Agste Sondag in Koninkrykstyd

Sections

Oorsig

In Koninkrykstyd hou die tekste nie noodwendig tematies met mekaar verband nie. In hierdie liturgie kan die beweging van Jakob/Israel se worsteling met God en Paulus se worsteling met die weë van God gekoppel word aan die oorvloed van God se ontmoeting en sorg in Matteus.

Ander tekste

Genesis 32:22-31; Psalm 17:1-7, 15; Matteus 14:13-21

Fokusteks

Romeine 9:1-5
God se verkiesing van Israel
9 In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg nie; en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my 2dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is 3oor my broers, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees. 4Hulle is tog Israeliete; vir hulle het God as sy kinders aangeneem en in sy heerlikheid was Hy by hulle; met hulle het Hy die verbonde gesluit en aan hulle die wet van Moses gegee, asook die tempeldiens en die beloftes; 5hulle stam van die aartsvaders af, en uit hulle is die Christus as mens gebore—Hy wat God is, verhewe bo alles en lofwaardig vir ewig! Amen.

6Dit wil nie sê dat die woord van God nie meer geld nie. Immers, nie almal wat van Israel afstam, is werklik Israel nie; 7en nie almal wat nakomelinge van Abraham is, is werklik kinders van Abraham nie. Inteendeel, die belofte was: “Uit Isak sal daar vir jou ’n nageslag kom.” 8Dit wil sê: Dit is nie die kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore is, wat kinders van God is nie; dit is die kinders wat kragtens die belofte van God gebore is, wat as Abraham se nageslag gereken word. 9Die woorde: “Op dié tyd sal Ek weer kom, en dan sal Sara ’n seun hê,” was immers ’n belofte.

10En dis nie al nie. Rebekka was net een keer swanger, deur ons voorvader Isak. 11–13Toe haar kinders nog nie gebore was nie en ook nog niks goeds of kwaads gedoen het nie, toe is al vir haar gesê: “Die oudste sal die jongste dien.” Daar staan ook geskrywe: “Vir Jakob het Ek liefgehad, maar vir Esau het Ek gehaat.” Die besluit van God is gegrond op uitverkiesing; dit hang dus nie af van wat ’n mens doen nie, maar van Hom wat jou roep.

14Wat moet ons hieruit aflei? Dat God onregverdig is? Beslis nie! 15Vir Moses het Hy gesê:
“Ek sal barmhartig wees
oor wie Ek barmhartig
wil wees,
en Ek sal My ontferm
oor wie Ek My wil ontferm.”

16Dit hang dus nie af van ’n mens se wil of strewe nie, maar van God wat barmhartig is. 17In die Skrif sê God immers vir die farao: “Juis hiervoor het Ek jou teen My in opstand laat kom: dat Ek in jou my krag kan toon en dat my Naam oor die hele aarde verkondig kan word.”

18Dit is dus inderdaad so dat God Hom ontferm oor wie Hy wil, en dat Hy verhard wie Hy wil.

Ekstra stof

Vir ekstra leesstof oor die konteks van hoofstuk 9-11 in Romeine.

Romeine 9-11 – Die Jode se volle getal sal gelowig word
Na Paulus met soveel oorgawe oor die verlossing geskryf het wat vir alle mense geld, is dit heel natuurlik om te wonder oor die toekoms van die Jode. Immers, as dit so is:
1. dat die besit en kennis van die wet die Jode nie kan red nie, ten spyte van die groot voorreg daarvan, en die besnydenis beperkte waarde het, omdat dit gaan oor die innerlike gesindheid van die mens (hfst. 2), maar
2. terselfdertyd dit so is dat God Hom onlosmaaklik verbind het aan Israel om aan hull genade te bewys, al sou sommige van hulle aan Hom ontrou wees (hfst. 3),

Wat is dan die toekoms van Israel?
Paulus wy in 3 hoofstukke uitvoerig hieroor uit. En dit help ons om eers oorhoofs te kyk na die antwoord wat Paulus hier gee. Let veral op hoe 1) ’n reeks vrae sy antwoord aan die orde stel, en 2) hoe die einde van hoofstuk 11 nie net die hoogtepunt van sy antwoord is nie, maar ook eintlik die beginsel is wat die hele antwoord dra:

  • 9:1-14 – Paulus is hartseer oor baie van sy volksgenote wat – ten spyte van hulle afstamming van Israel – tog nie werklik Israel is nie. Die rede? God ontferm Hom oor wie Hy wil.
  • 9:15-18 – Is God dan nie onregverdig nie? Beslis nie! Hy toon sy krag daardeur.
  • 9:19-29 – Wie kan dan met God verskil? Niemand nie. God roep uit die Joodse volk sowel as uit ander nasies mense om sy kinders te wees.
  • 9:30-10:21 – Wat is ons gevolgtrekking? Die vryspraak is vir elkeen wat glo, vir die heidene sowel as vir Israel. Dié boodskap het regoor die wêreld uitgekring, onder andere om Israel jaloers te maak.
  • 11:1-10 – Het God dan sy volk verstoot? Beslis nie! Paulus is immers ’n Jood en glo. Daar is vandag nog ’n oorblyfsel van die Joodse volk wat uit genade uitverkies is.
  • 11:11-24 – Het Israel se struikeling hulle finale val beteken? Beslis nie! Die Jode se volle getal sal gelowig word.
  • 11:25-32 – Daar is ’n verharding oor ’n deel van Israel totdat die volle getal van die heidense nasies in die koninkryk ingegaan het, maar die “hele Israel” sal gered word.
  • 11:33-36 – Uit God en deur God en tot God is alle dinge.

Ek gaan hieronder ’n paar eksegetiese opmerkings maak vir verdere nadenke, maar hier eers net uitbrei op die toekoms van Israel, of soos Paulus dit in 11:26 sê: “op hierdie manier sal die hele Israel gered word.”

Wat Paulus hier bedoel, as ’n mens vers 25 ook ingedagte hou, is: dat wanneer die volle getal uit die heidene in die koninkryk ingegaan het, sal ook die hele Israel gered wees (Jonker), dws die volle getal van die Jode wat deur God uitverkies is om gelowig te word (Dunn).

Sommige het dit wel as 3 tydperke verstaan: 1) Verharding van ’n deel van die Jode, 2) Redding van ’n deel van die heidennasies, 3) Redding van die hele Israel. Maar dit wil eerder voorkom asof dit hier oor die wyse (“op hierdie manier”) waarop redding plaasvind gaan, eerder as die tydperke waarbinne dit gebeur. Dit is ook duidelik dat die “hele Israel” nie elke enkele Jood kan beteken nie, omdat dit juis die punt van Paulus se betoog is, dat net ’n deel van Israel geloof as God se vryspraak aangegryp het, ’n oorblyfsel (vgl bv. 11:5, 7-10, 12).

Ander het die “hele Israel” as ’n geestelike entiteit, saamgestel uit Jode en heidene, verstaan, soms gekoppel aan bogenoemde tydperk-interpretasie. Israel word egter konsekwent in hierdie 3 hoofstukke in die historiese betekenis van die Joodse volk gebruik, wat so ’n betekenis onwaarskynlik maak.

Die toekoms van die Jode is dus aan die een kant dieselfde as die toekoms van die heidene: die vryspraak deur die geloof maak hulle kinders van God. Aan die ander kant is dit ook verskillend, want die heidene word deur geloof ingeënt op die Joodse olyfboom (11:17-24), wat beteken dat God nie sy volk in sy geheel verwerp nie, maar net dié wat nie in Hom glo nie.

