Agste Sondag in Koninkrykstyd

Picture of Woord en Fees
This content is only available to members.

Sections

Liturgiese Voorstel

Leesroostertekste

Fokusteks: Efesiërs 2:11-22
Ander tekste: Jeremia 23:1-6; Psalm 23; Markus 6:30-34, 53-56

Inleiding

Die oorhoofse tema van eredienste gedurende Koninkrykstyd is groei met groen as die liturgiese kleur. Die herder-metafoor word in al hierdie Sondag se Skrifgedeeltes, behalwe die fokusteks, op die Here van toepassing gemaak. Die regverdige Koning-Herder wat sy vrede bring en sy kudde versorg en tot ’n eenheid saambind loop soos ’n goue draad deur al die tekste.
Efesiërs 2 – Christus is ons vrede wat ons tot een nuwe mensheid saambind
Jeremia 23 – Oordeel wag vir valse herders en die groot Herder met die Naam ‘Die Here regeer regverdig oor ons’ sal intree
Psalm 23 – “Die Here is my herder”
Markus 6 – Die skare, wat soos skape sonder ’n wagter is, word deur die Jesus-Herder gevoed (geleer) en genees

Diensorde

God versamel ons voor Hom

Benut hierdie Skrifgedeeltes se profesie en vervulling as geloofsbelydenis.
Jeremia 23 kyk vooruit na die tyd wanneer die groot Herder-Koning gaan kom en ware herders aanstel.
In Markus 6 is Christus die wagter wat voed en versorg.

Diens van die Woord

Gebed om vrede
“Ons God en Vader,
lei ons uit ’n lewe van doodsheid na die Lewe.
Lei ons uit valsheid na die waarheid.
Lei ons uit vertwyfeling na ’n bestaan vol hoop –
van vrees na vertroue,
van haat na liefde,
van stryd na vrede.
Ag, Here, laat u vrede ons harte vul,
en so ook ons wêreld,
en uiteindelik die heelal” (uit ’n tradisionele Anglikaanse
gebed).

Diens van die tafel

In aansluiting by Efesiërs 2 die instellingswoorde van die nagmaal “Dit is my liggaam” – bid ’n Chinese kelkgebed om hulp sodat ons nie die kerk as liggaam van Christus sal breek nie.
“Help ons as u kerk, o Here,
om met soveel liefde en genade
teenoor ander te lewe, dat U nooit
na iemand op aarde hoef te kyk
en vir ons moet sê:
‘Dit is my liggaam wat deur julle gebreek is . . .’”

Uitsending

Sluit die erediens af met Psalm 23. Die Griekwaweergawe deur Hans du Plessis kan ook gebruik word:
“Die Jirre is my Skawagter wat my nou
innie dradewerke van Hy se proewe hou.
Hy sal my nooit verloor lat lê nie,
en al sal ek ok niks oor my hê nie,
al wei ek nou wyd warie wind begin:
Hy lei my siel na waterse tissenie dyne in;
Hy sit my siel in my lyf in trig;
Hy breekslat slang se hoepelrig!
U melk my beker vol wa ek loop lê.
In my land wa ek Baas moet sê,
maak U opslagstrale van my tegeparty.
Ma ek en U, ons sal oenerrie doringse bly!”

Musiek en sang

Liedere wat om eenheid bid
Lied 305 “Aanbiddelike God, drie-enig”; NSG 380
Lied 478 “Op vaste fondamente”; NSG 379
Lied 523 “Goddelike liefdebande”; NSG 190

Liedere wat vir vrede bid
Lied 178 “Dona nobis pacem”
Lied 181 “Gee ons ware vrede, Jesus Heer”
Lied 284 “Laat, Heer, u vrede deur my vloei”

Preekstudie: Efesiërs 2:11-22

Teks

Van al die gedeeltes in die Bybel, is Efesiërs 2:11-22 met die beklemtoning van die eenheid onder gelowiges wat in Christus setel, seker een van die mees treffende en daarom vir die Suid-Afrikaanse konteks, ook mees betekenisvolle en gelade tekste. Die perikoop se stukrag en reikwydte is teologies en andersins omvattend en ingrypend. Terwyl die perikoop reeds verskeie tekstuele en semantiese uitdagings bevat, is ’n volledige bespreking van hierdie gedeelte derhalwe des te meer onmoontlik – daarom word op enkele belangrike eksegeties-hermeneutiese sake gefokus.

