Agste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Al vandeesweek se tekste het te make met die langsame pad van groei en transformasie wat van gelowiges in hulle koninkrykslewe geverg word.

Genesis 29 vertel die verhaal van Jakob wat veertien jaar lank vir Laban moes werk om uiteindelik vir Ragel as vrou te kry. Psalm 128 vertel dat diegene wat die Here dien en sy wil doen die vrug van hulle arbeid sal geniet. Romeine 8 vertel dat die lewe van Christus deur die Gees in ons gevorm word, terwyl die gelykenis van die mosterdsaadjie en die suurdeeg in Matteus 13 vertel hoe die koninkrykslewe op geheimenisvolle wyse in ons gevorm word.

Ander tekste

Genesis 29:15-28
Nadat Jakob ’n maand lank by hom gebly het, 15het Laban vir Jakob gesê: “Jy is familie, maar dit beteken nie dat jy vir my verniet moet werk nie. Sê vir my wat moet ek jou betaal.”

16Laban het twee dogters gehad. Die oudste was Lea en die jongste Ragel. 17Lea het sagte oë gehad, maar Ragel was mooi gebou. Sy was beeldskoon. 18Jakob het haar liefgehad en hy het vir Laban gesê: “Ek sal sewe jaar vir u werk vir u jongste dogter Ragel.”

19Toe sê Laban: “Goed! Ek sal haar liewer met jou laat trou as met enige ander man. Bly hier by my.”

20Jakob het toe sewe jaar gewerk vir Ragel, en dit was vir hom soos ’n paar dae, want hy het haar liefgehad. 21Daarna het hy vir Laban gesê: “Gee my nou my vrou. Die tyd is verby. Ek wil nou met haar trou.”

22Laban het al die mense van die omgewing bruilof toe genooi, 23maar die aand van die troue het hy sy dogter Lea gevat en haar na Jakob toe gebring, en hy het met haar gemeenskap gehad. 24Laban het sy slavin Silpa vir sy dogter Lea as persoonlike slavin saamgegee.

25Die môre sien Jakob toe dis al die tyd Lea. Toe vra hy vir Laban: “Wat het u my aangedoen? Het ek nie by u gewerk vir Ragel nie? Waarom het u my bedrieg?”

26Laban het geantwoord: “By ons is dit nie die gebruik dat ’n mens jou jongste dogter voor die oudste laat trou nie. 27Wag net hierdie week, dan gee ek die jongste ook vir jou as jy nog sewe jaar by my sal werk.”

28Jakob het ingestem en daardie week gewag. Toe gee Laban sy dogter Ragel vir hom as vrou.
29Laban het sy slavin Bilha vir sy dogter Ragel as persoonlike slavin saamgegee.

30Jakob het ook met Ragel gemeenskap gehad. Hy het vir Ragel baie liewer gehad as vir Lea en nog sewe jaar by Laban gewerk.

Psalm 105:1-11, 45b
Die Here hou sy verbond altyd in stand
105 Loof die Here! Roep Hom aan!
Maak aan die nasies bekend
wat Hy gedoen het.
2Sing liedere, sing tot sy eer,
vertel van al sy magtige dade.
3Roem sy heilige Naam,
laat dié wat die teenwoordigheid
van die Here soek, bly wees.
4Soek hulp en beskerming by die Here,
soek gedurig sy teenwoordigheid.
5Julle moet dink aan die magtige dade
wat Hy gedoen het,
aan sy wonders,
aan die reddingsdade op sy bevel,
6julle, nageslag van Abraham sy dienaar,
nakomelinge van Jakob
vir wie Hy uitverkies het.
7Hy, die Here, is ons God;
sy reddingsdade strek oor die hele aarde.
8Hy hou sy verbond altyd in stand,
die belofte wat Hy
aan duisende geslagte toegesê het,
9die verbond wat Hy
met Abraham gesluit het,
sy eed aan Isak.
10Hy het dit vir Jakob bevestig
as ’n vaste toesegging,
vir Israel as verbond
wat altyd sal bestaan.
11Hy het gesê:
“Ek gee Kanaän vir jou
as grondgebied en eiendom.”

12Toe hulle nog maar min was, 
net ’n paar mense, 
en vreemdelinge in die land, 
13toe hulle van volk na volk 
geswerf het, 
van die gebied van die een volk 
na dié van ’n ander, 
14het Hy niemand toegelaat 
om hulle te verdruk nie, 
en het Hy selfs konings 
ter wille van hulle gewaarsku:
15“Moenie aan my gesalfdes raak nie, 
moenie my profete kwaad aandoen nie!”
16Toe Hy hongersnood 
oor die land gebring het 
en al hulle kos laat opraak het, 
17het Hy iemand voor hulle uit gestuur: 
Josef is as slaaf verkoop. 
18Hulle het sy voete geboei 
en hom in die gevangenis gehou 
19totdat sy woorde bewaarheid is, 
nadat hy die toets deurstaan het 
met wat die Here aan hom 
bekend gemaak het. 
20Toe het die koning hom 
uit die gevangenis laat uitkom; 
die heerser oor baie volke 
het hom vrygelaat 
21en hom aangestel as hoof 
van die koninklike huishouding, 
met gesag oor al sy besittings. 
22Josef kon 
die amptenare van die koning 
na goeddunke beveel 
en selfs aan hoë amptenare leiding gee.
23Israel het na Egipte toe gekom, 
Jakob kon in die land van Gam 
gaan woon. 
24Die Here het sy volk 
baie vrugbaar gemaak, 
talryker as hulle onderdrukkers. 
25Hy het die gesindheid 
van die Egiptenaars verander, 
sodat hulle sy volk gehaat 
en vyandig opgetree het 
teenoor sy dienaars. 
26Die Here het Moses, sy dienaar, 
gestuur, 
en vir Aäron, die man 
wat Hy verkies het. 
27Onder die Egiptenaars het hulle 
die tekens van die Here gedoen, 
sy wonders het hulle gedoen 
in die land van Gam. 
28Hy het duisternis gestuur, 
dit donker gemaak, 
maar hulle het hulle 
teen sy opdrag bly verset. 
29Hy het hulle waters in bloed verander 
en hulle visse laat vrek. 
30Hulle land het gekrioel 
van die paddas, 
selfs tot in hulle koning 
se slaapkamer. 
31Die Here het beveel 
en daar het insekte gekom, 
muggies oor hulle hele gebied. 
32Hy het hulle reëns in hael verander 
en swaarweer 
oor hulle land gestuur. 
33Hy het hulle wingerdstokke 
en vyebome vernietig 
en die bome in hulle gebied 
stukkend geslaan. 
34Hy het beveel 
en daar het sprinkane gekom, 
ontelbaar baie sprinkane. 
35Hulle het al wat groen was 
in die Egiptenaars se land verslind 
en al die gesaaides van hulle lande 
afgevreet. 
36Al hulle oudste seuns in die land 
het Hy laat sterwe, 
al hulle eersgeborenes.
37Toe het Hy sy volk uitgelei, 
belaai met silwer en goud. 
In geeneen van die stamme 
het iemand uitgesak nie. 
38Die Egiptenaars was bly 
dat hulle vertrek het, 
want hulle was skrikbevange 
oor die Israeliete. 
39Die Here het ’n wolk uitgesprei 
as beskutting oor hulle 
en ’n vuur gegee 
om lig te maak in die nag. 
40Toe hulle kos vra, 
het Hy kwartels laat kom 
en sy volk met brood uit die hemel 
versadig. 
41Hy het ’n rots oopgebreek 
en daar het water uitgestroom 
wat soos ’n rivier 
deur die dorre gebied gevloei het. 
42Ja, Hy het sy heilige belofte 
aan sy dienaar Abraham 
gestand gedoen 
43en sy volk juigend, 
sy uitverkorenes jubelend 
laat voorttrek. 
44Vir hulle het Hy 
die heidene se lande gegee; 
wat deur ander volke 
met moeite verkry is, 
het hulle in besit geneem. 