Enkele eksegetiese opmerkings:

  • 9:1 – Let op dat ’n mens se gewete iets apart van die Heilige Gees is, en deur Hom gelei moet word. Jou gewete word immers ook deur die gemeenskap waarbinne jy grootword gevorm, ten goede en ten slegte.
  • 9:3 – Paulus praat dieselfde taal as Moses dat hy graag in die plek van die volk van Christus afgesny wou wees, maar weet dat dit nie vir God aanvaarbaar sou wees nie (Eks 32:32).
  • 9:6-9 – Paulus herhaal die gedagte dat gelowiges soos die kinders van die belofte is en nie soos kinders wat in die gewone gang van die lewe gebore is nie, waaroor hy al in sy brief aan die Galasiërs 4 geskryf het met Sara en Hagar as sy metafore.
  • 9:10-18 – Die voorbeelde van Jakob en Esau, Moses en farao illustreer die OT teologie dat God vir alles verantwoordelik is. Maar, dit moet saam met 9:30 vv. se gevolgtrekking gelees word, dat God se vryspraak is vir elkeen wat glo. God se uitverkiesing word dus sigbaar in geloof, by Jode sowel as heidene.
  • 9:19-29 – Paulus haal hier voorbeelde en profesieë uit Jeremia (pottebakker – Jer. 18), Hosea (2:22; 1:10) en Jesaja (10:22-23; 1:9) aan om God se vrymagtige oordeel EN genade onomwonde te stel. Hieruit is die dubbele uitverkiesingsleer geformuleer deur Augustinus, soos nagevolg deur Calvyn, wat in die Gereformeerde wêreld in die Dordtse Leerreëls ’n neerslag gevind het:
    • By die sinode van Dordt (Die dorpie Dordrecht in Nederland) in 1618-19 is die stryd tussen die Remonstrante (wat saam met die Arminiane op die vryheid van die wil van die mens gewys het) en die Kontra-Remonstrante (wat die ortodokse Calvinistiese leer van die onvoorwaardelike uitverkiesing gehandhaaf het) op die spits gedryf. Die sinode het midde-in ‘n bitter teologiese en politiese stryd (tussen die Remonstrant-ondersteuner Jan van Oldenbarneveldt – ‘n staatsman wat vrede en verdraagsaamheid gesoek het – en die Kontra-Remonstrante ondersteuner Maurice – die militêre leier teen die Spanjaarde wat ook in die kerk steun vir sy voortgaande oorlog teen Spanje gesoek het) plaasgevind. Die sinode het (na dit gelaai is deur die “regte” Kontra-Remonstrante ondersteuners!) die ortodokse posisie gehandhaaf, naamlik 1) die totale verdorwenheid van die mens 2) die onvoorwaardelike uitverkiesing van God (God kies mense nie uit vanweë enige aksie van hulle kant af nie), 3) die beperkte versoening (Jesus het net gesterwe vir die uitverkorenes), 4) die onweerstaanbaarheid van die genade (die uitverkorenes kan God se uitverkiesing nie weerstaan nie) en 5) die volharding van die uitverkorenes (eenmaal uitverkore, altyd uitverkore). [In Engels word dit meermale weergegee met die akroniem TULIP (T – Total inability, U – Unconditional election, L – Limited atonement, I – Irresistible Grace, P – Perseverance of the Saints).]
    • Wat my baie help om hiervan sin te maak, is om te onthou dat Dordt vir ’n uitverkiesing in Christus en in die geskiedenis gekies het (Infralapsarisme) en nie vir ’n uitverkiesing voor die sondeval (Supralapsarisme) nie. Die uitverkiesing vind plaas in die geloofskeuse wat mense vir Christus maak, waarin God se roeping die oortuigingskrag is (9:24; 10:8,11-21), en geloof en belydenis die manier is waarop ons dit ontvang (10:9-10). Dit is in die ongehoorsaamheid en weerspannigheid van die volk wat hulle verwerping sigbaar word (9:32; 10:3, 16-21; 11:7-10).
  • 10:9-10 – Let op hoe belydenis en geloof as twee kante van dieselfde munt geskets word. Dit is baie keer eers wanneer jy bely dat jou geloof tot sy reg kom, of van die ander kant af gestel, dit is eers wanneer jy glo, dat jy die Here Jesus kan bely.
  • 10:14-15 – Dié gedeelte is ’n duidelike aansporing aan elkeen wat in Jesus glo om die goeie boodskap van vryspraak deur geloof aan alle mense op die aarde te bring.

