Agste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Die besonderse samehang van die tekste kan onder die volgende tema in die liturgie ontplooi word: “Christus is die allesomvattende werklikheid vir die gelowige en ons ware rykdom.” Ons volg ongelukkig steeds aanhoudend afgode, en tog bly God se liefde oorweldigend daar vir ons. Sy genade maak dit vir ons moontlik om uit die rykdom wat ons van Hom ontvang ook aan die nood van ander ‘n verskil te maak.

Die sleutelteks word omraam deur waarskuwings teen hebsug en angstigheid oor die noodsaaklikhede van die lewe. Hebsug en opgaar is tekens dat ons God nie vertrou nie. Ware rykdom word gevind in vertroue op die Here en deur vrygewig te wees teenoor ander. Die liturgie verloop volgens die struktuur van die sleutelteks. Die probleem word gestel: “Sê vir my broer hy moet deel.” Hier kan eerstens die vraag gevra word of dit ‘n billike versoek aan Jesus is. Tweedens word dieper gekyk wanneer Jesus die werklike probleem blootlê: gierigheid. Derdens vertel Jesus ‘n verhaal om verder te verduidelik (prediking) en dan pas Jesus dit toe op die lewe van elke dag.

Sleutelteks

Lukas 12:13-21
13Iemand uit die skare het vir Hom gesê: “Meester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.” 14Maar Hy antwoord hom: “Mens, wie het My as regter of bemiddelaar oor julle aangestel?” 15Toe sê Hy vir hulle: “Pas op en wees op julle hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe word nie bepaal deur die oorvloed van sy besittings nie.”

16Daarna het Hy vir hulle die volgende gelykenis vertel: “‘n Sekere ryk man se plaas het ‘n goeie oes opgelewer. 17Hy het homself toe afgevra, ‘Wat moet ek doen? Want ek het nie plek waar ek my oes kan opgaar nie.’ 18Toe sê hy, ‘Dit is wat ek sal doen. Ek sal my skure afbreek en groter skure bou. Daarin sal ek al my graan en my goedere opgaar. 19Dan sal ek vir myself sê, Mens, jy het baie goed opgegaar vir baie jare. Ontspan, eet, drink en wees vrolik.’ 20Maar God het vir hom gesê, ‘Jou dwaas! Vannag nog sal jou lewe opgeëis word. En wat jy bymekaargemaak het, aan wie sal dit dan behoort?’ 21So gaan dit met iemand wat vir homself skatte bymekaarmaak, en nie in God ryk is nie.”

Ander tekste

Hos 11:1-11
My liefde brand te sterk
11 Toe Israel nog ’n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep.
2Maar toe die Baäls hulle roep, het Israel My verlaat en vir die Baäls gaan offer, vir afgodsbeelde offers gebring.
3Ek self het Efraim leer loop, Ek het hulle op my arms gedra, maar hulle wou nie erken dat dit Ek is wat vir hulle sorg nie.
4Ek het hulle met sorg en liefde gelei, Ek was vir hulle soos iemand wat die juk oplig as dit sy trekdier skaaf. Ek het na Efraim toe afgebuk en hom gereeld kos gegee, 5want Ek wou nie hê dat
hy weer na Egipte toe moet teruggaan nie of dat Assirië oor hom moet heers nie. Maar Efraim het geweier om hom te bekeer.
6Daarom sal sy stede deur oorlog verwoes word en sy waarsêers uitgeroei word. Hulle sal deur die oorlog verteer word oor die raad wat hulle gegee het. 7Omdat my volk My verlaat het, sal party van hulle opgehang word en die ander sal die slawejuk moet dra, ’n juk wat nie afgegooi sal word nie!

8Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk. 9Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie ’n mens nie. Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.

10Hulle sal die Here volg! Hy sal brul soos ’n leeu en wanneer Hy brul, sal sy kinders vol ontsag uit die weste kom. 11Vol ontsag sal hulle soos voëls uit Egipte vlieg en soos duiwe uit Assirië.
Ek sal hulle na hulle neste toe terugbring, sê die Here.