Die Efesiërs 2-teks bestaan hoofsaaklik uit twee sake, wat die spreekwoordelike twee kante van een munt vorm. Aan die een kant bied Efesiërs 2:11-22 ’n beskrywing van die aangesprokenes, wie en wat hulle was en wie en wat hulle in Christus geword het (Ef 2:11-13; vir hulle verlede, vgl ook Ef 2:1-10). Aan die ander kant gaan die perikoop oor die versoening self ook, en heel spesifiek die versoening wat Jesus bewerkstellig het deur sy bloed (2:13) en kruis (2:16), en sy liggaam (2:15) (Ef 2:14-18). Die laaste drie verse van die perikoop is ’n samevattende, metaforiese bevestiging van die identiteit van die gemeenskap wat deur die toedoen (agentskap) van Christus tot stand gekom het (Ef 2:19-22).

Die brief aan die Efesiërs is volgens die tradisionele antieke briefstruktuur saamgestel, met ’n aanhef (1:1), groetwoord (1:2-14), dankseggingsdeel (1:15-23), brief-hoofdeel (2:1-6:20) en die finale groetwoorde (6:21-24). Die brief word tradisioneel aan die apostel Paulus toegedig, maar die feit dat daar slegs een persoonlik-biografiese verwysing in die brief gemaak word (na Tigikus, 6:21) terwyl die adres Efese is, ’n stad waar Paulus volgens oorlewering vir twee jaar gewoon het (vgl Hand 19:10), het lank reeds vrae laat ontstaan oor die outeur en herkoms van die brief. Die mees gebruiklike verduideliking vir die onpersoonlike aard van hierdie brief, wat ontipies was van eerste eeuse briewe, is die aanspraak dat die Efesiërbrief ’n omsendskrywe was. Sonder om die hele debat oor Pauliniese outeurskap hier te herhaal, is die sentraliteit van die voltooide versoening tussen Jesusvolgelinge uit die Jodedom en uit die heidendom in skrille kontras met die situasie wat in die aanvaarde Pauliniese briewe beskryf word, en daarom één, belangrike aspek wat dit onwaarskynlik maak dat Paulus die outeur van die Brief aan die Efesiërs was.

Ons perikoop begin met die oproep om te onthou (Gr mnēmoneuete, 2:11-12), wat die belang en rol van die geheue, van herinnering binne die vroeë gemeenskappe van Jesus se volgelinge beklemtoon. En, met die gepaardgaande redegewende partikel, dio (daarom), kan hierdie perikoop as verduidelikend tot die voorafgaande gedeelte (Ef 2:1-10) gelees word, waarin die briefontvangers se verlede asook hulle oorgang van die dood na die lewe deur Christus, beskryf word. In die gedeelte wat direk ná Efesiërs 2:11-22 volg, word die impak van die perikoop verder uitgewerk en opgevolg deur ’n beskrywing van Paulus se rol in die bekendmaking van die blye boodskap aan ander (Ef 3:1-13), asook ’n gebed dat die gelowiges (van Ef 2) hulle rol sal vervul binne God se plan (Ef 3:14-21).

