Agste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Inleiding

Vir die volgende vier Sondae vertoef ons by Paulus se brief aan die Kolossense. Dit skop af met ’n dankgebed sowel as voorbidding vir die gemeente. Die koningskap van Jesus staan sentraal in Kolossense. Amos profeteer teen die korrupte koningshuis van Jerobeam. Psalm 82 is ook ’n gebed wat bely dat God oor die nasies beskik en dat Hy onreg straf. Om Jesus se koningskap te erken en uit te leef is om jou lewe in te rig volgens die samevatting van die Wet. Op die manier kom alles weer bymekaar in die Lukasteks.

Ander tekste

Amos 7:7-17
Die derde gesig: ’n Skietlood
7Hy het my ’n gesig laat sien: Die Here het by ’n loodregte muur gestaan, en daar was ’n skietlood in sy hand. 8Hy het vir my gevra: Wat sien jy, Amos? en ek het gesê: “’n Skietlood.”

Toe sê die Here vir my:
Ek gaan ’n skietlood aanlê
in my volk Israel,
Ek gaan hom nie meer spaar nie.
9Die hoogtes van Isak sal verwoes word,
die heiligdomme van Israel
sal in puin gelê word,
en Ek sal met die swaard optree
teen die koningshuis van Jerobeam.

Amos en Amasia
10Die priester Amasia van Bet-El het vir koning Jerobeam van Israel laat weet: “Amos is besig om hier in Israel ’n komplot teen u te smee. Die land kan dit nie uithou met alles wat hy sê nie. 11Amos het gesê Jerobeam sal deur die swaard sterf, en Israel sal uit sy land in ballingskap weggevoer word.”

12Amasia het vir Amos gesê: “Maak dat jy wegkom, siener, gaan na Juda toe en verdien jou brood daar, tree daar as profeet op! 13In Bet-El mag jy nie meer as profeet optree nie, want dit is die koninklike heiligdom, die staatstempel.”

14Amos het toe vir Amasia geantwoord: “Ek is nie so ’n profeet nie en ek behoort nie tot die profetekring nie, ek boer met vee en kweek wildevye. 15Maar die Here het my agter die kleinvee weggevat en Hy het vir my gesê: Gaan tree as profeet op teen my volk Israel.

16“Hoor dan nou die woord van die Here! Jy sê ek moenie as profeet optree teen Israel nie, ek mag nie as siener teen die nageslag van Isak praat nie. 17Maar so sê die Here:
Jou vrou sal ’n prostituut word
in die stad,
jou seuns en jou dogters sal
met die swaard afgemaai word,
jou grond sal tussen ander verdeel word,
jy sal in ’n onrein land sterf,
en Israel sal in ballingskap
weggevoer word uit sy land uit.”

Deuteronomium 30:9-14
9–10Die Here jou God sal jou dan voorspoedig maak in alles wat jy aanpak en Hy sal jou kinders, die aanteel van jou vee en die opbrengs van jou land baie maak, sodat dit met jou goed sal gaan. Wanneer jy die Here jou God gehoorsaam en sy gebooie en voorskrifte nakom wat opgeteken is in hierdie wetboek, en wanneer jy met hart en siel terugkom na die Here jou God, sal Hy Hom weer oor jou verbly soos Hy Hom oor jou voorvaders verbly het en sal dit met jou goed gaan.

11“Die gebod wat ek jou vandag beveel, is nie te moeilik vir jou nie. Dit is ook nie buite jou bereik nie. 12Dit is nie in die hemel nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons opklim hemel toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie. 13Dit is ook nie oorkant die see nie, sodat jy nie hoef te sê: ‘Wie sal vir ons oorvaar na die oorkant toe om die gebod vir ons te gaan haal en ons dit mee te deel sodat ons daarvolgens kan lewe’ nie. 14Die gebod is baie naby aan jou, jy kan daaroor praat, jy ken dit, jy kan daarvolgens lewe.

Psalm 82
God beskik oor al die nasies
82 ’n Psalm van Asaf.
In die hemelse vergadering,
tussen die hemelwesens,
staan God op om uitspraak te lewer:
2“Hoe lank gaan julle nog
onregverdige beslissings vel,
nog partydig wees vir die goddelose?
3Julle moet reg laat geskied
aan die mens in nood
en aan die weeskind,
’n regverdige uitspraak vir die hulpelose
en die behoeftige lewer,
4julle moet die mens in nood
en die arme bevry,
hulle uit die mag van die goddelose red;
5maar julle weet niks,
julle verstaan niks,
julle gaan eenvoudig in duisternis voort,
en so word die fondamente
van die wêreld geskud.
6Ek het wel gesê:
Julle is almal gode,
almal met mag beklee.
7Maar nou, julle sal elkeen sterwe
soos ’n mens
en aan julle einde kom
soos enige maghebber.”
8Kom tog, o God! Lewer uitspraak
oor die wêreld,
want al die nasies
behoort aan U.

Psalm 25:1-10
Maak my u weë bekend
25 Van Dawid.
Tot U, Here, rig ek my,
2my God, op U vertrou ek.
Laat my vertroue
tog nie tevergeefs wees nie,
laat my vyande nie juig
oor wat met my gebeur nie.
3Niemand wat sy verwagting in U stel,
sal beskaam word nie.
Dié wat nie op U vertrou nie,
hulle kom in die skande.
4Maak my u wil bekend, Here,
leer my u paaie.
5Laat u waarheid my lei
en onderrig my daarin,
want U is God, my redder.
In U stel ek elke dag my verwagting.
6Dink aan die liefde en trou, Here,
wat U van altyd af betoon het.
7Moet tog nie dink aan die sondes
en oortredinge van my jeug nie.
Dink aan my in u trou, Here,
omdat U goed is.
8Die Here is goed en regverdig:
Hy wys selfs vir sondaars die pad aan,
9Hy laat aan hulpeloses reg geskied
en Hy leer hulle sy pad.
10Liefde en trou is die paaie
wat die Here bewandel
met dié wat sy verbond
en verordeninge bewaar.

Lukas 10:25-37
Die barmhartige Samaritaan
(Matt 22:34–40; Mark 12:28–34)
25Daar was ’n wetgeleerde wat aan Jesus ’n strikvraag wou stel. Hy staan toe op en vra: “Meneer, wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry?”

