Agste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Inleiding

In Genesis 18:20-32 beroep Abraham hom op God se lankmoedigheid. Ons sien God se genade is groot: Hy luister na sy kinders; sy geduld met sondaars kan lank uitgerek word! Ook in Psalm 138 beroep die bidder hom op God se genade en liefde. Lukas 11:1-13 sluit aan by die tema van gebed as beroep op God se goedheid. Hier moedig Jesus ons aan om volhardend te bid en seker te wees van verhoring. Paulus wil in Kolossense 2 gelowiges anker in Jesus Christus se vryspraak sodat ons nie meegesleur word en afvallig raak nie. Tog verwys die gedeelte ook na die wyse waarop God met sonde handel: Hy vernietig die skuldbewys teen ons (v 14).

Fokusteks

Genesis 18:20-32

Ander tekste

In Genesis 18:20-32 beroep Abraham hom op God se lankmoedigheid. Ons sien God se genade is groot: Hy luister na sy kinders; sy geduld met sondaars kan lank uitgerek word! Ook in Psalm 138 beroep die bidder hom op God se genade en liefde.
Lukas 11:1-13 sluit aan by die tema van gebed as beroep op God se goedheid. Hier moedig Jesus ons aan om volhardend te bid en seker te wees van verhoring.
Paulus wil in Kolossense 2 gelowiges anker in Jesus Christus se vryspraak sodat ons nie meegesleur word en afvallig raak nie. Tog verwys die gedeelte ook na die wyse waarop God met sonde handel: Hy vernietig die skuldbewys teen ons (v 14).

Genesis 18:20-32
Abraham pleit vir Sodom se mense
16Toe die mans opstaan om te vertrek, het Abraham ’n entjie saam met hulle gestap. Die mans het afgekyk in die rigting van Sodom, 17en toe dink die Here: sal Ek vir Abraham wegsteek wat Ek wil doen? 18Abraham sal tog ’n groot en sterk nasie word en in hom sal al die nasies van die aarde geseën word. 19Ek het hom gekies dat hy sy kinders en sy nageslag kan beveel om op my pad te bly deur te doen wat goed en reg is, sodat Ek vir Abraham kan doen wat Ek hom beloof het.

20Toe sê die Here: “Die geroep teen Sodom en Gomorra is hard. Hulle sonde is baie groot! 21Ek wil gaan kyk sodat Ek kan weet of hulle ooreenkomstig die geroep wat tot by My gekom het, gehandel het of nie.”

22Die mans het weggedraai Sodom toe, maar die Here het by Abraham bly staan.

23Abraham het toe nader gekom na die Here toe en gevra: “Sal U die regverdiges saam met die goddeloses vernietig? 24Miskien is daar vyftig regverdiges in die stad. Sal U die plek werklik vernietig? Sal U dit nie spaar oor vyftig regverdiges daarin nie? 25U sal tog nie so iets doen en die regverdiges saam met die goddeloses om die lewe bring nie! U sal tog nie die regverdiges soos die goddeloses behandel nie! Sal die regter van die hele aarde dan nie reg laat geskied nie?”

26Toe sê die Here: “As Ek vyftig regverdiges in Sodom kry, sal Ek die hele plek spaar oor hulle.”

27Abraham het gesê: “Ek is maar net stof en as, en tog het ek gewaag om met die Here te praat. 28Sê nou die regverdiges is vyf minder as vyftig: sal U die hele stad vir vyf verdelg?”
Hierop antwoord die Here: “Ek sal dit nie verdelg as Ek vyf en veertig daar kry nie.”

29Toe praat Abraham weer met die Here: “Miskien sal daar veertig gevind word,” en die Here sê: “Ook oor veertig sal Ek dit nie doen nie.”

30Abraham sê toe: “Moet tog nie kwaad word as ek nog ’n keer praat nie, Here. Miskien sal daar dertig te kry wees,” en die Here sê: “Ek sal dit nie doen as Ek dertig daar kry nie.”

31Maar Abraham sê: “Ek bly waag om met die Here te praat. Miskien word daar twintig gekry,” en die Here sê: “Oor die twintig sal Ek dit nie verdelg nie.”

32Toe sê Abraham: “Moet tog nie kwaad word nie, Here! Ek wil nog net een keer praat; miskien word daar tien gekry.”