Wat uit al die wonderlike tekste uit dié 3 hoofstukke tref, is 10:11: “Niemand wat in Hom glo, sal teleurgestel word nie.” Dit is die evangelie; dit is wat ons sekerheid gee. Om dan te hoor dat God “almal wat Hom aanroep” seën (10:12) laat ’n mens baie spesiaal voel – uitverkies!

Liturgie

RUS

Toetrede: Lied 519 of Flam 80 of VONKK 25

Votum: (Ps. 17: 5-7a uit Die Boodskap)

Seëngroet

Lofsang: Lied 514 of Flam 146

Wet: (N.a.v. Romeinie 12:1-3)

Gebed van Skuldbelydenis: (n.a.v. Markus 9:24)

Genadeverkondiging en Toe-eiening: Lied 493 of Flam 68 of VONKK 79

Geloofsbelydenis
Ek glo dat die Bybel die Woord van God is.
Ek glo dat God, die Vader, die Skepper van hemel en aarde is.
Ek glo dat die Here Jesus Christus vir my sondes gesterf het en dat hy uit die dood opgestaan het; ek het hom lief.
Ek glo dat die Heilige Gees in my woon en my lewe nuut maak.
(Uit: 2010. Handleiding vir die Erediens. BybelMedia, Wellington)
Flam 72

HOOR

Gebed: Lied 512

Skriflesing: Romeine 9:1-5

Preek

LEEF

Voorbidding
Dankoffer

Slotsang: Lied 518

Seën
Mag die liefde van die Here Jesus ons na hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God, die Vader, Seun en Heilige Gees, tussen ons wees en vir altyd bly.
(Uit: 2001. Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Wellington, Lux Verbi.BM.)

Respons: Lied 519 vers 4

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Toetrede
Lied 519 “Wees stil en weet: Ek is die Heer ”
Flam 80 “Weet Jy?”
VONKK 25 “In Die Heer Vind Ek Al My Sterkte”

Votum
God, ek bid nou tot U, want U kan my help.
Hou my styf vas.
Help my in my nood.
Wys asseblief hoeveel U vir my omgee!
Beskerm my soos u heel belangrikste besitting,
(Ps. 17: 5-7a uit Die Boodskap)

Seëngroet

Lofsang
Lied 514 “Ek weet vir seker”
Flam 146 “Alles Vir My”

Wet
En nou doen ek ’n beroep op julle, op grond van die groot ontferming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe. Dan sal julle ook kan onderskei wat die wil van God is, wat vir Hom goed en aanneemlik en volmaak is. Kragtens die genade wat aan my gegee is, sê ek vir elkeen van julle: Moenie van jouself meer dink as wat jy behoort te dink nie. Nee, lê jou liewer daarop toe om beskeie te wees in ooreenstemming met die maat van geloof wat God aan elkeen toebedeel het. (N.a.v. Romeinie 12:1-3)

Gebed van Skuldbelydenis
“Ek glo, Here, kom my ongeloof te hulp!” (n.a.v. Markus 9:24)
Stil gebed

Genadeverkondiging en Toe-eiening
Lied 493 “Jesus neem die sondaars aan!”
Flam 68 “Here, Here, Hoor My Bid”
VONKK 79 “Genade, So Oneindig Groot”

Geloofsbelydenis
Ek glo dat die Bybel die Woord van God is.
Ek glo dat God, die Vader, die Skepper van hemel en aarde is.
Ek glo dat die Here Jesus Christus vir my sondes gesterf het en dat hy uit die dood opgestaan het; ek het hom lief.
Ek glo dat die Heilige Gees in my woon en my lewe nuut maak.
(Uit: 2010. Handleiding vir die Erediens. BybelMedia, Wellington)
Flam 72 “Ons Glo!”