26Jesus sê vir hom: “Wat staan in die wet van Moses geskrywe? Wat lees jy daar?”

27Hy antwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag en met jou hele verstand, en jou naaste soos jouself.” m

28“Jy het reg geantwoord,” sê Jesus vir hom. “Doen dit en jy sal die lewe verkry.”

29Maar die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra vir Jesus: “En wie is my naaste?”

30Jesus gaan toe nader daarop in deur te sê: “Toe ’n man eenmaal op pad was van Jerusalem af na Jerigo toe, het rowers hom aangeval. Hulle het hom kaal uitgetrek en hom geslaan dat hy halfdood bly lê, en toe padgegee. 31Dit gebeur toe dat daar ’n priester met daardie pad langs kom, en toe hy hom sien, gaan hy ver langs verby. 32Net so het daar ook ’n Leviet by die plek gekom, en toe hy hom sien, gaan hy ook ver langs verby. 33Maar ’n Samaritaan wat op reis was, het op hom afgekom, en toe hy hom sien, het hy hom innig jammer gekry. 34Hy het na hom toe gegaan, sy wonde met olie en wyn behandel en hulle verbind. Toe het hy hom op sy rydier gehelp en hom na ’n herberg toe geneem en hom daar verder versorg. 35Die volgende dag haal hy twee muntstukke uit en gee dit aan die eienaar van die herberg en sê: ‘Sorg vir hom, en as jy meer onkoste met hom het, sal ek jou betaal wanneer ek hierlangs terugkom.’

36“Wie van hierdie drie is volgens jou die naaste van hom wat onder die rowers verval het?”

37Die wetgeleerde antwoord: “Die man wat aan hom medelye bewys het.”

Toe sê Jesus vir hom: “Gaan maak jy ook so.”

Fokusteks

1 Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur die wil van God, en van die broer Timoteus.
2Aan almal in Kolosse wat aan God behoort, getroue broers in Christus.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader!

Ons dank God vir julle
3Wanneer ons tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus, bid, dank ons Hom altyd vir julle 4omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges. 5Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is. 6Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is. 7Julle is daarin onderrig deur Epafras, ons geliefde medewerker en ’n getroue dienaar van Christus in julle belang. 8Dit is ook hy wat ons vertel het van die liefde wat deur die Gees in julle gewek is.

Ons bid vir julle
9Daarom, van die dag af dat ons dit van julle gehoor het, hou ons ook nie op om vir julle te bid nie. Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, julle sy wil duidelik sal laat ken, 10sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang. Mag julle vrugte dra deur goeie werke en toeneem in die kennis van God. 11Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. 12Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. 13Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. 14Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes.

Ekstra stof

Die gemeente van Kolosse is waarskynlik nie deur Paulus gestig nie (Kol 2:1), hoewel hy op ‘n keer deur die landstreek van Frigië, waar hulle geleë was, gereis het (Hand 16:6). Hulle was egter duidelik sterk onder sy invloed. Epafras wat van Kolosse af was – en ook Paulus se medewerker – was moontlik die skakel tussen hulle, en ‘n moontlike stigter van die gemeente (Kol 1:7; 4:12). Die stad was geleë naby Efese in Klein-Asië (160 km na die ooste), in die suid-weste van wat vandag as Turkye bekend staan. Hulle was ook nou verbind aan die naburige gemeentes in Laodisea en Hiërapolis (4:13,15).

Die brief is uit die gevangenis geskryf – soos ook Filippense, Efesiërs en Filemon – en soos met die ander drie briewe word die brief met Paulus se Romeinse gevangenskap verbind (Kol 4:3,10,18). Die brief was dus waarskynlik in die vroeë sestigerjare nC geskrywe, net voor ‘n aardbewing die stad getref het in 61 nC en volgens historici waarskynlik die plek verwoes het. Vandag is daar net ruïnes oor.

Dit is duidelik dat Paulus hierdie brief skryf om sekere idees en praktyke wat begin posvat het in die gemeente se invloed teë te werk. Dit is dus nie soseer die mense self – bv dwaalleraars – wat aangevat word nie. Hy vat eerder hulle idees en praktyke aan. Daar was in elk geval nog nooit sekerheid onder geleerdes om hierdie idees met ‘n spesifieke bekende groep uit daardie tyd te verbind nie – hetsy die gnostici of die Joodse mistiek of ‘n mengsel daarvan nie.

Wat ‘n mens uit die brief aflei, is dat hierdie idees en gebruike van ’n interessante vermenging van Joodse en ander godsdienstige en filosofiese idees en praktyke gekom het.

  • Dit sluit teorieë (letterlik filosofieë) en argumente (leë leringe), waarmee Paulus nie die filosowe as sodanig aanvat nie, maar dié in Kolosse wat inhoudsloos was en slegs op menslike tradisies en basiese okkultiese of astrologiese beginsels berus het (NAV se “wettiese godsdienstige reëls” vertaal die Griekse frase: ta stoicheia tou kosmos, wat eerder beteken: “die magte van die heelal” – O’Brien), en nie op Christus nie (2:8,20).
  • Dit sluit ook sekere Joodse voorskrifte in – dinge soos die reëls van wat jy mag eet of drink of waaraan jy mag vat of dan nou juis nie (vgl ook 2:20-21), feeste wat gevier moet word (jaarlikse feeste en die nuwemaansfees) en die hou van die sabbatdag (2:16).
  • Daarby was daar ook sprake van ‘n aanbidding van engele (2:18), en asketiese gebruike (streng beheersing van die liggaam – 2:23).

‘n Swetterjoel vreemde invloede dus wat gedreig het om die boodskap van Christus te verdring en hulle in bygeloof te laat verval.

In Christus is hulle immers dood vir die invloed van die magte van hierdie wêreld (2:20). En hierdie selfgemaakte leerstellings maak geen bydrae tot ‘n mens se verlossing nie (2:23). Selfs nie die besnydenis is meer ‘n onderskeidingsteken van die Christen se geloof nie, net die werklikheid van Christus in elkeen se lewe (3:10). Daarom maak Paulus beswaar teen enige vermenging van die geloof in Christus met selfgemaakte leerstellings, veral wanneer dit nog met jou saligheid verbind word.

