Agste Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees

Agste Sondag in Koninkrykstyd

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Sleutelteks: Lukas 10:25-37
Ander tekste: Amos 7:7-17; Psalm 82; Kolossense 1:1-14

Inleiding

Die fokus val op ’n Christelike lewe wat die kern van die wet uitleef deurdat liefde vir God en liefde aan  medemense niemand uitsluit nie, maar al jou kosbaarhede insluit as middele waarmee jy moet liefhê. So laat ons sy koninkryk kom. Die ander tekste ontbloot genadeloos sondes van skelm selfbelang. Die teks in Kolossensebeloon en bemoedig ’n leefstyl tot eer van God; wat vol goeie werke is; God beter leer ken; geduldig volhard en met blydskap gedurigdeur God dank. Vandag se erediens kan met groot gemak die verwoestende gevaar uitlig waarmee selfbelang die skoonheid van opregte liefde verkruppel.

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Seëngroet
Die genade en vrede van die Here is met julle elkeen (uit Kol 1:2).

Diens van die Woord

By die Wet
Oproep tot skuldbesef: Lees Amos 7:8-9.
Bevestiging van vergifnis: Lees Kolossense 1:13,14
Genadeverkondiging: Lees Amos 9:11-15.

Diens van die tafel

Na die nagmaalsformulier
Lees Kolossense 1:3-5net voor die instellingswoorde.

Danksegging na die nagmaal
Kolossense 1:5-14
Laat die gemeente antwoord met ’n danklied.

Uitsending

Seën
Ons vra God dat Hy deur al die wysheid en
insig wat die Gees gee,
julle sy wil duidelik sal laat ken, sodat julle tot eer van die Here sal lewe deur net te doen wat Hy verlang.
Mag julle vrugte dra deur goeie werke en
toeneem in die kennis van God.
Mag God deur sy wonderbare krag julle alle sterkte gee om in alle omstandighede geduldig te volhard (Kolossense 1:9b-11).

Musiek en sang

Lofsange: Lied 184 “Lofsing die Here”
By die preek: Lied 250 “Gods wet vra enkel liefde”
By die tafel: Lied 296  “Jesus, U is my verblyding”
Na die nagmaal: Sing ’n danklied uit die rubriek “Liefde, dankbaarheid en diens” in die Liedboek 520-534.
Slotsang:Lied 309 “My lewe bly aan U gewy”; Lied 177  “Jesus groot bo almal”

Preekstudie: Lukas 10:25-37

Teks

Dit is noodsaaklik om  aandag te skenk aan die gelykenis binne die konteks waarin Lukas dit geplaas het. Die gesprek tussen Jesus en die wetgeleerde kom wel by Matteus en Markus voor (Matt 22:34-40; Mark 12:28-34), maar hulle bring dit nie met die gelykenis van die barmhartige Samaritaan in verband nie. Anders as Lukas, laat die eerste twee evangelies die klem val op die vraag: Wat is die grootste gebod in die wet? Die fokus van Lukas is anders. Dit wys daarop dat ons sensitief moet wees vir die punt wat Lukas met die verhaal wou maak. Sonder om die uitleg vooruit te loop, sal dit help om te sê dat Lukas waarskynlik sy lesers wou oortuig om op ’n soortgelyke wyse as die Samaritaan op te tree. Hy wou hulle nie leer hoe hulle moes bepaal wie nou eintlik hulle naaste is nie.

Jesus het gelykenisse gebruik om iets met sy lesers te bereik. Hy het alledaagse gewoontes en gebeure gebruik om sy hoorders te oortuig dat dit in ’n wêreld waar God regeer, anders gaan as daarbuite. Mense kyk met ’n ander bril na dieselfde werklikheid as diegene wat nie vanuit die perspektief van die koninkryk van God daarna kyk nie. Gelykenisse verander mense se perspektief ten opsigte van wat hulle dink en doen.

Lukas en Johannes is die twee evangelies wat iets maak van ’n positiewe houding teenoor Samaritane (Joh 4; Luk 9:51-56; 17:11-19). Lukas beklemtoon die plek van veragtes, noodlydendes, armes en onderdruktes in God se nuwe wêreld. Lukas se boodskap is dat Jesus geleer het dat noodlydendes nie onbelangrik in die oë van God is nie, dat Jesus selfs met die veragtes omgegaan het en hulle nie verwerp het nie.

