Agste Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees

Agste Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Fokusteks: Romeine 9:1-5
Ander tekste: Genesis 32:22-31; Psalm 17:1-7, 15; Matteus 14:13-21

Inleiding

In Koninkrykstyd hou die tekste nie noodwendig tematies met mekaar verband nie. In hierdie liturgie kan die beweging van Jakob/Israel se worsteling met God en Paulus se worsteling met die weë van God gekoppel word aan die oorvloed van God se ontmoeting en sorg in Matteus.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Gebruik Romeine 11:36 as “Aanvangswoord”.
Gebruik die teks uit Genesis 32:22-31 as oproep tot verootmoediging. Gee ruim geleentheid vir stilte na die Skriflesing.

Diens van die Woord

Gebed om die opening van die Woord
God bo ons begrip,
ons ontmoet U vanoggend in geloof en in twyfel,
in die skadu’s van ons lewe opsoek na u lig,
worstelend op soek na u seën.
Laat u Woord ons trotsheid vermink en ons genees om afhanklik van U met oopheid en liefde te leef.
Ter wille van u Seun, Jesus Christus, ons Here.

Diens van die tafel

Gebruik Matteus 14:13-21 as teks vir die viering van die nagmaal. Lees Matteus 14:13-17 waarna die brood en die wyn na die tafel gedra word.

Lees dan verder Matteus 14:18-19a.
Hierna kan ’n klassieke nagmaalsgebed en instelling gebruik word soos onder andere gevind word in Handleiding vir die Erediens.

Lees Matteus 14:19b net voor die kommunie.
Lees Matteus 14:20 as danksegging na die kommunie.

Uitsending

Staan by die doopvont en sê die volgende
Gaan dan nou om te leef as mense wat met God geworstel het, wat gemerk is deur sy genade – en gaan leef in sy oorvloed

Musiek en sang

Lofliedere: Lied (Psalm 146) “Prys die Here, loof en prys Hom”; Lied 215 “Besing die lof van Jesus saam”
Voorbereiding om die Woord te hoor: Lied 469 “O diepte van die rykdom”
Voorbidding: Lied 275 “O God van Jakob, deur u hand”
Wegsending: Lied 310 “Voor, U Heer, bly ek staan”

Preekstudie: Romeine 9:1-5

Tema
“Die hartseer van onvervulde verwagtings, op kosmiese vlak”

Teks

Die brief van Paulus aan die gemeente in Rome is een van sy laaste briewe binne die Pauliniese korpus en het, oor die eeue heen, binne die Gereformeerde tradisie ʼn besonder belangrike invloed gehad. Terselfdertyd is die Romeine 9-11 segment binne die brief waarskynlik die gedeelte wat tipies die minste aandag ontvang het en selfs nog minder waardering. Romeine 9-11 is nietemin ʼn kern-gedeelte binne die brief. Romeine 9:1-5 is ʼn skarnier-perikoop tussen die voorafgaande lofprysing van God se genade en die daaropvolgende aanspraak in Romeine 9-11 dat God sy beloftes gestand doen – in die verlede en dit ook sal doen in die toekoms. Romeine
9-11 vorm ʼn eenheid. Dit word ingelui met 9:1-5 en afgesluit met 11:33-36. Die bepalende tema is verwoord in 9:6.

Dit is die sterk, emosiebelaaide taal wat die oorgang van hoofstuk 8 na 9 aan mekaar bind; aan die een kant die hoogtepunt van sekerheid en vertroue in Romeine 8:31-39 en aan die ander kant die dieptepunt van reikhalsende maar onvervulde verwagting (9:1-5). In Romeine 9 sit Paulus die argumentering van 1-8 voort. Sy argument het deurgaans die geregtigheid van God wat deur die wet en profete bevestig is, beklemtoon (3:21). Die nasies het deel verkry aan die belofte van God aan Abraham (Rom 4). Die saak van die wet (2:15), die besnydenis van die hart (2:29), die wet van die Gees van lewe (8:2) kom in die nasies se gehoorsaamheid aan die evangelie tot vervulling. Die nasies het begin om die genade en getrouheid van God, eens die spesiale voorreg van Israel, te ervaar.