Ps 107:1-9, 43
Let op die Here se dade van trou
107 “Loof die Here, want Hy is
goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”
2So moet die mense sê
wat deur die Here bevry is,
dié wat Hy uit hulle nood bevry het
3en uit baie lande versamel het,
uit die ooste en die weste,
die noorde en die suide.
4Party was verdwaal in die woestyn,
in ’n barre wêreld,
en kon die pad na ’n bewoonde stad
nie kry nie.
5Hulle was honger en dors,
hulle was uitgeput,
6maar in hulle nood het hulle
na die Here geroep om hulp
en Hy het hulle gered uit hulle ellende.
7Hy het hulle op die regte pad gebring
en by ’n bewoonde stad laat uitkom.
8Hulle moet die Here loof
vir sy troue liefde,
vir sy wonderdade
wat Hy aan mense doen.
9Hy het die dors geles
van dié wat versmag het,
Hy het die goeie in oorvloed gegee
aan dié wat honger gely het.

43Wie verstandig is,
moet op hierdie dinge ag gee,
hulle moet let op die Here se dade
van trou.

Kol 3:1-11
Julle is saam met Christus uit die dood opgewek
3 Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.

Die ou en die nuwe lewe
5Daarom moet julle die aardse dinge doodmaak wat nog deel van julle lewe is: onsedelikheid, onreinheid, wellus, slegte begeertes, en gierigheid, wat afgodery is. 6Deur sulke dinge kom die straf van God oor die mense wat aan Hom ongehoorsaam is. 7Vroeër het julle ook aan dié dinge meegedoen toe julle nog daarin gelewe het. 8Maar nou moet julle al hierdie dinge laat staan: woede, haat, nyd en gevloek. Vuil taal moet daar nie uit julle mond kom nie. 9En moenie vir mekaar lieg nie. Julle het met die ou, sondige mens en sy gewoontes gebreek 10en leef nou die lewe van die nuwe mens, wat al hoe meer vernuwe word na die beeld van sy Skepper en tot die volle kennis van God. 11Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.

12Julle is die uitverkore volk van God wat Hy baie lief het. Daarom moet julle meelewend, goedgesind, nederig, sagmoedig en verdraagsaam wees. 13Wees geduldig met mekaar en vergewe mekaar as die een iets teen die ander het. Soos die Here julle vergewe het, moet julle mekaar ook vergewe. 14Bo dit alles moet julle mekaar liefhê. Dit is die band wat julle tot volmaakte eenheid saambind. 15En die vrede wat Christus gee, moet in julle lewens die deurslag gee. God het julle immers geroep om as lede van een liggaam in vrede met mekaar te lewe. Wees altyd dankbaar. 16Die boodskap van Christus moet in sy volle rykdom in julle bly. Leer en onderrig mekaar met alle wysheid. Met dankbaarheid in julle harte moet julle psalms, lofgesange en ander geestelike liedere tot eer van God sing. 17En wat julle ook al sê of doen, sê en doen dit alles in die Naam van die Here Jesus en dank God die Vader deur Hom.

Ekstra stof

Teks en konteks
12:13 Iemand uit die skare wil by Jesus ‘n beslissing hê oor die toepassing van die Joodse erfreg. Hy vra dat die Here sy broer aansê om die erfenis met hom te deel. Moontlik was daar ‘n ongerymdheid van die kant van sy pa of broer. Óf daar was ‘n ongelukkigheid deurdat hy jaloers was op die broer se deel van die erfporsie. Dit kon ook wees dat die broer die eersgeborene was en daarom ‘n dubbele deel kon kry. Dit het baie keer tot ongelukkigheid gelei (Deut 21:7).

12:14 Jesus weier egter om as regter of arbiter in erfreg sake op te tree. Dit was nie sy missie na die wêreld toe nie. Hy gaan nie betrokke raak by sake wat met gierigheid te make het nie.

12:15 Jesus waarsku die skare teen gierigheid, want jou lewe bestaan nie uit die oorvloed van jou besittings nie. Vir gierigheid moet jy baie versigtig wees. Jy moet daarvoor oppas en jou daarvan weerhou. Die Griekse woord phulassō beteken eintlik dat jy jou teen gierigheid moet beskerm, dat jy jou moet “isoleer” daarvan! Want, gierigheid kan jou lewe verwoes, soos die gelykenis sal aandui.

12:16-18 Jesus vertel dan die gelykenis van die ryk man wie se land ‘n goeie oes gelewer het. Hy het egter ‘n probleem gehad. Hy het nie genoeg plek om die oeste te kan stoor nie. Sy plan was om sy skure af te breek en groteres te bou sodat hy al sy graan en besittings daar kan stoor.