Soos reeds genoem, kan twee hoofdele in Efesiërs 2:11-22 onderskei word. Enersyds word die gelowiges se verlede in herinnering geroep deur die aangespreektes met ’n verskeidenheid van terme en beskrywings te benoem en te omskryf in 2:11-13: pote umeis ta ethnē en sarki (julle wat vroeër heidene was in die vlees, 2:11); ēte tō[ikairō[iekeinō[ichōris Christou (julle was in daardie stadium sonder Christus, 2:12); apēllotriōmenoi tēs politeias tou Israēl (vervreemd van die gemenebes van Israel, 2:12); xenoi tōn diathekōn tēs epangellias (vreemdelinge tov die verbonde van die evangelie, 2:12); elpida mē exontes kai atheoi en tō[ikosmō[i] ([julle wat nie] hoop het nie en sonder God in die wêreld is, 2:12) – in beide gevalle hier ’n evaluasie gebaseer daarop dat die heidene God nie geken het nie, eerder as ’n aanspraak dat die heidene óf fatalisties was óf nie in ander gode geglo het nie; nuni en Christou[iIesou umeis (julle is nou in Christus Jesus, 2:13); oi pote ontes makran egenēthēte engus en tō[ihaimati tou Christou (alhoewel julle vroeër ver was, het julle nou naby gekom in die bloed van Christus, 2:13). Die breër prentjie van hierdie drie verse is die Joodse perspektief, en daarbinne die uitbeelding van die voormalige verlorenheid van diegene uit die heidendom, met negatiewe en selfs neerhalende terme (bv oi legomenoi akrobustia 2:11, [julle] wat onbesnedenes genoem word).

Andersyds word Jesus Christus se versoeningswerk beskryf en ontleed (2:14-18). In 2:14 en deur middel van ’n persoonlike voornaamwoord (autos) word Jesus nie alleen met vrede in verband gebring nie, maar as die verpersoonliking van vrede, “ons vrede” (ē eirēnē ēmōn), beskryf. ’n Paar verse later is vrede opnuut aan die orde, eers in 2:15 (poiōn eirēnēn, en vrede gemaak) waar vrede as samevattende beskrywing van Christus se skepping van die een, nuwe mens beskryf word; en, dan weer in 2:17 (euēngelisato eirēnēn, Hy het vrede verkondig) waar Jesus se optrede met taal wat herinner aan Jesaja 57:19 in verband gebring word, en wat waarskynlik verklaar waarom die woord, vrede, in die vers herhaal word (2:17, vrede aan hulle wat ver is en vrede aan hulle wat naby is). Verder slaan vrede hier op vrede tussen God en mens, asook vrede tussen mense onderling (spesifiek hier, gelowiges uit die Jodedom en gelowiges uit die heidendom). Jesus word verder omskryf as o poiēsas ta amfotera en (2:17, die een wat die twee een gemaak het), en to mesotoichon tou fragmou lusas (2:17, [die een wat] die muur van skeiding afgebreek het). Vir sintaktiese redes kan die moeilik plaasbare maar belangrike frase, tēn echthran en tē[isarki autou (2:14, die vyandskap in sy vlees) beter met die daaropvolgende vers saamgelees word, en dus as uitbreiding tot die partisipium katargēsas (vernietig) in vers 15 eerder as lusas (afgebreek) in vers 14. Efesiërs 2:15 vervolg dan met die aanspraak dat Christus ook ton nomon tōn entolōn en dogmasin katargēsas (die wet van voorskrifte en bepalings vernietig het). En die doel van Christus se werk word as volg beskryf: ina tous duo ktisē[ien autō[ieis ena kainon anthrōpon (2:15, sodat hy die twee in hom[self] tot een nuwe mensheid kon skep), sowel as apokatallaxē[i] tous amfoterous en eni sōmati tō[itheō[idia tou staurou (2:16, die twee in een liggaam met God kon versoen deur die kruis) – die eerste, nuwe skepping word as vrede maak beskryf (2:14, sien bo), en die tweede as die moord op of die teregstelling van vyandskap (2:15, apokteinas tēn echthran en autō[i]). Christus se verkondiging van die vredesboodskap (sien bo) word in Ou-Testamentiese taal (vgl oa Jes 57:19) beskryf (2:17) – waarskynlik nie soseer omdat die skrywer (bes moontlik) ’n Joodse agtergrond gehad het nie, maar in aansluiting by die herinneringstema: God se werksaamheid in die verlede word opgeroep en tegelykertyd kry die nuwe identiteit waartoe die gelowiges opgeroep word ’n bepaalde konteks of raamwerk. En in 2:18 word die effek (oti, daarom) van Christus se vredeswerk saamgevat: di’ autou echomen thn prosagōgēn oi amfoteroi en eni pneumati pros ton patera (deur hom het beide van ons toegang deur die een Gees tot die Vader). Daar is, ten slotte, op grond van strukturele, sintaktiese en semantiese oorwegings ’n sterk moontlikheid dat die outeur in 2:14-18 bestaande himniese materiaal gebruik het (vgl ook Kol 1:15-20).