Die noukeurige aandag aan die struktuur van 9:1-5 is opvallend, met netjiese dubbel-uitdrukkings wat die emosie, in die sin van patos en eerbied, beklemtoon in 9:1-3 (alētheian legō en οu pseudomaitēs suneidēseōs mou en en pneumati hagiō; lupē megalē en adialeiptos odunē; anathēma en opu tou Christou; tōn adelphōn mou en tōn sungenōn mou), en die woorde met vroulike uitgange in –thesia,-α, -αι wat goed op die oor van toehoorders sou val (υἱοθεσία; νομοθεσία; δόξα; λατρεία; διαθῆκαι; en ἑπαγγελίαι). Die woordkeuse beklemtoon egter terselfdertyd dat die nasies in die seëninge van Israel deel, veral met die gebruik van woorde soos huiothesias (8:15, 23), doksan (8:18, 21), en epangelia (4:13-14, 16).

Die afwesigheid van voegwoorde in 9:1 is waarskynlik ʼn aanduiding van die eerbied waarmee hierdie gedeelte voorgelees sou word in die gemeente, met nadruk op die aanspraak op waarheid, wat ook bevestig word met “ek lieg nie” (vir die ontkenning, sien 2 Kor 11:31 en Gal 1:20; vir die dubbele stelwyse, vgl Joh 1:20; 1 Tim 2:7 wat moontlike nabootsing van Paulus behels). Paulus se beklemtoning dat hy in Christus die waarheid praat het hier waarskynlik nie sy geloofsaffiliasie op die oog nie of sy gedrewenheid as gevolg van Christus se bevrydingswerk nie, maar is eerder ʼn verwysing na Paulus se geestelike ervaring, sy Christus-gedefinieerde etos of lewenstyl. Paulus se aanspraak summarturousē moi tēs suneidēseōs mou en pneumati hagiō, beteken dat “sy gewete saam met hom getuig in die Heilige Gees”. Paulus se gewete is hier nie ʼn onafhanklike entiteit nie (vgl wel Rom 8:16) maar eerder ʼn betroubare ontvanger van sy getuienis. Die klem op betroubaarheid word bevestig met die verwysing na die Gees, die bron van Paulus se inspirasie en is bepalend vir sy gewete en uitdra van sy getuienis (vgl in Rom ook 2:29; 7:6; 8:9; 14:17; 15:16). Alhoewel beide Christus en Gees in en-frases staan, impliseer dit nie gelykstelling van Christus en Gees nie, maar eerder onderskeidelik bestaan (lewe) in Christus, en ondersteuning deur die Gees.

Die sterk emosionele taal deur die verdubbeling van lupē (droefheid) en odunē (hartseer) in 9:2 strook met die gelaaide taal van Paulus se bekentenis in 9:1. Die terme kan verwys na fisieke of geestelike pyn, en slaan hier op Paulus se diep teleurstelling: God se uitverkore volk deur die beloftes van Abraham aanvaar grotendeels nie vir Jesus as Messias of Christus nie. As iemand wat aan die “nuwe” volk van God behoort, gryp die afstand tussen Jode en Christus Paulus aan die hart. Dit is interessant dat die kombinasie van hierdie twee woorde in die Septuaginta (die Griekse vertaling van die OT, wat agv Hellenisering die “Bybel” was wat in die eerste eeu oorwegend gebruik is, juis ook deur Jode) slegs op twee plekke voorkom, te wete Jesaja 35:10 en 51:11. In beide gevalle gaan dit oor die hartseer oor Israel wat tot ʼn einde sal kom wanneer God hulle terug ontvang vanuit hulle ballingskap in sy liefdevolle geregtigheid. Paulus se gebruik van kardia beklemtoon die erns en opregtheid wat hy wil oordra (vgl ook 10:1; en selfs 1:21; 2:15 en 8:27).

In Romeine 9:3 gebruik Paulus ēuchomēn wat as “ek het gebid/gewens” vertaal kan word, of gewoon minder direk as “mag dit maar gewees het”. Die imperfektum van die woord laat beide ʼn onvervulde sowel as gerealiseerde vervulling as moontlike verstaanwyses toe. So diep lê Paulus se pynlike belewenis dat Jode nie en masse hul toevlug tot Christus geneem het nie, dat hy selfs oorweeg of hy nie maar homself eerder kon opoffer nie, om anathēma (iets wat eenkant geplaas word vir vernietiging; vgl ook 1 Kor 12:3; 16:22; Gal 1:8–9) te word, ʼn vervloeking voor God – ter wille van “sy broers, sy volksgenote”. Dit is interessant dat Paulus “broers” hier vir sy mede-Jode gebruik, ʼn term waarmee hy meestal na sy geloofsgenote in Christus verwys (bv 1:13). Paulus se wens of gebed roep herinneringe aan Moses se gebed in Eksodus 32:32 op toe Moses in solidariteit met sy volksgenote in hulle lyding wou deel of dit op hom wou neem. Trouens, Paulus brei sy gedagte van ʼn vervloeking te wees ter wille van andere uit, met die frase “weg van Christus”. Vir Paulus wat “in Christus” is (en vir wie niks tussen hom en Christus kan kom nie, Rom 8) sou niks erger kan wees as om weg van Christus te wees nie. Reeds verwyder van sy eie mense, ʼn verskriklike ervaring (vgl Gen 17:14; Hand 3:23) opsigself, is Paulus bereid om selfs Christus op te gee vir sy mede-Jode. Die klem is egter nie op Paulus nie, maar sy retoriek stuur in die rigting van sy onwrikbare geloof dat sulke stappe onnodig sal wees omdat God se genade groot genoeg is vir die Jode en die nasies (Rom 11).

