Agste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

Ander tekste

Genesis 37:1-4; 12-28; Romeine 10:5-15; Matteus 14:22-33.

Fokusteks

Psalm 105:1-6; 16-22

Jesus stuur ons uit en ons kom tot rus

Votum
God is hier teenwoordig;
laat ons biddend nader,
hier waar ons voor Hom vergader.
God is hier teenwoordig.
Heilig is die Here;
buig in stilte, Hom te ere!
Wie Hom roem, wie Hom noem
Heer en Hemelvader,
kom nou almal nader!

(Lied 159:1)

Liedere

Lied 571:1-3

Skuldbelydenis
Voorganger: Here, ons moet vanoggend voor U bely dat ons geloof klein is.
Gemeente: Here, wees ons genadig.

Voorganger: By ons is die glas eerder half leeg as half vol.
Gemeente: Here, wees ons genadig.

Voorganger: Wanneer ons in ons eie lewe in ‘n put beland, sien ons net die donker dieptes.
Gemeente: Here, wees ons genadig.

Voorganger: Ag, Here, dit is werklik moeilik om u hand te sien in die slegte tye wat ons beleef.
Gemeente: Lied 247 (NSG 233).

Genadeverkondiging
Voorganger: Die Here bring vanoggend vir ons almal die goeie boodskap dat ons gered is.
Gemeente: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.

Voorganger: Met die hart glo ons en ons word vrygespreek; met die mond bely ons, en ons word gered.
Gemeente: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.

Voorganger: Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.
Gemeente: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.

Voorganger: Elkeen wat die Naam van die Here aanroep, sal gered word.
Gemeente: Jesus is die Here en God het Hom uit die dood opgewek.
(Uit Romeine 10)

God praat met ons en ons luister

Psalm 105:1-22

  1. Loof die Here! Roep Hom aan! Maak aan die nasies bekend wat Hy gedoen het.
  2. Sing liedere, sing tot sy eer, vertel van al sy magtige dade.
  3. Roem sy heilige Naam, laat dié wat die teenwoordigheid van die Here soek, bly wees.
  4. Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordigheid.
  5. Julle moet dink aan die magtige dade wat Hy gedoen het, aan sy wonders, aan die reddingsdade op sy bevel,
  6. julle, nageslag van Abraham sy dienaar, nakomelinge van Jakob vir wie Hy uitverkies het.
  7. Hy, die Here, is ons God; sy reddingsdade strek oor die hele aarde.
  8. Hy hou sy verbond altyd in stand, die belofte wat Hy aan duisende geslagte toegesê het,
  9. die verbond wat Hy met Abraham gesluit het, sy eed aan Isak.
  10. Hy het dit vir Jakob bevestig as ‘n vaste toesegging, vir Israel as verbond wat altyd sal bestaan.
  11. Hy het gesê: “Ek gee Kanaän vir jou as grondgebied en eiendom.”
  12. Toe hulle nog maar min was, net ‘n paar mense, en vreemdelinge in die land,
  13. toe hulle van volk na volk geswerf het, van die gebied van die een volk na dié van ‘n ander,
  14. het Hy niemand toegelaat om hulle te verdruk nie, en het Hy selfs konings ter wille van hulle gewaarsku:
  15. “Moenie aan my gesalfdes raak nie, moenie my profete kwaad aandoen nie!”
  16. Toe Hy hongersnood oor die land gebring het en al hulle kos laat opraak het,
  17. het Hy iemand voor hulle uit gestuur: Josef is as slaaf verkoop.
  18. Hulle het sy voete geboei en hom in die gevangenis gehou
  19. totdat sy woorde bewaarheid is, nadat hy die toets deurstaan het met wat die Here aan hom bekend gemaak het.
  20. Toe het die koning hom uit die gevangenis laat uitkom; die heerser oor baie volke het hom vrygelaat
  21. en hom aangestel as hoof van die koninklike huishouding, met gesag oor al sy besittings.
  22. Josef kon die amptenare van die koning na goeddunke beveel en selfs aan hoë amptenare leiding gee.