En die Here sê: “Ook oor tien sal Ek dit nie verdelg nie.”

33Toe die Here klaar met Abraham gepraat het, het Hy weggegaan, en Abraham het na sy plek toe teruggegaan.

Eksegeties

W Brueggemann werk met die eenheid van Genesis 18:16-32 binne die breër verband, met as eerste hoofdeel Genesis 1:1-11:26 (Die voorgeskiedenis) en tweede hoofdeel Genesis 11:27-25:11 (God se omgang met Abraham). Ons afgebakende teks val in ’n kleiner deel van die tweede hoofdeel (18:1-19, 38) wat handel oor die verdere verloop van Lot se lewe.

Die verse wat ons voorgestelde perikoop onmiddellik voorafgaan, vers 16-19, blyk baie belangrik te wees vir ons beter verstaan van die perikoop in Koninkrykstyd (of enige ander seisoen in die kerklike jaar). Die manne wat aan Abraham en Sara besoek gebring het met die belofte van ’n kind aan die bejaarde maar kinderlose egpaar, is gereed om te vertrek. Die verteller versterk ons vermoede dat die volgende besoek waarskynlik aan Sodom gaan wees, want ons verneem hulle kyk (van bo af, Heb sh-k-p) in daardie rigting (v 16a). Die woordorde in vers 17a val vreemd op. Daarmee word die Here vooropgestel en word ons meegedeel dat Hy wonder of Hy sy verdere handelinge geheim moet hou, gegee Abraham se verkiesing en roeping (v 18, 19). In Abraham sal al die nasies van die aarde geseën wees. Die skrywer laat geen onduidelikheid dat God agter die seëninge (Nif) sit nie! Die eerste deel van vers 19 onderstreep dit ook. Soos verwag, bedek die Here nie sy voorgenome handelinge nie, maar openbaar Hy dit eerder in vers 20 en 21!

Vers 20: Die “roep” (Heb za’aq//tsa’aq), as regsterm, is ’n kreet wat tot ’n regter gerig word, deur een wat verontreg is. Onreg en die sonde word hier as parallelle sake uitgedruk. In Genesis 4:10 “roep” die bloed van Abel.

Vers 21: Die “neerdaal” dui hier waarskynlik op die neerdaal van die gebergte na die vlakte, ’n afstand/ hoogte van ongeveer 1000 meter (Van Selms). Die vroulike uitgang van die werkwoord “roep” (Heb tsa’aqatah) slaan op die inwoners van Sodom as objek. Die aanklag blyk kollektief te wees en die ondersoek individueel. Hier word in sterk antropomorfiese terme oor God gepraat as sou Hy die ondersoek ter plaatse kom doen om te wete te kom wie daarvoor verantwoordelik is dat daar ’n sterk geroep opgaan vir reg wat moet geskied. Vers 21b: “dan weet Ek dit . . .” word ook vertaal as “dan hou Ek daarmee rekening . . .”

Vers 22: “die manne” dui, in die lig van die einde van die vers, op die ander twee manne van die drie besoekers. Ons kry ook in vers 22 te doen met die bekende voorbeeld van die “verbeteringe wat die skrifgeleerdes” (Masorete) aangebring het. Die 1933 Afrikaanse Vertaling lui: “maar Abraham het nog voor die aangesig van die Here bly staan.” Dit het in die destydse konteks aanstootlik geklink omrede “staan voor” dikwels die posisie van die onderdaan voor die koning uitgedruk het (vgl Gen.41:46). Die tekskritiese opmerking by 22a-a  (Tiq soph lect orig) suggereer dat die sin oorspronklik Jahwe as subjek gehad het: dit was Jahwe wat voor Abraham bly staan (partisipium: omed) het. Ferdinand Deist skryf oor hierdie een van agtien korreksies in die Ou Testament, so: “For the Massoretes, though, the expression to stand before someone carried an undertone of submissiveness. And since it was clearly impossible that Yahweh should be this submissive to Abraham, they altered the text to read: ‘. . . but Abraham stood yet before the Lord’ (Towards the texts of the Old Testament: 60)”. In sy meer populêre werk Coram Deo, skryf Deist: “Die ouer vertaling volg die ‘gedokterde’ weergawe van die Hebreeuse Bybel, terwyl die nuwe vertaling die meer oorspronklike lesing herstel en gevolg het.” 