45Daarom moet hulle
sy voorskrifte gehoorsaam
en sy wil doen.
Prys die Here!

Psalm 128
Die vrug van jou arbeid sal jy geniet
128 ’n Pelgrimslied.
Dit gaan goed met elkeen
wat die Here dien
en sy wil doen.
2Die vrug van jou arbeid sal jy geniet,
gelukkig en voorspoedig sal jy wees.
3Jou vrou is in jou huis
soos ’n vrugbare wingerdstok,
jou seuns is rondom jou tafel
soos jong olyfboompies!
4Kyk, so word die man geseën
wat die Here dien.
5Mag die Here jou seën uit Sion,
dat jy die voorspoed van Jerusalem
kan aanskou
al die dae van jou lewe,
6en dat jy jou kindskinders mag sien.
Mag daar vir Israel vrede wees!

Romeine 8:26-39
26Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. 28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is. 29Dié wat Hy lank tevore verkies het, het Hy ook bestem om gelykvormig te wees aan die beeld van sy Seun, sodat sy Seun baie broers kan hê van wie Hy die Eerste is. 30Dié wat Hy daartoe bestem het, het Hy ook geroep. En dié wat Hy geroep het, het Hy ook vrygespreek. En dié wat Hy vrygespreek het, het Hy ook verheerlik.

Niks kan ons van die liefde van Christus skei nie
31Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? 32Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie?

33Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. 34Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons.

35Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? 36Daar staan immers geskrywe:
“Dit is oor U dat die dood
ons dag vir dag bedreig,
dat ons soos slagskape
behandel word.” u
37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Fokusteks

Matteus 13:31-33, 44-52
Die gelykenisse van die mosterdsaadjie en die suurdeeg
(Mark 4:30–32; Luk 13:18–21)
31Hy het nog ‘n gelykenis aan hulle voorgehou en gesê: “Die koninkryk van die hemel is soos ‘n mosterdsaadjie wat iemand gevat en in sy land geplant het. 32Dit is die kleinste van al die soorte saad, maar as dit uitgegroei het, is dit groter as die tuinplante en word dit ‘n boom, sodat die voëls in sy takke kom nes maak.”

33Hy het hulle nog ‘n gelykenis vertel: “Die koninkryk van die hemel is soos suurdeeg wat ‘n vrou gevat en in ‘n groot skottel meel ingewerk het totdat dit heeltemal deursuur was.”

Drie kort gelykenisse
44“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n skat wat in ‘n saailand onder die grond lê. Wanneer iemand dit kry, maak hy dit weer toe; en omdat hy baie in sy skik is, gaan verkoop hy alles wat hy het, en hy koop daardie land.

45“Met die koninkryk van die hemel gaan dit soos met ‘n handelaar wat op soek is na goeie pêrels. 46As hy ‘n baie waardevolle pêrel raakloop, gaan verkoop hy alles wat hy het, en koop die pêrel.

47“Verder gaan dit met die koninkryk van die hemel soos met ‘n treknet wat in die see gegooi is en allerhande soorte vis vang. 48As dit vol geword het, sleep hulle dit op die strand uit en gaan sit om die goeie vis in mandjies bymekaar te maak, maar die onbruikbares gooi hulle weg. 49So sal dit by die voleinding van die wêreld wees. Die engele sal uitgaan en die slegtes skei van die goeies 50en hulle in die brandende oond gooi. Daar sal hulle huil en op hulle tande kners.”

Ou en nuwe skatte
51“Verstaan julle al hierdie dinge?”
“Ja,” antwoord hulle Hom.

52Hy sê toe vir hulle: “So is elke skrifgeleerde wat ‘n leerling word in die koninkryk van die hemel, soos ‘n huiseienaar wat uit sy voorraad nuwe en ou dinge te voorskyn bring.”

Jesus word in Nasaret misken
(Mark 6:1–6; Luk 4:16–30)
53Toe Jesus hierdie gelykenisse klaar vertel het, het Hy daarvandaan weggegaan. 54Hy het in die dorp gekom waar Hy grootgeword het, en Hy het die mense in hulle sinagoge so geleer dat hulle verstom was en gesê het: “Waar kry hy hierdie wysheid vandaan en die vermoë om die kragtige dade te doen? 55Is hy dan nie die timmerman se seun nie? Is sy ma nie Maria en sy broers Jakobus, Josef, Simon en Judas nie? 56En sy susters, is hulle nie almal hier by ons nie? Waar kry hy dan al hierdie dinge vandaan?”

57En hulle wou niks van Hom weet nie.

Jesus sê toe vir hulle: “‘n Profeet word oral erken behalwe in die plek waar hy grootgeword het, en in sy familiekring.”

58Vanweë hulle ongeloof het Hy daar nie baie wonderwerke gedoen nie.

Ekstra stof

Die gelykenis van die onkruid tussen die koring – 13:24-30
Jesus verduidelik die gemengde werklikheid waarbinne gelowiges moet saamleef met ongelowiges met die gelykenis van die onkruid tussen die koring.  Die gelykenis het dus nie dieselfde betekenis as dié van die derde tipe grond van die vorige gelykenis van die grond nie.  Dié gelykenis kom ook net in Matteus voor.