Paulus help dus die gemeente en sy leiers om vir dié idees en praktyke te kan nee sê, voor dit te veel aanhangers in die gemeente sou hê. Die brief is dus eintlik een van die vroegste Christelike Apologieë, wat die Christelike godsdiens teenoor leë filosofiese teorieë en vreemde gebruike verdedig.

Paulus wil daarteenoor sterk beklemtoon dat dit in die Christelike geloof net om Christus gaan, iets wat hy ook sterk beklemtoon het in sy brief aan Filippi (Fil 3:1 vv). Dit is waarom hy in die eerste hoofstuk soveel klem lê op die voorrang van die Seun, nie net in betrekking tot die aarde nie, maar ook met betrekking tot die hemel (Kol 1:15-20). Die enigste manier om te leef, is om vanuit ‘n verhouding met Christus te leef en Hom toe te laat om alle verhoudinge waarbinne jy leef, te beïnvloed (Kol 3 vv). Dit het ‘n invloed op jou eie menswees (3:5-17), op jou verhoudings in die huweliks- en gesinslewe, op jou verhoudings in die werksplek (3:18-4:1), sowel as op jou verhouding met mense wat nog buite die geloof staan (4:5).

Dit is ook interessant dat die brief van Kolossense sterk inhoudelike ooreenkomste het met die brief van Efesiërs. Beide gemeentes se geloof en liefde word vermeld (Kol 1:4,8 – Ef 1:15), Paulus bid vir hulle vir nog dieper geestelike insig (Kol 1:9-10 – Ef 1:17 – vgl Fil 1:9-10), Jesus word as Hoof van die kerk beskryf (Kol 1:18,24 – Ef 1:22-23) sowel as oor die magte (Kol 1:16-17 – Ef 1:21), en hulle word tot ‘n heilige lewe opgeroep (Kol 3:1-17 – Ef 4:17-5:13). Dit wil voorkom asof Efesiërs verder uitbrei op temas wat in Kolossense aangeraak is, wat geleerdes Kolossense voor Efesiërs plaas (Lincoln), maar daar is nie genoeg bewyse na watter kant toe ook al nie.

Kolossense 1:1-14 – Om God te ken en vir Hom te lewe
Paulus word weer saam met Timoteus as die skrywers van die brief aangekondig, soos vroeër ook die geval was met die brief aan 1 Tessalonisense en 2 Korintiërs, en twee van die ander gevangeniskapbriewe: Filippense, en Filemon.

Paulus maak God deel van sy gesprek met Kolosse
Dit is interessant hoe Paulus sy gebed in gesprek laat oorgaan. Hy begin deur God te dank vir die gemeente se geloof, liefde en hoop (1:3-8), doen voorbidding vir hulle (1:9-14 – dit is in Grieks een sin!), en laat die gebed dan sonder onderbreking oorgaan in ‘n gesprek om hulle aan te spoor om self ook nie op te hou om die Here te dank nie (1:12-14). Dit mond uit in ‘n poëtiese loflied op die voorrang van die Seun, wat die meeste geleerdes as ‘n loflied uit daardie tyd identifiseer (1:15-20).

In die praktyk tref ons gewoonlik ‘n onderskeid tussen gebed – waar ons met God besig is – en gesprek – waar ons met mekaar besig is. Dink egter net aan die effek wat dit kan hê as ons gebede deel van ons gesprekke sou maak. En ek bedoel nou nie om dit geforseerd te doen nie, maar heel gemaklik in ons gemeenskap met mekaar die Here te erken en Hom deel van ons gesprekke te maak. Dit kan ‘n dimensie vir ons oopmaak van God se teenwoordigheid in ons almal se lewens wat lewensveranderend kan wees.

Geloof, liefde en hoop
Let ook op na wyse waarop Paulus oor die drie groot sake van die Christelike lewe skryf: geloof, hoop en liefde (1 Kor 13:13; 1 Tes 1:3; vgl ook 1 Pet 1:3-9). Hy beskryf hier geloof en liefde as dinge wat op die hoop gebou is. En dié hoop is verbind aan (weggelê het die OAV vertaal – weggebêre) die hemel, God se werklikheid – ‘n bietjie anders verwoord as in Paulus se brief aan Korinte en Tessalonika. Hoop is hier iets waarvoor God instaan. Dit is nie iets wat deur omstandighede weggeneem kan word nie.

Geloof word uitgespel as iets wat in Christus Jesus gewortel is; liefde word uitgespel as iets wat ons verhouding met al die gelowiges definieer. Wat my laat dink dat Paulus hier na geloof verwys as iets wat gewortel is in die historiese werklikheid van Christus Jesus se eerste koms – die verlede; dat die liefde weer met die teenswoordige wêreld te make het waar ons mekaar moet vashou in liefde – die hede; en dat die hoop met die toekomstige wêreld te make het, wat ons die moed gee om hier aan God en mekaar vas te hou – die toekoms.

Om God te ken en vir Hom te lewe
Let ook op wat Paulus vir hulle bid. Hy wil hê dat vyf goed van hulle waar sal wees, vyf goed wat ons gerus ook vir mekaar kan bid:

  • Dat hulle God se wil duidelik sal ken (epignosis) deur die wysheid (sophia) en insig (sunesis) wat die Gees gee;
  • Dat hulle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang;
  • Dat hulle vrugte sal dra deur goeie werke;
  • Dat hulle sal toeneem in hulle kennis van God;
  • Dat hulle in alle omstandighede geduldig sal kan volhard deur God se wonderbare krag.

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 436 of VONKK 24 of F364

Votum: (n.a.v. Kol. 1:5-6)

Seëngroet (N.a.v. Kol. 1:2)

Lofsang: Lied 200 of F112. (a) [bekend]

Ingebed in die Wil van God: (Kolossense 1:9-11)

Lied 271 of VONKK 113 of Flam 112 (b) [bekend]

Genadeverkondiging: (Kolossense 1:12-14)

Lied 245 of  F51.

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed: (Kolossense 1:9b)

Skriflesing: Kolossense 1:1-14

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed: Kolossense 1:9-14

Dankoffer

Slotsang: Lied 286 of F170.