Die laaste deel van die perikoop behels vers 19-22 en trek die konsekwensies van die voorafgaande twee dele (2:11-13; 14-28) deur, soos deur die twee partikels, ara oun (daarom dan, 2:19) te kenne gegee word. Dit is belangrik om te let op die huis(houding)-metafore, wat afwisselend maar feitlik deurgaans aan die orde is: oikeioi (2:19, huisgenote); epoikodomēthentes epi tō[ithemeliō[i] (2:20, gebou op die fondament – die verwysing na apostels en profete hier het waarskynlik ’n NT eerder as OT konteks op die oog); akrogōniaiou (2:20, hoeksteen – in ’n Genitivus Absolutus-konstruksie, waarskynlik om die onderskeid tussen Christus en die apostels/profete te beklemtoon); oikodomē (2:21, gebou); naon agion (2:21, heilige tempel); sunoikodomeisthe (2:22, julle is saamgebou); en, katoikētērion (2:22, woning). Terwyl Jesus die sentrale punt, die hoeksteen, van die gebou is wat dit ook bymekaar hou (2:20-21), is dit nietemin die gebou, die tempel, van God (2:21-22)! Die begrippe xenoi en parokoi (2:19, vreemdelinge en bywoners) wat gewoonlik in Afrikaans met vreemdelinge en bywoners vertaal word, herinner aan die eerste brief van Petrus (2:11). Ten slotte word die nuwe identiteit in Christus dus aan die orde gestel, met die gepaardgaande, implisiete oproep tot die realisering van daardie identiteit. Die klem val in Efesiërs 2:11-22 egter volledig op die indikatief, op die omwenteling wat Christus in die lewe van die briefontvangers teweeg gebring het – die gemeenskap van die gelowiges is nou immers die woonplek van God (2:22)!

Konteks

Die Efesiërbrief bied weinig inligting oor die omstandighede van die ontvangers daarvan, of die outeur. Paulus, wat deur die brief as outeur aangedui word, is klaarblyklik in die tronk (3:1 en 4:1 o desmios, gevangene; 6:20 en alusei, in kettings) maar verdere inligting oor die rede vir sy gevangenskap of die duur daarvan ontbreek. Dit is interessant dat die outeur klaarblyklik nie die gemeenskap eerstehands ken nie, maar bloot van hul “geloof in die Here Jesus en liefde vir die heiliges (=gelowiges)” (1:15) gehoor het (akousas). Die brief bied geen aanduiding dat daar ’n besondere krisis in die gemeenskap was wat tot die skrywe van die brief aanleiding gegee het nie, en maak bloot in die verbygaan, twee keer kortliks en vaagweg, melding van moontlike dwaallering wat op sigself dien as waar-skuwing teen die moontlikheid van afvalligheid (4:14 panti anemō[itēs didaskalias, enige wind van lering; 5:6 kenois logois, leë woorde). Daar is egter geen teken dat daar in die gemeenskap op daardie stadium probleme met afwykende leerstellings was nie.