Daar is in dié gelykenis nie net ‘n man wat goeie saad saai op die land nie, ook ‘n vyand, wat onkruid tussen die koring saai.  Die problematiek is dan hoe om die koring tussen die onkruid te hanteer, want die tipe onkruid (zizanion – in Engels darnel, in Afrikaans waarskynlik drabok) waarvan hier gepraat word, het baie soos koring gelyk, totdat die koring uiteindelik are geskiet het, gereed vir die oes.  Uit vrees dat daar dus van die koring verlore sal gaan, omdat hulle só eenders gelyk het, beveel die eienaar dat albei gelos moet word tot die einde toe.  Met die oestyd sal die onkruid eers uitgehaal word en verbrand word.  Dan sal die koring in die skuur bymekaargemaak word.

Die betekenis hiervan sal eers aan die dissipels verduidelik word as hulle alleen terug in die huis is.

Die gelykenisse van die mosterdsaad en die suurdeeg – 13:31-33
Jesus sluit sy lering van die skare af met twee gelykenisse.

Die gelykenis van die mosterdsaad dui op die groei van die koninkryk van die hemele wat van ‘n klein begin ‘n omvattende ruimte vir al God se mense verskaf.

Die gelykenis van die suurdeeg dui ook op die groei van die koninkryk van die hemele van ‘n klein begin af, maar lê meer klem op die “aansteeklike krag” wat in die evangelie opgesluit lê.

Die openbaarmakende karakter van die gelykenisse – 13:34-35
In dié gedeelte haal Jesus uit Ps. 78:2 aan en interpreteer die gelykenisse aan die skare as ‘n vervulling daarvan, hoewel dit die Psalm in die lig van die gebrek aan ontvanklikheid by die skare op negatiewe manier op die gelykenisse betrek.  Die positiewe betekenis van die Psalm kan egter wel deeglik by die gelykenisse aan die dissipels gesien word.  God maak Homself bekend aan dié wat ontvanklik is daarvoor.  Die omgekeerde gebeur met dié wat nie ontvanklik is vir Hom nie.

Die verklaring van die gelykenis van die onkruid tussen die koring – 13:36-43
Jesus stuur die skare weg en gaan met sy dissipels in die huis in, waarskynlik Kapernaum en verklaar, op hulle versoek, vir hulle die gelykenis van die onkruid tussen die koring en vertel nog vier ander gelykenisse om die idee van die koninkryk van die hemele nog verder vleis te gee in hulle begrip daarvan.

Hy lê die eienaar uit as die Seun van die Mens, wat natuurlik weereens sy identifikasie met hulle op die tafel sit.  Die goeie saad is die kinders van die koninkryk.  Die onkruid is die kinders van die Bose.  Die oes is die voleinding van die wêreld waar die kinders van die Bose met vuur verbrand sal word en die regverdiges, die kinders van die koninkryk, sal skyn soos die son in die koninkryk van hulle Vader.

Met hierdie gelykenis motiveer Jesus dus die gemengde werklikheid van gelowiges en ongelowiges wat langs mekaar bestaan as ‘n feit wat aanvaar word, en dat die inherente konflik tussen hulle in terme van waardestelsels en geloof eenvoudig verduur sal moet word, totdat geregtigheid uiteindelik seëvier.  Daarmee hou Jesus die hoop op God se toekoms aan die brand.

Die gelykenisse van die skat, die pêrel en die treknet – 13:44-50
Met dié drie gelykenisse gee Jesus ‘n glorieryke prentjie van wat die koninkryk van die hemele vir die kinders van die koninkryk, die dissipels en die ander volgelinge van Jesus, sal inhou.  Dit is noodsaaklik in terme van die uitdaging wat dit vir hulle inhou om uit te hou en aan te hou in ‘n tyd waarin onreg en ongeregtigheid baie keer seëvier.

Die eerste twee, die gelykenis van die skat in die veld, sowel as die kosbare pêrel, dra beide die betekenis van die allesoortreffende betekenis en belang van die koninkryk van die hemele.  Dit is alles wat jy besit, werd.

Die derde een, oor die treknet wat goeie en slegte visse gevang het, versterk die boodskap van die gelykenis van die onkruid tussen die koring en verseker die gelowiges dat die regverdiges nie dieselfde lot as die bose mense te beurt sal val nie.

Die gelykenis van die skrifkenner met nuwe en ou skatte – 13:51-53
Die koms van die koninkryk laat jou alles herwaardeer.  Daarom vra Jesus of sy dissipels verstaan.  En om seker te maak, vertel hy die gelykenis van die skrifkenner (sommige dink dat Matteus hier van homself praat!) se nuwe en ou skatte as hy ‘n leerling raak in die koninkryk van die hemele.

  • Daar is diskontinuïteit – dinge werk anders in die teenwoordigheid van Jesus.  Daar is dus nuwe skatte vir die skrifkenner.
  • Daar is egter ook kontinuïteit – dinge wat dieselfde is as in die ou bedeling.  Daar is dus ook ou skatte vir die skrifkenner.

Dit is ‘n baie belangrike afsluiting van hierdie toespraak van Jesus, een wat ons eintlik met reg ter harte kan neem as ons dink aan die blywende impak van die OT:

  • Daar is dinge wat net so voortgaan in die NT: God se genade en liefde, sy eis tot geloof en gehoorsaamheid.
  • En daar is dinge wat tot ‘n einde gekom het, die versoening deur offers, die onderhouding van die wet in terme van die besnydenis en die Sabbat.
  • En daar is natuurlik nuwe dinge, soos die doop en die nagmaal wat die unieke uitkomste van die bedeling van die NT verteenwoordig.

Jesus word in Nasaret verwerp – 13:54-58
Die ontvangs van Jesus se boodskap in Nasaret, sy tuisdorp, kom vervolgens onder die vergrootglas en dit illustreer die oorwegend negatiewe ontvangs wat Hy onder die Joodse volk, sowel as spesifiek die Joodse leiers, geniet het.  Sy wysheid en kragtige dade word gediskrediteer omdat hulle hom kan etiketteer as deel van die familie van die skrynwerker (waarskynlik eintlik ‘n bouer) wie se vrou by die naam genoem word, Maria, maar nie meer sy pa Josef nie, omdat hy waarskynlik teen dié tyd oorlede is.

Hulle neem dus aan Hom aanstoot, soveel só dat Hy vanweë hulle ongeloof nie baie kragtige dade daar gedoen het nie.