Liedere

VONKK 79 “Genade, So Oneindig Groot”
Teks: Amazing grace, how sweet the sound – John Newton 1779 (1725 – 1807); Jacques Louw 2009 ©
Melodie: AMAZING GRACE — Amerikaanse volksmelodie in Southern Harmony 1831; aangepas Edwin Excell 1900
© Teks: 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Musiek: openbare besit
RUBRIEK: Tradisioneel – Geloof en Vertroue

1. Genade, so oneindig groot,
gee U, o Heer, vir my.
Ook ek, verlore sondaarmens,
word van my skuld bevry.

2. Deur swaarkry, hartseer en gevaar,
moes ek my pad hier vind.
U goedheid, Heer, het my bewaar
en my aan U verbind.

3. Al was ek so verhard en blind,
al het ek niks verdien,
kon ek by U genade vind –
geloof, wat my laat sien.

4. Ek loof U vir genade, Heer,
so onverdiend aan my.
Vergifnis gee U keer op keer
as ek my skuld bely.

5. Nou leef ek daagliks uit u hand,
my hart na U gekeer.
Met al my gawes en verstand
wil ek U dien, o Heer.

VONKK 25 “In Die Heer Vind Ek Al My Sterkte”
Nav Jesaja 12:2
Teks: El Senyor – Taizé 1991; Afrikaanse weergawe Braam Hanekom, Breda Ludik en Michiel van der Merwe 1994/2009
Musiek: Jacques Berthier 1923-1992
Ateliers et Presses de Taizé, Frankryk.
Met toestemming gebruik (Engels, Afrikaans in hierdie weergawe en musiek)
© 2009 VONKK Uitgewers (admin Bybel-Media)
RUBRIEK: Meditatief – Geloof en Vertroue

In die Heer vind ek al my sterkte,
in die Heer verbly ek my.
Christus, U, die troue Heer,
op U vertrou ek en twyfel nie,
op U vertrou ek en twyfel nie.

In the Lord I’ll be ever thankful,
in the Lord I will rejoice.
Look to God, do not be afraid.
Lift up your voices, the Lord is near,
lift up your voices, the Lord is near.

F146. “Alles Vir My” 
(RUBRIEK: Kruisfuur – Toewyding, Verwondering)
Teks en musiek: Retief Burger en Leza Liversage
© 2005 Urial Publishing
(Ps 23:1, Fil 3:7-11, Joh 14:6-7)

1. Ek staan vandag soos duisende voor my
met ’n vuur hier in my hart voor U.
Deur al die eeue heen is u Naam besing
en saam met engele wil ek ook nou iets bring.

Refrein:
My woorde is min
maar hier moet ek begin, want U is:
Alles vir my, U is die lied hier op my lippe
U’s die Naam wat ek bely, U is
alles vir my, U’s my begin, U is my einde
U’s my weg, U is my lewe
U is … alles vir my, en U is genoeg.

2. Ek weet dat U my elke lofsang hoor
al wil twyfel die geloof in my kom smoor.
Solank as wat ek leef sal ek U prys
tot die dag wat ek ook veilig by U is.

Refrein:

F80. “Weet Jy?”
(RUBRIEK: Flammikidz – Geloof en Vertroue)
Teks en musiek: Wian Vos
© 1999 Brettian Productions
(Opgeneem op Kinder Gospel 2000)

1. Weet jy dat Jesus jou liefhet?
Weet jy dat Hy baie van jou hou
sommer net soos jy is,
want jy’s kosbaar
en spesiaal vir Hom.

2. Weet jy dat Jesus jou vriend is?
Weet jy dat Hy altyd sal hoor
as jy Hom vra om jou te wys
hoe kosbaar en spesiaal
jy vir Hom is.
Dankie Jesus (x3)
U is ook spesiaal vir my.

F68. “Here, Here, Hoor My Bid”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Gebed / Geloof en Vertroue)
Teks en musiek: Louis Brittz
© 2005 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)
(Ps 119:58, Ps 55:17, Klaagl 3:56, Ps 144:9)

1. Here, Here, hoor my bid
waar ek skuldig voor U sit.
Dis swaar op my, ek kom bely
Here maak my vry.

2. Here, Here, hoor my roep
weer kom skuiling by U soek.
Teen die storms en teen die wind
wegkruip soos ’n kind.

3. Here, Here hoor my vra
dat U my vandag sal dra.
Ongeloof wil my beroof
wees ’n wag voor my.

4. Here, Here, hoor my sing
soos ’n engel odes bring.
Maak gereed die bruilofskleed
Here, hoor my sing.
Halleluja! Halleluja! Halleluja!

