Agste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die Skrifgedeeltes dui daarop dat die navolging van Christus en ‘n lewe in gehoorsaamheid aan God beide vreugde en swaarkry inhou.

Johannes die Doper word verafsku deur Herodias op grond van sy uitsprake en gevolglik onthoof.

In 2 Samuel 6 jubel en dans Dawid wanneer die ark Jerusalem binnekom, en word verag deur Mikal.

Efesiërs 1:3-14 wys op die ware beloning en seën wat gelowiges ontvang, waarvoor Jesus met sy bloed betaal het.

Psalm 24 getuig van die seëninge (en die reg wat sal geskied) vir hulle wat die Here dien.

Ander tekste

2 Samuel 6:1-5, 12b-19
Dawid bring die ark van die Here in Jerusalem in
(Vgl 1 Kron 13:1–14; 15:1–16:3)
6 Dawid het al die uitgesoekte manne in Israel bymekaargemaak, dertig afdelings. 2Hy het klaargemaak en saam met die hele leër na Baäla in Juda toe gegaan om die ark van God te gaan haal. Dit is die ark waaroor die Naam: “die Here die Almagtige wat oor die gerubs troon”, uitgeroep is. 3Hulle het die ark van God op ’n nuwe wa gelaai en dit weggevat uit die huis van Abinadab op die heuwel. Ussa en Agjo, seuns van Abinadab, het die wa 4waarop die ark van God was, gedrywe. Agjo het voor die ark geloop. 5Dawid en die hele Israel het uitbundig voor die ark van die Here gedans, begelei deur liedere, liere, harpe, tamboeryne, ratels en simbale.

6Toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, gryp Ussa na die ark van God om dit teë te hou, want die osse het gestruikel. 7Die toorn van die Here het teen Ussa ontvlam en God het hom net daar, by die daad van heiligskennis, getref. Hy het op die plek gesterf, langs die ark van God. 8Dawid was diep ontsteld omdat die Here vir Ussa so weggeskeur het, en hy het daardie plek genoem Ussa-se-Skeur. Dit is nou nog die naam.
9Dawid het daardie dag bang geword vir die Here en gesê: “Hoe kan die ark van die Here nou na my toe kom?”
10Hy het nie kans gesien om die ark van die Here by die Dawidstad te laat inkom nie en het dit laat wegdraai na die huis van Obed-Edom toe wat uit Gat afkomstig was. 11Die ark van die Here het drie maande in Obed-Edom se huis gestaan, en die Here het hom en sy hele gesin voorspoedig gemaak.
12Daar is toe aan Dawid vertel: “Die Here het die gesin van Obed-Edom voorspoedig gemaak en al sy besittings vermeerder ter wille van die ark van God.”

Dawid het toe gegaan en die ark van God met feesvreugde uit die huis van Obed-Edom na die Dawidstad toe laat bring. 13Elke keer wanneer die draers van die ark van die Here ses tree gestap het, het hy ’n bul en ’n vetgemaakte kalf geoffer. 14Met volle oorgawe het Dawid voor die Here gedans met net ’n linneskouerkleed aan. 15Hy en die hele Israel het die ark van die Here met gejuig en onder die geklank van die ramshoring ingebring.

16Terwyl die ark die Dawidstad ingekom het, het Saul se dogter Mikal deur die venster afgekyk. Sy het koning Dawid gesien terwyl hy spring en dans voor die Here en sy het hom in stilte verag.

17Hulle het die ark van die Here ingebring en dit op sy bestemde plek neergesit in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het. Dawid het brandoffers en maaltydoffers vir die Here geoffer. 18Toe hy klaar geoffer het, het hy die volk geseën in die Naam van die Here die Almagtige. 19Hy het aan die hele volk, die ganse menigte van Israel, man en vrou, elkeen ’n ringbrood, ’n bietjie dadels en ’n handvol rosyntjies laat uitdeel.

Hierna is almal huis toe, 20en Dawid het teruggegaan om sy gesin te seën.
Saul se dogter Mikal het hom tegemoet gegaan en smalend gesê: “Hoe waardig het die koning van Israel hom vandag gedra! Hy het hom die heeldag voor die slavinne van sy onderdane ontbloot soos ’n onbeskaamde mens wat hom sommer ontbloot.”
21Hy het vir Mikal geantwoord: “Voor die Here wat my verkies het bo jou pa en sy familie deur my aan te stel as heerser oor Israel, die volk van die Here, ja, voor die Here sal ek dans. 22Ek sal myself nog geringer ag as dit en nederig wees in my eie oë deur my by die slavinne van wie jy praat, waardig te gaan gedra.”
23En tot die dag van haar dood het Saul se dogter Mikal nie ’n kind gehad nie.

Psalm 24
Die Here is die magtige koning
24 ’n Psalm van Dawid.
Die aarde en alles wat daarop is,
die wêreld en dié wat daar woon,
alles behoort aan die Here,
2want Hy het die fondamente daarvan
in die see gelê
en dit stewig gevestig in die waters.
3Wie mag die berg van die Here opgaan
en wie mag in sy heiligdom gaan staan?
4Dié een wie se hande rein
en wie se hart suiwer is,
wat alle bedrog vermy
en geen vals eed aflê nie.
5So iemand sal van die Here
seën ontvang,
en God, sy redder,
sal reg aan hom laat geskied.
6Die mense wat na sy wil vra
en Hom dien,
is die geslag van Jakob.
7Verbly julle, poorte,
wees bly, eeue-oue deure,
want die magtige Koning
wil ingaan!
8Wie is hierdie magtige Koning?
Die Here, sterk en geweldig,
die Here, oorwinnaar in elke stryd.
9Verbly julle, poorte,
wees bly, eeue-oue deure,
want die magtige Koning wil ingaan!
10Wie is Hy, hierdie magtige Koning?
Die Here, die Almagtige,
Hy is die magtige Koning.