Familie-oomblik

Wys die skyfie op die Powerpoint-aanbieding wat vir die familie-oomblik bedoel is. Vra die kinders wat hulle sien. Waarskynlik sal hulle antwoord dat hulle ‘n ou man sien (met ‘n bleskop, ylerige hare agter en ‘n bos baard. Daag hulle uit om weer mooi na die prentjie te kyk. Sien hulle nie dat dit eintlik ‘n prentjie is van ‘n man en ‘n vrou wat langs die straat staan nie? Die vrou is dalk makliker om te sien, maar vir die man moet ‘n mens nogal mooi kyk.

As hulle mooi kyk na die ou man se oor, sal hulle sien dit is eintlik die vrou se gesig en ‘n baba in haar arms. Sy dra ‘n lang rok. Om die man te sien, moet hulle fokus op die ou man se oog, neus, snor en baard. Die wenkbrou is die man se hoed. ‘n Mens kan sy gesig herken by die ou man se oog. Die neus is sy arm. Die snor is sy baadjie se onderkant. Die bene en skoene is in die baard.

Hierdie prentjie laat ‘n mens besef dat dit belangrik is hóé ons na die lewe kyk. Somtyds is daar dinge reg voor ons oë wat ons nie raaksien nie omdat ons nie goed genoeg oplet nie.

Dit is dalk veral waar van God. Ons sê mos God is onsigbaar. Ons kan nie vir God sien nie. Hy is die Onsienlike God. As ons egter fyn oplet, sien ons wel tekens van sy teenwoordigheid. Ps 105 moedig ons aan om juis dit te doen. Vers 4 sê ons moet die Here se teenwoordigheid gedurig soek. In The Message word dit só vertaal: “Keep your eyes open for God, watch for his works; be alert for signs of his presence.”

Eintlik is dit geloof wat maak dat ons vir God sien … of nie sien nie. ‘n Ongelowige sal na die wêreld rondom hom kyk en sê: God is nowhere. ‘n Gelowige sal na dieselfde wêreld kyk en sê: God is now here! Die verskil tussen dié twee sinnetjies is net een spasie. Dit is net ‘n verskil in perspektief. Dit is die perspektief van die geloof.

Geloof is … om die Onsienlike te kan sien – terwyl ander na dieselfde prentjie kyk, en God nie sien nie.

Preekriglyn

Ons leef in ‘n tyd waarin dit nie so eenvoudig is om te glo nie.

Daar is baie mense wat uitgesproke is oor die feit dat hulle nié glo nie. ‘n Mens kry die gevoel dat iemand soos Richard Dawkins (skrywer van The God Delusion) uit sy pad gaan om geloof in God te vernietig, of ten minste in diskrediet te bring. Hy is aggressief ateïsties – dws teen geloof in God gekant. Hy skryf nie net daaroor nie. Saam met die British Humanist Association en ander het hy so ver gegaan om op openbare busse in London ‘n advertensieveldtog te loods – teen geloof in God. Die advertensie sê: There’s probably no god. Now stop worrying and enjoy your life.

Dit is selfs in Afrikaner-geledere nie meer vreemd nie. George Claassen, wat gereeld vir Media24 artikels in By skryf, het duidelik ook gekies om prontuit te sê dat hy nie in God glo nie. Hy verdedig met passie sy ateïstiese standpunte in die openbaar, en veral ook in die koerant. Hy voer in die besonder ‘n stryd ten gunste van evolusie en voer in die proses ‘n vendetta teen God en geloof. Daar was ‘n tyd in ons geskiedenis toe so iets eenvoudig ongehoord was.

Kom ons wees eerlik met mekaar. Hoe beïnvloed hierdie tydsgees jou geloof? Het jy dalk ook al begin wonder of God regtig daar is? Het dit dalk ook al twyfel in jou gemoed begin saai? Bewys die evolusieteorie nie miskien tóg dat die Bybel nonsens is nie, soos wat ouens soos Dawkins en Claassen beweer? Word die mat van geloof heeltemal onder ons voete uitgeruk? Staan ons hele Christelike geloof op wankelrige bene?

Dit is belangrik om nie op ‘n simplistiese manier op hierdie vrae te reageer nie. Ons moet besef dat die tydsgees ‘n diepgaande invloed op ons almal uitoefen. Dit beïnvloed ons op subtiele maniere. Soos dinge rondom ons verander, word ons niksvermoedend in die stroom saamgesleur. Voor ons ons kom kry, het ons denke ‘n heeltemal nuwe koers ingeslaan.