In Romeine 9:4 verwys Paulus nou na die Jode as “Israeliete”, ʼn sterk verband met die verbondsnaam van die persoon van wie die twaalf stamme afkomstig was (Gen 32:28; 35:10-12). Dit was ʼn gewilde selfverwysing onder die volk van Israel, veral in die formaat “kinders van Israel” (vgl Ps 25:22; 53:6; 130:7-8; Jes 49:3; 56:8; 66:20; Joel 2:27; 4:16; Obed 20). Paulus gebruik ook hierdie term (Israel) wanneer hy onderling na sy mede-Jode verwys, en Jood (Ἰουδαῖος) daar waar die eiesoortigheid ten opsigte van ander nasies ter sprake kom (12 van die 19 verwysings na Ἰσραηλ [ίτης] in die Pauliniese briewe word in Rom 9-11 aangetref). Hy beskryf ses voordele of voorregte waarop Israel op grond van hulle status as uitverkore volk van God aanspraak kon maak: die reg om deel van God se familie te wees (aanneming); sy heerlikheid te ervaar (heerlikheid); in ʼn verhouding met God te tree (verbonde); sy wet te ontvang (wet); te aanbid in sy tempel (diens); en, sy beloofde seëninge te ervaar (beloftes). Die tweede tot en met die vyfde voorregte (heerlikheid = monoteïsme; ʼn verbondsverhouding; die wet of Torah; en tempeldiens) was die uitstaande en bepalende kenmerke van Tweede Tempel Jodedom in die eerste eeu.

“Aanneming” (huiothēsia) is in die Ou Testament ʼn belangrike metafoor om Jahwe se keuse vir Israel te verwoord (bv Eks 2:22-23; Hos 11:1). Die metafoor word in die Ou Testament (bv Ps 2:7; 89:27) ook soms op Dawidiese koningskap toegepas, en kry in die buite-Bybelse, Romeinse wêreld nuwe stukrag met die keisers wat hulleself dikwels as aangenome seuns van God uitgebeeld het. “Heerlikheid” (doksa) was in die Ou Testament eerstens ʼn verwysing na Jahwe se sigbare teenwoordigheid onder die Israeliete (vgl Eks 16:10), en later ook na God se teenwoordigheid in die tabernakel (Eks 25:8; 40:34) en selfs in die tempel (1 Kon 8:11; Eseg 43:2). Paulus wat dikwels in sy briewe uit Jesaja aanhaal, was terdeë bewus daarvan dat die goddelike heerlikheid deur Israel aan die nasies openbaar sal word (Jes 35:2; 40:5; 59:19; 60:1-3; 66:18-19). “Verbonde” (diathēkai) sou na die veelvuldige verbonde in die Ou Testament kon verwys – met Abraham (Gen 15; 17), met Israel by berg Sinai (Eks 19:5-6), op die plein van Moab (Deut 29-31), en by berge Ebal en Gerizim (Jos 8:30-35), miskien selfs met Dawid (2 Sam 23:5). Dit is egter meer waarskynlik dat dit hier slaan op die bevestiging van die verbond met Abraham met sy nageslag, Isak en Jakob (vgl Lev 26:42–45; selfs Deut 4:31; 7:12). Die “gee van die wet” (nomothēsia, ʼn woord wat slegs hierdie een keer in die NT gebruik word; die OAV “wetgewing” is dubbelsinnig in Afrikaans) verwys oënskynlik na Israel se ervaring by Sinai (vgl Eks 19-24), en sou in den brede selfs Israel se rol in die bewaar en oordrag van die Skrifte van Israel kon insluit. Die verwysing na die wet as ʼn gawe van God, as voorbeeld van sy genade, is ʼn tipies Joodse opvatting (vgl Rom 2:14; 6:14). “Diens” (latreia) slaan hier op godsdienstige aktiwiteit en binne konteks verwys dit na tempeldiens, wat offerandes insluit (vgl 12:1 waar Paulus offerandes weliswaar vergeestelik; Heb 9:1-6). Meer nog, Paulus se verwysing na “(tempel)diens” het bes moontlik Israel se verantwoordelikheid ten opsigte van die tempel se offerhande-stelsel op die oog (vgl Eks 12:25-16). God het “beloftes” (epangeliai) gesluit met Abraham en die patriarge of aartsvaders (Gen 15:9-21; 17:1-22; 26:3-4; 28:13-15; vgl 15:8; Gal 3:16). Beloftes kan hier ook in die breër sin slaan op God se beloftes om deur ʼn Messias Israel se verlossing en herstel te bewerkstellig (vgl Jes 4:2; 9:2-8; 11:1-10), en die seëninge vir die nasies (Gen 12:2-3; 18:18; 22:18; 26:4; 28:14; vgl Hand 3:25).