Kortliks iets oor die verskillende karakters in hierdie gedeelte. Lukas beskryf Jesus as leraar wat gesaghebbend en met oortuiging kan praat en vergesigte oor die koninkryk van God vir mense oopmaak. Die wetgeleerde is iemand wat onderlê is in die Joodse wette en dit gesaghebbend kan uitlê. Wetgeleerdes tree in die evangelie as opponent van Jesus op, saam met die skrifgeleerdes en Fariseërs. Van die persoon wat op pad was en die rowers weet ons niks. Die priesters en Leviete was vername godsdienstige beamptes. Die priesters was bemiddelaars tussen God en die mense en het van oral oor gekom om ’n diensbeurt in die tempel in Jerusalem waar te neem. Leviete was onder andere verantwoordelik vir die musiek in die tempel.

Die Jode en die Samaritane het mekaar verag. Die Samaritane was ’n afsonderlike etnies-religieuse groep wat hulleself as vyande van die Jode beskou het, met ’n eie Pentateug en tempel op die berg Gerisim. Hulle is deur die Jode as “basters”, oneg, on-joods en onaanvaarbaar afgemaak. Met die terugkeer uit die Babiloniese ballingskap het Kores instemming verleen dat die tempel in Jerusalem herbou word. Die Samaritane het hulle hulp aangebied, maar dis van die hand gewys, omdat hulle “oneg” was. As gevolg hiervan was daar grootskaalse konflik omdat die Samaritane die bouwerk verhinder het (Esra 4:4). Die oprigting van hulle eie tempel te Gerisim het egter ’n finale breuk tussen Jode en Samaritane veroorsaak en die situasie het algaande versleg. Tydens die hewige vervolging deur Antiochus IV Epifanus (2de eeu vC) het die Samaritane hul verwantskap met die Jode ontken en vervolging vrygespring. Die Romeine het sekere Samaritaanse stede help herbou en so die guns van die Samaritane gewen. Dit is voor die hand liggend dat Joodse luisteraars na Jesus se gelykenis baie moeilik daaraan sou kon sluk dat dit juis ’n Samaritaan is (sien ook die posisie van beklemtoning in die Griekse teks) wat doen wat die priester en Leviet nie gedoen het nie!

Lukas 10:25-37 begin met ’n vraag van die wetgeleerde aan Jesus om sy gesag as leraar op die proef te stel. Hy spreek Jesus aan as “meneer” (= leermeester). Daarmee toets die wetgeleerde Jesus se insig oor hoe mens die ewige lewe kan verkry. Müller (127:1987) sluit aan by die skema van Bailey. Hiervolgens vind die gesprek tussen Jesus en die wetgeleerde in twee rondes plaas, elkeen met twee vrae en twee antwoorde; in elkeen vra die wetgeleerde ’n vraag waarop Jesus ’n wedervraag vra waarop die wetgeleerde dan antwoord. Daarna eers antwoord Jesus op die oorspronklike vraag. Dit lyk só:

Ronde 1: ’n Wetgeleerde stel aan Jesus ’n vraag:
Vraag 1: Wat moet ek doen om die ewige lewe te verkry ?
Vraag 2: Jesus – Wat staan in die wet ?
Antwoord op vraag 2: Wetgeleerde – Jy moet die Here en jou naaste liefhê.
Antwoord op vraag 1: Jesus – Doen dit en jy sal die lewe verkry.

Ronde 2: Die wetgeleerde wou homself handhaaf en vra:
Vraag 3: Wie is my naaste ?
Vraag 4: Na aanleiding van die gelykenis: Wie is ’n naaste van hom?
Antwoord op vraag 4: Die man wat aan hom medelye bewys het.
Antwoord op vraag 3 (en 1): Gaan maak jy ook so.

Dis belangrik om die verband tussen Jesus se opdragte in vers 28 en 37 raak te sien. Jesus beklemtoon daarmee dat die verkryging van die ewige lewe direk verband hou met die uitleef van die liefde teenoor God in die beoefening van konkrete dade van liefde teenoor elkeen wat oor jou pad kom.