Ons leer hier dat Jesus vier broers gehad, Jakobus, Josef, Simon en Judas, asook nog ‘n paar susters.  Ons weet dat Jakobus nie net later ‘n belangrike Christelike leier in Jerusalem geword het nie, maar ook die brief van Jakobus geskryf het en wat in die NT opgeneem is.  Ons weet ook dat Judas die brief geskryf het wat sy naam dra en ook in die NT opgeneem is.  Dit sê nogal iets van die impak wat Jesus ná sy opstanding ook op sy eie familie gehad het.  Uiteindelik is Hy dus ten minste in ‘n deel van sy huis geëer, al was dit nie die geval in sy tuisdorp nie.

Liturgie

Doopherinnering

Aanvangswoord: Uit Psalm 105

Seëngroet: (2 Timoteus 1)

Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God 1”

Wet: Miga 6

Skuldbelydenis: Lied 238 “God enkel lig, voor U gesig 1,4,5”

Vryspraak: Romeine 8:26-39

Geloofsbelydenis: Romeine 8

Loflied 205 “Bring lof aan die Vader 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Matteus 13:31-33, 44-52

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 286 “Here God van liefde 1”

Seën: Psalm 128

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Doopherinnering
Die liturg nooi die kinders om rondom die doopbak te kom sit. Sy dompel haar hand sigbaar in die water, en terwyl sy die gebaar herhaal, sê sy die volgende:

Die waterdruppeltjies van die doop is soos die mosterdsaadjies waarvan Jesus gepraat het. ’n Klein mosterdsaadjie kan ’n baie groot boom word.

Die waterdruppeltjies van die doop is soos die koninkryk van God wat in ons geplant word. Al is die waterdruppeltjies baie klein, sê dit vir ons dat die volle lewe van Jesus Christus nou ook óns lewe is. Al wat ons moet doen, is om baie dankie te sê daarvoor. Daarna moet ons toelaat dat die lewe van die Here Jesus in ons groei. Sodat dit soos ’n groot boom van liefde sal word.

Aanvangswoord: Uit Psalm 105
Loof die Here! Roep Hom aan!
Maak aan die nasies bekend
wat Hy gedoen het.
2Sing liedere, sing tot sy eer,
vertel van al sy magtige dade.
3Roem sy heilige Naam,
laat dié wat die teenwoordigheid
van die Here soek, bly wees.
4Soek hulp en beskerming by die Here,
soek gedurig sy teenwoordigheid.
7Hy, die Here, is ons God;
sy reddingsdade strek oor die hele aarde.
8Hy hou sy verbond altyd in stand…

Seëngroet: (2 Timoteus 1)
Genade, barmhartigheid en vrede van God die Vader en Christus Jesus ons Here!

Lied 471 “Soek allereers die koninkryk van God 1”

Wet: Miga 6
6Wat sal ek saamvat as ek na die Here toe
gaan,
as ek voor die hoë God gaan kniel?
Moet ek met offers na Hom toe gaan,
met jaaroud kalwers?
7Sal die Here duisende ramme aanvaar
saam met tien duisende offers van olie?
Moet ek my eersgeborene offer
vir my sonde,
hom wat uit my liggaam kom,
vir my oortreding?
8Mens, die Here het jou bekend gemaak
wat goed is:
Hy vra van jou dat jy reg
sal laat geskied,
dat jy liefde en trou sal bewys,
dat jy bedagsaam sal lewe voor jou God.
9Om die Here te dien, dit is wysheid.

Skuldbelydenis: Lied 238 “God enkel lig, voor U gesig 1,4,5”

Vryspraak: Romeine 8:26-39
26Die Gees staan ons ook in ons swakheid by: ons weet nie wat en hoe ons behoort te bid nie, maar die Gees self pleit vir ons met versugtinge wat nie met woorde gesê word nie. 27En God, wat die harte deurgrond, weet wat die bedoeling van die Gees is, want Hy pleit, volgens die wil van God, vir die gelowiges. 28Ons weet dat God alles ten goede laat meewerk vir dié wat Hom liefhet, dié wat volgens sy besluit geroep is.

Geloofsbelydenis: Romeine 8
37Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. 38Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte 39of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here.

Loflied 205 “Bring lof aan die Vader 1,2,3”

Liedere

F8. “Al Die Lof, Aanbidding En Ere”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Verwondering)
Oorspronklike titel: Be Unto Your Name
Teks en Musiek: Lynn de Shazo & Gary Sadler
Afrikaanse vertaling: Jan de Wet
© 1998 Integrity’s Hosanna Music
(Opgeneem op Worship Him)

Ons is ‘n oomblik;
U is vir altyd,
God van die eeue,
God voor die tyd.
Ons is ‘n asem;
U is vir ewig –
U wat ons liefhet,
altyd getrou.

Refrein:
Heilig, heilig, Heer God, Almagtig!
Waardig is die Lam wat regeer!
Al die lof, aanbidding en ere
Kom U toe, o Heer,
Kom U toe, o Heer!

Ons is gebroke;
U die Geneser,
Jesus, Verlosser,
Redder en Vriend.
Ons vra die vrae,
U is die Antwoord;
Ons die verdwaaldes,
U is die Weg.

Refrein:

F20. “U Is Die Lig”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang / Kruisfuur – Geloofsbelydenis / Toewyding)
Teks en Musiek: André Serfontein
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op FLAM, vol 1)

U is die Lig, U laat my sien;
U is die brood vir my lewe;
U is die water wat binne my vloei;
U laat my leef, u laat my groei.

Refrein:
Ek loof U Heer vir als wat U is.
Ek loof U Heer, U’s my Vader.
Ek loof U Heer vir als wat U gee.
Meer as wat ek kan verstaan,
Daarvoor kom prys ek U Naam!

U is die Woord, U wil my rig;
U wys my U wil vir my lewe;
U skenk my vrede en U gee my rus;
U het my lief net soos ek is

Refrein:

God praat met ons en ons luister

Epiklese
In die begin
In die begin was ek gedagte
in die gestringde stergeheue van God.
In die begin was ek gedagte.
Die gedagte het woord begin vorm,
mikroskopies in my moeder se skoot.
Die gedagte het woord begin vorm.
Die woord het inderdaad mens geword,
vlees, bloed en sening soos die Seun van God.
Die woord het inderdaad mens geword.
Nou word ek weer verse en woord.
En die woord word weer stof van gedagte.
Nou word ek weer verse en woord.
Die gedagte keer t’rug na sy oord.
Wat begin was, word einde en einde begin.
Die gedagte keer t’rug na sy oord.
(Izak de Villiers. Vervreemdeling. 2008. Kaapstad: Tafelberg.)

