sê Reën, “kan jy sien wat jou arrogansie jou in die sak bring? Ek hoop jy het jou les geleer en besef nou dat ‘n goeie leier minder selfsugtig en kragdadig behoort te wees.”

Olifant, nou weer vol durf nadat sy dors geles is, gluur sy vrou aan en sê: “Ek vat nie raad van ‘n vrou nie; ek is Olifant.”

Reën vat weer die pad, maar los darem vir Olifant ‘n gat vol water.

Olifant sê Skilpad aan om die water te bewaak terwyl hy iets te ete gaan soek.

Toe hy terugkom, is die gat leeg. Skilpad kon nie vir die ander dors diere nee sê nie.

Olifant vererg hom en sluk Skilpad in. Maar Skilpad besluit dis geen manier om tot ‘n einde te kom nie en begin aan Olifant se maag vreet.

“Kom by my bek uit,” skreeu Olifant vir hom. “Nee, dan gaan jy my doodtrap,” sê Skilpad. “Kom dan agter uit,” sê Olifant. “Nee, dan gaan die ander diere hul neus vir my optrek.”

Uiteindelik vreet Skilpad sy pad deur Olifant se maag en slaan die grote dier morsdood neer.

“Nou is daar biltong vir ‘n hele jaar!” roep Bobbejaan opgewonde uit.

Koers verloor

Dit het verskriklike gevolge wanneer magtige mense koers verloor, hul oordeelsvermoë in die slag bly, magsbeheptheid oorneem en kleinlike twiste daartoe lei dat alles rondom hulle verwoes word. Dit lei letterlik daartoe dat die hele omgewing swaar kry en die land tot niet gaan.

Nadat alles plat geslaan is, na dikwels onmeetlike lyding vir baie, kom die ondergang gewoonlik uit ‘n onverwagte oord. Daar is altyd ‘n laaste, welverdiende strooi, wat die magtige se rug breek. Maar selfs dan is daar nog ‘n paar idiote wat die ellende nie kan sien vir wat dit is nie, en opgewonde is vir nuwe geleenthede om te aas.

Koningskap, leierskap, is ontsettend belangrik vir die welsyn van die samelewing. Dit is daarom so belangrik dat leiers koers moet hou, en georiënteer bly aan wat goed, reg en mooi is. Leierskap is nie ‘n plek waar mens jou ego laat lei nie. Leiers stel hul kompas op ander koerswysers in.

Die geskiedenis van Israel is die geskiedenis van God se strewe om sy koningskap op aarde te vestig in vennootskap met menslike leiers as medewerkers. God werk onverpoos om ‘n samelewing te skep waarin reg en geregtigheid, trou en liefde, veiligheid en lewensruimte gevestig kan word. Daarvoor gee God wetgewing, en word leiers aangestel en bemagtig om medewerkers van God se regering te wees.

Paslike leierskap is daarom leierskap wat met God rekening hou en God se wil vir ‘n betroubare, regverdige samelewing doen.

Dawid as voorbeeld

Koning Dawid was ‘n man na God se hart. Hy het na God se wil gesoek en die Here geraadpleeg in die dinge wat hy aangepak het. Natuurlik het Dawid ook ernstige foute gemaak, maar sy berou was eg en sy soeke na God se wil bly die hooftema van sy lewe. Dawid kon ook selfkritiek beoefen en sy foute bely.

In ons teks spreek Dawid die begeerte uit om vir die Here ‘n huis te bou. Die motivering is dat hy in ‘n huis woon wat met sederhout versier is, maar die ark van God staan in ‘n tent. Hy raadpleeg die profeet Natan hieroor. Sonder om juis na te dink, spreek Natan sy seën oor die projek uit.

Dieselfde nag kom die woord van die Here egter tot Natan. Dit beklemtoon dat Natan oorhaastig opgetree het, en eers die Here oor Dawid se beplande projek moes geraadpleeg het.

Die woord van die Here verras. Die Here wil nie in ‘n huis versier met sederhout woon nie. Daar is ‘n ander huis waarin God wil woon. God wil in ‘n koningshuis woon, die koningshuis van Dawid en sy opvolgers wat as betroubare leiers God se wil bly doen. In hierdie vorm van leierskap word ‘n huis en ‘n samelewing gebou waarin die heerlikheid van die Here en sy geregtigheid gesien en beleef word.

Verrassende trou

God se verrassende trou aan Dawid word in die eerste persoon uitgespreek. God word direk aangehaal om die aksent op die gesag en trou van God se woord te beklemtoon. In vers 11 word gesê: “Ek maak aan jou bekend dat Ek vir jou ‘n koningshuis gaan vestig.” God sal deur Dawid se nageslag bly regeer en Dawid se seun sal vir die Here ‘n huis bou. Sy koningskap sal vir altyd voortbestaan.