Kom ons luister bietjie na Psalm 105 in die lig van hierdie vrae. Ons weet dit is ‘n getuienis uit die verre verlede – uit die Ou Testament. Maar as ons mooi luister, mag ons dalk net ontdek dat dit nog baie relevant is, ook vir hierdie postmoderne tyd waarin ons leef.

Dit is duidelik die getuienis van iemand wat baie oortuig is van die werklikheid van God se betrokkenheid by sy lewe. Dit is iemand met geloof in God. Dit is iemand wat só vas glo dat God by sy lewe betrokke is dat hy vir die hele wêreld daarvan wil vertel. Hy jubel oor sy geloof, sing lofsange tot eer van God, en roep almal rondom hom op om die Here saam met hom te loof.

Wat gee hom die moed van hierdie oortuiging? Wat is die basis van sy geloof?

Ons kan waarskynlik in die eerste plek die antwoord soek in sy ervaring van die teenwoordigheid van die Here. Dit kom uit in vss 3-4. Hy sê dié wat die teenwoordigheid van die Here soek, moet bly wees. Hy moedig hulle aan om gedurig die teenwoordigheid (die aangesig) van die Here te soek. Terselfdertyd moet hulle ook hulp en beskerming by die Here soek.

Die woord soek verklap natuurlik ‘n belangrike perspektief op sy situasie. Die teenwoordigheid van die Here is nie voor-die-hand-liggend nie. Dit is nie vanselfsprekend nie. Dit is iets waarna jy moet soek. Jy moet fyn oplet om dit raak te sien. Jy moet ‘n sensitiwiteit, ‘n ekstra sintuig daarvoor ontwikkel.

“The Message” het ‘n baie insiggewende weergawe van vs 4: “Keep your eyes open for God, watch for his works; be alert for signs of his presence.”

Een van die mooiste definisies van geloof bly steeds die beskrywing van Moses se geloof in Hebreërs 11:27, naamlik dat hy volhard het soos iemand wat die onsienlike God sien. Geloof is om te ervaar dat God werklik in jou lewe teenwoordig is. Geloof is om die Onsienlike te sien. Geloof is om tekens van sy teenwoordigheid te kan raaksien. Om oplettend daarvoor in die alledaagse lewe te soek; jou oë oop te hou vir wat God in jou lewe doen; jou ore te spits vir dit wat die Here vir ons wil sê.

Ons moet erken: Dit is nie ‘n eenvoudige saak nie. Hoe sien ‘n mens die Onsienlike? Hoe kan jy seker wees dat dit inderdaad God is wat sekere dinge doen in ons lewe?

Dit maak ‘n mens nogal kriewelrig as party Christene van God praat asof Hy hulle tjommie is. Daar is predikers wat met fanfare vir jou sal vertel dat God vanoggend sus en so vir hulle gesê het. So asof dit die buurman was met wie hulle gepraat het. So asof daar ‘n helder, duidelike stem was wat hulle gehoor het. Baie moderne mense is bra skepties oor sulke stellings. Dalk met reg. Is dit inderdaad iets so alledaags, iets waaroor ‘n mens met soveel sekerheid kan praat?

In Psalm 105 sien ons dalk ‘n ander patroon. Die Psalmdigter twyfel nie dat God aan die werk is en dat ‘n mens tekens van sy teenwoordigheid kan sien nie. Hy lei dit veral af uit die geskiedenis. Hy kyk na die groot dade van God in sy volk se geskiedenis. Vir Israel was daar ‘n paar hoogtepunte in hulle geskiedenis wat hulle voortdurend aan God se magtige teenwoordigheid herinner het.

Dit begin by die aartsvaders, Abraham, Isak en Jakob, en die verbond wat God met hulle gemaak het. Dit loop verder deur die geskiedenis van Josef en God se wonderbaarlike voorsiening om hulle van ondergang te red. Dit bereik ‘n klimaks met die Israeliete se groot uittog uit Egipte, toe God hulle met wonderdade uit die hand van die Farao, die magtigste koning van daardie tyd, bevry het.