Efesiërs 1:3-14
1 Van Paulus, ’n apostel van Christus Jesus deur die wil van God.
Aan almal in Efese wat aan God behoort en in Christus Jesus glo.
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lof aan God vir sy genade
3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. 4So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. 5In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. 6Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het. 7Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God 8wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het. 9Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak 10en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. 11Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem. Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit. 12Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys. 13Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. 14Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.

Fokusteks

Markus 6:14-29
Verskillende menings oor Jesus
(Matt 14:1–2; Luk 9:7–9)
14Koning Herodes het van Jesus gehoor, want sy Naam het bekend geraak. Party mense het gesê: “Johannes die Doper is uit die dood opgewek. Daarom werk die kragte in hom.”
15En party het gesê: “Dit is Elia.” Ander het gesê: “Hy is ‘n profeet soos een van die ou profete.”
16Toe Herodes dit dan hoor, het hy gesê: “Die Johannes wat ek onthoof het, is uit die dood opgewek.”

Die dood van Johannes die Doper
(Matt 14:3–12; Luk 3:19–20)
17Vroeër het Herodes self gestuur en Johannes laat vang. Hy het hom in die tronk opgesluit op aandrang van Herodias die vrou van sy broer Filippus. Herodes het met haar getrou, 18en Johannes het vir hom gesê: “U mag nie u broer se vrou vat nie.”

19Herodias het daarna ‘n wrok teen hom gekoester en wou hom laat doodmaak, maar sy kon nie, 20want Herodes was bang vir Johannes omdat hy besef het dat hy ‘n opregte en godvresende man is. Hy het vir Johannes onder sy beskerming geneem en elke keer wanneer hy hom aangehoor het, het hy in ‘n ernstige tweestryd geraak. Tog het hy graag na hom geluister.
21Op ‘n dag het Herodias ‘n goeie kans gekry. Toe Herodes op sy verjaarsdag vir sy hoofamptenare en die opperbevelhebbers en die hoëlui van Galilea ‘n feesmaal gegee het, 22het die dogter van Herodias daar ingekom en vir hulle gedans. Dit het groot byval by Herodes en sy gaste gevind. Die koning het toe vir die meisie gesê: “Vra my net wat jy wil hê, en ek sal dit vir jou gee.”
23Daarby het hy dit herhaaldelik met ‘n eed vir haar bevestig: “Net wat jy my vra, sal ek vir jou gee, tot selfs die helfte van my koninkryk.”
24Sy het toe uitgegaan en vir haar ma gesê: “Wat moet ek vra?”
Dié het gesê: “Die kop van Johannes die Doper.”
25Sy het haastig reguit na die koning toe geloop en vir hom gevra: “Ek wil hê u moet vir my dadelik in ‘n skottel die kop gee van Johannes die Doper.”
26Die koning was baie verslae, maar omdat hy dit voor die gaste met ‘n eed belowe het, wou hy haar dit nie weier nie. 27Hy het dadelik iemand van sy lyfwag opdrag gegee en hom gestuur om Johannes se kop te gaan haal. Hy het hom in die tronk gaan onthoof, 28sy kop in ‘n skottel gebring en dit vir die meisie gegee, en die meisie het dit vir haar ma gegee.
29Toe Johannes se volgelinge daarvan hoor, het hulle gekom en sy lyk weggeneem en begrawe.

Die twaalf apostels kom terug
(Matt 14:13–14; Luk 9:10–11; )
30Die apostels het na Jesus toe teruggekom en vir Hom alles vertel wat hulle gedoen en wat hulle die mense geleer het. 31Daar was baie mense wat gedurig gekom en gegaan het, sodat Jesus en sy dissipels selfs nie kans gehad het om iets te eet nie. Hy sê toe vir hulle: “Kom julle alleen saam na ‘n stil plek toe en rus ‘n bietjie.”
32Hulle het met ‘n skuit na ‘n stil plek toe vertrek waar hulle alleen kon wees. 33Baie mense het hulle egter gesien en agtergekom waarheen hulle gaan. Hulle het vinnig van al die dorpe af te voet daarheen gegaan en nog voor Jesus en sy dissipels daar aangekom. 34Toe Jesus uit die skuit klim, het Hy ‘n groot menigte mense daar gesien en Hy het hulle innig jammer gekry, want hulle was soos skape wat nie ‘n wagter het nie. Hy het hulle toe baie uitvoerig begin leer.

Die eerste vermeerdering van die brood
(Matt 14:15–21; Luk 9:12–17; Joh 6:5–14)
35Toe dit al baie laat was, het Jesus se dissipels vir Hom kom sê: “Dit is ‘n afgeleë plek hierdie en dit is al baie laat. 36Stuur die mense terug sodat hulle op die plase in die omtrek en in die dorpies vir hulle iets te ete kan koop.”
37Maar Hy sê vir hulle: “Gee julle vir hulle iets om te eet.”
Hulle antwoord Hom: “Moet ons met twee honderd mense se dagloon brood gaan koop om vir hulle iets te ete te gee?”
38Hy vra vir hulle: “Hoeveel brood het julle? Gaan kyk.”
Nadat hulle gaan kyk het, sê hulle: “Vyf, en twee visse.”
39Hy het hulle opdrag gegee om al die mense klompies-klompies op die groen gras te laat sit om te eet. 40Die mense het in groepe van honderd en in groepe van vyftig gaan sit. 41Toe het Hy die vyf brode en die twee visse geneem, na die hemel opgekyk en die seën gevra. Daarna het Hy die brood gebreek en dit vir sy dissipels gegee om aan die mense voor te sit. Hy het ook die twee visse onder hulle almal verdeel. 42Al die mense het geëet en genoeg gekry. 43Hulle het nog twaalf mandjies vol bymekaargemaak van die stukke brood en die vis. 44Van dié wat van die brood geëet het, was net die mans vyf duisend.