God se belofte van trou en bestendigheid toon dat God die eintlike handelende Persoon in die geskiedenis is. Dit is God wat regeer deur die trou, regverdige, gehoorsame koning. Dit is God wat die koning op die regte pad hou, wat die koning vermaan en in die regte koers stuur as die koning verbrou. God is die Leier wat mense by leierskap insluit.

Herinnering in die ballingskap

Hierdie episode sou ‘n belangrike rol in die ballingskap speel, eeue na Dawid se lewe. Intussen het die ryk in twee geskeur, die noordelike tien stamme is permanent weggevoer en het nooit weer na die land teruggekeer nie. Die suidelike twee stamme, Juda, het die land en die tempel verloor, en net ‘n klein hoeveelheid het na die ballingskap teruggekeer na Jerusalem.

Dit is in hierdie tyd dat God se ewige trou aan Dawid en die konings uit sy nageslag aan die volk koers en rigting gee. Hulle hoor weer die belofte dat God nie in huise deur mense gemaak woon nie, maar in leierskap wat ooreenkomstig sy wil uitspeel.

Dit is in hierdie tyd dat die versugting groei na ‘n nakomeling van Dawid wat God se regering weer op aarde ‘n werklikheid sal maak. Hierdie nakomeling het eeue later opgedaag in die persoon van Jesus van Nasaret, die Een deur wie God se koningskap gevestig is, en deur wie God se bedoeling met Israel en Israel se konings verwerklik is.

In ons land se situasie

As ons na die landskap van ons land kyk, is daar veel rede tot pessimisme, wanhoop, moed opgee. Korrupsie kom wyd verspreid tot in die hoogste kringe voor. Mens dink aan die katastrofe wat as Nkandla bekendstaan (hoe jy dit uitspreek maak nie saak nie). Die regering minag uitsprake van die howe. Wat blatant verkeerd is, word met die grootste arrogansie reg genoem.

Dit lyk of die situasie algaande slegter word; die ekonomie wil maar nie reg kom nie, diensleweringsbetogings neem steeds toe, mynstakings en grondeise en administratiewe romp-slomp en onbeholpenheid vernietig beleggingsvertroue. Mens sou verder kon uitbrei.

Binne die meeste van ons se ervaringsveld lê die positiwiteit van ‘n Mandela-era, die verwerkliking van ons almal se “Long walk to freedom”, wat hy vir ons eksemplaries simboliseer. En ons vra: Wat het van die moraliteit en visie en staatsmanskap van hierdie nuwe volkstigter van ons geword?

Kerke se situasie

Waar staan die kerk in die situasie, die kerk as totale Christelike kerk, as “ons” kerk, as ons gemeente? Ons het ons stem, ons invloed en betekenis verloor. Ons leef in ‘n sekulêre staat waarin dit lyk of die “ander” magte die oorhand het. Kwasi-godsdienstige en morele magte van sekularisasie, van voorspoed en selfverryking en selfgenieting gee oënskynlik die toon aan. Binne die groter prentjie lyk dit of die kerk nie meer ‘n faktor is nie. Daarom is die gevaar daar dat ons ons kan terugtrek, ‘n ghetto-mentaliteit kan ontwikkel.

In baie opsigte bevind ons as kerk ons weer in ‘n ballingskapsposisie soos die Jode van ouds. Vir hulle het alles uitsigloos gelyk; die staat en koning en tempel waarin hulle hulle identiteit gevind het, is tot niet. Hulle loop gevaar om deur die heersende kultuur verswelg te word. Hier, in hierdie situasie, word hulle ou volksverhale, die verhale van Dawid, hulle volkstigter en ideale koning weer vertel, nie uit nostalgie nie maar om nuwe perspektief te gee, hulle terug te bring na hul ware identiteit, om hoop te gee.

Die verhaal van Dawid in die boek Samuel (in besonder in ons teks) het besondere betekenis gekry vir die ballinge. Dit het hulle aan God se regering en God se beloftes herinner. Dit vertel hoedat God se planne dikwels anders is as wat mense dink tekens van sy teenwoordigheid lyk. Hy is wat die Outeur van Dawid en die volk se geskiedenis. Hy laat Hom nie deur menslike foute afsit nie, maar voer alles tot sy doel.

Daarom kon die ballinge weet dit is belangrik om te doen wat dié Here sê. Sy wil soos geopenbaar in sy woord is die patroon waarop egte leierskap moet bou.

Christus

God se beloftes aan Dawid gaan met die koms van Jesus Christus in vervulling.