Skriflesing: Matteus 13:31-33, 44-52

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Caroly Brown suggereer die volgende:
There are at least five parables in these verses.  To separate them, have each parable read by a different reader with a narrator doing the introduction and conclusion.  For even more impact give each a parable reader a prop. [gebruik dalk ook vir elke leser ‘n ander powerpoint agtergrond]

Narrator: verse 31a
Mustard Seed (rake or hoe): verses 31b-32
Yeast (mixing bowl and spoon): verse 33
Treasure in the Field (treasure chest or small trunk): verse 44
Pearl of Great Price (lots of jewelry to wear): verses 45-46
Net (length of fishing net): verse 47-50
Narrator: verse 51-53

Gebruik gerus die teks uit Die Nuwe Testament vir Kinders deur Stephan Joubert, Jan van der Watt en Hennie Stander, 1999.

Begin Klein, eindig Groot!
31–32 Jesus het nog ’n paar kort verhale vertel: “God se nuwe wêreld is net soos ’n baie klein saadjie. Niemand sien dit eens raak nie. Maar as dit die dag begin groei, word dit ’n baie groot boom. Dan sien almal dit raak. Dan kan mense en diere in sy koelte sit.

33 “God se nuwe wêreld is ook soos suurdeeg wat mens gebruik om brood mee te bak. Wanneer die suurdeeg met die deeg gemeng word, trek dit dwarsdeur die deeg. Na ’n rukkie laat die suurdeeg al die deeg rys.”

Nog Stories oor God se Nuwe Wêreld
44 Hierna sê Jesus: “Om in God te glo, is die wonderlikste ding wat ooit met jou kan gebeur. Dis net soos om ’n baie duur skat in ’n veld te ontdek. Jy is so bly hieroor dat jy al jou geld vat om daardie veld te koop om die skat in die hande te kry.

45–46 “Om ’n kind van die Here te wees, is fantasties. Dit is net so goed soos om ’n baie duur pêrel te vind. Mens sal enigiets doen om so ’n duur pêrel te kan hê.

47–50 “God se nuwe wêreld* is ook soos ’n net waarmee mense vis vang. Wanneer so ’n net vol vis is, dan trek die vissermanne dit uit op die strand. Daar soek hulle al die vis uit wat mens kan eet. Die vis wat mens nie kan eet nie, word weggegooi. Weet julle, op die laaste dag sal dit net so gaan. Almal wat na God geluister het, sal dan by Hom gaan bly. Maar die engele* sal al die slegte mense vat en hulle in die hel gooi. Daar sal hulle skree van die pyn.”

51 “Verstaan julle wat Ek vir julle sê?” vra Jesus sy dissipels.
“Ja,” antwoord hulle.

52 “Wel, as julle soos ’n leerling is in God se nuwe wêreld, dan het julle die grootste skat in julle lewe ontdek. Dan is julle skatryk. Dan gaan julle elke dag nog nuwe dinge oor God leer wat julle lewe vol blydskap maak.”

Preekriglyn

Gefermenteerde (of gegiste) voedsel is vars produkte wat deur ‘n proses van gisting gegaan het. Natuurlike bakterieë wat op die voedsel voorkom, gebruik die natuurlike suiker en koolhidrate om melksuur te vorm. Die melksuur bewaar die voedsel en skep voordelige ensieme, Omega 3-vetsure en ‘n ryke verskeidenheid probiotika.

Kortom: gefermenteerde kos is ongelooflik gesond vir die menslike liggaam. Veral spysvertering en die bekamping van verskeie dermkanaalsiektes baat by gefermenteerde voedsel.

Suurkool, waarvoor die Duitsers so lief is (Sauerkraut), is in sy oorspronklike vorm ‘n goeie voorbeeld van gefermenteerde voedsel. Al wat mens nodig het, is fyngekerfde kool, sout, die regte soort houer waarin dit kan gis, en tyd. Natuurlike joghurt en Kimichi, waarvoor Korea bekend is, is nog voorbeelde. Drankies soos Kefir en Kombucha is ook gegiste produkte. Dit kan alles tuis gemaak word.

Ons moderne dieet is gestroop van die voordele van gefermenteerde voedsel. Die natuurlike surigheid wat gefermenteerde kos kenmerk word deesdae nagemaak deur asyn in voedselvervaardiging te gebruik. Geen wonder ons gesondheid is soveel swakker as vorige geslagte s’n nie. Die voordele is die volgende:

  • Probiotika: vir beter spysvertering
  • Beter voedsel-absorpsie
  • Goedkoop – as mens self jou kos fermenteer
  • Maklike bewaring van vars voedsel (Sauerkraut is bv. in vroeë lang skeepsreise gebruik om siektes te voorkom

Die fermentasie of gis van voedsel vat tyd. Dis ‘n onsigbare proses waarin natuurlike bakterieë oor ‘n lang tydverloop (dikwels weke) hulle werk doen. Die omstandighede moet ook reg wees, want suurstof moet afgesluit word. ‘n Klein bietjie sout keer bederf en die natuurlike bakterieë skep die bewarende en voordelige melksuur. Die voordeel is egter groot.

Hierdie natuurlike en gesonde gistingsproses laat mens aan die koninkryk van die hemel dink. Sonder dat jy veel sien gebeur, oor tyd, stadig, kom die koninkryk. Dit word uit skynbaar onbenullige bestanddele gebore, maar groei met groot krag. Uiteindelik kan dit nie geïgnoreer word nie.

Verskillende foto’s van die koninkryk

Ons teksgedeelte bevat ‘n versameling van ses gelykenisse (ons sien vers 51-52 as ‘n gelykenis) wat oor die koninkryk van die hemel handel. Die koninkryk word nie sistematies beskryf nie. Dit is eerder ‘n paar foto’s vanuit verskillende hoeke geneem. Nie een foto is volledig nie. Elkeen dra ‘n deel by om die koninkryk verder te beskryf. Elke gelykenis bevat die woorde: “Die Koninkryk van die hemel is soos….”