Volgens hulle (Masorete) dogma oor God kon Hy onmoontlik voor iemand “staan”. In hulle taalgebruik het die uitdrukking “voor ’n ander staan” immers beteken dat iemand wat dit doen, die ander een se dienaar is! Daarom het hulle die vers verander na: “’Abraham’ het nog voor die Here bly staan.” Die beeld wat dit optower is dié van ’n dienskneg/diensmaagd gereed vir diens! Met hierdie verstaan word die koninkryksteks met diens gekleur. Vreemd? Nee, vergelyk maar die radikale aan-duidings dat magtiges (konings/regeerders) diens moet lewer, reg moet laat geskied aan diegene sonder regte. Matteus 20:28 en Filippense 2 praat in hierdie gesprek saam.

Maar moes die Masorete dan nie vers 33 ook verander het nie? Vers 33 dui Jahwe as die subjek van die intersessie-gesprek ter wille van Sodom aan. In terme van die skryfwyse van vers 33 val die fokus op Jahwe as die Een wat intree en nie op Abraham nie. Jahwe, die regverdige is op soek na regverdiges sodat die stad, in plaas van verwoes te word, gespaar kan bly.

Vers 23-32: Abraham kom nader (Heb nagash) om ’n vraag te stel. Abraham se vraag aan die regverdige regter (vgl v 23 [OAV]): “Sal U werklik die regverdige saam met die goddelose ombring?” “Regverdige” en “goddelose” is ook regsterme. Die Hebreeuse woord nagash is in Jesaja 50:8 ’n regshandeling – om vir ’n regstryd jou opwagting te maak. Hier kom hy egter net, met sy dringende stel versoeke, nader na God toe (ondervraging miskien?). 

Vers 24: In die Ou Nabye-Ooste het die reël van kollektiewe verantwoordelikheid gegeld: Die goeie ly dikwels saam met die goddelose. Esegiël polemiseer (Van Selms) teen hierdie beginsel in hoofstuk 33, maar in Abraham se geval word die beginsel na die ander kant toegepas, naamlik: Die goddelose kan moontlik voordeel trek uit die teenwoordigheid van die goeie.

Vers 25: Die Hebreeuse uitdrukking galilah (laat dit ver van U wees) kom twee maal in die vers voor. Tussen die voorkoms en die herhaling hiervan vind ons die twee radikale stellings van Abraham teenoor God. Oorspronklik dui die uitdrukking iets aan wat verontreinig is, onheilig geword het, verwerplik is (vgl Lev 21:9). Hierdie onheilige ding – om regverdiges met die goddeloses gelyk te stel en hulle daarom saam om te bring – is glad nie te vereenselwig met die Heilige God nie. Dit is taboe wat die Here betref! Abraham vra: “Die Regter (partisipium) van die hele aarde, sal Hy nie reg doen nie?” Dit is nie net die feit van God se regspraak oor die hele aarde wat Abraham ter sprake bring nie, maar ook sy bestendigheid as regter, sy trou, sy betroubaarheid. Dit is moontlik hierdie ineen-gestrengelde stelling en vraag wat God in die volgende vers op so ’n manier laat reageer dat Abraham waarskynlik ook die weg oopsien om verder te onderhandel.

Vers 26: Die Here (subjek) is hier aan die woord: “As ek vyftig regverdiges binne-in die stad Sodom vind, dan sal Ek die hele plek spaar (Heb nasa’ti) om hulle ontwil.” Mens sou waarskynlik “spaar” ook met “vergewe” kon vertaal, of “hulle skuld wegneem, wegdra”. Die gedagte om die “skuld van ’n ander te dra” (Eks 28:38, 43; Num 14:33-34; Jes 53:12) open perspektiewe op die kruis van Jesus.

Vers 27: Abraham (subjek) antwoord. Hy is bewus van die intensiteit van die gesprek tussen hom en die Here, want ses maal (v 27, 29, 30, 31, 32, 33) gebruik hy die woord “spreek” in die intensiewe vorm! 

Abraham se beklemtoonde selfbeskouing in hierdie gesprek, uitgedruk in digterlike taal (“stof en as” is geleidend in die Hebreeus), onderstreep verder God se grootheid. Abraham mag in ons ore verbaas en opgewonde klink dat hy, wat stof en as is, dit waag (Hif ook v 31) om met God te onderhandel. Maar dit wil voorkom asof die skrywer/verteller ons wil laat verstaan dat God agter hierdie waagmoed van Abraham sit. Hy is die oorsaak daarvan. God skep die ruimte waarbinne die onderhandeling kan plaasvind.