Jesus loop op die see
(Matt 14:22–23; Joh 6:15–21)
45Net daarna het Jesus sy dissipels aangesê om in die skuit te klim en solank vooruit te gaan na die oorkant, na Betsaida toe, terwyl Hy nog eers die mense huis toe stuur. 46Nadat Hy hulle laat gaan het, het Hy die berg op gegaan om te bid.
47Toe dit aand word, was die skuit al ver weg die see in en Jesus alleen op die strand. 48Hy het gesien hulle roei swaar, want die wind was teen hulle. Teen dagbreek die volgende môre het Hy op die see na hulle toe aangeloop gekom, en Hy wou langs hulle verbygaan. 49Toe hulle Hom op die see sien loop, het hulle gedink dit is ‘n spook. Hulle het hard geskreeu, 50want hulle het Hom almal gesien en groot geskrik. Maar Hy het dadelik met hulle gepraat en vir hulle gesê: “Wees gerus, dit is Ek. Moenie bang wees nie.”
51Hy het toe by hulle in die skuit geklim, en die wind het gaan lê. Hulle was heeltemal uit die veld geslaan, 52want hulle het nie werklik verstaan wat die vermeerdering van die brood beteken nie; hulle kon dit nog nie begryp nie.

Jesus genees mense in die landstreek Gennesaret
(Matt 14:34–36)
53Hulle het toe land toe gevaar en by Gennesaret aan wal gegaan. 54Toe hulle uit die skuit klim, het die mense Hom dadelik herken 55en in daardie hele landstreek rondgegaan en dié wat ongesteld was, op draagbare begin aandra na waar hulle gehoor het dat Hy is. 56Waar Hy ook al in dorpe of stede of op plase gekom het, het die mense die siekes op die bymekaarkomplekke neergesit en Hom gevra dat die siekes tog maar net aan die soom van sy klere mag raak; en almal wat aan Hom geraak het, het gesond geword.

Ekstra stof

Markus 6:7-29 – Dissipelskap vra altyd ‘n prys
Die toegespitse aandag aan die dissipels begin met hierdie opdrag in alle erns.  Dit tref ‘n mens hoe Jesus “die twaalf” twee-twee uitstuur.  Dit bly die normale patroon van enige werk vir die Here, om dit in gemeenskap met ander te doen.  Dit tref ‘n mens ook dat hulle nie in detail voorsiening moet maak vir die werk nie, maar afhanklik moes wees van die ontvangs van mense op die plekke waar hulle sou gaan.  Mense wat hulle nie ontvang nie, word ook doodgewoon verlaat om uit te kom by dié wat hulle nodig het.  En dié mense kom tot bekering, mense met bose geeste ontvang bevryding en siekes word gesond gemaak.  Interessant dat hulle met olie gesalf word, soos ons later ook by Jakobus 5:14 sal lees.

Dit is ook merkwaardig hoe hierdie verhaal vertel word in die konteks van Herodes wat Johannes die Doper onthoof het. Dit vorm die agtergrond van Herodes (Antipas – seun van Herodes die Grote wat ‘n kwart van sy pa se ryk regeer het) se verwondering oor Jesus.  Sy tweestryd oor Johannes word oorwoeker deur sy onbedagte belofte aan sy dogter (Salome), en hy moet haar gee wat sy vra: Johannes se kop op ‘n skinkbord.  Daarmee kom die lesers agter dat dissipelskap altyd ‘n prys vra.  Soos Johannes vir sy dissipelskap met sy lewe geboet het, sou Jesus dit ook doen.  En dié lot sou ook menige van hierdie dissipelkring tref.  Dit laat ‘n mens ook besef dat ‘n mens regtig seker moet maak die Here stuur jou, sodat jou offer vir God se saak gegee word.

Matteus en Lukas
Moontlik gedagtig aan sy gehoor van Joodse Christene, vermeld Matteus spesifiek dat Jesus se opdrag nie die heidene of Samaritane ingesluit het nie.  Die eerste fokus was die verlore skape van Israel.  Hierdie gestuurdheid sou later verander en in die Groot Opdrag van Matteus 28 uitgebrei word na alle nasies.  Matteus gee ook die rede vir die verbod op voorsiening vir die reis: “‘n Arbeider is tog geregtig op sy onderhoud”.  Lukas bly by die feite soos Markus dit weergegee het, hoewel met sy eie beklemtoninge, soos dat hulle nie eers ‘n kierie moet saamvat nie.

Matteus vertel ook die verhaal van die onthoofding van Johannes die Doper meer uitgebreid en bly by die feite van die verhaal soos Markus dit vertel het.  Lukas verkort die verhaal tot ‘n enkele paar sinne.