Seën: (n.a.v. Kolossense 1:9-14)

Respons: Lied 529 vers 1 of VONKK 51

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 436 “Herskep, o Gees, laat leef, o Gees” of
VONKK 24 Gees Van God, Kom Woon In Ons of
F364. “Ek Wil Honger” (Stil)

Votum: (n.a.v. Kol. 1:5-6)
Julle geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is. Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is.

Seëngroet: (N.a.v. Kol. 1:2)Aan almal in [gemeente] wat aan God behoort, getroue broers en susters in Christus.
Genade en vrede vir julle van God ons Vader [en die Here Jesus Christus, deur die kragtige werking van die Heilige Gees]

Lofsang
Lied 200 “U goedheid, Heer, kan ons nie peil nie”
F112. (a) My Hande Hef Ek Op Na U [bekend]

Ingebed in die Wil van God
Vanoggend se Skriflesing is ‘n gebed, wat nie net vir ons sê wat die wil van God vir ons lewens is nie (die “wet”), maar juis ook bid dat ons die krag sal hê om daarin te volhard. Bewus van ons swakheid en mislukking, kom ons wy onsself vandag aan God toe deur saam met die Kolossense-brief hiervoor te bid:

[Lees Kolossense 1:9-11 rustig met tussenposes vir stilte, sodat lidmate biddend kan reflekteer oor die verskillende aspekte]
Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, ons sy wil duidelik sal laat ken…
sodat ons tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang…
Mag ons vrugte dra deur goeie werke…
Mag ons toeneem in die kennis van God…
Mag God deur sy wonderbare krag ons alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard. ..

Lied 271 “Heil’ge Jesus, wat my leweof
VONKK 113 Kom, Heilige Gees
Flam 112 (b) Ek Roem U Naam [bekend]

Genadeverkondiging
Kolossense 1:12-14
12Met blydskap moet julle die Vader dank wat julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. 13Hy het ons uit die mag van die duisternis weggeruk en ons onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. 14Deur die Seun het ons die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes.

Lied 245 “Ek wat vergifnis, Heer, ontvang het”
F51. Koning Van My Hart

Geloofsbelydenis
Ek glo in hierdie Vader
wat Hom geopenbaar het in Sy Seun,
die Mens wat tussen ons kom woon het
as die Waarheid teen die Leuen:
“Sien dan dié Mens! – die geheim van My gesig.”
Ek glo in die Heilige Gees
die Wind van God
wat oor die leegheid van my lewe waai
en die koers bepaal ­
weg van myself weg van Tarsis
na die nood in Ninevé.
Ek glo aan die kerk wat uit Christus groei
tot nuwe skeppingswerk;
om alle mense
met geloof en hoop en liefde te verbind
aan die Koninkryk van God se Kind.
Ek glo aan die gemeenskap van stukkende sondaars
wat kniel voor die Heiligheid van God.
Ek glo aan die vergiffenis ­
dat Genade altyd groter is
as my sonde en geskiedenis.
Ek glo aan die heropstanding van die liggaam
want ek glo in Christus.
Ek glo aan die ewige lewe
wat hier begin
en ná die dood
die blydenuus bly sing.
(Uittreksel uit Wilhelm Jordaan: “Blydenuus van Geloof”, uit “Gebedeboek met liturgiese Voorstelle”)

Liedere

F112. (a) “My Hande Hef Ek Op Na U
(RUBRIEK: Flam – Lof)
Oorspronklike titel: I Lift My Hands
Teks en musiek: André Kempen
Afrikaanse vertaling: Vers 1 Jan de Wet en vers 2 Atlanta van Vuuren
© 1989 Kempen Music

1. My hande hef ek op na U.
Ek loof U naam en buig voor U
want U is Heer,
die Koning van my hart.
En ek dien geen afgod nie
en niks is meer belangrik nie
as dat U in my hart regeer
daar is geen plek vir ander nie.
Voor U o Heer,
lê ek nou, my lewe neer.

2. O Koning Heer, ek wil U eer
U naam besing, U hulde bring
want U o Heer, bly altyd, in beheer.
U wil ek my lewe wy
gehoorsaam my in U verbly.
Laat my lied ’n loflied wees
aan U o Vader, Seun en Gees.
Ek wil U roem, Vader noem
My God en Heer.

(b) “Ek Roem U Naam
(RUBRIEK: Flam – Lof / Skuldbelydenis)
Oorspronklike titel: I lift my hands
Musiek: André Kempen
Teks: Braam Hanekom (met toestemming André Kempen)
© 1989 Kempen Music
(Opgeneem in Jeugsangbundel II; Opgeneem op Suid-Afrika se 100 Gunsteling Geestelike Liedere)

1. Ek roem u Naam,
ek wil graag sing.
Ek wil U eer,
U hulde bring
want daar is trou en liefde by U, Heer.

Refrein:
Ek wil voor u almag buig,
met my hele hart getuig
van u groot ontferming,
genade vir ’n sterfling.
Ja, daar is geen einde aan u liefde nie.

2. My diepste nood
bring ek voor U.
Ek bid tot U,
ek vra U, Heer,
sien my tog raak, genees my grootste seer.

Refrein:

F51. Koning Van My Hart
(RUBRIEK: Flam – Toewyding / Gebed)
Teks en musiek: Rick Moser
© 1994 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lied, vol 2)

Koning van my hart,
koning van my lewe,
U wil ek bemin,
U lof besing vir ewig.
U het my bevry
my sondeskuld vergewe.
Koning van my lewe,
koning van my hart.

F364. Ek Wil Honger (Stil) 
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toetrede)
Teks en musiek: Francois Lamprecht
Kopiereg: Ó Urial Publishing

Ek wil honger; laat my dors vir ’n oomblik voor u oë
Myself te sien, te weet U hoor, myself kom gee ek oor.
Help my alles neer te lê
vir ’n oomblik, om ’n oomblik
voor u oë te hê.
Stil, maak my stil,
stil, maak my stil.

VONKK 24 Gees Van God, Kom Woon In Ons
Teks: Tui amoris ignem – Taizé 2001; Afrikaanse weergawe Breda Ludik 2003/2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Latyn, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Gebed / Pinkster

Gees van God, kom woon in ons.
Vuur in ons aan die gloed van u liefde.
Kom oor ons, o Gees van God.
Kom oor ons, o Gees van God.