Die Efesiër 2:11-22-perikoop is volledig gerig op die versoening wat Christus in die lewe van die gelowiges en daarom in die gemeenskap bewerkstellig het, en die beklemtoning van die resultaat van die versoening, naamlik eenheid. Die outeur benadruk telkens dat dit gaan om twee verskillende groepe, amfoteroi (beide), en dat hulle een (en) gemaak is in Christus (2:14, 16, 18). Die verandering in hulle lewe soos beskryf in 2:11-18 word deur die formele struktuur van die perikoop ondersteun (pote/nun, vroeër/nou; 2:11,13; et al). Dit is van meet af duidelik dat Efesiërs 2 nie ten doel het om ’n heilsordelike beskrywing van God se versoeningswerk in Christus (2:13, 16) of die Gees (2:18) aan te bied nie, en dat Efesiërs 2 nie gemik is daarop om die eienskappe of omstandighede daarvan in detail te beskryf nie. Deur die opeenstapeling van semantiese gelykluidende frases oor Christus se versoening tussen God en mens, val die klem in Efesiërs 2 op die impak en effek van die versoening: die eenheid onder gelowiges. En die taal waarin dit beskryf word is, vir ons gevoel, kenmerkende teologiese taal maar, dan moet die sosiale (sosiaal-politiese) impak van die teks nie misgekyk word nie.

Aan die een kant is Efesiërs 2:11-22 deurdrenk van allerlei “teologiese” idees en konsepte, veral ten opsigte van Christus se rol in die verlossing wat God vir mense bewerkstellig het – waaroor hierbo genoegsaam uitgewei is. Daarmee saam, in Efesiërs 2 gaan dit nie oor God se verlossingswerk in die algemeen nie, maar spesifiek oor hoe die verlossing ook lei tot versoening tussen gelowiges uit die Jodedom en gelowiges uit die heidendom. Die woord wat vir skeiding gebruik word (tou fragmou 2:17) is dikwels juis in Joodse geledere gebruik om na die Wet te verwys, as simbool en bemiddelaar van hulle uitgesonderde status; trouens, die woord herinner ook aan die tempel in Jerusalem waar nie-Jode gewaarsku is dat hulle betreding van die gebied anderkant die skeidsmuur of heining hulle dood tot gevolg sou kon hê.

Aan die ander kant gebruik die outeur van Efesiërs gelade, politieke terme om die versoening in Christus en sy eenheidswerk te beskryf: na die herhaalde afwysing van vreemdeling- en bywonerskap (Ef 2:19; sien ook 2:12 xenoi tōn diathekōn tēs epangellias) beklemtoon die skrywer die nuwe burgerskap van die briefontvangers: este sumpolitai tōn agiōn kai oikeioi tou theou (2:19, julle is medeburgers met die heiliges en huisgenote van God) (sien ook reeds in 2:12, tēs politeias tou Israēl). Hier word die eenheid van die nuwe gelowiges met “die heiliges”, die ander gelowiges) in ’n interessante verskeidenheid begrippe, religieus en sosiaal-polities, verwoord. Die woorde kry inderdaad nuwe betekenis in ’n eersteeeuse konteks waar die Romeinse keiser aanspraak gemaak het daarop dat alle mense primêr tot sy Ryk behoort, en daarom aan sy huishouding. Trouens, met die huis(houding) as die kleinste politieke eenheid in die eerste eeu, is die voorkoms van allerlei politieke terme ook nie vreemd nie (bv sumpolitai 2:19, medeburgers). In die lig van hierdie persoonlike aanwending van sulke terme ten opsigte van die briefontvangers en ook ten opsigte van Jesus, is dit dus nie vreemd dat talle sosiaal-politieke sake, soos vrede, geweld en teregstelling, en onderlinge verhoudings ook aan die orde kom nie.