Op ‘n manier het die Israeliete altyd weer teruggegryp na hierdie gebeurtenisse as hulle wou getuig oor God, oor sy krag, sy majesteit, sy heerlikheid, sy magtige teenwoordigheid, sy reddingsdade. Dit is presies waarop Psalm 105 ook fokus. Vss 5-15 handel oor die aartsvaders en hoe God getrou was aan sy verbond met Abraham, Isak en Jakob. Vss 16-25 handel oor Josef en hoe God hom gebruik om sy volk van uitwissing te red en te laat groei tot ‘n bedreiging vir die Egiptenare. Vss 26-44 handel oor die eksodus uit Egipte en hoe God die plae gebruik het om die farao te dwing om hulle te laat trek. Dit eindig met die nuwe land wat Hy hulle gegee het.

Ons kan nie in besonderhede op die hele storie ingaan nie. Miskien kan ons net so ‘n bietjie meer aandag gee aan die gedeelte oor Josef.

Dit bevat nie al die detail wat ons uit Genesis oor Josef se storie ken nie. Dit vertel bloot dat hy as slaaf verkoop is, in Egipte in die tronk beland het, maar uiteindelik ‘n baie hoë gesagsposisie in die land beklee het omdat sy woorde bewaarheid is. Uit Genesis weet ons dat hy die farao se droom korrek uitgelê het, omdat God dit aan hom openbaar het. Soos in Genesis, word die hele verhaal geïnterpreteer as ‘n bewys van God se voorsienigheid. Psalm 105:17 sê God het Josef voor hulle uit gestuur. In Genesis 45:8 sê Josef dieselfde ding.

Josef kyk dus terug oor sy lewe en al die slegte dinge wat met hom gebeur het, en sê dat dit alles uiteindelik ingepas het by God se groot plan vir sy volk. Ek is nie so seker of Josef dit so begryp het terwyl al die slegte dinge met hom aan die gebeur was nie. Toe sy broers hom in die put gegooi en later as slaaf verkoop het, het hy toe geglo dit is deel van God se plan? Toe Potifar se vrou hom vals beskuldig en in die tronk laat stop het, het hy dit toe al interpreteer as God se manier om sy familie te red? Dit is baie onwaarskynlik. Ons sou hom nie kon verkwalik as hy op daardie stadium gevoel het God is nie teenwoordig nie. Dalk het hy getwyfel aan God se getrouheid. Dalk het hy gewonder oor die almag van God. Kan God hom dan nie red nie? Kon Hy nie die situasie verhoed nie? Waar is God dan?

As jy dink oor die ander geloofshelde, sal jy besef hulle was ook maar dikwels in soortgelyke situasies: Abraham, Isak, Jakob, Moses. Hulle het nie altyd, oral, vir God gesien nie. Hulle was dikwels in situasies waar dit gelyk het of God afwesig is. Of Hy hulle nie kán of wíl help nie. Of Hy nie sy beloftes kan nakom nie.

Dit is maar hoe geloof werk. Ons soek dikwels die aangesig van God. Ons soek na tekens van sy teenwoordigheid. Tussendeur is dit byna onvermydelik om soms ook oor God te twyfel, soos Julian Müller in sy nuwe boek sê (Om te mag twyfel).

Gewoonlik is dit makliker om die tekens van God se teenwoordigheid raak te sien as jy na die geskiedenis in sy groter geheel kyk. Daar is tye in daardie geskiedenis waaroor ons met groot sekerheid kan getuig: Dáár sien ons definitief vir God aan die werk! Ongetwyfeld. Onbetwisbaar.

Vir die Jode was Josef se storie so ‘n ankerpunt. En die eksodus, die uittog uit Egipte. Vir hulle was daar geen twyfel daaroor nie: Niemand sou kon stry dat God dáár teenwoordig was en op ‘n magtige manier gewerk het om hulle te red en te bevry nie. Daaraan kon hulle vashou.

Vir ons as Christene is Jesus se storie natuurlik die ankerpunt. Ja, ons kan selfs ook nog teruggryp na Abraham en Josef, Moses en Dawid. Dit is óók deel van ons storie. Maar in Jesus sien ons die Onsienlike God soveel helderder, soveel duideliker. Onmiskenbaar. Onbetwisbaar. Sy naam is immers: Immanuel, God met ons. In Hom word God ‘n mens. Kom woon Hy tussen ons. Kom loop Hy op ons stofpaaie. Kom kruip Hy in ons vel. Kom wys Hy ons wie Hy regtig is. Kom openbaar Hy sy hart aan ons.