Veni Sancte Spiritus,
tui amoris ignem accende.
Veni Sancte Spiritus,
veni Sancte Spiritus.

VONKK 113 Kom, Heilige Gees
Teks: Jacques Louw 2010 ©
Melodie: WILLEM PRETORIUS – Karien Pretorius 2008 ©
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2010 (Pro Deo)
Klavierbegeleiding: Riaan Steyn 2010 ©
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Kontemporêr – Gebed / Pinkster

Keervers
Kom, Heilige Gees,
kom vul my hart,
my gees, my verstand.
Raak my nou aan
dat ek kan verstaan
u doel met my lewe.

Vers 1
Dat ek my lewe, my krag, my vermoëns,
aan U kan toewy –
u dien met my gawes.
Ek wil gehoorsaam U dien in liefde.
Ek lê myself, Heer, voor U neer.

Keervers
Kom, Heilige Gees,
kom vul my hart,
my gees, my verstand.
Raak my nou aan,
dat ek kan verstaan
u doel met my lewe.

Vers 2
Maak my getuie van hoop en bevryding
wat in die wêreld u liefde sal uitdra.
Maak my vrymoedig, diensbaar, gewillig
om met my lewe U te eer.

Keervers
Kom, Heilige Gees,
kom vul my hart,
my gees, my verstand.
Raak my nou aan,
dat ek kan verstaan
u doel met my lewe.

F170. Here Open Ons Harte (Soos In Die Hemel) (
(RUBRIEK: Flam – Gebed / Toewyding)
Teks en musiek: Retief Burger
Kopiereg: © 2008 Urial Publishing
(Opgeneem op Oorgegee)

1. Here, open ons harte, open ons oë,
Here wys ons die ewigheid, dat ons kan glo.
Daar is meer, daar’s soveel meer

om ons lewens voor te gee.
2. Here, leer my van liefde, dat liefde altyd wen.
Here, leer my gehoorsaamheid dat ek kan sien.
Daar is meer, daar’s soveel meer
as ek my lewe weg sal gee.

Pre-refrein:
Here, hier is ek, ek gee myself.
Alles vir u eer, alles vir u Naam, alles lê ek neer.

Refrein:
Soos in die hemel, soos in u hart
so ook op die aarde, in elke tree wat ek stap.
Laat u wil geskied, in ’n hart wat brand vir U.
Soos in die hemel, soos in u hart
so ook in my lewe, in elke keuse wat ek maak.
Laat u Koninkryk kom, in ’n hart wat brand vir U,
alles vir u eer, alles vir u Naam, alles lê ek neer.

Brug:
Doen met my lewe, net wat U wil.
Want U is my Here, doen wat U wil.
Alles wat ek het gee ek vir U.

God praat met ons en ons luister

Gebed
Ons vra U dat U deur al die wysheid en insig wat die Gees gee, ons u wil duidelik sal laat ken. (Kolossense 1:9b)

Skriflesing: Kolossense 1:1-14

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Vandag se skrifgedeelte is baie abstrak. Dis moeilik vir kinders om daarby aansluiting te vind. Aangesien die hele liturgie en preek egter deurlopend fokus op gebed, is vandag ’n goeie geleentheid om te gesels oor hoe ’n mens bid. Verduidelik dat gebed is om met God te gesels. Gesels dan oor wat ons alles kan doen wanneer ons bid. (Ons het nie regtig patrone en modelle nodig nie. Ons kan gewoon bid wat op ons hart is. Tog help dit om in ons gereelde gebedstyd ‘n sekere patroon te volg. Sodoende leer ons ons kinders om nie net selfsugtig te bid nie, maar om die volle omvang van gebed te leer ken.) Gee geleentheid by elke ding wat ons in gebed doen, vir mense om voorbeelde te noem – en bid dan daarvoor! Of laat gesinne saam bid.

Laat almal hul hande op papier afteken. Skryf by elke vinger waaraan dit ons herinner:

Loof (wys “thumbs up”): Duim is eerste – ons begin altyd by God deur God te loof – deur vir God te sê hoekom ons lief is vir hom. Gesels: waarvoor kan ons vir God loof? (Voltooi die sin: Ek loof God, want hy is… liefdevol, magtig, genadig, slim, getrou… Skryf die woorde neer.) Bid: Here, ons prys U, want u is (lees die woorde wat jy geskryf het). In Jesus se Naam, Amen.

Jammer (wys kwaai wyswinger): Wysvinger – wanneer iemand met jou raas of sê wat jy moet doen, wys hulle met hierdie vinger. Volgende sê ons vir God jammer vir die goed wat ons verkeerd gedoen het. Gesels: waarvoor kan ‘n mens alles vir God jammer sê? (Voltooi die sin: Here, ek is jammer dat ek… nie my kamer skoongemaak het nie, ongeduldig was met ‘n familielid, lelik was met mamma, gejok het…) Bid: Here, ons is jammer vir al die dinge wat ons verkeerd gedoen het. Ons is jammer vir al die kere wat ons … (lees die woorde wat jy neergeskryf het). In Jesus se Naam, Amen.

Dankie: Middelvinger – dis die langste vinger, want dis belangriker dat ons “dankie” sê as om te vra vir goed. Ons sê ook vir God DANKIE wanneer hy ons gebede beantwoord, wanneer hy iets in ons lewens doen en vir al die seëninge wat hy vir ons en ander gee. Gesels: waarvoor kan ‘n mens alles vir God dankie sê? (Voltooi die sin: Here, dankie dat U… my hond gesond gemaak het, my Pappa veilig teruggebring het na sy reis, my beter laat voel het, altyd by my is, vir my wonderlike vriende gegee het, vir ons die Bybel gegee het…) Bid: Here, dankie vir alles wat U vir ons doen. Dankie vir … (lees die woorde). In Jesus se Naam, Amen.

Vra: God wil ook hê ons moet VRA vir wat ons of ander mense nodig het. Ringvinger – dis die swakste vinger, daarom bid ons vir ander mense wat swak is (laat almal probeer om hul ringvingers alleen regop te hou).

Pinkie – dis die kleinste, so ek bid heel laaste vir myself.