Ons kan die versameling gelykenisse in pare indeel:

  • Die mosterdsaad (31-32) en die suurdeeg (33). Albei beklemtoon die skynbaar onbenullige begin van die koninkryk met ‘n uiteindelike groot resultaat. Klem val op die groot krag van God se handelinge. Die twee gelykenisse word aan die skare gerig.
  • Die tweede paar is die verborge skat (44) en die pêrel (45). Hulle het te doen met voorwerpe van baie groot waarde wat groot toewyding vra. Hierdie gelykenisse is aan die dissipels gerig.
  • Die derde paar is die visnet (47-50) en die onkruid (24-30 – waaraan ons ‘n vorige keer aandag gegee het). Hierdie gelykenisse handel oor die huidige openheid van die koninkryk vir almal en die oordeel aan die einde, waar die goeie en die slegte geskei sal word.

Die breë prentjie van die evangelies wys duidelik dat die koninkryk beide teenwoordig en toekomstig (komende) is. Jesus se dissipels moes besef God se koninkryk sal eers ten volle in ons wêreld werklikheid word met Jesus se wederkoms.

Mosterdsaad

Jesus verklaar nie die gelykenis van die mosterdsaad nie. Hy verwys waarskynlik na sy volgelinge wat aanvanklik ‘n klein groepie was en vinnig sal groei tot ‘n groot getal. Die groep wat Hom volg kon gelowiges en ongelowiges ingesluit het – wat onder andere geteken word met die beeld van die voëls wat kom nesmaak in die takke.

Die spreekwoordelike kleinheid van die mosterdsaad wat heenwys na die koninkryk van God, moes die skare geskok het. Dit kan tog nie wees nie. Israel het altyd geglo as God sy koninkryk op aarde vestig, sou dit groot en indrukwekkend wees. Hulle was glad nie voorbereid op die skynbaar onopsigtelike manier waarop die koninkryk nou in hulle wêreld aan die kom is nie. So ‘n klein begin sou vir baie van die volgelinge en ook die teenstanders van Jesus rede gewees het om hierdie gedagte aan die koninkryk te minag.

Die struik wat uit die kleinste saadjie groei, is geweldig groot in vergelyking met die klein begin, maar Jesus het waarskynlik tong in die kies daarna verwys as ‘n boom! ‘n Mosterdplant word waarskynlik op die grootste 2 tot 4 meter hoog. Dit is glad nie vergelykbaar met die seders van die Libanon nie (soos Israel graag na hulleself verwys het).

Jesus wou nie hê die skynbaar onopsigtelike begin van die koninkryk moet sy dissipels laat moed verloor nie. Die beweging wat nou nog glad nie vir die wêreld indrukwekkend mag lyk nie, sal inderdaad al God se beloftes in die toekoms laat realiseer. ‘n Koning wat in nederigheid werk (Matt 11:25-30) en op ‘n donkie ry in plaas van ‘n oorlogsperd (Matt 21-1-9), kan ‘n koninkryk verteenwoordig waarvan ‘n mosterdsaad in plaas van ‘n reuse boom die simbool is.

Die gelykenis spreek ons aan oor ons idees oor werklike grootheid. Die beeld van die voëls wat kom nes maak in die groot plant, is ‘n vergelyking uit die Ou Testament waar al die nasies tot rus kom in die takke van ‘n boom; die koninkryk van God (vgl Dan 4:12; Eseg 17:23).

Suurdeeg

Jesus gebruik ook die beeld van suurdeeg om die skare opnuut laat verstaan hoe die koninkryk van God werk en hoe dit in hierdie wêreld teenwoordig is. Jesus gebruik juis die suurdeeg en die werking daarvan om die positiewe en onverklaarbare werking van die koninkryk van die hemel in hierdie wêreld te verduidelik.

Die hoeveelheid meel waarvan hier sprake is, is meer as twintig kilogram meel. Dit sal brood gee vir meer as honderd mense. ‘n Huisvrou sou nooit soveel meel kon bewerk of knie nie. Die onnatuurlike hoeveelheid meel in die verhaal wys waarskynlik daarop dat die koninkryk veel meer is as dit wat normaalweg in die gedagte is as aan die koninkryk gedink word. Jesus leer die mense dat hulle nie mislei moet word deur die skynbaar nietige en amper onsigbare begin van die koninkryk in die wêreld nie. Die uiteinde sal aansienlik verskil. Die koninkryk van die hemel is inderdaad dinamies-groeiend, al is dit nie altyd sigbaar nie.

Die suurdeeg druk wel die gedagte van onsigbaarheid uit, maar dra ook die gedagte van verwondering oor die onstuitbare werking van die koninkryk. Soos die suurdeeg onsigbaar werk, maar uiteindelik alles deursuur, so is dit met die koninkryk van God. Dis ‘n stille krag wat nie gestuit kan word nie en as gelowiges deel ons hierin. Ons word as ‘t ware verstrengel met die wêreld sodat die effek daarvan almal kan raak.

Die gelykenis wil ‘n belangrike begrip by ons tuisbring, naamlik die transformerende krag van die suurdeeg. Die suurdeeg verander die totale karakter van die meel waarmee dit gemeng word. Die gelykenis roep ons op tot betrokkenheid by die wêreld waarin ons bly en nie tot onttrekking uit die wêreld uit nie. Suurdeeg kan slegs werk as dit gemeng word met die deeg. Anders is dit totaal onbruikbaar. So gaan dit met die diens aan Jesus. Hy roep ons om die wêreld in te gaan, dissipels te maak en die mense te doop en te leer (Matt 28:19-20).

Onindrukwekkende teenwoordigheid

Die teenwoordigheid van die koninkryk van die hemel op hierdie aarde is nie baie opspraakwekkend nie. Wat kan meer onindrukwekkend wees as ‘n baba in ‘n krip, of die geringe Israel teenoor die magtige Romeinse ryk, of die Jood van Nasaret en die klompie vissermanne wat Hom volg, of die kruis? Wat kan minder aandag trek as ‘n klein kerkie in ‘n klein dorpie, of ‘n tent met ‘n grondvloer wat êrens staan, of ‘n klompie woelige kinders in die Sondagskoolklas, of ‘n jong seun wat vorentoe loop om sy lewe vir Jesus te gee, of ‘n man en vrou wat in afsondering leef om die evangelie aan vreemdes te verkondig; ‘n eenvoudige man wat Sondag na Sondag preek vir gewone mense wat bymekaarkom, of ‘n glasie wyn en ‘n stukkie brood wat gedeel word? Dit is soos die koninkryk van die hemele lyk! Wie weet van die krag wat daar verborge is in die gemeenskap?