Maar dit is nie al nie. Hierdie Jesus sterf ook aan die kruis. Dit vang sy dissipels bietjie onkant. Hoe is dit moontlik? Waar is God dan nou? Is Hy dan nie die Messias wat ons moet red nie? Hulle is deurmekaar; begin selfs twyfel. Maar dan staan Hy op uit die dood. Dit verander die prentjie. God se plan word duidelik. En hulle juig – en getuig! God is aan die werk. Hy is in Jesus by ons teenwoordig. Hy het gekom om ons te bevry!

Wanneer ons as Christene na God se aangesig soek, sy teenwoordigheid wil ervaar, het ons nie ‘n keuse nie – ons moet altyd weer teruggryp op Jesus. Hy is ons anker, die anker van ons geloof. By Hom kry ons die sekerheid dat God by ons teenwoordig is, ons liefhet, ons tot sy kinders maak en elke dag die pad saam met ons loop.

Die volgende groot heilsdaad van God versterk hierdie sekerheid: Hy stort sy Gees uit oor die kerk. Met die koms van die Heilige Gees wat ons in Pinkstertyd weer gevier het, gee God ‘n tree verder.

Jesus is Immanuel, God met ons, God by ons. Hy sterf vir ons, in ons plek. Maar die Gees is God ín ons! Die Gees wóón in ons. Die Gees neem dit wat Jesus vir ons gedoen het en dra dit in ons harte in. Hy maak Jesus en sy heilswerk ‘n werklikheid vir ons, hier en nou. Die Heilige Gees is vir ons die waarborg van God se teenwoordigheid in ons lewe. Daarom is die Gees ook die Bron van ons geloof, die Bron van ons sekerheid. Johannes sê mos: Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons: Hy het ons sy Gees gegee (1 Joh4:13).

Dít is die ankers van ons geloof: Jesus, die Christus (die Messias) en die Heilige Gees.

Tog sou ‘n mens wou vra: Maar hoe kom ek uit by ‘n werklike, eerstehandse ervaring van die teenwoordigheid van God? Dit is tog nie genoeg om altyd maar weer terug te gryp na dit wat God in die verlede, in die geskiedenis, gedoen het nie? Ons kan nie maar net teer op die ervarings van die Israeliete in die Bybelse tyd nie? Ons kan selfs nie net vashou aan die groot heilsgebeure van die Nuwe Testament nie? Om te kan glo, moet ons tog híér en nóú tekens van God se teenwoordigheid sien?

Iets baie interessants van Psalm 105 is die feit dat ‘n groot gedeelte daarvan feitlik woordeliks in 1 Kronieke 16:8-22 aangehaal word. Die konteks dáár is dié van Dawid wat die Ark van die Verbond na Jerusalem laat terugbring. Wanneer hulle die ark kom neersit in die tent wat Dawid daarvoor opgeslaan het, sing die Leviete onder leiding van Asaf hierdie Psalm. ‘n Mens kan dus sê deur dié Psalm trek die Leviete Israel se geskiedenis in die erediens in. Daar, vóór die ark (ook ‘n teken en simbool van God se teenwoordigheid in Israel se geskiedenis), kom eien die Leviete as ’t ware die werklikheid van God se teenwoordigheid vir hulleself toe. Maar hulle doen dit natuurlik nie net vir hulleself nie, maar namens die hele volk.

Die Leviete se psalmsingery word dus ‘n liturgiese ontmoeting met die God van die geskiedenis. In hierdie erediens sing hulle nie net van hulle voorsate se ontmoetings met God nie, maar ontmoet hulle self die God van wie hulle sing. Op ‘n manier laat hulle die geskiedenis herleef. Hulle leef hulle so in die geskiedenis in dat hulle self ook die teenwoordigheid van die Here in en deur die verhaal van die geskiednis ervaar. Miskien beskryf die Engelse woordspeling dit goed: history wat in dié belewenis his story word.

Dit beklemtoon net weer hoe belangrik die erediens is, ook vir ons wat in die postmoderne tydsgees moet stry om ons geloof te behou. Dit is immers die doel van die erediens: om ‘n ruimte te skep waarbinne ons die lewende God kan ontmoet, werklik sy teenwoordigheid kan ervaar. Dit doen ons deur terug te gryp op die Bybelse geskiedenis, die Bybelse verhale van God se wonderdade en sy reddende krag.