F72. “Ons Glo!”
(RUBRIEK: Kruisfuur – Geloofsbelydenis)
Teks en musiek: Louis Brittz
© MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Nuwe Lof met Louis Brittz)

Ons glo as ons struikel dat ons op kan staan.
Ons glo in U liefde soos ’n oseaan.
Ons glo in genade soos die see.
’n Stroom van vergifnis sleur ons mee
en ons bely.

Ons glo dat die Herder sy kudde lei.
Ons glo dat die Leidsman die weg berei.
Alwys alwetend onsienlik Heer.
Onmeetlik sterke Verlosser Heer,
ons glo!

Ons glo daar’s ’n more na die donker nag.
Ons glo aan ’n bruilof wat die bruid inwag.
Ons glo in vervulling van die Woord.
In Christus oorwinnaar oor die dood
en ons bely.

Ons sing omdat ons glo,
aanbid omdat ons glo,
bely dit dat ons glo,
ons loof U want ons glo.

Alwys alwetend onsienlik Heer,
onmeetlik sterke Verlosser Heer,
ons glo!

God praat met ons en ons luister

Gebed
Lied 512 “Nader, my God, by U”

Skriflesing: Romeine 9:1-5

Familie-oomblik

Herinner almal aan Paulus se lewensverhaal. Hy was ’n ywerige Jood wat aanvanklik die Christene vervolg het. Toe gryp Jesus in en verander sy lewe! (Vertel die verhaal van Paulus se bekering.) Dié mens wat die meeste teen Jesus was, word een van Jesus se ywerigste volgelinge. Later – soos in vandag se skrifgedeelte – is Paulus baie hartseer oor mense wat nie vir Jesus wil aanvaar nie. Gesels oor mense wat nie vir Jesus dien nie. Wees egter baie versigtig – onthou, kinders dink baie letterlik! Jy wil ook nie hê hulle moet beangs raak oor familielede se saligheid nie. Dis moontlik beter om te gesels oor ’n sonde waarin iemand volhard, iemand wat hulle boelie, of mense wat bv. weier om kerk toe te gaan. Gesels met hulle daaroor dat Jesus enige iemand kan verander. Bevestig dat ’n mens kan bid vir mense. Begelei kinders om vir spesifieke groepe of mense in gebed in te tree.

Hier is oulike Clip Art prente van Paulus.

Preekriglyn

Om ‘n roman gepubliseer te kry is uiters moeilik, veral as jy ‘n onbekende outeur is. Chuck Ross, ‘n vryskutskrywer, het besluit om die sisteem te toets. Hy het die eerste 21 bladsye van ‘n roman deur Jerzy Kosinksi, getiteld Steps, oorgetik en aan vier uitgewers gestuur. Hierdie boek het ses jaar vantevore die National Book Award in die VSA gewen. Chuck het die skuilnaam Erik Demos gebruik.

Al vier uitgewers het die manuskrip onaanvaar teruggestuur. Twee jaar later tik Chuck die hele manuskrip van Steps oor, en dien dit weer onder die skuilnaam Erik Demos by verskeie uitgewers in, insluitend die oorspronklike uitgewer van die bekroonde roman (Random House).

Al die uitgewers verwerp die manuskrip, met negatiewe kommentaar oor die inhoud, insluitend Random House. By laasgenoemde het hy die standaardbrief van nie-aanvaarding gekry. Dit is ‘n uitgewer se manier om te sê die manuskrip is benede-standaard. In totaal het 14 uitgewers en 13 skrywersagente daarin gefaal om ‘n boek te herken wat reeds gepubliseer is, en boonop ‘n gesogte toekenning verower het.

Mense faal dikwels om dinge na waarde te skat, en die waarheid te onderskei van die klatergoud wat so dikwels aan ons opgedis word. Die gehalte, diepte en egtheid van ‘n goeie storie wat goed neergeskryf is, kan maklik by selfs kenners verbygaan.

God se geskiedenis

In Romeine 9 begin Paulus worstel met die vraag waarom die Jode God se koms in Jesus Christus verwerp.