In Christus kom daar ‘n nuwe Stigter, ‘n nuwe ideaal en so ‘n nuwe verhaal waarby die kerk deur die eeue leef, inspirasie vind, en herontdek wat ons identiteit is. Die verhaal van Dawid en Jesus, sy nakomeling, sê dit is God wat deur dik en dun op pad is met sy kerk. Die bose magte sal dit nie oorweldig nie, verseker, omdat Jesus Christus die oorsprong én voleinder van ons geloof is (Heb 12:1-2).

Die Woord van Christus, die diens van Christus, Christus se selfprysgawe en –ontlediging, Christus se weerstand teen geweld, Christus se gebod van liefde, is die patroon waarop egte leierskap gebou word. In so ‘n huis van leierskap woon die lewende God tot vandag toe.

Ons planne

Maar vir Koninkrykstyd sê die teks meer: dat ons ons planne voor God moet lê; dalk sê die profete te vinnig ja vir ons vroom planne. Maar dan moet ons weer op God wag, luister wanneer Hy ‘n ander wyse aandui. En daarvoor het Hy sy Gees gegee om sy hart en weg te leer ken, met fyn aanvoeling te sien waarop dit werklik aankom. Dan is Dawid se geskiedenis, maar veral Jesus se lewe vir ons die riglyn; nie deur selfsoeke nie, maar deur selfgawe, “nie deur krag of geweld nie, maar deur my Gees . . .”

Dis die weg van die kerk van Christus in ‘n oorweldigende wêreld; om telkens ons identiteit in Christus te herontdek en die visie van God se koninkryk te lewe. Hy is Heer van elke duimbreedte van hierdie werklikheid waarin ons lewe. Ons is bekragtig om weer en meer te wees wat ons as enkelinge en gemeente in Christus is; daarvoor het Hy ons sy Gees gegee.

Aktiewe burgers

Dat God sy Gees aan ons almal gee, beteken dat ons almal leiers is. Ons moet versigtig wees om ons eie opdrag om te lei waar ons is, uit te verkoop aan ‘n paar publieke leiers en hulle manewales.

Kenners soos sosioloog Deon Pretorius en proseskenner Peter Block wys daarop dat ons te veel verantwoordelikheid aan politici (en leiers in die algemeen) oorlaat. Ons het ‘n klimaat van aktiewe burgers wat self verantwoordelikheid neem en meganismes ontwikkel om die politici op hulle plek te sit.

Leierskap is diens: Ons is elkeen geroep om ‘n leier te wees: in ons gesin, ons straat, ons omgewing, die skool waarby ons betrokke is, die plek waar ons werk, die klubs waaraan ons behoort, ook in die gemeente van die Here. Ons moet met mekaar praat en saam verantwoordelikheid neem om van die wêreld ‘n beter plek te maak. Dit verg dat ons mekaar in ag neem, ander se laste begin dra, en eerder luister as praat.

Leierskap is om nie net vir jouself te lewe nie, maar geleenthede te soek waar jy kan dien. Leierskap is ook om te gaan stem – op tientalle plekke – en die regte leiers aan te wys, van die skool se beheerraad verby die plaaslike regering tot by die nasionale regering.

Olifant

Wat die groot ego’s betref: Laat olifant maar trompetter, stof opskop en grootpraat. Sy val is naby.

God is in die wêreld aan die werk. God se geregtigheid en liefde, God se regering, spreek die laaste woord, ook deur die trou van God se mense (dis nou ons) aan God se beloftes en gebooie.

God stuur ons om te leef

Geloofsbelydenis
Die Here is ons God.
Hy is die Here van die heersers.
Hy is die Vader van sy volk wat op pad is.
Hy is die Skepper van die hemel en die aarde.
Hy sorg vir ons.
Sy koninkryk het naby gekom in Jesus van Nasaret,
die Messias, ons Here.
Hy het uit die dood opgestaan en roep ons om Hom te volg.
Die Gees bewerk die nuwe lewe in ons.
Hy lei ons in die waarheid.
Hy wys vir ons dat ons ons stukkende wêreld mooi moet maak.
Hy gaan saam met ons die toekoms in.
Outeur onbekend
(van der Merwe, J (red) 2001. Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Wellington: Lux Verbi, bl 39.)

Offergawes

Wegsending: Lied 462 “Aan U, ons Vader, lof en dank 1,2,3″

Seën
18Mag julle in staat wees om saam met al die gelowiges te begryp hoe wyd en ver en hoog en diep die liefde van Christus strek. 19Mag julle sy liefde ken, liefde wat ons verstand te bowe gaan, en mag julle heeltemal vervul word met die volheid van God. Amen (Efesiërs 3)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.