Verder is die verband tussen die vraag van die wetgeleerde (29) en Jesus se vraag (36) ook van belang. Jesus verander die vraag van die wetgeleerde radikaal. Die vraag is nie: Wie is my naaste? nie, maar eerder: Vir wie kan ek ’n naaste wees? Die naaste is nie die objek van iemand se liefde nie. “Iemand” tree op as die naaste. Daardeur word die persoon se liefde ’n daad. Jesus oortuig met dié gelykenis dat liefde vir God en die mens dade impliseer. Die wetgeleerde kon nie anders as om te begryp dat die Samaritaan die een was wat die naaste geword het van die man wat op pad was tussen Jerusalem en Jerigo nie. Gevolglik die appèl van Jesus om te gaan doen soos wat die Samaritaan gedoen het.

Lukas 10:25-37 maak deel uit van die reisverhaal van Lukas. Jesus is onderweg na Jerusalem (9:51-19:44). Hier wys hy op die karaktertrekke wat Hy van sy volgelinge verwag. Die pad tussen Jerusalem en Jerigo daal byna met 1000 meter oor ’n afstand van 33 kilometer deur onherbergsame gebied. Die vraag is nou: Wat wil die gelykenis kommunikeer? Ons sou kon begin deur te wys op drie basiese gebeure in die logiese vertelstruktuur van die gelykenis:

  • ’n Onbekende man wat op reis was, is deur rowers oorval en halfdood agtergelaat.
  • ’n Priester en ’n Leviet het hom gesien en vêr langs verbygegaan.
  • ’n Samaritaan het hom gesien, die beseerde jammer gekry en hom te hulp gesnel.

Verskillende dinge staan in skrille kontras met mekaar in die gelykenis. Daar word duidelik twee uiteenlopende lewenshoudings gekommunikeer. Aan die een kant die houding van die priester en die Leviet wat die beseerde ignoreer. Daarenteen, die Samaritaan wat die man jammer kry en hom te hulp snel en versorg. Hierdie verskil in houdings lei tot ’n verskil in optrede en uiteenlopende dade: die priester en Leviet sien die man in sy nood, maar gaan by hom verby; die Samaritaan sien, kry jammer en help hom.

In die storielyn staan die man wat op reis was, in kontras met ander karakters. Rowers verhinder dat hy sy bestemming veilig bereik: hulle oorval hom, trek hom kaal uit en laat hom halfdood langs die pad agter. Die priester en Leviet help hom óók nie om sy bestemming te bereik nie. Trouens, hulle doen niks! Daarteenoor sien die Samaritaan die man en gee hy wat hy het: sy hart, wyn en olie, sy pakdier, sy beursie en sy sorg.

Die herhaling van sekere elemente help om die spanning in die verhaal na twee kante toe te ontwikkel. Die priester en die Leviet sien die gewonde en ignoreer hom. In elkeen van die tonele word “sien” en “verbygaan” herhaal (31-32). Die Samaritaan sien ook die man, maar snel hom te hulp (33-34). Hierdie herhaling van gegewens wat op twee resultate uitloop, stel die twee groepe karakters, die opponente en helpers, in kontras met mekaar. Die priester en Leviet, wat albei vooraanstaande posisies in die Joodse samelewing beklee het, sal volgens alle verwagting medelye, deernis en ontferming teenoor die beseerde betoon – hulle is egter afsydig, onbetrokke, hulle vermy kontak met die beseerde, laat hom aan sy eie lot oor en gaan by hom verby. Teenoor hulle staan iemand wat in die oë van die Jode ’n ongewenste veragte was – ’n vyand, iemand buite die kring van dié wat vir hulle aanvaarbaar was. Hy, teen alle verwagting in – hy, van alle mense, – sien die man raak en raak betrokke omdat hy in sy binneste ontroerd voel oor dit wat hy gesien het. Hy snel die beseerde tegemoet en stel homself en sy middele tot beskikking van die man en doen alles in sy vermoë om die man se nood te verlig.