12:19 En dit is presies waar die probleem dan kom. Sy motivering was nie om groter milddadigheid aan ander te betoon nie. Dit was om sy eie belange te dien. Hy wou sy oorvloed in die oorblywende jare geniet net vir homself. Let op hoeveel keer die woorde “ek” en “my” in die gelykenis voorkom!

12:20-21 God het egter die laaste sê oor sy besittings, want Hy het ook die laaste sê oor sy lewe. God beskou die gierigaard as ‘n dwaas – God kan iemand ‘n “dwaas” noem! – want daardie selfde nag sal sy siel van hom geëis word en hy sal geen voordeel meer hê van sy rykdom nie.

12:22 Jesus trek dan sy gevolgtrekking oor gierigheid. Sorg dat jy ryk is in God, dat jy vir God goed opgaar, nie vir jouself nie, want jou rykdom sal jou nie uiteindelik enigsins iets baat nie.

Boodskap en betekenis
Die punt van hierdie gelykenis is helder en duidelik. ‘n Mens moet gefokus wees op God en sy koninkryk. Alles wat jy het moet ingespan word ter wille van God en sy saak. Selfs die onderlinge ongelukkigheid oor die voordeel wat ander bó jou het, moet laat vaar word, sodat dit nie later blyk blote gierigheid aan jou kant te wees nie. Jy kan nie God en Mammon dien nie. Maar, ‘n mens kan dit net doen, as jy die volgende deel van Jesus se lering in ag neem. Dit is dat Hy vir ons sorg soos die lelies van die veld.

Liturgie

Aanvangslied: 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Aanvangswoord: (Uit Psalm 107)

Seëngroet

Lied: 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Wet: (Uit Hosea 11)

God se teleurstelling
11 Toe Israel nog ’n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep.

Oordeelsaankondiging
6Daarom sal sy stede deur oorlog verwoes word

God se genade-karakter/ Vryspraak
8Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim?

Aanbidding: Lied 169 Heilig (3X) Heer God almagtig vs 1,2,3

Riglyn om te lewe uit Kolossense 3
3 Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit.

Geloofsbelydenis

Opsioneel: Doopherinnering (uit Basisliturgie)

Loflied: 207 “Eer aan die Vader vs 1,2,3,4,5”

Epiklese

Skriflesing: Lukas 12:13-21

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 251 “Salig die wat arm voor God is vs 1,2,3”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 161 “Halleluja Heer U is ons lewe vs 1”

Aanvangswoord: (Uit Psalm 107)
“Loof die Here, want Hy is
goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”

in hulle nood het hulle
na die Here geroep om hulp
en Hy het hulle gered uit hulle ellende;
Hy het hulle op die regte pad gebring …

“Loof die Here, want Hy is
goed,
aan sy liefde is daar geen einde nie!”

Loof Hom vir sy troue liefde,
vir sy wonderdade
vir wat Hy aan mense doen…

Seëngroet  
Aan die gemeente in ………………………………………….
“Geseënd is julle wat arm is,
want aan julle behoort die koninkryk van God.
Geseënd is julle wat nou honger het,
want julle sal versadig word . . .” (Luk 6:20-21).

Lied: 196 “O kon ek jubel Hemelvader 1,2,3,4”

Wet: (Uit Hosea 11)

God se teleurstelling
11 Toe Israel nog ’n kind was, het Ek hom al liefgehad, en Ek het hom, my seun, uit Egipte geroep.
2Maar toe die Baäls hulle roep, het Israel My verlaat en vir die Baäls gaan offer, vir afgodsbeelde offers gebring.
3Ek self het Efraim leer loop, Ek het hulle op my arms gedra, maar hulle wou nie erken dat dit Ek is wat vir hulle sorg nie.
4Ek het hulle met sorg en liefde gelei, Ek was vir hulle soos iemand wat die juk oplig as dit sy trekdier skaaf. Ek het na Efraim te afgebuk en hom gereeld kos gegee, 5want Ek wou nie hê dat hy weer na Egipte toe moet teruggaan nie of dat Assirië oor hom moet heers nie. Maar Efraim het geweier om hom te bekeer.