Liturgie

RUS

Toetrede: Flam 151 of VONKK 103 [bekende melodie] of Psalm 24

Votum: Psalm 24

Seëngroet

Lofsang: Lied 547 of Flam 382

Wet en genadeverkondiging: Efesiërs 1:3-14

Toewyding: Flam 209 of Lied 217 of Lied 167

Geloofsbelydenis

HOOR

Gebed

Skriflesing: Markus 6:14-29

Familie-oomblik
Preek

LEEF

Gebed
Dankoffer

Slotsang: Flam 307 of VONKK 159 [bekend] of VONKK 272 of Lied 282

Seën

Respons: Enige van Lied 312 tot 315

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede

Flam 151 Wie Is Hy? of
VONKK 103 Maak Oop Die Poorte Vir Die Koning (Psalm 24) [bekende melodie] of
Psalm 24

Votum: Psalm 24
Die aarde en alles wat daarop is,
die wêreld en dié wat daar woon,
alles behoort aan die Here,
2want Hy het die fondamente daarvan
in die see gelê
en dit stewig gevestig in die waters.
3Wie mag die berg van die Here opgaan
en wie mag in sy heiligdom gaan staan?
4Dié een wie se hande rein
en wie se hart suiwer is,
wat alle bedrog vermy
en geen vals eed aflê nie.
5So iemand sal van die Here
seën ontvang,
en God, sy redder,
sal reg aan hom laat geskied.
6Die mense wat na sy wil vra
en Hom dien,
is die geslag van Jakob

7Verbly julle, poorte,
wees bly, eeue-oue deure,
want die magtige Koning
wil ingaan!

8Wie is hierdie magtige Koning?
Die Here, sterk en geweldig,
die Here, oorwinnaar in elke stryd.

9Verbly julle, poorte,
wees bly, eeue-oue deure,
want die magtige Koning wil ingaan!

10Wie is Hy, hierdie magtige Koning?
Die Here, die Almagtige,
Hy is die magtige Koning.

Seëngroet

Lofsang
Lied 547 Alle volke, klap jul hande of
Flam 382 Die Aarde En Alles Daarop (Psalm 24)

Wet en genadeverkondiging
Efesiërs 1:3-14
3Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! Hy het ons in Christus geseën met al die seëninge van die Gees wat daar in die hemel is. 4So het Hy, nog voordat die wêreld geskep is, ons in Christus uitverkies om heilig en onberispelik voor Hom te wees. 5In sy liefde het Hy ons, volgens sy genadige beskikking, toe ook al daarvoor bestem om deur Jesus Christus sy kinders te wees. 6Daarom moet ons God prys vir sy wonderlike genade wat Hy in die Geliefde vrylik aan ons geskenk het. 7Deur die bloed van sy Seun is ons verlos en is ons oortredinge vergewe kragtens die ryke genade van God 8wat Hy in al sy wysheid en insig so oorvloedig aan ons geskenk het. 9Hy het kragtens sy besluit en voorneme die geheimenis van sy wil aan ons bekend gemaak 10en dit deur Christus tot uitvoering gebring op die tyd wat Hy daarvoor bepaal het. Sy bedoeling was om alles wat in die hemel en alles wat op die aarde is, onder een hoof te verenig, naamlik onder Christus. 11Deur Christus het ons deel geword van die volk van God soos Hy dit vooruit al bestem het. So het Hy Hom dit voorgeneem. Hy wat alles laat gebeur volgens sy raadsbesluit. 12Daarom moet ons, die eerstes wat ons hoop op Christus gestel het, die grootheid van God prys. 13Deur Christus het ook julle deel geword van die volk van God toe julle die waarheid wat aan julle verkondig is, die evangelie van julle verlossing, gehoor en tot geloof gekom het. In Christus het die Heilige Gees wat deur God belowe is, julle as die eiendom van God beseël. 14Die Heilige Gees is die waarborg dat ons ook verder sal ontvang wat God belowe het, wanneer Hy almal wat aan Hom behoort, volkome sal verlos. Daarom moet ons sy grootheid prys.

Toewyding
Flam 209 U Het My Vir Uself Gemaak of
Lied 217 “Verlosser, Redder, Heer en Hoof” of
Lied 167 “Jesus, bron van al my vreugde”

Geloofsbelydenis

Liedere

VONKK 103 “Maak Oop Die Poorte Vir Die Koning (Psalm 24)”
Teks: Jubel, o nasies – Louwrens Strydom & Emma Badenhorst 1993; Driekie Jankowitz 2010 (Pro Deo)
Melodie: PROMISED ONE – Israelse volksmelodie Klavierbegeleiding: Anton Esterhuyse 2010
© Teks en klavierbegeleiding: 2010 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media) © Melodie: Openbare besit
RUBRIEK: Tradisioneel – Toetrede en Aanroeping / Lofprysing

Refrein
Maak oop die poorte vir die Koning, die Here.
God is die erekoning, juig tot sy ere.

Vers:
Alles wat asem het behoort aan die Here.
Skepper van land en see en alles wat lewe.

Maak oop die poorte vir die Koning, die Here.
God is die erekoning, juig tot sy ere.
Wie mag Gods woning sien – so heilig verhewe?
Net dié wat suiwer en opreg voor Hom lewe.

Maak oop die poorte vir die Koning, die Here.
God is die erekoning, juig tot sy ere.
Dié wat Hom soek sal seën ontvang van die Here –
dié wat Hom dien en ook wil leef tot sy ere.

Maak oop die poorte vir die Koning, die Here.
God is die erekoning, juig tot sy ere.

Flam 151 “Wie Is Hy?”
(RUBRIEK: Flam – Verwondering / Votum) Teks en musiek: Johan Engelbrecht © 2006 MAR Gospel Music Publishers
(Ps 24)

Refrein:
Wie, wie, wie is Hy?
Wie is die Erekoning?
Wie, wie, wie is Hy?
Die Here sterk en magtig!