Ons verwag die koninkryk in groot katedrale en megakerke, groot kore en groot orkeste. Die koninkryk van die hemel het nie met groot fanfare en trompetgeskal aangebreek en die goddelose met vuur verteer nie. Daar was ook nie groot tekens wat waargeneem kan word nie. Dit het gekom op ‘n stil en verborge manier en sal verborge bly tot die einde toe. Die gelykenisse wil vertel dat werklike koninkrykskrag teenwoordig is in die nederigste plekke en by die onwaarskynlikste mense – in ‘n koppie water aan ‘n dors bedelaar, of ‘n sopkombuis in die kelder van die kerk. Dit alles lyk na niks vir die mens nie, maar Jesus verseker ons dit is waar die koninkryk gestalte kry.

Daar waar God se kinders werk – klein en onopvallend – is God deur sy Gees werksaam. Daar kom sy koninkryk! Die geskiedenis het dit bevestig. Die Romeinse ryk bestaan nog net in geskiedenisboeke en ruïnes, terwyl die lof van Jesus oor die wêreld heen besing word. In baie gevalle sal Christene slegs klein bewyse sien van die vordering en groei. In God se hande het elkeen van die klein en skynbaar betekenislose handelinge en optrede die potensiaal om groot en omvangryke resultate te hê.

Verborge skat en pêrel

Dit was algemeen in daardie tyd vir mense om hulle kosbare besittings te begrawe. Daar was nie banke of kluise om hulle geld of kosbaarhede veilig te hou nie. Klein dorpies is dikwels beroof deur rowers. Soldate was vry om te vat wat hulle nodig gehad het. Om kosbaarhede te begrawe was dus die veiligste wegsteekplek. Ook daarin was egter geen waarborg dat dit wat jy begrawe, veilig is nie. Joodse rabbynse wette het in soveel woorde gesê: “Finders keepers.” Indien jy iets vind wat rondlê, is dit jou eiendom. In vandag se tyd kom goud en olie onmiddellik in die gedagte op.

Die gedagte wat hier beklemtoon word is die groot waarde van die koninkryk. Jesus praat hier met sy dissipels. Hulle is nou weg van die skare – in die huis (13:36). Die doel van die gelykenis is nie om te iets te verberg nie, maar eerder om openbaar en bekend te maak. Die gelykenisse wys op die teenwoordigheid van God se koninkryk in die lewe van Jesus Christus. Of jy dit gesoek het of nie, wanneer jy dit ontdek – of dit/Hy jou ontdek – is die vreugde só groot dat dit jou hele lewe verander. Soos Paulus in Filippense 3:7 sê: ” . . . wat eers vir my ‘n bate was, beskou ek nou as waardeloos ter wille van Christus.” So doen ook die dissipels toe Jesus hulle roep; hulle los alles net so en volg Hom.

Alhoewel die godsdienstige leiers en die skare blind was vir die teenwoordigheid van die koninkryk (Matt 11:25; 13:13-15), openbaar Jesus deur hierdie gelykenisse die onskatbare waarde van die koninkryk aan die dissipels (13:11-12, 16-17). Geen offer is te groot om in die teenwoordigheid van God te leef, sy wil te doen en om in ‘n dissipelskapverhouding met Jesus te leef nie. Vir Jesus is die “vind” van die koninkryk die belangrikste gebeurtenis in die lewe. Om die koninkryk te vind, is om immers die “lewe” met hoofletters te vind.

Teenoor hierdie onmeetbare groot vonds lyk al die aardse prag en praal maar dof en onindrukwekkend. Vreugde, en nie plig nie, dryf hierdie manne tot aksie! Hulle het nie alles verkoop omdat hulle verplig was nie, maar omdat hulle harte hulle gedryf het. Hulle gee iets van klein waarde prys om iets anders van onskatbare waarde te verkry! In ons aanbied van die evangelie sal dit goed wees as ons die vreugde kan beklemtoon of laat sigbaar word! Om van die goeie te vertel, eerder as om oordeel te verkondig! Roep mense op tot ware lewensvreugde. Daarop sal mense reageer!

Treknet

Die gelykenis in 13:47-50 het dieselfde strekking as dié van die onkruid tussen die koring (13:24-30, 36-43). Die groot sleepnet was van die oudste nette wat by die meer gebruik is. Tot onlangs toe was dit een van die belangrikste maniere van visvang in die meer. Die sleepnet was 250 tot 300 meter lank en tot 8 meter hoog. Dit is met sinkers onder die water op die grond gehou en met kurk aan die boonste lyn is die bokant bo die water gehou.

Die treknet beeld die loop van God se koninkryk deur die wêreld uit. Dit kan dui op die sendingwerk van Jesus, sy dissipels en ook van die kerk. Die vangs is groot, maar alles is nie bruikbaar nie. Sommige vis is sleg en oneetbaar, of volgens Levitiese wetgewing onrein (vgl Lev 11:10-12). So is daar in die kerk gelowiges en skyngelowiges saam bymekaar. Die kerk se taak is nie om voortydig te oordeel nie, hoewel kerklike dissipline altyd belangrik is (vgl Matt 18:15-18). Alleen die eindoordeel sal die werklike skeiding bring. En dit is volledig God se werk.

Die skeiding tussen slegte en goeie vis was ‘n ou gebruik in Israel. Onder die vis wat sleg was, is dié sonder vinne en skubbe as onrein gereken (Lev 11:9-12). In die meer van Galilea was ten minste 24 spesies vis wat as onrein of as oneetbaar gereken is. Die net het geen onderskeid gemaak nie. Tot op die oordeelsdag sal Jesus saam met die sondaars eet om die verlorenes te soek en te red (28-29, 48-50). Die gelykenis moedig die kerk aan tot evangelisasie en ‘n oop gemoed teenoor die wêreld – in teenstelling met die Fariseërs wat hulleself as hekwagte en regters gesien het om mense uit te sluit.

So ‘n oop benadering maak goeies en slegtes bymekaar. Die gelykenis vertel ons dat dit God se manier is. Sommige onwelkomes sal groei tot werklike koninkryksmense en sommige wat aanvanklik belowend gelyk het, sal Jesus aan die einde verraai. God maak ons nie verantwoordelik om die onaanvaarbares uit te hou of te veroordeel nie. Hy delegeer die verantwoordelikheid om die onderskeid te maak aan die einde van die tye aan sy engele. Hierdie gelykenis is nie ‘n oproep om growwe sondes oor die hoof te sien nie. Jesus sal ‘n paar hoofstukke verder, spesifieke maniere aandui hoe oortreders hanteer moet word en hoe hulle uit die gemeente gelaat moet word as hulle nie hulle weë verander nie (Matt 18:15-20).