Mens kom ook agter aan die tyd wat dit duur om ’n sekere gebeurtenis te vertel, waar die aksent in die verhaal lê. In dié gelykenis is dit opvallend dat daar baie meer tyd spandeer word aan wat die Samaritaan gedoen het as aan wat die ander karakters gedoen het. Hierbenewens laat die struktuur van die verhaal by die leser geen twyfel dat hulle met die Samaritaan moet identifiseer nie. Die gelykenis maak ’n sterk appèl om soos die Samaritaan op te tree. Om barmhartigheid te bewys, is om te maak soos die Samaritaan gemaak het: liefde is soos die dade van die Samaritaan. Volgens die evangelie van Lukas is die naaste ’n persoon wat iemand wat in die nood verkeer se naaste word. Vir hom is naasteliefde soos die optrede van die Samaritaan.

Konteks

Ons dag word gekenmerk deur enorme lyding van mense in ons land en in die wêreld. Ons word geroep om almal daarby betrokke te raak. Rondom ons is mense wat geraak is deur een of ander vorm van geweld. Daar is talle sonder werk en inkomste, miljoene wêreldwyd ly honger, mense ervaar die ontnugtering en ’n diep innerlike pyn van gebroke verhoudings, ander ly as gevolg van een of ander vorm van verslawing en diegene naby aan hulle, saam met hulle. Ook op geestelike en emosionele vlak ervaar mense intense pyn en lyding. Teen hierdie agtergrond word navolgers van Jesus opgeroep om te “sien” en daadwerklik betrokke te raak.

Vir Lukas bestaan navolging van Jesus, of die doen van God se wil, nie uit morele, godsdienstige en etiese opvattings alleen nie. Geloof lei tot optrede. Jesus, die eintlike Barmhartige, kom wys God se hart wanneer Hy siekes genees, mense in nood opsoek en noodlydendes se nood verlig. Daarom wys Jesus vir die wetgeleerde dat as hy na die ewige lewe soek, hy dit sal vind in die liefde vir God wat hom onmiddellik en onafwendbaar op die pad na sy naaste plaas.

Dit gaan in Jesus se gesprek met die wetgeleerde nie oor die “regte geloof” nie. Jesus sê nie vir die wetgeleerde wat hy moet glo en hoe hy moet glo om die ewige lewe te verkry nie. Jesus sê wel vir hom wat hy moet doen om die samevatting van die wet in dade om te sit. Geloof leef in dade (Jak 2:14-17; Gal 5:6)! Die ewige lewe word hier omskryf in terme van liefde wat uitreik na ander vanuit ’n hart wat deur God se barmhartigheid vermurwe is. Naasteliefde is die plek waar God se liefde sigbaar gedemonstreer word.

Lukas propageer egter nie ’n stuk humanisme nie. Die gelykenis sluit ten nouste aan by die boodskap van Jesus oor die koninkryk van God. Vanuit die perspektief van die koninkryk van God kan die lewe anders daar uitsien en kan mense anders begin dink en doen. Om iemand se naaste te word, is soos wanneer die Samaritaan hom “inwerp” by die ellende en nood van ’n mens wat hy nie eens geken het nie. Dis eers wanneer ’n mens die liefde vir God en die mens vanuit die perspektief van Jesus sien, dat jy soos die barmhartige Samaritaan kan wees vir iemand in nood. Geloof word geleef!

Navolgers van Jesus vra nie of iemand hulle naaste is nie, hulle word die naaste vir enigiemand wat in nood verkeer, sonder aansiens des persoons. Hulle sien die nood van mense raak, word daardeur aangegryp en op grond daarvan raak hulle betrokke by veragtes, minderbevoorregtes, behoeftiges, die wat troos soek, werkloses en diegene wat op soek is na hoop. Hierdie betrokkenheid by die nood van mense is nooit beperk tot die eie kring nie, dit gaan oor grense van geloof, ras, status en stand. Christene kan gee omdat hulle reeds ontvang het!

Preekvoorstel

Lukas 10:25-37 vertel van twee verskillende en uiteenlopende lewenshoudings of ingesteldhede tot die lewe. Die eerste is dié van die priester en die Leviet. Hulle het albei die man gesien, maar vêr langs verbygegaan (31-32). Hierdie lewenshouding word uitgeleef deur diegene wat na die radio luister, koerante lees en TV kyk. Dit wat hulle daar hoor en sien, raak hulle egter nie. Dis diegene wat op pad kerk toe verby ’n hele klomp ellende ry, sonder om te dink dat dit ellende is. Hulle ry wye draaie om nood en hulle gaan daar doer anderkant verby om die nood tog net nie vierkantig in die oë te kyk nie. En as jy eers verby gestap het, is jou gewete aan die slaap gesus. Hulle verkies om die nood en ellende onaangeraak agter te laat. Hierdie soort vroomheid fokus op God, en God alleen.