Heer, wie mag u berg opgaan
en voor u heil’ge troon kom staan?
Wie moet juig en tromme slaan as die Erekoning in wil gaan?
Aanbid U. Aanbid U.

Refrein:
Wie, wie, wie is U?
Wie is die Erekoning?
Wie, wie, wie is U?
Die Heer wat wen in elke stryd.

Ek begeer om U te sien,
u wil te hoor en U te dien.
Met my suiwer hart en hand
verlos deur God uit die donker land
aanbid ons U …
Ons ken u genadekant …

Refrein:
Wie, wie, wie is U?
Wie is die Erekoning?
Wie, wie, wie is U?
Die Heer wat wen in elke stryd.

Heer, dis ons wat u berg opgaan
en voor u heil’ge troon kom staan.
Heer, as ons u berg opgaan
en voor u heil’ge troon kom staan,
aanbid ons U.
Ons aanbid U …

Flam 382 “Die Aarde En Alles Daarop (Psalm 24)”
Teks: TT Cloete  Kopiereg: © NG Kerk Uitgewers (Psalm 24) Musiek: Louis Brittz  © Urial  (Ps 24)

Die aarde en alles daarop
behoort aan die Here.
Die wêreld en dié wat daar woon
behoort aan die Here,
want Hy het hul fondamente
diep in die see geplaas en dit daar geplant.

Pre-refrein:
Verbly jul, ewige poorte,
maak oop jou eeue-oue deure,
die Koning wil binnekom.
Wie is Hy? Wie is Hy?

Refrein:
Die Here,
dis die Here, dis die Here
ja dis Hy.
Hy is die Koning, die magtige Koning,
die groot Erekoning.
Ja dit is Hy
die Here dis Hy.

Wie mag die berg van die Here opgaan en Hom nader?
En wie mag sy heiligdom ingaan wie mag daar bly?
Dié een wie se hande rein is wie se hart suiwer is,
sal sy seën ontvang.

Flam 209 “U Het My Vir Uself Gemaak”
(RUBRIEK: Flam – Geloof en Vertroue) Oorspronklike titel:  U heeft mij voor Uself gemaakt
Teks en musiek: Peter van Essen Afrikaanse vertaling: Faani Engelbrecht
© Unisong Music Publishers geadministreer deur Small Stone Media South Africa
(Ps 131, Matt 11:28, Ef 1:4, 2:10)

Refrein:
U het my vir Uself gemaak
en my hart is onrustig
tot dit rus vind by U.
U het my vir Uself gemaak
en my hart is onrustig
tot dit rus vind by U.

1. Herder van my siel
wat die duister verlig,
ek soek u aangesig
tot ek rus vind by U.
Hoe ek ook al voel,
U alleen is my doel.
Ek soek u aangesig
tot ek rus vind by U.

2. Lei my deur die nag
Heer, U Woord gee my krag.
Ek soek u aangesig
tot ek rus vind by U.
Dan sal ek U sien
Jesus, Heer, wie ek dien.
Ek sien u aangesig
waar ek rus vind by U.

Flam 307 “Ons Draai Terug”
(RUBRIEK: Flam – Gebed / Toewyding) Teks en musiek: Louis Brittz  © Urial Publishing 2009
(Opgeneem op Ons Koning Kom! en Ons Draai Terug!)

Laat ons gebede opklink
rein soos ’n engelkoor,
Here, sal U uit die hemel hoor?

U sal u arm uitstrek
U sal genadig wees
Here, U sal ons land genees.

Hemelvader, ons bid U dat u ryk sal kom
Neem ons hand, keer ons harte om.

Ons draai terug
na u liefde en seën

na elke belofte van geestesreën.
Ons draai die rug op die sonde se pyn
op die godsdiens se skyn.
En op alles wat soos mis verdwyn
op ons knieë, Heer, bid ons: “Word nog meer!”
Na u aangesig
draai ons terug!

Vry van die vrees van gister
so deur die bloed gekoop.
Here, U heers in ’n hart vol hoop.

Kom waai weer u geeswind deur ons,
brand met ’n heil’ge vuur.
Jesus, skyn deur ons in hierdie uur.

Hemelvader, ons bid U dat u ryk sal kom
neem ons hand, keer ons harte om.

Ons draai terug!

VONKK 159 “Heer. Ons Dink Aan Afrika  (PLEA FROM AFRICA)”
Teks: Give a thought to Africa – a Glasgow Lady; Afrikaanse weergawe: Jacques Louw 2011 ©
Melodie: PLEA FROM AFRICA – John Knox  Bokwe (1855-1922)  Orrelbegeleiding: VONKK Werkgroep 2011
Klavierbegeleiding: Tradisioneel  Kantoryverwerking: Onbekend
© Afrikaanse teks en orrelbegeleiding: 2011 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Engelse teks, melodie en klavierbegeleiding: Openbare besit
RUBRIEK: Tradisioneel – Gebed / Barmhartigheid en Getuienis

1. Heer, ons dink aan Afrika,
land van helder son.
Soveel mense wat hier woon,
wag op God se Woord –
mense smagtend in hul nood
na die God van hoop.
Hoor ons smeekgebed, o Heer,
Vader wat regeer.

Refrein:
Bring die liefde van ons Heer
na die mense wat hier woon.
Seën Afrika!
Laat ons saam in vrede woon.

2. Heer, ons bid vir Afrika,
waar U ook regeer.
Raak die harde harte aan
om tot U te keer.
Laat u koninkryk hier kom
en u wil geskied.
Hoor ons pleit vir Afrika,
Vader, as ons vra.