Oordeelsaankondiging
6Daarom sal sy stede deur oorlog verwoes word en sy waarsêers uitgeroei word. Hulle sal deur die oorlog verteer word oor die raad wat hulle gegee het. 7Omdat my volk My verlaat het, sal party van hulle opgehang word en die ander sal die slawejuk moet dra, ’n juk wat nie afgegooi sal word nie!

God se genade-karakter/ Vryspraak
8Maar hoe kan Ek jou prysgee, Efraim? Hoe kan Ek jou laat vaar, Israel? Hoe kan Ek jou vernietig soos Adma, met jou maak soos met Sebojim? Ek kan dit nie oor my hart kry nie. My liefde brand te sterk. 9Ek sal my gloeiende toorn bedwing, Ek sal nie so ver gaan en Efraim uitwis nie, want Ek is God, nie ’n mens nie. Ek is die Heilige wat by jou is, Ek sal nie met woede ingryp nie.

Aanbidding: Lied 169 “Heilig (3X) Heer God almagtig vs 1,2,3”

Riglyn om te lewe uit Kolossense 3
3 Aangesien julle saam met Christus uit die dood opgewek is, moet julle strewe na die dinge daarbo waar Christus is, waar Hy aan die regterhand van God sit. 2Rig julle gedagtes op die dinge wat daarbo is, nie op die dinge wat op die aarde is nie, 3want julle het gesterwe, en julle lewe is saam met Christus verborge in God. 4Wanneer Christus, wat julle lewe is, by sy wederkoms verskyn, sal julle ook saam met Hom verskyn en in sy heerlikheid deel.

11Hier is dit nie van belang of iemand Griek of Jood is nie, besny of nie besny nie, andertalig, onbeskaaf, slaaf of vry nie. Hier is Christus alles en in almal.

Geloofsbelydenis
V: Glo jy in God die Vader?
G: Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde.

V: Glo jy in Jesus Christus, die Seun van God?
G: Ek glo in Jesus, sy eniggebore Seun, ons Here; wat ontvang is van die Heilige Gees, gebore is uit die maagd Maria; wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is en ter helle neergedaal het; wat op die derde dag weer opgestaan het uit die dood; wat opgevaar het na die hemel en sit aan die regterhand van God, die almagtige Vader, van waar Hy sal kom om te oordeel dié wat nog lewe en dié wat reeds gesterf het.

V: Glo jy in die Heilige Gees?
G: Ek glo in die Heilige Gees. Ek glo aan ’n heilige, algemene, Christelike kerk, die gemeenskap van die heiliges; die vergewing van sondes; die opstanding van die vlees, en ’n ewige lewe.

V: Amen.
(Uit: Soos ‘n blom na die son draai van Cas Wepener, 2011:65)

Opsioneel: Doopherinnering (uit Basisliturgie)
V: Die doop herinner ons dat daar aan God se liefde vir ons geen einde is nie – dat ons deur Christus vry is om te leef binne God se liefde en om aan Hom alleen gehoorsaam te wees.
(Elke keer wanneer die liturg na een van die Persone van die Drie-eenheid verwys, kan hy of sy die water in die doopvont deur sy of haar vingers laat spoel.)
Ons is gedoop in die Naam van die Vader wat vir ons sorg.
G: Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.

V: Ons is gedoop in die Naam van die Seun wat ons verlos.
G: Dit moet die mens sê wat deur die Here uit hulle nood bevry is: 
Loof die Here, want Hy is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie.

V: Ons is gedoop in die Naam van die Heilige Gees wat sy kerk uit baie lande versamel, uit die ooste en die weste en die noorde en die suide.
G: Laat ons die Here loof vir sy troue liefde en die wonderdade wat Hy aan ons doen.
– uit Psalm 107:1-3

Loflied: 207 “Eer aan die Vader vs 1,2,3,4,5”

Liedere

F2. “Met Ons Lewens, Wil Ons U Eer”
(Rubriek:  FLAM Gemeentesang – Toewyding)
Oorspronklike titel: Lord, be glorified
Teks en musiek: Bob Kilpatrick
Afrikaanse vertaling: 2005  Jacques Louw
© 1978  Bob Kilpatrick Ministries

Met ons lewens wil ons U eer,  Christus, ons Heer.
Met ons lewens wil ons U eer, vandag.