Vers 28-32: Die spanning laai op, want Abraham gee nie bes nie, hy onderhandel ter wille van die behoud van Sodom, tot by tien regverdiges. Van Selms vind die getal tien interessant, omdat tien die minimum aantal gelowiges is wat nodig is om ’n sinagogale diens te hou. Let ook op die variasie in die begrippe “spaar” (v 24, 26), “verwoes” (v 28, 30, 32) en “doen” (v 29, 30).

Vers 33: Die Here word aangedui as die subjek in die gesprek. Hy het die gesprek beëindig. Abraham het teruggekeer (Heb shuv) na sy woonplek. Tevrede oor sy onderhandelinge met die betroubare regter van die hele aarde?

Hermeneuties

Verskillende preekmoontlikhede kan ook in Woord teen die Lig (WtL II/3) nagegaan word. Annes Nel, in sy hantering van dieselfde perikoop (2001) stel twee bykomende sake voor, naamlik: (i) Die motief van geroepenheid en verkiesing, en; (ii) Die voorbidding van Abraham binne die konteks van God se trou.

Volgens Brueggemann vorm ons teks deel van ’n groter geheel in die Genesisverhaal (Gen 18:16-19:38). In die sentrum is die verhaal van Sodom en Gomorra (19:1-29). Die sentrale deel word aan die een kant voorafgegaan deur Genesis 8:16-32 en aan die ander kant opgevolg deur Genesis 19:30-38. Hy oordeel dat die sentrale gedeelte die ouer gedeelte is en dat die teologiese refleksie (op die ouer deel) in Genesis 18:16-32 die jonger deel uitmaak. Hierdie strukturele analise leen hom uitstekend daartoe om enkele opmerkings hieroor (opgewonde) vir verdere nadenke in ontvangs te neem: Genesis 18:22-33 doen diens as ’n wig van genade wat  kritiek lewer op die quid pro quo van vergelding; die verhouding tussen Abraham en God: Abraham as God se teologiese leermeester?; Die “ontfermende geregtig-heid”, onder andere; God se heiligheid.

Die waarskuwing van Brueggemann bly van pas: “This text must be interpreted with extreme care. It easily lends itself to conclusions which are wooden, mechanical, and concrete-operational about the reality of God. Unless interpreted carefully, this passage will be taken as support for mistaken theological notions that are uncritical and destructive. The most obvious dangers of perverse interpretations relate to: the stylized and stereotyped description of judgement and destruction (19:24-28); (b)  the appeal to numbers in 18:26-32 which too easily reduce God’s righteous puposes to arithmetical calculation, and; (c) the offense of Sodom which in popular usage and perhaps in 19:5 is homosexuality. If these factors – stylized judgement, numerical calculation, and a simplistic moralizing on homosexuality – are brought together according to popular understandings, the text will yield a teaching remote from the gospel” (1982:163).

Brueggemann verwag dat skrifverklaarders oor die “sonde van Sodom” (vgl sodomie) uiteenlopende menings sal huldig. Hy stel dit dat die term “roep” in 18:20-21 en 19:13 in die rigting argumenteer van ’n algemene verkragting van die reg, en dat wanorde op die vlak van die seksuele, as een aspek van die misbruik gesien kan word.

Annes Nel se preek het die tema: Boontjie kry sy loontjie. Hierin word die  tragiese optrede van ons as Christene blootgelê – hoe ons dikwels veroordelend, hard en koud teenoor die wêreld (en ander gelowiges) optree. Teenoor ons optrede staan dié van God, wat onvoorspelbaar genadig is.

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Fokus

Tema: God se genade is groot: Hy luister na sy kinders; sy geduld met sondaars kan lank uitgerek word!

Rus

Doopherinnering (as vryspraak)
Lees Kolossense 2:6-15 by die doopvont.
en/of
Voorganger: Julle was dood deurdat julle gesondig het en julle sondige natuur nog nie weggeneem is nie.
Gemeente: God het ons egter saam met Christus lewend gemaak deurdat Hy ons al ons sondes vergewe het.