Refrein:
Bring die liefde van ons Heer
na die mense wat hier woon.
Seën Afrika!
Laat ons saam in vrede woon.

Give a thought to Africa
‘neath the burning sun.
There are hosts of weary hearts
waiting to be won.
Many lives have passed away;
and in many homes
there are voices crying now
to the living God.

Refrain:
Tell the love of Jesus
by her hills and waters.
God bless Africa
and her sons and daughters.

Breath a prayer for Africa.
God, the father’s love
can reach down and bless all hearts,
from His heav’n above.
And when lips are moved by grace,
they so sweetly sing;
Pray for peace in Africa
from our living God.

Refrain:
Tell the love of Jesus
by her hills and waters.
God bless Africa
and her sons and daughters.

VONKK 272 “Heer, ons bid as reënboognasie”
Teks: Jacques Louw 2013
© Musiek: BLAENWERN – William Rowlands 1905
© Teks: 2013 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: Openbare besit  RUBRIEK:  Klassiek – Gebede

1. Heer, ons bid as reënboognasie
vir ons mooi en dierbaar land.
Ons kom lê ons land en mense
in u troue Vaderhand.
Mag u kinders wat hier saamwoon
na u wil soek en U eer.
Leer ons om met woord en dade
te bely: U is die Heer.

2. Heer, ons bid as reënboognasie
vir ons leiers wat regeer.
Mag hul ook u Woord gehoorsaam;
U erken as God en Heer.
Leer ons om met ons verskille
steeds mekaar te respekteer.
Laat ons voorbeeld ander aanraak,
laat u liefde ons regeer.

3. Heer, ons bid as reënboognasie:
Laat u vrede oor ons heers.
Al die seer uit ons verlede
kan net U, o Heer, genees.
Op u almag vas vertrouend
wil ons saam ‘n toekoms bou.
In geloof ons land en mense
in u hande toevertrou.

4. Kom, o Gees, wees U ons Leidsman,
wys die weg en rigting aan.
Laat ons koers hou deur die chaos
waardeur ons ook hier mag gaan.
Vader, hoor tog ons versugting
as ons in gebed kom vra:
Seën ons land en seën sy mense –
Vader, seën Suid-Afrika!

God praat met ons en ons luister

Gebed

Skriflesing: Markus 6:14-29

Familie-oomblik
Preek

Familie-oomblik

Soos altyd is dit goed dat kinders die Bybelverhale leer ken.  Hulle het nie altyd ‘n morele lessie oor die verhaal nodig nie.  Vandag se gedeelte het egter wel ‘n bietjie konteks nodig.  Jy kan dalk begin deur hulle te herinner dat die Bybel nie ’n storieboek is nie.  Dit vertel van die regte lewe.  Die regte lewe is nie altyd net lekker en goed nie.  Soms gebeur daar slegte goed, ook met God se kinders.  Dan kan jy die gedeelte lees.  Hier is ’n baie dramatiese kindervideo van die gedeelte, of gebruik hierdie prente.  Hierdie storie is vir kinders net so ontstellend soos vir grootmense.  Jy kan met hulle gesels oor die ervaring wat hulle ook goed sal ken, dat ’n mens soms tweede kom, al doen jy die regte ding.  Om Jesus te volg, beteken soms dat mense lelik sal wees met ons.

Preekriglyn

Ons teks vertel die verhaal van Johannes die Doper se konfrontasie met Herodes Antipas. Dit is ‘n ongemaklike herinnering aan die gevaar om swaarde met ‘n magtige koning te kruis. Selfs as die reg aan jou kant is.

Dit is ook ‘n kragtige verhaal wat die Here se volgelinge vandag nog moet hoor. Dit gaan oor getrouheid aan die Here en die waarheid van God. En die persoonlike koste wat getrouheid aan die Here meebring. Ons leer oor die gevare van lus, selfbedrog, ontrouheid in huweliksverhoudinge, hoe ‘n leier misluk om verantwoordelikheid te aanvaar, en wat die gevolge is van sy gedrag. Ons ontdek hoe verskriklik die resultaat van mislukking op hierdie terreine van die lewe is.

Gelukkige einde?

Ons verkies almal ‘n storie met ‘n gelukkige einde. Daar is – sê die Bybel – ‘n gelukkige einde vir diegene wat in die Here glo. Die verskrikking van Goeie Vrydag eindig in die heerlikheid van Paassondag, en vir ons wat glo eindig die wêreld se geskiedenis voor die troon van God. Dan spreek God diegene vry wat glo en maak ons deel van die oorwinning van die Lam.

Op die korttermyn, in die hede, lyk dinge dikwels anders.

Markus vertel die verhaal van Johannes die Doper se dood sodat ons besef dissipelskap kos ‘n prys. Net soos Jesus uiteindelik met sy lewe sou boet, gebeur dit ook met Johannes. Dit sou ook met baie van die dissipelkring gebeur. Dit trek ons nie weg van die toekoms wat vir ons weggelê is nie. Die oorwinning behoort aan God. Maar daar is dikwels ‘n prys om in die hede te betaal.

Herodes Antipas

Daar tree ‘n paar konings met die naam Herodes in die Nuwe Testament op. Hierdie een was Herodes Antipas. Hy moet van Herodes die Grote onderskei word (laasgenoemde het die kindertjies van Bethlehem laat doodmaak met Jesus se geboorte). Dan was daar ook Herodes Agrippa I (wat Jakobus in Handelinge 12 laat doodmaak).