In ons huise wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In ons huise wil ons U eer, vandag.

In u kerk, Heer, wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u kerk, Heer, wil ons U eer, vandag.

In u wêreld wil ons U eer, Christus, ons Heer.
In u wêreld wil ons U eer, vandag.

F257. “U Alleen”
(RUBRIEK:  Kruisfuur – Verwondering)
Teks en Musiek: JA de Beer en Z van der Westhuizen
©  2007 Urial Publishing

U’s my huis, U’s my see
Niemand gee soos U gee
U’s my somer, U’s my reën
Elke dag, ek’s nooit alleen

En ek begeer U alleen
ek begeer U alleen

Nuwe more, eerste lig
U is beter as selfs dit
Niks wat ek kan begeer
Vergelyk met U, my Heer
So, hier is ek soos ek is
Ek lê my lewe neer voor U

F294. “Neem My Lewe”
(RUBRIEK:  FLAM Gemeentesang – Gebed / Toewyding)
Teks & Musiek: Marina du Toit
©  2008 Urial Publishing

Neem my lewe, laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer
Want U is die lewe en U is die lig
U gee die water en ek dra die vrug

Neem my lewe laat dit, Heer,
U gewy wees meer en meer
Want U is die Skepper en ek is die klei
Maak vir u hart, Heer, ’n woning in my

Snoei my vom my, suiwer my
Laat U meer word binne my
En laat al die vuilheid wegbrand, Heer
Laat ek weer skoon word al is dit seer

Snoei my, vorm my, suiwer my
Laat U meer word binne my
En laat ek die vrug dra om heilig te wees
’n Lewende offer gevul met u Gees

’n Lewende offer vir U
’n Lewende offer gevul met u Gees

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Here God, Hemelvader,
U in wie die volheid van lig en wysheid woon,
verlig ons denke deur U Heilige Gees,
en skenk ons die genade
om U Woord aan te hoor,
met eerbied en in nederigheid,
waarsonder niemand U waarheid kan begryp nie.
Ons vra dit om Christus ontwil.
Amen
(Johannes Calvyn, 1509-1564 in Wat Here is en lewend maak deur Dirkie Smit, 2001:29. Lux Verbi, Wellington.)

Skriflesing Lukas 12:13-21

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Die vier hoeke van die liefde
Tema: God se liefde word meer wanneer dit weggegee word.
Benodighede: ‘n Groot plakkaat met die woorde “God se liefde” daarop geskryf en ‘n skêr.

Voordat jy die plakkaat vir die kinders wys, begin met ‘n wiskunde-oefening. Vra die kinders: “As ek vyf Smarties het en ek gee twee vir jou en een vir iemand anders, hoeveel het ek oor?” (Twee.)
Wys nou die plakkaat waarop jy geskryf het: “God se liefde”.
Hier is iets wat ons almal behoort weg te gee – God se liefde.

Julle kan sien dat God se liefde vier hoeke het. (Wys die vier hoeke van die plakkaat.) Maar kyk nou wat gebeur wanneer ons een van die hoeke weggee. (Knip een van die hoeke van die plakkaat af en gee dit vir ‘n kind.) Hoeveel hoeke is daar nou? Drie? Is julle seker? Tel hulle: een, twee, drie, vier, vyf!

Kan julle dit glo! Ons het begin met vier hoeke van God se liefde en nou het ons vyf. Ek wonder wat sal gebeur as ek nog een van die hoeke weggee. (Knip nog ‘n hoek af.) Nou het ons ses hoeke. Dit lyk vir my hoe meer hoeke van God se liefde ons weggee, hoe meer hoeke is daar uiteindelik. (Knip die ander twee hoeke van die plakkaat ook af en gee dit vir die kinders.)

Laat ‘n kind een van die afgeknipte hoeke van God se liefde in die lug ophou. Vra hom of haar om die hoeke te tel. Laat almal wat ‘n driehoekie gekry het die hoeke saam tel. Die 4 driehoeke saam het 12 hoeke.

Hoe het dit gebeur? Dit gebeur omdat ons God se liefde weggegee het. Hoe meer ons God se liefde uitdeel, hoe meer liefde is daar.
– Ken Forbes, Annan Congregational Church.