Gesels: waarvoor kan ‘n mens alles vir God vra? (Voltooi die sin: Here, sal u asseblief… by ouma wees, my help met my toets, gee dat ek ‘n kontrak kry, help my om met my boetie oor die weg te kom…) Bid: Here, ons het U so nodig en is so dankbaar dat U ons versoeke hoor. Ons vra… (lees die woorde). In Jesus se Naam, Amen.

Hier is ’n inkleur-boekmerk met die verskillende dele van gebed (boekmerk deur Jaco Potgieter, met toestemming gebruik.   .

Preekriglyn

Hoe laat moet mens die TV aanskakel om die rugby “down under” te kyk? Of die Amerikaanse Ope op Flushing Meadows? Die gholf uit Groot Brittanje? Ons weet dit net omdat daar ‘n internasionale manier is om tyd en tydsverskil te beskryf. Ons weet hoe ver ons tyd verskil van die sentrale lengtegraad.

Mens kan die sentrale lengtegraad gaan “besoek” by die Greenwich-Observatorium digby Londen. Moenie jou te veel inspan nie, want dit is niks meer as ‘n onindrukwekkende lyn op die sypaadjie nie. Eintlik is Greenwich Mean Time ‘n onsigbare lyn wat die wêreld omspan.

Die sentrale tydlyn is vasgestel by die Internasionale Lengtegraad-Konferensie van 1884. Voor 1884 het almal oral oor die wêreld hul eie plaaslike tyd gehou. Dit was eers toe ‘n sentrale tydlyn bepaal is, en plaaslike tyd in terme van afwyking hiervan beskryf is, dat internasionale handel, kommunikasie en reis regtig prakties moontlik geword het. Suid-Afrika se GMT+2. (GMT, oftewel Greenwich Mean Time; daar is ook ‘n internasionale tydstandaard wat as UCT, Universal Time Coordinated, bekendstaan. UCT werk met dieselfde indeling as GMT.)

‘n Belangrike punt: die sentrale tydlyn se verhouding tot die son en sterrestelsels is presies bepaald en dit staan vas. Die posisie van die tydlyn word bepaal deur sy verhouding tot die hemelligame. Daaraan kan almal regoor die aarde hulself oriënteer. Jy kan reg rondom die aarde uitwerk, met verwysing na die sterrestelsels, waar jy in verhouding tot die sentrale tydlyn is.

Die konsep van ‘n sentrale tydlyn is die werk van John Flamsteed, die eerste sterrekundige wat dit sy werk gemaak het op ‘n kaart vir navigasie op aarde aan die hand van die posisie van duisende sterre op te stel. Aan die hand van Flamsteed se werk kon wetenskaplikes maniere ontwikkel waarmee mense hul posisie op aarde presies kon bepaal. Daarmee is ‘n baie basiese vraag beantwoord: “Waar is ek?”

Dieper oriëntering

Natuurlik het mense ook ‘n behoefte aan dieper oriëntering. Wie is ek? Waar kom ek vandaan? Waarheen is ek op pad? Hoe vind ek sekerheid en betekenis op hierdie reis? Wat is die sin van die wêreld, plek en tyd waar ek myself bevind?

Hierdie dieper vrae vra ook na basiese oriënteringspunte. Watter oriënteringspunte of lyne sal ons gebruik om hierdie landskap van betekenis en sin te probeer beskryf?

Die landskap van God

Paulus begin sy brief aan die Kolossense met so ‘n vaste oriënteringspunt. Hy praat van God die Vader, Jesus Christus die Here, en die werk van die Heilige Gees. Hy bid dankbaar oor God se werk in die lewe van die Kolossense waardeur hulle veranker geraak het in ‘n vaste baan van sin en betekenis.

Hierdie verankering is nie ‘n lyn op ‘n sypaadjie uitgemerk, of ‘n wetenskaplike definisie nie. Die Bybelse oriënteringslyn wat die diepste verankering denkbaar bied, is ‘n verhouding. Dit is ‘n verhouding met God as Vader, Seun en Heilige Gees. Hierdie God omvat ons, in Hom leef en beweeg ons, uit Hom bestaan ons. Ons is ‘n skepping van God, ook as gemeente, en kan nie sonder rus in God bestaan nie.

Die werklikheid van God-Drie-enig is vir Paulus die landskap waarin ons leef. Ons persoonlike verhouding met God is ons diepste oriënteringspunt in die landskap van God.

Agtergrond

Die gelowiges van Kolosse het oriëntering nodig gehad. Hulle was ‘n klein groepie gelowiges tussen ‘n massa mense wat ander gode gedien het. Dan was hulle ook geteister deur mense wat hulle as volgelinge van Jesus voorgedoen het, maar ‘n klomp ander bykomende godsdienstige reëls, wyshede en regulasies aan die Kolossense wou opdring. Dit het alles die potensiaal gehad om hulle van God te vervreem.

Kolosse (naby die hedendaagse Denizli in Turkye), geleë aan die voet van die Kadmusberg, was op sy dag ‘n belangrike landbouhandelsentrum vir die wol- en tekstielbedryf. Buurdorpe was Laodisea (Kol 2:1; 4:13, 15,16), ‘n ekonomiese en politieke sentrum, asook in Hiërapolis (4:13), ‘n toeristedorp met warmbaddens wat bekend was vir die Frigiese godsdiens. Tussen hakies, Hiërapolis is by die gewilde moderne toerismesentrum, Pamukkale. Kolosse was ‘n kleiner stad op die handelsroete vanaf Efese na die binneland.

Die bevolking was van gemengde afkoms, naamlik Grieks en Romeins. ‘n Groot minderheidsgroep Jode was toe reeds vir meer as drie eeue daar woonagtig. Hierdie verskeidenheid mense het almal uiteenlopende godsdienstige oortuigings gehad wat die klein gemeente bedreig het, en hulle van Jesus kon wegtrek.

Die gemeente

Die gemeente van Kolosse is waarskynlik nie deur Paulus gestig nie (Kol 2:1), hoewel hy op ‘n keer deur die landstreek van Frigië, waar hulle geleë was, gereis het (Hand 16:6). Hulle was egter sterk onder Paulus se invloed. Epafras wat van Kolosse af was – en ook Paulus se medewerker – was moontlik die skakel tussen hulle, en ‘n moontlike stigter van die gemeente (Kol 1:7; 4:12).