Voorganger: Hy het die skuldbewys met sy eise teen ons, tot niet gemaak.
Gemeente: Deur dit aan die kruis te spyker, het Hy dit vir goed weggeneem (Kol 2:13-14).

Gebed om opening van die Woord
Lees Psalm 119:57-64.
Kyk tog, o God, my Alles! Wat wil meer ek hê? Watter groter geluk kan ek vra? Hoe soet en heerlik is hierdie woord – maar slegs vir diegene wat die Woord liefhet, nie die wêreld en die dinge van die wêreld nie. “My God, my Alles” (uit Die Navolging van Christus, Thomas a Kempis).

Lied

Loflied
Lied 205 “Bring lof aan die Vader”;
NSG 17 “Praise the Father, God of justice”

Gebed
Lied 266/ NSG 325  “Ons Vader wat woon in die hemel”

Genadeverkondiging
Lied 493/ NSG 221 “Jesus neem die sondaars aan”

Uitsending
Lied 510 “Genade onbeskryflik groot”
NSG 241 “Amazing Grace”

Familie-oomblik

Het jy al ooit met ’n volwassene probeer praat wat nie luister nie?  Gebeur dit soms met jou?  Miskien wil jy vir jou ma iets belangriks vertel, maar sy is besig om met jou pa te praat.  Hoe voel dit vir jou?  Wat maak ’n mens om hulle aandag te kry?  Laat die kinders reageer.

Vertel nou die Bybelverhaal in jou eie woorde, van God wat na Abraham toe kom, en met hom kom praat.  En God laat nie net toe dat Abraham met Hom terugpraat nie, maar Hy reageer op wat Abraham sê.  Vertel dan die storie van Abraham se intrede vir Sodom en Gomorra.  Beklemtoon die ongevraagde uitkoms van die gebed, dat God vir Lot red uit Sodom, selfs al was daar minder as 10 regverdiges oor in die stad.  Dit is hoe God is. Hy luister en Hy antwoord ons gebede, selfs dit wat ons nie vra nie, maar wat Hy weet ons eintlik graag wil hê.

God praat met ons en ons luister

Die tweede beweging van die luistersiklus is om te luister.

Preekriglyn

Terwyl dit wonderlik is om God in die grootsheid van sonsondergange te sien en sy stem in kalmerende, kabbelende waterstrome te hoor, leer ons die hart van God ken in die pyn en storms van die lewe. Soms ontdek ons juis vir God wanneer alle ander maklike antwoorde vir die lewe opraak. Alexander Solzhenitsyn skryf in The Gulag Archipelago , “Dit was terwyl ek in die verottende tronk op die strooi gelê het dat ek bewus geword het van die eerste roeringe van goedheid. Geleidelik is dit aan my geopenbaar dat die lyn wat goed en kwaad skei nie deur state óf tussen klasse, ook selfs nie deur politieke partye loop nie – maar reg deur elke mens hart – en deur alle mense harte  … ek het my siel daar gevoed en kan sonder huiwering sê: Geseënd is jy tronk, omdat jy in my lewe was”

Wanneer God Homself aan Abraham openbaar en vertel dat die belofte van ʼn seun vervul gaan word, kan ʼn mens net dink aan al die lofliedere wat uiteindelik in sy hart moes onstaan het. Die volgende toneel word Abraham egter getroef met die onverstaanbare sonde van die mens. Die skrikwekkende oordeel wat mense deur hul optrede oor hulself uitspreek, trap dwarsoor al die euforie en toekomsdrome van die seun wat gaan kom. Abraham kon dalk nog die werklikheid van wat in Sodom en Gomorra ignoreer tot op hierdie punt, maar ewe skielik staan die toekoms van hierdie twee stede so grafies en werklik voor hom soos die geboorte van sy eie seun. As Abraham nog apaties anderpad kon kyk vir wat in die stad aangaan, dwing God hom nou om met oop en siende oë  te kyk wat werklik daar aangaan.