Preekriglyn

Die eerste sin van ons teks kon net sowel in vanoggend se koerant gestaan het: “Iemand uit die skare het vir Hom gesê: ‘Meester, sê vir my broer om die erfenis met my te deel.'” (vers 13)

Mens is altyd bewus dat daar ander is wat meer het as jy. Of jy het die gevoel dat jy nie genoeg het nie. Hoe kan jy ook meer kry? Genoeg kry? Veilig voel omdat jy genoeg weg gesit het?

In die afloop van die Covid-pandemie is mens bewus hoeveel baie mense oor die afgelope twee jaar verloor het. Poste het in die slag gebly. Baie besighede het enorme verliese gelei. Kos op die tafel vir gesinne het in die slag gebly.

Soos skaarsheid toeneem, so word mens in die versoeking gelei om al hoe meer te probeer versamel.

Daarby moedig ons kultuur versamel en vermeerder aan. Ons sien gierigheid moeilik raak. Iemand het ‘n groot grondbaron eenmaal gevra wanneer mens genoeg grond het. Di;e sê toe: “Wanneer jy al die grond besit wat tans aan jou grond grens.”

So was dit in Jesus se tyd ook. Mense wil wen bymekaarmaak, meer hê. Dit is jou dryfveer, want die lewe het net ‘n aantal bronne. As iemand meer gaan kry as jy, gaan jy minder kry, swaarder kry, sukkel om te leef en te oorleef. Dit moet verhoed word. Dit is amper asof iets van jou weggeneem word wanneer ander iets kry of iets bereik. Dan sukkel jy om hulle geluk te wens en saam met hulle vreugde te ervaar.

Gierigheid is om dit wat jy besit te wil behou, en wel op sodanige wyse dat jy nie vir God of jou naaste raaksien nie, maar eerder die kwaliteit van jou lewe meet aan wat jy besit. Die uitgangspunt van hierdie lewenswyse is die beskouing dat as jy min het, jy onbelangrik is en mense op jou neersien. Daarom streef jy altyd daarna om soveel moontlik te besit.

‘n God wat gee

JP Versteeg, ‘n Nederlandse teoloog, skryf dat die egte God ‘n gewende God is en dat egte mense gewende mense is; daarteenoor is nemende mense onmense. So daag Jesus ‘n mens uit om wen-wen te dink met die wete dat daar genoeg vir almal is. Daarom het jy vreugde.

Daar is ‘n verhaal van ‘n meisie wat arm grootgeword het en saans uitgeglip het om die buurt se mooi huise te bewonder. Tydens so ‘n uitstappie het sy gesien ‘n swembadhuisie se deur staan wawyd oop. Uit nuuskierigheid het sy ingeloer en ‘n sak marshmallows ontdek, wat sy dadelik opgeëet het. Daarna het sy gereeld die swembadhuisie besoek en elke keer ‘n sak marshmallows gekry. Jare later besoek sy weer die woonbuurt om te erken dat sy die marshmallow-dief was. Tot haar verbasing erken die buurvrou dat sy al die tyd geweet het dat dit sy was. Sy het doelbewus vir haar iets lekkers in die swembadhuisie neergesit.

So behoort ons ook die oorvloed wat ons van die Here ontvang, aan ander uit te deel. Dit is nie net ‘n donasie nie. Dit is beslis nie om verskonings uit te dink oor hoekom jy dit of dat nie kan of wil doen nie. ‘n Jong man het eenkeer vir Norman Vincent Peale gesê dat hy sy eie besigheid wil begin, maar dat hy nie die geld het nie. Peale het geantwoord: “Leë sakke het nog niemand teruggehou nie, net leë koppe en leë harte kan dit regkry.”

Geloof en gee

Dit was ‘n uitdaging in die tyd van Lukas, en is vandag ook nog in tye van groeiende ekonomiese ongelykhede wat deur die Covid-19-pandemie beklemtoon word. Ons moet dit opnuut vanuit ‘n geloofsverhouding aanspreek, anders gaan gelowiges wat iets besit etikette dra van “ek moet gee”. Andersyds gaan dié wat swaar kry, die etiket van “agtergeblewene” dra. Hierdie etikette is meulstene om albei groepe se nekke, wat albei laat twyfel aan God en sy liefde vir hulle in Jesus Christus.