Die brief is uit die gevangenis geskryf – soos ook Filippense, Efesiërs en Filemon – en soos met die ander drie briewe word die brief met Paulus se gevangenskap in Rome verbind (Kol 4:3,10,18). Die brief was dus waarskynlik in die vroeë sestigerjare nC geskrywe, net voor ‘n aardbewing die stad getref het in 61 nC en volgens historici waarskynlik die plek verwoes het.

Sedertdien is daar net ruïnes van Kolosse oor. Die stad is nooit herbou nie.

Doel van die brief

Die doel van die brief lê op verskeie vlakke:

  • Die brief wil die gemeente van Kolosse (2:2), maar ook Laodisea (4:16), bemoedig en aanmoedig om in liefde verbind, saam te streef na ‘n dieper en voller insig van God. Dit wil die gemeente ‘n vaste oriënteringspunt in God gee.
  • Die brief spreek ook sekere spanninge binne die gemeente aan wat waarskynlik te make het met dwaalleringe oor kalenderfeeste van heidense bekeerlinge en dieet-regulasies afkomstig van Joodse bekeerlinge (2:4; 8-9,16, 21-23).
  • Jesus Christus, die openbaring van God se waarheid, staan sentraal. Paulus benadruk dat redding deur Christus alleen verkry word en nie deur engele nie, ‘n moontlike dwaalinvloed afkomstig van Joodse en Griekse bekeerlinge. Deur Jesus, self God, leer ons God betroubaar ken.
  • Uit Paulus se beklemtoning van die rol van Epafras (vgl. 1:7-8; 4:12-13) kan afgelei word daar was moontlik spanning tussen die gemeente en hulle leier, Epafras. Palus bevestig Epafras reg deur die brief as ‘n getroue medewerker en verkondiger van die evangelie.
Vrug van God Drie-Enig se werk

Terug by die soeke na oriëntering en vaste fondamente.

Paulus beklemtoon dat die gemeente bestaan as vrug van God die Vader, Seun en Heilige Gees se werk in die wêreld.

Veral Christus staan sentraal. Reeds in die openingsverse stel Paulus homself bekend as die “apostel van Christus Jesus” en die gemeente as “getrou en heilig in Christus”. Dit handel in Kolossense deurlopend oor Christus: in die aanhef, in die gebede daarna, in die bekende lied in vers 15-20 en ook verder in die brief.

Aangesien die gemeente bestaan in Christus, moet die gemeente ook leef en gegrondves wees in Christus.

Die verwysing na God die “Vader” is ook belangrik. Die reddingswerk van God “die Vader” word in ons teksgedeelte beklemtoon (vgl vers 1, 3 en 12). Die werk van die Gees wat liefde wek (8) en wysheid en insig gee (9), word ook onderstreep.

Dus word die persone en werksaamhede van die Drie-eenheid in ons teks vervleg. Vers 12 beklemtoon dat God ons definieer en aan ons ‘n nuwe identiteit gee. Ons burgerskap is in die ryk van God. God laat ons ook deel in die erfenis van die heiliges. Ons lewe word dus nie bepaal deur, en is ook nie afhanklik van, enige erkenning of bevoegdheid vanuit die wêreld nie. Die enigste status is dié van iemand wat deur God self gered is. As bekeerlinge is ons almal heilig, arm of ryk, vry of slaaf, Griek of Jood (vgl. Kol 3:11). Des te meer nog, is God die Een wat ons bemagtig; in staat stel om volgens sy wil te lewe. Die Gees rus ons toe met die nodige kennis, krag en insig; die vrug van die evangelie, naamlik geloof, hoop en liefde. Dit is God – die Vader, Seun en Gees – wat red vanuit die duisternis na die lig van heiligheid en ons nog verder transformeer.

Vrug van die evangelie

Hoe het God se werk vaardig geraak in Kolosse? Die gemeente is die vrug van die evangelie wat hulle deur die verkondiging van mense bereik het. Dit is by die hoor van die evangelie dat God kragtig onder mense werk en nuwe lewe bring:

Die evangelie het julle bereik, en net soos dit in die hele wêreld vrug voortbring en verder versprei, gebeur dit ook by julle van die dag af dat julle van God se genade gehoor het en dit leer ken het soos dit werklik is. Julle is daarin onderrig deur Epafras, ons geliefde medewerker en ’n getroue dienaar van Christus in julle belang.(6-8)

God werk deur Christus en die krag van die Heilige Gees in die wêreld. Die evangelie getuig hieroor. Die verkondiging van hierdie evangelie raak mense aan, wek geloof in hulle, bind hulle aan God en maak hulle so God se gemeente. Die evangelie trek soos ‘n vloedgolf deur die wêreld, ook deur Kolosse, en maak oral van mense God se kinders en God se gemeente.

Ons is dus nie gemeente krag die wil van mense, of die krag van menslike wysheid nie. Ons is opgeneem in die beweging van God in die wêreld en daarom gemeente van God. Wie ons is, waar ons vandaan kom, en waarheen ons op pad is, is veranker aan die werklikheid van God. Dit lê vas buite onsself, in God. Ons lewensanker lê op die vaste rots van God ingebed.

Paulus gebruik die beeld van ‘n boom wat vrug dra om die verankerde posisie van die Kolossense te verduidelik. Gewortel in Christus, is die gelowiges geroep om die vrugte te dra van geloof, hoop en liefde.