In die boek novel Schindler’s Ark by Thomas Keneally wat op die waarheid gebaseer is en wat later verfilm is as die bekende fliek Schindler’s List,  word die verhaal vertel Oskar Schindler, ʼn opportunis en kansvatter wat tydens die 2de Wereld Oorlog ʼn geleentheid sien om uit die oorlog ryk te word (Grafika: http://en.wikipedia.org/wiki/Schindler%27s_List). Hy koop Duitse offisiere om hom toe te laat om in Pole ʼn fabriek wat menasieware vir die Duitse soldate vervaardig, te begin. Hy is suksesvol en kry toestemming, maar weet nie veel van die besigheid af nie. Hy kry die hulp van Itzhak Stern, ʼn Jood, in om die fabriek te bestuur. Stern oortuig hom dat dit baie goedkoper en daarom meer lonend vir hom die Duitsers sal wees as hy Poolse Jode ipv Poolse Katolieke in diens neem. Die verhaal begin ʼn ander wending neem wanneer Schindler sien hoe die Joodse ghetto’s deur die Duitse soldate opgeruim word en hoe mense behandel en selfs geskiet word by die geringste teken dat hulle nie wil saamwerk nie, óf as hulle te swak is om te werk.

Terwyl hy self ʼn lid is van die Sosialiste Party, kan hy nie meer apaties staan teenoor die lot wat die Jode tref nie. Hy en Stern begin al hoe meer planne beraam om meer Jode in diens te neem. Stern vervals dokumente om aan te toon hoe “noodsaaklik” nog werkers is, terwyl Schindler al hoe meer geld gebruik om offisiere om te koop en die werkers in die hande te kry. Uiteindelik kom die opdrag dat die ghetto’s vernietig moet word en alle oorblywende Jode Auschwitz toe moet gaan. Schindler voer ʼn verbete stryd om die mense op sy “lys” te red. Hy moet uiteindelik elkeen van hulle “koop” by die plaaslike bevelvoerder.  Hy kry toestemming dat fabriek skuif na sy tuisdorp sodat hy “sy” Jode kan wegneem uit daardie gebied. Daar kom egter fout met die treine en die vrouens en kinders word wel Auschwitz toe gestuur. Schindler gaan persoonlik en gebruik hierdie keer diamante om weer die bevelvoerder en wagte om te koop sodat die vrouens en kinders teruggestuur kan word na sy fabriek. Op hierdie manier red hy op die ou einde ongeveer 1100  mense van gewisse dood.

Wanneer die Russe Pole binneval, besef almal dat Schindler sal moet vlug. Hy sal as een van die vyand gesien word deur die Russe. Die fabriekswerkers gee vir hom ʼn brief waarin hulle verklaar dat hulle hom as ʼn vriend en nie as ʼn vyand beskou nie. Schindler gaan steeds deur ʼn gewetenswroeging dat hy meer kom gedoen het om nog mense te red. Die werkers gee vir hom ʼn ring met ʼn inskripsie uit die Talmoed, “He who saves the life of one man, saves the world entire.”

Abraham kon weggedraai het en gesê het dat hierdie nie sy probleem is nie. Hulle was vreemdelinge, heidene en sondaars wat maar net kry wat hulle verdien. Tog sny daar iets deur hom soos wat daar ook later deur Schindler en Solzhenitsyn sny. Boosheid loop deur elke mens se hart, ook jou eie. Die skeidslyn tussen goed en kwaad lê nie op die grense tussen mense wat ons so maklik trek nie. Die inwoners van die stad is ʼn versamelnaam, sê nou maar net daar is “regverdiges” in die stad.  Abraham sit die openingsbod ook nie baie hoog in nie. 50 regverdiges is dalk genoeg om die stad te red. Die aftelling toon hoe desperaat die situasie in die stad was. Ook vir Abraham moes hierdie ʼn openbaring gewees het. Hy het geweet dit gaan sleg, maar nie so sleg nie!

God se redenasie volgens vers 16-19 is dat Hy hierdie stede eintlik maar kan afskryf, want die reddingslyn vir die wêreld gaan deur Abraham en sy nageslag loop. Dit is tipies hoe baie mense sou redeneer en baie van ons sou waarskynlik nie baie fout gevind het met hierdie redenasie nie, maar daardeur maak God juis vir Abraham weer die deur oop om verder as sy eie nageslag te kyk en die ander volke of nasies ook raak te sien. Die vermoë om vir ander om te gee, al het jy nie regtig enige sg belang by hulle nie, bly een van die belangrikste waardes vir die geloofgemeenskap waarvan Abraham die vader en ook die prototipe is.