‘n Mens moet verstaan dat Jesus nie die ryk man se rykdom kritiseer nie, ook nie jou goeie oes of jou mooi huis of nuwe motor nie. Hy is ook nie kwaad dat jy jou kinders bederf of met vakansie gaan nie. Jy kan ook jou sport beoefen en die mooi dinge van die lewe geniet. Om vir jou toekoms te sorg, is nie sonde nie. Die boer sou ook dwaas gewees het om nie sy oes in te bring of sy skure te vergroot nie. Om te beplan hoe om jou besittings te behou, is normaal en verstandig.

Hierdie boer se probleem is dat sy gesindheid verkeerd is. Dit gaan vir hom oor die “ek” wat dit en dat sal doen, die “ek” wat sal afbreek, die “ek” wat sal opgaar en die “ek” wat vir myself sal sê dit gaan goed, want ek besit baie goed. Dit gaan vir hom oor sy oes en sy skure. Selfs wanneer hy praat, is dit nie met ander mense nie, maar met homself, so asof hy tred met die werklikheid verloor het.

Gierigheid dra maskers

Daarom sê die tiende gebod dat gierigheid baie maskers dra. Dit is ook nie beperk tot dié wat het nie (Pred. 5:9). Dit gaan ook nie net oor jou goed (geld) nie. Gierigheid beteken dat as jou werk jou alles is, dan kry jy nooit klaar gewerk nie. As jou huis jou alles is, is jou huis nooit mooi of groot genoeg nie. So is dit ook met jou motor, jou plaas, jou beleggings, jou erfporsie en jou sport. Dit skep dan die illusie dat jy niks en niemand nodig het nie. Jy is in beheer van jou lewe en jy vertrou net jouself en dit wat jy besit. So kom staan die oes tussen die ryk man en God, asook tussen hom en sy medemens. In die proses word hy ‘n eensame, verbitterde, toekomslose mens wat in werklikheid arm is, al besit hy baie. Hierteen waarsku Jesus in Lukas 12:15.

Só lyk gierigheid: Dit is wanneer ‘n mens “ek”-taal praat; dit gaan oor jou en wat vir jou belangrik is, nie oor God of jou naaste nie. Hierdie boodskap wil die man in Lukas 12 nie hoor nie. Jy dalk ook nie. Hy wil nie met sy broer versoen nie, maar hy wil Jesus gebruik om volgens die Joodse reg sy broer te dwing om die erfporsie te verdeel sodat hy met sy lewe kan voortgaan.

Karl Barth sê daarom tereg dat kerkmense nog altyd meer wou wees as ‘n volk in die woestyn of ‘n eensame voël op die dak. Die kerk wil nie ly nie, maar wil dit goed hê. Daarom wil ‘n mens baas wees van jou eie goed; daarom doen jy sonder om God te raadpleeg. So raak jy van God vervreem en het jy vir niks en niemand meer tyd nie. Dan wil jy net hê – meer geld, meer sekuriteit, groter huise, meer grond en beter geleenthede. Jy wil onafhanklik wees, nie meer voorgesê word nie, in beheer wees van jou eie toekoms. Dit is waarteen Jesus waarsku wanneer Hy sê: “Wees op jou hoede vir elke vorm van gierigheid, want ‘n mens se lewe is nie afhanklik van die oorvloed van sy besittings nie.”

Té veel

As jy dit nie doen nie, is jy besig om van God en van die armes te steel. Alhoewel Lukas 12:17-18 na goeie beplanning lyk, is daar tog ‘n probleem: Die ryk man het te veel opgegaar totdat daar ‘n tekort was. Toe verkoop hy wat hy het teen ‘n veel hoër prys. So steel hy die kos uit die monde van die armes, weduwees en wese.

Die kerkvader Ambrosius het gesê: “Die ryk man het goeie skure gehad, die monde van die armes.” Moeder Teresa sluit hierby aan: “Wanneer ‘n arm mens van honger doodgaan, is dit nie omdat God nie vir daardie persoon gesorg het nie. Dit is omdat ons nie God se hande en voete was deur vir die arme ‘n stukkie brood of klere te gee toe hy dit nodig gehad het nie. Daarom die opdrag van Jesus: Waar julle skat is, daar sal julle hart wees (Luk 12:32-34).”

Wat wil God?