Hierop gee die wetsgeleerde self die antwoord (27) op sy eie vraag (25). Navolging van Jesus sluit onafwendbaar in dat jy, vanuit jou liefde vir God, daarmee saam, gelyktydig, by jou naaste betrokke sal wees. Jesus se antwoord onderstreep die noodsaaklikheid van liefde vir God én die naaste in vers 28: Dis nie net nodig om dit te weet nie, maar om dit ook te gaan leef.

Die tweede lewenshouding, is natuurlik dié van die Samaritaan. Hy, die ongewenste, die veragte, die vyand, kom ook by die plek aan op die pad waar die gewonde man lê. Hy sien hom ook, maar, anders as in die eerste lewenshouding, kry hy hom innig jammer en gee hy homself. Hy begewe hom in die nood van die gewonde man. Hy waag en neem risiko’s. Hy gee olie en wyn om wonde te verbind. Hy gee sy pakdier. Hy gee sy tyd. Hy bied ’n oplossing en heenkome. Hy gee sy geld. Dit wat hy sie, bring hom in beweging en laat hom oorgaan tot aksie.

Vir Jesus is navolging nie om te filosofeer of te spekuleer oor die liefde nie, maar om die liefde te gaan leef deur dit te doen en in die praktyk te beoefen. Jesus haal met hierdie gelykenis die liefde uit die binnekamers en doseerlokale en kerkgeboue. Hy laat die liefde grondvat op die pad tussen Jerusalem en Jerigo.

Teenoor wie? Wie is my naaste? Ook die een wat ek van geen kant af ken nie? Ook die skurk en dronklap wat self die oorsaak van sy eie ellende is? Ook in die honger van ’n arm mens? Ook in die afsondering van ’n gevangene? Ook in die stigma van ’n MIV-positiewe persoon?

Eintlik het die vraag na wie my naaste is, verval. Omdat alle mense my naaste is. Jou naaste kan jy nie uitkies of uitsoek nie, of vereistes stel om jou naaste te definieer nie. Jesus vervang die vraag van die wetgeleerde in vers 29 met ’n nuwe vraag in vers 36. Die punt is eerder om ’n naaste te gaan wees in die nood van ander. Die vraag is nou dringender: Is ek reeds vir alle mense ’n naaste?

Hierdie lewenshouding van ’n naaste wees, word deur God se Gees in jou geskep vanuit ’n egte ontmoeting met God as die groot Barmhartige, wat in Jesus Christus, sy deernis en ontferming aan ons in ons nood kom demonstreer het. Hier in Lukas 10 is Jesus nog onderweg na Jerusalem. Daar in Jerusalem sou Hy later God se barmhartigheid onoortreflik kom wys toe Hy Homself aan “rowers” oorgegee het en Hy heeltemal dood agtergelaat is. Ja, dat God selfs by Hom verbygegaan het, sodat ons herberg by God kon vind en aanvaar kon word.

Bibliografie

Burger, H 1999. Jesus se stories vir die lewe  Cilliers, J 1996. Daar is ’n God vir gebrokenes; Du Plessis, I 1998. Die Timmerman wat mense heelmaak; Geldenhuys, JN 1971. The new London commentary on the New Testament. “Commentary on the gospel of Luke”; Groenewald, EP 1973. In gelykenisse het hy geleer; Hendriksen, W 1979. New Testament Commentary. “Luke”; Janson, M 1995. God boer met genade; Marshall, IH 1978. The gospel of Luke; Müller, BA 1987. “Lukas 10:25-37”, in Woord teen die lig II/2. Riglyne vir prediking oor die gelykenisse en wonderverhale; Scheffler, EH 1991. Die teologie van die Lukasevangelie in konteks: Bevryding uit lyding, in Teologie in konteks; Thielicke, H 2006. God se prenteboek; Vorster, WS 1994. “Lotgenote in God se wêreld”, in Menswaardig.

Sections

© Missio 2024 | All rights reserved.