In 9:5 lê Paulus die genealogiese verband tussen Israel en die aartsvaders of patriarge (Hoi pateres) met sy aanspraak dat Israel van hulle afstam. Die vaders verwys hier na Abraham, Isak en Jakob, uit wie die 12 stamme hulself sien voortspruit. Net so is dit uit hierdie Israel wat die ho Christos voortkom, en wat hier vertaal kan word met “die Christus” of “die Messias”. En natuurlik is die Christus, Hom wat Paulus leer ken het as Jesus Christus, uit die stam van Juda. Paulus trek die drade bymekaar ten opsigte van God se genade en die wyse waarop Israel God se genade beliggaam – en dit kan nie anders as om op lofprysing vir God uit te loop nie.

Nieteenstaande Paulus se hartseer oor Israel wat grotendeels nie die evangelie van Christus aanvaar nie, eindig hy hierdie perikoop met ʼn doksologie, ʼn pryslied teenoor God: ho ōn epi pantōn Theos eulogētos tous aiōnas amēn. Die struktuur van die laaste sin in 9:5 het aanleiding tot uiteenlopende gedagtes oor die funksie daarvan gegee, met ʼn keuse om dit óf as onafhanklike doksologie óf as betreklike bysin te lees. ʼn Keuse vir eersgenoemde, nieteenstaande stilistiese en Christologiese argumente vir die teendeel, strook goed met die voorgaande hoofstuk(ke), en die slot-doksologie in 11:33-36 (alhoewel die afwesigheid van die Christologiese klem daar waarskynlik gangbare Joodse teologiese veronderstellings ter wille is). ʼn Trinitariese uitgangspunt kan ons verhoed om raak te sien dat ʼn toegewyde Jood die nabetragting van God se goedheid teenoor Israel sou afsluit met ʼn pryslied aan God – natuurlik sou ʼn Joodse volgeling van Jesus juis vir Jesus as Christus, as die mees besondere gawe uit Gods hand sien!

Konteks

Die brief aan die Romeine word dikwels in drie komponente verdeel, ʼn sogenaamde leerstellige of dogmatiese gedeelte oor die genade van God (1-8), ʼn losstaande historiese ekskursie oor die volk Israel (9-11), en ʼn etiese deel oor die Christelike lewenswyse (12-15). Romeine 16 beslaan ʼn uitsonderlike lang maar andersins (vir eerste-eeuse briewe) normale afskeidsgroet en seënwense gedeelte. Navorsing toon egter duidelik aan dat die Romeine brief ten beste as een lang, koherente argument te verstane is. Romeine 9-11 is allesbehalwe ʼn ekskursie of losstaande historiese gedagtes oor Israel, maar is ten nouste verweef met die argument wat Paulus in 1-8 aanvoer. So ook word dit wat Paulus argumenteer in Romeine 1-8 volvoer in Romeine 9-11, en Romeine 1-11 weer word werklikheid in Romeine 12-15. Die onderskeie dele veronderstel die ander dele ten einde elke deel sinvol te verstaan.

Romeine 9-11 mag nie as toevoeging of opsionele ekstra tot Romeine 1-8 verstaan word nie, net so min as wat Romeine 9-11 ʼn begronding van die leer van predestinasie met betrekking tot die individu is. Die tema is die uiteinde van Israel, en nie bloot ʼn illustrasie van geloofsgeregtigheid aan die hand van Israel nie. In Romeine 9-11 is dit trouens duidelik dat Paulus die Jesus-beweging as integrale deel van Israel verstaan sodat daar kwalik sprake is van ʼn Kerk-Israel tweedeling.