Hoewel dit verskillende konings Herodes was, het hulle ‘n gemeenskaplike kenmerk: hulle het ‘n oormaat geweld gebruik, en dit gerig teen die koninkryk van God. Hulle het mag uitgebuit.

Die Joodse geskiedskrywer uit die eerste eeu n.C., Josefus, vertel baie oor die persoon en optrede van Herodes Antipas, asook oor sy buite-egtelike verhouding met sy broer se vrou, Herodias.

Die affair

Tipies van ons mense, wanneer ons in buite-egtelike verhoudings of ander sonde betrokke raak, is dat ons die gevolge van ons aksies wegpraat. Ons rasionaliseer daaroor. Herodes Antipas was ook so. Hy het sy broer, Filippus, se vrou gevat, Herodias, en met haar getrou. Hy maak toe of dit niks is nie.

Die affair was ongewild onder sy volgelinge, vertel Josefus, maar wie sou dit vir die koning sê? Al sy amptenare het hul koppe op hulle skouers liefgehad. ‘n Profeet soos Johannes die Doper kon nie hieroor stilbly nie. Volgens die wet van Israel was Herodes Antipas beide skuldig aan egbreuk en bloedskande. Hy het God se wet verbreek, en onreg gepleeg teen sy eerste vrou, teen sy broer en Herodias se eerste man, en teen enige ander persoon – soos kinders – wat daardeur geraak is.

Herodes het baie daarvan gehou om na Johannes die Doper te luister (20), maar hy het nie sy optrede verander nie. Vandag nog is daar baie mense wat graag na ‘n goeie prediker luister, en deur die prediking vermaak word. Moet hulle net nie vra om die Here se Woord uit te voer nie.

Die politiek

Herodes Antipas was gedwing om Johannes in die tronk te hou weens politieke oorwegings. Sy eerste vrou was in Nabateaanse prinses. Nabatea was ‘n Arabiese koninkryk wat sy hoofstad in Petra, vandag in Jordanië gehad het.

Toe sy agterkom Herodes beplan om haar te skei ten gunste van Herodias, het sy na haar pa, Aretas IV, die koning van die Nabateane gevlug. Aretas was nie deur Herodes se troubreuk geamuseer nie. Dit het spanning tussen hom en Herodes gebring, maar ook tussen sy onderdane en die onderdane van Herodes. Baie Nabateane het in Herodes se gebied in Perea gebly. Sou daar ooit openlike konflik ontstaan, sou hulle die kant van hulle koning teen Herodes kies.

Pleks het Herodes sy eie dwase troubreuk as die oorsaak van die probleem gesien. Aangesien Johannes sy sonde uitgewys het, het Johannes skielik die probleem geword. Johannes moes stilgemaak word. Herodes wou keer dat verdere ontevredenheid in sy ryk aangeblaas word.

Profete is gewoonlik welkom, solank hulle nie die volle waarheid praat nie. Solank hulle politiek reg is, of hulle hulle uit die politiek hou. Solank die profesieë polities-korrek is, is die Kaap Hollands.

Na Johannes se teregstelling het die spanning tussen Herodes en Aretas bly groei. Dit het op ‘n oorlog uitgeloop waarin Aretas vir Herodes ‘n ordentlike, vernederende pak slae gegee het. Die enigste rede waarom Herodes koning gebly het, is weens Rome se ingrype. Josefus vertel dat Herodes se onderdane gemeen het die vernedering was God se straf omdat Herodes Johannes die Doper doodgemaak het.

Die dronk partytjie

Herodes kon dit regkry om Johannes te verduur, en sy boodskap te ignoreer. Die ander lede van sy huishouding se gewetens het hulle egter gepla. Daarom moes Johannes weg.

Josefus, die geskiedskrywer, beeld Herodias as manipulerend uit. Sy was ‘n slinkse, agterbakse plannemaker. Markus se weergawe stem presies met Josefus ooreen.

Markus fokus op hoe ‘n dwase Herodes die toneel voorberei vir Johannes se teregstelling deur sy dronkenskap, lus en trots voor ander. Tydens ‘n verjaardagpartytjie wat hy vir homself reël, word Herodes verskriklik dronk. Hy kry Salome, Herodias se dogter, om suggestief voor sy manlike gaste te dans.

Salome was waarskynlik in haar vroeë tienerjare. Sy sou weet dit is vernederend vir ‘n vroulike lid van die koninklike huishouding om uitlokkend te dans voor die manlike gaste van die koninklike banket. Die boek Ester vertel trouens van ‘n dronk Persiese koning wat sy vrou Vasti skei, presies omdat sy haarself nie op hierdie manier wou verneder nie.

Hoewel sy ‘n prinses was, word Salome onderwerp aan degradering en seksuele uitbuiting. Sy gee haarself ook daarvoor.

In sy dronkenskap beloof Herodes vir Salome die helfte van sy koninkryk. Aangesien Herodes slegs ‘n ondergeskikte regeerder was, ondergeskik aan Rome, kon hy nie regtig die helfte van die koninkryk weggee nie. Salome gaan vra daarom vir haar ma ‘n meer praktiese voordeel. Herodias was nie by die dansery nie, want die destydse gebruik was dat die vroue in ‘n afsonderlike vertrek feesvier.

Herodias sien haar kans en vra Johannes die Doper se kop. Salome voeg ‘n klein detail by, wat by die banket pas: sy wil Johannes die Doper se kop in ‘n goeie opdienskottel hê. Herodes moes sy woord teensinnig gestand doen. Sy sondes van lus, ontrouheid en onbesonne beloftes het hom vasgevang. Herodes sou uiteindelik vir sy sondes ly, maar Johannes betaal onmiddellik ‘n baie hoë prys daarvoor.