Dit kan natuurlik ook wees dat hierdie gelykenis eintlik wil vertel dat almal wat op aarde leef, bymekaargemaak sal word vir die finale oordeel. Hier word die bose en die bestaan van die bose en ons houding teenoor die bose nie ter sprake gebring nie, maar wel die feit dat almal, sonder aansien van persoon, ingesleep word om op die strand verdeel te word. Die werklikheid van die oordeel word vasgemaak. Die wêreld, die kerk, die heiliges en die onheiliges sal almal finaal op die oordeelsdag geskei word. So sal dit wees in die koninkryk van die hemel.

Rol van die Skrif

Jesus se vraag in 13:51 of die dissipels al hierdie dinge verstaan, verwys na die inhoud van Jesus se preek in die hele hoofstuk 13. Die dissipels verstaan Jesus se boodskap, daarom is hulle terselfdertyd ook skrifgeleerdes (52). ‘n Besondere band word hier tussen dissipel (student) en skrifgeleerde gelê. Jesus vergelyk sy dissipels met skrifgeleerdes. Die mense wat gekwalifiseerd is om die betekenis van die skrifte te verklaar. Gelowiges moet God se kennis versprei (skrifgeleerde), maar ons kan dit alleen doen as ons studente van Jesus bly. Hy is die enigste ware Leermeester (vgl Matt 23:8).

‘n Skrifgeleerde het tradisioneel net die ou dinge uitgehaal en geleer. Die dissipels van die koninkryk, soos hulle Heer, is geleer om altyd vars en met nuwe gedagtes en nuwe oë na die lewe te kyk. Hulle moes weet hoe om die ou dinge na waarde te skat en te gebruik. So bring hulle ou en nuwe dinge bymekaar. Die dissipels put uit die ryk Bybelse erfenis van antieke Israel (dit wat oud is), maar interpreteer nou hierdie ou woorde in die lig van God se finale openbaring in Jesus Christus; sy boodskap en sy bediening (die nuwe).

Die “skat” mag verwys na die houer waarin die kosbaarhede bewaar is, of na die kosbaarhede self (soos in 44). Hier wys dit waarskynlik na die houer. Die huiseienaar het ‘n skatkis of ‘n stoorplek vanwaar hy die nuwe en die ou dinge uitbring. Interessant om te let daarop dat die gebruiklike volgorde omgekeer word (nuwe – oue). Daarmee wil Jesus waarskynlik die klem op die belangrikheid/voorkeur van die nuwe plaas.

Hierdie beeld van die nuwe en ou dinge het as agtergrond die pa wat as hoof van die huis die spens of voorraadkamer beheer. Hier word dit op Jesus en die kerk se onderrigtaak toegepas. Jesus het nie net die Skrif (OT, ou dinge) geken en geleer nie, maar dit ook nuut geïnterpreteer (vgl Matt 5:21–22). So het die Matteus-gemeenskap en die kerk tot vandag toe die taak om die evangelie van Christus getrou oor te lewer, maar ook vir elke tyd nuut te interpreteer. Ons staan immers in ‘n lewende verhouding met die Koning van die koninkryk van die hemel.

Die Christen-skrifgeleerde moet in staat wees om die ou en die nuwe dinge bymekaar te bring en so duidelikheid en begrip te bring vir die boodskap van die koninkryk van die hemel en vir die implikasies daarvan vir die hede. Die ou en die nuwe is albei onmisbaar vir die verkondiging van die evangelie.

Op voetspoor van Jesus

Jesus se hele lewe getuig van dit wat Hy hier leer: die krip; die donkie as rydier; die kruis. Mense kon met reg vra: “Watter soort koning is dit?”

Jesus kom vertel van ‘n ander grootheid. God se koninkryk is groot. Maar nie soos ons grootheid beskou of bereken nie. God meet anders. God se koninkryk is soos ‘n mosterdsaad en soos suurdeeg.

Ons kan weer met reg vra: “Watter soort grootheid is dit?” Saad is onbeduidend; die suurdeeg onsigbaar en niksseggend. Maar die saad word ‘n boom. En die suurdeeg deurtrek die totale stuk deeg en verander die hele struktuur daarvan. Albei werk op onverklaarbare maniere en gaan onstuitbaar voort om groter te word.

So is God se koninkryk: onverklaarbaar; kragtig en onstuitbaar. Die grootheid moet ons raaksien en aangryp: die krip; die klein volkie; die skrynwerker; die vissermanne; ja, die kruis. Die predikant wat getrou die Woord bring; die sendeling onder ‘n boom; ‘n kind wat stil Bybel lees; ‘n bietjie water by die doop; ‘n slukkie wyn en ‘n stukkie brood. So lyk God se koninkryk.

Ons soek ook groot goed: kerke, katedrale, skares van mense en donderende lofsange. God is daar, maar Hy is ook daar waar stilgesit word by ‘n ou mens; ‘n koppie sop gegee word; ‘n kind se klagte gehoor word; ‘n hand van hulp aangebied word. Daar kom God se koninkryk ook.

Daar waar die kinders van die koninkryk ingeknie word in die deeg van die daaglikse lewe – daar kom die koninkryk. Dit is werklike grootheid!

Om dit werklik raak te sien – is om ‘n skat te ontdek, die lewe te vind. Hier is God se koninkryk. Ek moet myself prysgee om deel van die grootheid te word.

Ander soek hierdie openbaring van God se koningskap en as hulle dit op die regte plekke vind – gee hulle alles prys om deel daarvan te word en die vreugde van hierdie manier van lewe te ervaar.

Aan die einde van die tyd sal almal ingetrek word. Die wêreld, die kerk, die heiliges en die onheiliges sal almal finaal op die oordeelsdag geskei word. En die kinders van die koninkryk van die hemel sal skyn soos die son.

So is die Koninkryk van die hemel.

God stuur ons om te leef

Gebed

Offergawes

Wegsending: Lied 286 “Here God van liefde 1”

Seën: Psalm 128
5Mag die Here jou seën uit Sion,
dat jy die voorspoed van Jerusalem
kan aanskou
al die dae van jou lewe,
6en dat jy jou kindskinders mag sien.
of
Voorganger: Vandag het die saad van God se Woord in goeie grond geval.
Gemeente: Ons oë is bevoorreg om te sien en ons ore om te hoor.

Voorganger: Laat die Woord deur julle ’n oes lewer, party honderdvoudig, ander sestigvoudig en ander dertigvoudig.
Gemeente: Ons gaan om vir u koninkryk vrug te dra, Here!

Voorganger: Die koninkryk van God het inderdaad naby gekom!
Almal: Amen.

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.