Dit vra dat jou eerste vraag sal wees: Wat wil God hê moet ek doen met dit wat ek besit – met my geld en goed; met my gawes, liefde en vergifnis; met reën, droogte of ‘n pandemie? God is die Eienaar van alles. Jy is maar net die een aan wie Hy dit leen om namens Hom te bestuur (Gen. 1:28; Ps. 8:3-4, 7). By die kruis op Golgota ontmoet jy juis die gewende God; Hy gee sy genade, liefde en vergifnis. Jy ontvang dit gratis. Jy moet net jou hande oopmaak, dit aanvaar en ‘n gewende mens wees wat dit aan jouself en aan ander uitdeel.

Met die uitstorting van die Heilige Gees ontmoet jy weer vandag dié gewende God wat jou met sy gawes oorlaai. Jy moet net erken dat dit van God af kom, en as gewende mens moet jy dit aan ander uitdeel as getuienis van God se liefde in Jesus Christus (1 Kor. 12:5 ev).

Wanneer dít gebeur, gaan dit nie meer vir jou, soos Richard Foster dit stel, oor jou geld, besittings, mag of ambisies nie, maar oor God. Dan is die lewe nie meer ‘n nimmereindigende gejaag na meer nie. Dan gaan dit nie oor jou skuur wat nie groot genoeg is of nooit vol genoeg is nie, of oor hoe min tyd jy het om die grond te bewerk, te saai en te oes nie. Jou medemens is ook nie meer vir jou ‘n las nie. Jy word nie bedreig as daar ‘n oproep is om te help nie, en jou tyd is ook nie te min nie. Jy is nie ooroptimisties oor jou eie vermoëns of verpletter deur jou gesukkel nie, maar jy vertrou dat God vir jou sal sorg, en vir ander, deur jou.

Gedoopte geld

Toyohiko Kagawa, ‘n Japanse prediker, vra gelowiges om hulle kapitaal te “doop”. ‘n Mens moet al jou geld en besittings onder Christus se heerskappy plaas. Onder jou eie heerskappy is dit skadelik vir jou medemens, jou omgewing, jou verhouding met God en ook vir jouself. Dit het daarom in wese met die hemel en die hel te doen. Hierby sluit Luther aan as hy sê dat ‘n mens twee bekerings nodig het: een van die hart en een van die beursie. Augustinus vat dit ondubbelsinnig saam: “Ontvang wat God jou gee met vreugde. Gebruik daarvan wat jy nodig het. Die res word deur jou naaste benodig.”

Die Belydenis van Belhar verwoord dit so:
Ons glo dat Hy in ‘n wêreld vol onreg en vyandskap op ‘n besondere wyse die God van die noodlydende, die arme en die veronregte is en dat Hy sy kerk roep om Hom hierin na te volg; dat Hy aan verdruktes reg laat geskied en brood aan die hongeriges gee; dat Hy die gevangenes bevry en blindes laat sien; dat Hy dié wat bedruk is, ondersteun, die vreemdelinge beskerm en weeskinders en weduwees help en die pad vir die goddelose versper; dat dit vir Hóm reine en onbesmette godsdiens is om die wese en die weduwees in hulle verdrukking te besoek.

In pandemietyd spreek dit boekdele!

So getuig die kerk, in navolging van die Lukasevangelie, as hulle teen enige vorm van ongeregtigheid stry sodat die reg kan aanrol soos watergolwe, en geregtigheid soos ‘n standhoudende stroom (Ps. 146). In die woorde van die Belydenis van Belhar moet die kerk staan waar God staan: teen ongeregtigheid en by die veronregtes. Die kerk moet getuig teenoor almal wat uit selfsug hulle eie belang soek en sodoende oor ander beskik en hulle uiteindelik benadeel. Jesus daag gelowiges met hierdie gelykenis uit om te glo dat ons hele lewe, met alles wat ons het en is, ‘n geskenk van God is.

God stuur ons om te leef

Gebed
Offergawes

Wegsending: Lied 251 “Salig die wat arm voor God is vs 1,2,3”

Seën
Kinders van die Here
Weèt dit: Hy kan jou nie prysgee nie- Sy liefde brand te sterk!
Hy kan jou nie vernietig nie; Hy sal jou nie laat vaar nie.
Hy kan dit nie oor Sy hart kry nie,
want Hy is God, nie ‘n mens nie. (Uit Hosea 11)

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.