Trouens, die Romeinse Ryk se aanspraak daarop dat hulle ’n wêreldwye vrede tot stand gebring het, die Pax Romana, word hier in Efesiërs 2 weerspreek wanneer die keiser nie langer as die een wat vrede bewerkstellig het, vereer word nie. Trouens, vrede word nou met God se optrede verbind, en kry selfs ’n naam, Jesus Christus. Jesus is die kosmiese vredemaker (soos ook in Kol 1), die een wat op ’n ongekende skaal vrede bewerkstellig; en tog, hier word die vrede wat Christus skep direk op die gemeenskap met sy uiteenlopende twee groepe gelowiges van toepassing gemaak. En daarmee saam word die aard en omvang van die vrede herdefinieer: nie meer ’n vrede wat berus op bloedvergieting en onderdrukking deur imperiale magte en strukture nie, maar ’n vrede wat in kontras tot geweld, Jesus se bloed en kruis, ontspring (alhoewel tog ietwat dubbelsinnig in 2:16: apokteinas tēn echthran, nadat hy die vyandskap vermoor het). En nou is dit ’n vrede waartoe alle mense opgeroep word, waarvan die omvang nie deur die keiser en die ryk se politieke en ekonomiese sentimente bepaal word nie, maar eerder deur God se genade – om nuwe hoop te hê en met God in die wêreld (vgl 2:12) te wees.

Sulke uitsprake en aansprake soos die in Efesiërs 2:11-22 was natuurlik beide denke-verskuiwend maar (daarom) ook uiters gevaarlik, veral in ’n gebied soos Efese in Klein-Asië van ouds (Turkye van vandag). Dit was veral diegene wat hulle verder weg van die setel van politieke mag bevind het, wat in die antieke tyd dikwels veel harder as diegene nader aan Rome probeer het om uitdruklik en konsekwent hulle lojaliteit teenoor die politieke maghebbers te toon. Daarom, sou ’n Efesiese lesers-konteks selfs ’n hoër waarskynlikheid gehad het om deur die politieke konteks van die tyd gekleur te gewees het. Uiteindelik is dit duidelik dat die impak van Efesiërs 2:11-22 onnodig afgeskaal en beperk word indien die heersende lewenskonteks van eerste eeuse ontvangers in Klein-Asië die interpretasieproses nie in berekening gebring word nie.

Preekvoorstel

Daar is veral drie temas wat van groot belang is in Efesiërs 2:11-22 en wat die basis van ’n preek kan vorm, alhoewel (twv die rykheid en omvang van die temas) waarskynlik nie met dieselfde mate van beklemtoning tydens een preek of diens nie: die (vroeëre en huidige) identiteit van die briefontvangers; die optrede en agentskap van Christus; en, die oproep wat tot die geheue van die briefontvangers hieroor gemaak word. Trouens, heel belangrik hier is juis dat herinnering ’n kreatiewe rol speel in die deurlopende opneem van ’n nuwe identiteit waarvan die basis in Christus se bemiddeling gesetel is.

Die wyse waarop hierdie drie temas binne die breër sosiaal-politieke konteks uitgebeeld word, maak die verindividualisering en vergeesteliking van die perikoop onmoontlik: Dit gaan hier nie om ’n individu se “geestelike lewe” nie, maar om die lewe van ’n gemeenskap van gelowiges met die nuwe identiteit wat van Christus af kom. En daardie identiteit is nie beperk tot ’n geestelike dimensie nie, maar is trouens primêr ’n nuwe lewenswyse, in die harde werklikheid van die daaglikse lewe: om daagliks “in die Gees saam opgebou te word tot woning vir God” (2:22).

Bibliografie

Barth, M 1974. Ephesians, 2 vols. Anchor Bible Commentary: New York: Doubleday; Bruce, FF 1984. TheEpistles to the Colossians, to Philemon, and to the Ephesians. Grand Rapids: Eerdmans; Lincoln, AT 1990. Ephesians. Word Biblical Commentary, vol 42. Waco: Word; O’Brien, P 1999. The letter to the Ephesians. Pillar NT Commentary. Grand Rapids: Eerdmans.

© Missio 2024 | All rights reserved.