Paulus se brief aan die Romeine word gerig aan ʼn gemeente wat Paulus nog nie voorheen besoek het nie. Uit Romeine 16 waar hy verwys na meer as 30 mense, ʼn uitsonderlike groot groep mense in vergelyking met ander Pauliniese briewe, blyk dit egter dat Paulus wel bekend is met talle persone in die gemeente. ʼn Breë konsensus is van mening dat die apostel ten tyde van die skrywe van Romeine op die punt staan om sy missionêre bedrywighede verder weswaarts uit te brei (bv Spanje, sien 15:22-31), en die ondersteuning van die gemeente in Rome daarvoor benodig. Waarskynlik as gevolg van ʼn talmende onsekerheid oor Paulus as voormalige vervolger van die volgelinge van Jesus se huidige affiliasie, vind Paulus dit nodig om Romeine 16 as soort getuigskrif vir homself te formuleer.

Geleerdes noem dikwels dat daar in Romeine, anders as in die ander Pauliniese briewe, geen aanduiding is van ʼn dringende krisis of probleem wat Paulus probeer aanspreek nie. Alhoewel dit waarskynlik korrek is, is dit nietemin ook belangrik om kennis te neem van Paulus se moeite om die spanning tussen gelowiges uit die Jodendom en uit die heidendom met mekaar te versoen in Romeine. In die eerste drie hoofstukke word beide groepe aangespreek en in Romeine 12-15 is daar ʼn beklemtoning van versoening wanneer Paulus na die een liggaam met talle lede verwys (12:3-8) en onderlinge omgee beklemtoon (14:13-23), die afwysing van veroordeling (14:1-12) en vergelding (12:9-21), die beklemtoning van liefde (13:8-14) ensovoorts.

Preekvoorstel

Dit sal gevaarlik wees om die patos van Romeine 9:1-5 te verskraal tot ʼn preek oor onvervulde verwagtinge in mense se persoonlike of beroepslewens – dit gaan hier oor kosmiese gebeure en Paulus se poging om beide die Jode en God se optrede te verstaan; of om Romeine 9:1-5 uit te buit vir ʼn anti-Joodse tirade – Paulus praat as ʼn Jood en uit groot besorgdheid teenoor sy mense (Tōn sungenōn mou, 9:3); of om ʼn Christelike super-sessionisme aan te blaas – die volgelinge van Christus ressorteer vir Paulus onder die volk Israel, en nie andersom nie.

In ʼn preek sal dit belangrik wees om op Paulus se klem op God se genade te wys, hoe onverstaanbaar ook al en oor eeue heen (ook al in Paulus se tyd en juis ook vir hom!) gekenmerk deur mense se onbegrip. Die belang van God se getrouheid aan sy beloftes, juis ook in die konteks waar die hoop beskaam, staan vir Paulus op die voorgrond: sy aansprake word nie met grootse gulhartigheid en luidrugtigheid aankondig nie, maar met emosievolle en patos-belaaide oorwoënheid. Byna ʼn geval van hy glo, want hy kan nie anders nie! Paulus se lof vir God swaai nie om in verwyte teenoor sy mede-Jode nie, nie in ons perikoop nie en ook nie later in Romeine 9-11 nie (sien juis ook Paulus se slotsom in Rom 3:1-8 dat God se genade nie deur mense ontsetel kan word nie). Trouens, Paulus verwys met deernis na die gawes wat sy volk van God ontvang het, en per implikasie gawes wat (in elk geval toe Paulus sy brief geskryf het) nog staan.

ʼn Preek oor Romeine 9:1-5 sal werklik moeite wil doen om iets van die grootsheid van God se getroue genade oor eeue heen te beklemtoon, maar daarmee saam ook iets van die onpeilbaarheid van God se genade te midde van menslike onbegrip, wat by tye aanleiding gee tot hartseer sowel as nederigheid.

Bibliografie

Aanbevole kommentare: Cranfield, C E B 2000. A Critical and Exegetical Commentary on the Epistle to the Romans: Introduction and Commentary on Romans IX-XVI, Vol. 2. 6de druk. ICC. London: T&T Clark; Dunn, J D G 1988. Romans 1-8. Word Biblical Commentary, vol. 38A. Dallas: Word Books; Dunn, J D G 1988. Romans 9-16. Word Biblical Commentary, vol. 38B. Dallas: Word Books; Jewett, R 2006. Romans: A Commentary. Hermeneia: A Critical & Historical Commentary on the Bible. Minneapolis: Fortress; Jonker, W D 1983. Brief aan die Romeine. Pretoria: NG Kerk-boekhandel.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.