Die huidige wêreld is nie altyd regverdig nie, en daar is baie slagoffers wat onregverdiglik ly. In hierdie geval was Johannes veel meer as ‘n onskuldige slagoffer. Hy was ‘m egte martelaar vir die geloof. As hy sy boodskap sou aanpas, sou Johannes die dood vryspring. Aangesien hy geweier het om die waarheid te verloën, ongeag die gevolge, het hy ‘n voorloper geword van Jesus se eie dood – hy was die wegbereider van Jesus deur sy bediening en deur sy sterwe.

Die einde

Markus fokus in sy verhaal op Johannes se getrouheid en Herodes se verdorwenheid. Deur Herodes ‘n “koning” te noem (14) , verklap Markus dalk dat hy reeds geweet het hoe Herodes se lewenstyl hom ingehaal het. Anders as Herodes die Grote en Herodes Agrippa I, was Herodes Antipas nooit amptelik ‘n “koning” nie. Hy was meer van ‘n hooggeplaaste amptenaar, ‘n “tetrarg” (Mat 14:1; Lukas 3:1). Toe Herodias se broer, Herodes Agrippa I, die koning van Judea word, het Herodias aangedring dat haar man, Herodes Antipas, ook ‘n koning moet word. Koning was ‘n titel wat die Romeinse keiser maar selde aan regeerders ondergeskik aan hom toegeken het. Herodias het egter bly aandring dat haar man die keiser moet vra om ook koning genoem te word.

Keiser Gaius Caligula, wat aan bewind was, het Agrippa koning gemaak, omdat Agrippa sy drinkebroer in Rome was voordat Gaius keiser geword het. Toe Antipas ook vra om koning te word, was Gaius nie geamuseerd nie. Hy het dit as verraad, opstand, beskou. Herodes Antipas is toe saam met Herodias na Gallië verban, waar hulle hul laaste dae in ballingskap geslyt het.

Het hulle ooit, daar in die vreemde, teruggedink aan die waarskuwings van Johannes die Doper, die profeet wat hulle stilgemaak het?

Die boodskap

Om God se wil te doen, bring dikwels vir gelowiges lyding mee. Wanneer ons populêre vorme van ongeregtigheid of immoraliteit uitdaag, ervaar ons teenstand en selfs aktiewe vervolging. Wat met Johannes gebeur het, is ‘n voorbeeld van gehoorsaamheid aan die Here, maar ook ‘n waarskuwing dat mense wat Jesus wil volg die prys moet bereken. Dissipelskap is nie ‘n projek om jou gewildheid te verbeter nie.

In die onmiddellike konteks van ons teksgedeelte, stel Markus dissipelskap – navolging van Jesus – aan die orde. Hy vertel van die hoogtepunte van die dissipels se bediening (6:12-13, hulle het siekes genees en duiwels uitgedryf; 6:30, hulle kon die mense leer).

Die grootste gedeelte in hierdie hoofstuk gaan egter oor die lyding van Jesus se voorloper, Johannes die Doper. Hy doen dit om te beklemtoon die dissipels het op daardie stadium nog nie verstaan wat hierdie bediening hulle gaan kos nie. Sonder dat hulle dit besef, is Johannes se lyding ‘n voorloper van Jesus se lyding en sterwe. Jesus se lyding en sterwe is weer ‘n voorloper van die dissipels s’n.

Tog beklemtoon Markus waartoe die dissipels in staat is, in hierdie geval Johannes se dissipels. Nadat hy tereggestel is, het Johannes se volgelinge sy liggaam kom haal en Johannes ‘n behoorlike begrafnis gaan gee. Dit het moed gekos, omdat eerbetoon aan die oorskat van ‘n tereggestelde die woede van die betrokke leiers wat dit gemagtig het, kon ontketen. Johannes se volgelinge tree soveel anders as Jesus se dissipels op wanneer Jesus in die moeilikheid beland en tereggestel word. Hulle vlug. Die taak om Jesus te begrawe word oorgelaat aan ‘n dapper lid van die Sanhedrin, met die dissipels skoonveld.

Die voorbeeld van Johannes en sy volgelinge moedig ons aan om Jesus dapper te volg, om moed te hê, om vir die waarheid van Jesus op te staan. Ons word opgeroep tot ‘n dieper vlak van dissipelskap. Ons moet fokus op dit wat saak maak – in die lig van die ewigheid.

Moderne Suid-Afrika

Binne ons Suid-Afrikaanse konteks van swak leierskap, staatskaping, wanbestuur, nepotisme, haatspraak, rassisme, misbruik van politieke mag, swak dienslewering en skending van menswaardigheid, is Johannes se profetiese stem broodnodig.

Ons leef in ‘n gebroke wêreld leef. Gewondes hunker om die genade van God binne hulle trauma te ervaar, want geweld en immorele gedrag wond mense op alle lewensterreine. Daar is op elke lewensterrein ‘n Herodes of Herodias!

Ons moet meer en meer mense word wat geloofwaardig en soos Johannes die Doper met morele gesag kan praat en handel.

God stuur ons om te leef

Gebed
Dankoffer

Slotsang
Flam 307 Ons Draai Terug of
VONKK 159 Heer. Ons Dink Aan Afrika (PLEA FROM AFRICA) [bekend]
VONKK 272 Heer, ons bid as reënboognasie
Lied 282 “Terwyl ons bid vir elke volk”

Seën

Respons: Enige van Lied 312 tot 315

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.