Terwyl ons egter sing en dink en preek oor al die groot heilsgebeure van die Bybel, is die hele bedoeling dat ons self ook híér, in die erediens, die Onsienlike sal sien, sy hand op ons skouer sal voel, sy goedheid en guns en liefde eerstehands sal ervaar.

Waar dít gebeur, word ons gemotiveer om dan, soos die skrywer van Psalm 105, te jubel en te juig oor God, mekaar aan te moedig om Hom te loof en prys – in die erediens, maar ook daarbuite in die alledaagse lewe. Waar ons God so ontmoet, kan ons nie stilbly nie. Ons sal vir die hele wêreld van al sy weldade en wonderdade in ons lewe wil vertel.

In dié hele opset is die waarde en betekenis van die sakramente ook spesiaal. Soos Psalm 105, bind die sakramente immers ons geloof aan God se groot heilsdade, veral deur die kruisiging en opstanding van ons Here Jesus.

Terselfdertyd wil die sakramente egter juis daardie heilsdade nader aan ons eie ervaringswêreld bring. Ons moet die tekens van God se magtige en reddende teenwoordigheid sien, voel, ruik en proe. Dit word aan elkeen van ons persoonlik gegee. Terwyl ek die brood eet en die wyn drink, dink ek nie net aan Jesus wat 2000 jaar gelede aan die kruis vir my sonde gehang het nie, maar kry ek deur die geloof deel aan sy genade, sluk en verteer ek die tekens en waarborg van sy teenwoordigheid hier en nou. Dit kom na my toe soos uit die Here se eie hand. En die Gees sê amen in my hart.

As dít nie my geloof versterk nie, wat sal dan? As dít my nie sekerheid gee van God se reddende teenwoordigheid in my lewe nie, wat sal dan? As dít my nie in staat stel om die Onsienlike te sien nie, wat sal dan?

In antwoord op die ateïstiese busadvertensieveldtog het Christelike organisasies ‘n teenveldtog geloods. Hulle slagspreuk op die busse was: There definitely is a God. Join the Christian party and enjoy your life.

Heel beste moet ons slagspreuk dalk net The Message se vertaling van Psalm 105:4 wees: “Keep your eyes open for God, watch for his works; be alert for signs of his presence.”

Dit is beter om nie arrogant te wees nie. Ons soek die aangesig van God. Ons kan nie voorgee dat ons dit elke dag helder en duidelik sien nie, maar ons moet gedurig oplettend wees vir tekens van sy teenwoordigheid.

As ons net aanhou soek na daardie tekens – in die geskiedenis, maar ook by hedendaagse geleenthede waar God Homself openbaar, soos in die erediens en die sakramente, sal Hy ons nie teleurstel nie. Ons sál die lewende God ontmoet. In geloof sál ons die Onsienlike sien. En dan sál ons nie anders kan nie – ons lof sál oor die aarde weerklink. Ons getuienis oor die wonderdade van God sál nooit stil word nie, maar aanrol tot in die uithoeke van die wêreld.

God stuur ons om te leef

Gemeentesang
Lied 159:1-3

Gebed van toewyding
O Here, U skep in my die wil,
die nood,
om U te soek.
Draai my om,
sodat ek in u rigting kyk.
Here, U het my nie verlaat
soos ek dikwels met U doen nie.
Ek bly op al my dwaalweë tog altyd bewus
van u teenwoordigheid êrens naby my,
in my.
Hier kom ek, Here,
na wie anders sal ek gaan,
wat my nie sal verwyt,
of sal wil terugbetaal nie,
wat selfs die trane van my oë afvee?
Skepper-God,
ek weet dat U wat my gemaak het,
my ook sal oormaak.
O Gees en Trooster,
ek weet dat U my sal troos
al is dit ek wat U in die steek gelaat het.
Here, God van liefde,
dankie dat U my hoor.
Here, verander my hart
sodat ek U waaragtig sal liefhê.
Amen
(Gebed van Augustinus. Augustinus Belydenisse: Getuienis oor ‘n lewe in God, 2007 Lux Verbi-BM, p 460.)

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.