Die inskripsie uit die Talmoed op Schindler se ring weerspieël hierdie waarde, , “He who saves the life of one man, saves the world entire.” Indien een mens, maak nie saak wie nie, vir jou belangrik genoeg is om te red, het die wêreld nog ʼn kans. Terwyl jy nog kan pleit en veg vir een lewe, sal jy waarskynlik ook pleit en veg vir baie lewens. Abraham word voor die voldonge feit gestel dat dit regtig sleg gaan in die stede, daar is eintlik geen rede vir God om namens hulle in te gryp nie. Hierdie situasie onderstreep weer vir hom die belangrikheid van die roeping wat deur hom na sy nageslag moet loop. Dit gaan sleg in die wêreld, daaroor moet geen gelowige twyfel nie. Ons kan wegdraai en mense sondaars, heidene, vreemdelinge noem en so onsself verskoon van hulle lot, óf ons kan mense sien deur wie die lyn van goed en kwaad ook loop, ons kan ons eie hart sien waardeur daar ook ʼn lyn van goed en kwaad loop. Die ellende en sonde in die wêreld lê nie net daarbuite nie, maar ook binne in ons. As God sou besluit om mense vanweë hulle sonde af te skryf, sou ons ook afgeskryf moes word.

Gelukkig was daar Iemand wat iewers ook vir ons gepleit het, Hy het egter geweet daar is geen regverdiges in die stad nie. Hy het geweet dat Hy Hom nie kon beroep op een of twee goeies wat dalk namens die stad kon optree as verskoning vir God om hulle nie uit te wis nie. Die enigste regverdige in die omgewing was Hyself, Hy het nie swael en vuur op die ander afgebid nie, maar op Homself. Hy het nie om vergelding geroep nie, maar gepleit vir vergiffenis, want hulle weet nie wat hulle doen nie. Niemand het vir Hom ʼn vreemdeling gebly nie, Hy het hul name en nood geken en redding en genesing oor die verlorenes uitgespreek (Prent).

Ons staan vandag in hierdie tradisie van hoop, veral vir verlorenes, veral vir die vreemdelinge wat nie weet nie, veral vir die wat so maklik afgeskryf word. Ons staan in die geloofstradisie, van vader Abraham af deur Jesus, ons Verlosser tot by ons dat ons nie mense afskryf nie, dat ons nie anderpad kyk as die sonde en nood oorweldigend raak nie, maar dat ons begin bid en begin omgee. Ons kan nie maar net weer terugkeer na die lewe soos dit vroeër was nie. God staan saam met ons en vestig ons aandag op die onbeskryflike ellende, nie omdat Hy die mense wil afskryf nie, maar omdat Hy juis iets vir hulle wil doen.

Hoor ons nog God se stem as ons koerante lees, nuus kyk of verontreg voel? Dink ons God kan net in sonsondergange en kabbelende waterstroompies gehoor word? Dink ons God ignoreer die pyn en ongevraagde geweld wat soveel van ons, veral vrouens en kinders, tref? Sal ons waag om te bid dat God weer die Abraham-tradisie sal herstel in ons lewens, sodat ons nie siende blind en horende doof sal wees wanneer ons gekonfronteer word ellende van die wêreld nie. Dalk sal ons die God van Abraham en die Vader van Jesus Christus juis daar ontmoet, waar mense dreig om ander af te skryf. Juis daar waar Hy almal op hul name ken en hul nood verstaan, daar waar Hy hoop wil bring en verlorenes sy vriende wil maak.

Vader, God van Abraham
U vertrou ons om van vreemdelinge, vriende te maak
aan die desperates en hulpeloses hoop te gee
en om aan te hou pleit, wanneer ander iemand wil afskryf.
O Gees, laat u vuur weer neerdaal,
maar hierdie keer tot in ons harte.
Stapel die selfsug, vooroordele en apatie
in die kaggel van reiniging op
sodat ons harte warm sal brand en beskerming en beskutting sal bied
vir dié wat koud en verlore in die storms van die lewe rondsteier.
Amen

God stuur ons om te leef

Die derde beweging van die luistersiklus is om te leef.  Hier is ‘n paar voorstelle om dit liturgies aan te voer:

Die Wet en wil van die Here
Lees Lukas 11:1-13.

Geloofsbelydenis: Nicea

Seën
Die Here sal vir julle alles goed laat afloop.
Aan die liefde van die Here is daar geen einde nie.
Die Here sal die werk van sy hande nie laat vaar nie (uit Ps 138:8).

 

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.