Geloof, hoop en liefde

Wat doen God in gelowiges se lewe? Wat is die vrug van God se werk in mense se lewens? Paulus skryf:

Wanneer ons tot God, die Vader van ons Here Jesus Christus, bid, dank ons Hom altyd vir julle omdat ons gehoor het van julle geloof in Christus Jesus en van julle liefde vir al die gelowiges. Hierdie geloof en liefde is gegrond op die hoop wat vir julle in die hemel bewaar word en waarvan julle reeds gehoor het toe die waarheid, die evangelie, aan julle verkondig is. (3-5)

God werk geloof, hoop en liefde in mense se lewens:

  • Geloof is in Christus Jesus gewortel. Geloof is vir Paulus om vas te staan in die waarheid, die evangelie. Dit verbind ons aan Christus en dit wat Hy vir ons gedoen het.
  • Liefde definieer weer ons verhouding met ons medegelowiges. Die Heilige Gees werk dit in ons (8) en bou so ‘n volmaakte band tussen gelowiges. Medegelowiges is ook ‘n anker, ‘n oriënteringspunt.
  • Geloof en liefde bou beide op die hoop, want sonder hoop op die toekoms saam met Christus kan daar geen geloof of liefde wees nie. Hoop, wat deur God geskenk word, gee ons die krag om te glo en lief te hê. Dit bind ons aan ons toekoms in Christus.
Gebed

Opvallend genoeg bevat ons teks twee gebede van Paulus vir die Kolossense. Dit onderstreep hoe belangrik gebed is. Die eerste gebed is ‘n dankgebed (3) waarin Paulus die Here dank vir die geloof en liefde, gegrond in die hoop, wat God in die gemeente werk.

Dit is ‘n gebed van waardering, waarin dit duidelik word dat ons mekaar in die eerste plek in die lig van God se werk in ons moet sien, en nie in terme van ons gebreke nie. Ons dankbaarheid oor mekaar groei uit God se genade in ons lewens. Selfs al moet Paulus later in die brief waarsku oor die verkeerde en oor dwalinge, is sy eerste en laaste perspektief op die Kolossense ‘n gebed van dankbaarheid.

Die tweede gebed, vanaf vers 9, is ‘n gebed van voorbidding. Paulus bid vir vyf dinge in die Kolossense se lewens:

  • Dat hulle God se wil duidelik sal ken deur die wysheid en insig wat die Gees gee;
  • Dat hulle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang;
  • Dat hulle vrugte sal dra deur goeie werke;
  • Dat hulle sal toeneem in hulle kennis van God;
  • Dat hulle in alle omstandighede geduldig sal kan volhard deur God se wonderbare krag.

Hierdie gebed is gevul met wonderlike inhoud. Dit vra dat die Kolossense nader aan God en nader aan mekaar sal groei, en dat hulle in alle opsigte sal doen wat God vra. So bly hulle ingebed in die landskap van God.

Dank God

Ons teks word afgesluit met ‘n oproep dat die Kolossense God met blydskap moet dank, omdat God aan hulle ‘n erfenis in die ryk van die lig gegee het. God het hulle hul identiteit en ankerpunt gegee. Hy het hulle weggeruk uit die duisternis en hulle onder die heerskappy van sy Seun gestel. Deur die Seun het hulle (ons) die verlossing gekry, die vergewing van hulle (ons) sondes (12-14).

Vaste oriënteringspunte

Waaraan is die Kolossense se geloof dus veranker? Wat is die vaste oriënteringspunte? Ons kan vandag vir onsself toeëien wat Paulus aan die Kolossense skryf:

  • Hulle verlossing en die bestaan van die gemeente is die direkte vrug van God se werk. Daar sou geen gemeente wees sonder die inisiatief van God nie. Net soos Paulus ‘n apostel is deur die wil van God, so is Kolossense ‘n gemeente deur die werk van God om mense na Hom toe te trek, mense wat aan Hom behoort. Die gemeente se bestaan het ‘n hemelse fondament.
  • Hul geloof is die vrug van die evangelie wat hulle bereik het. Die evangelie is die genade van God waarvan hulle gehoor het, en waarin hulle groei en onderrig word. Die vrug wat die evangelie voortbring versprei al verder. As deel van hierdie vrug groei die Kolossense in geloof, liefde en hoop.
  • Gebede van dankbaarheid en gebede vir groei in geloof is ‘n wesenlike deel van gelowiges se liefde en omgee vir mekaar.
  • Ons moet bid dat God die doen van sy wil in ons lewens aan ons skenk Dit bestaan uit die volgende:
    • Dat ons God se wil duidelik sal ken deur die wysheid en insig wat die Gees gee;
    • Dat ons tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang;
    • Dat ons vrugte sal dra deur goeie werke;
    • Dat ons sal toeneem in hulle kennis van God;
    • Dat ons in alle omstandighede geduldig sal kan volhard deur God se wonderbare krag.

Kom ons bid vandag dat die evangelie toenemend in ons eie lewe vrug sal dra. Vrug wat ons sal laat lewe uit die werklikheid van God, en groeiende kennis van God, sodat ons doen net wat Hy verlang. Mag ons in geloof en goeie werke volhard met die krag en wysheid wat God alleen gee.

God stuur ons om te leef

Gebed: Kolossense 1:9-14

Dankoffer

Slotsang
Lied 286 “Here God van Liefdeof
F170. Here Open Ons Harte (Soos In Die Hemel)

Seën
(n.a.v. Kolossense 1:9-14)
Mag die Gees aan julle wysheid en insig wat die Gees gee, sodat julle God se wil duidelik sal ken.
Mag julle tot eer van die Here lewe deur net te doen wat Hy verlang.
Mag julle vrugte dra deur goeie werke.
Mag julle toeneem in die kennis van God.
Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard.
En onthou:
Die Vader het julle geskik gemaak het om deel te hê aan die erfenis wat vir die gelowiges wag in die ryk van die lig. Hy het julle uit die mag van die duisternis weggeruk en julle onder die heerskappy gestel van sy Seun wat Hy liefhet. Deur die Seun het julle die verlossing verkry, die vergewing van ons sondes.

Respons
Lied 529 vers 1 “Dank, dank die Heer” of
VONKK 51 “Dankie, Heer” (Kanon)
Psalm 106:1
Teks: Danket, danket dem Herrn – tradisioneel Duits; Lizette Murray 1993, effens gewysig 2008
Melodie: DANKET DEM HERRN – tradisioneel Duits 18E
Ostinato: Cassie Carstens 1993 (Pro Deo)
Gebruik met toestemming van die NG Kerk Uitgewers
© Afrikaanse teks en ostinatobegeleiding: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Duitse teks en melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Kinderlied – Gebed / Tafelgebed

1. Dankie, Heer, dankie, Heer,
2. want U is so goed vir my.
3. Aan u trou en liefde
4. is geen einde nie.

1. Danket, danket dem Herrn;
2. denn er ist sehr freundlich.
3. Seine Güt und Wahrheit
4. währet ewiglich.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.