God het deur die eeue ‘n besondere verhaal of geskiedenis met die volk geskryf. Paulus spel dit in groot detail uit:

  • Hulle is die volk van God, uit niks geskep tot die eiendom van God
  • God het hulle as God se kinders aangeneem
  • God het Hom aan hulle verbind by Sinaiberg en aan hulle die wet van Moses gegee
  • Hulle het die tempeldiens as meganisme van geestelike gemeenskap met God ontvang
  • Hulle het ‘n beloofde en voorkeurtoekoms van God ontvang
  • Die volk stam van die aartsvaders af, dié geloofshelde met wie God God so identifiseer dat God bekendgestel word as die God van Abraham, Isak en Jakob
  • Christus, die hoogtepunt van God se openbaring, die Een deur Wie God se koningskap op aarde voltrek word en deur Wie God God se beloftes waarmaak, is uit hulle gebore.
Om God nie te herken nie

Ten spyte van God se aanwesigheid in hulle geskiedenis, ten spyte van die feit dat hulle die penne en skryfpapier van God se briewe en roman oor God se geskiedenis met die wêreld was, herken Israel nie die jongste hoofstuk in God se verhaal met die wêreld nie.

In plaas daarvan om God in Christus te omhels, verwerp Israel die evangelie. Hulle skryf hulself, by wyse van spreke, uit God se storie uit (hoewel die Outeur nie van plan is om dit te laat gebeur nie).

Wroeging

By Paulus lei dit tot geweldige wroeging. Hy was self iemand wat vroeër nie die Weg, die Waarheid en die Lewe herken het nie. Jesus het hom ontmoet en hom aangestel om die boodskap van die evangelie te versprei. Hyself kon die koms van God in Christus, deur die Here se genade, herken. Tog is daar soveel van sy Joodse volksgenote wat dit nie kan doen nie. Hulle het ‘n vooropgesette idee oor wie God is, en hoe God na mense kom, en hulle herken nie God se koms in Christus nie.

Vandaar die wroeging:
In my verbondenheid met Christus praat ek die waarheid, ek lieg nie; en my gewete, wat deur die Heilige Gees gelei word, getuig saam met my dat daar by my groot droefheid en voortdurende hartseer is oor my broers en susters, my eie volksgenote. Ek sou self vervloek wou wees, afgesny van Christus, as dit tot hulle voordeel kon wees. (1-3)

Oor die volgende weke gaan ons stilstaan oor die wyse waarop Paulus hierdie emosionele wroeging en gedagtelyn verder beskryf. Hy gaan ons vertel hoedat hy meen dat Israel se verwerping van die Here deur God opgeneem word in ‘n groter plan om beide die nasies en Israel self tot geloof te bring. Ons sal hoor hoedat die oorspronklike belofte aan Abraham, dat God se betrokkenheid by die Jode seën vir die hele wêreld inhou, deur die Jode se tydelike verwerping van die evangelie gedien word.

Ons gaan op ‘n opwindende reis deur hierdie deel van Romeine!

Moet ons die Jode verwerp?

Die verstommende verwikkeling is dat God se mense God verwerp, maar dat mense uit die heidennasies God se boodskap herken en aanvaar.

Ook ons – wat nie deur geboorte Jode is nie – is deel van hierdie heidennasies. Terwyl Paulus hierdie woorde skryf, was sommige van ons voorouers steeds in Europa of die Ooste, ver van God in Christus, en ver van geloof. Anders as baie Jode het hulle op een of ander tydstip die Here aanvaar.

Vir baie Westerse Christene was die meerderheid Jode se verwerping van Christus voldoende rede om die Jode te verwerp. Op verskeie maniere het dit deur die eeue gelei tot lyding vir Jode.

Paulus se nadenke, sal ons vorentoe sien, gee aan die Jode se verwerping van Christus ‘n ander betekenis. Hy is duidelik daaroor dat die Here die Jode se heil en verlossing begeer. Hy meen dat die heidene (ons) se aanvaarding van Christus eintlik die Jode tot hulle sinne sal laat kom, en hulle jaloers daarop sal maak om ook die Here Jesus as Verlosser te aanvaar.

Daar is geen manier waarop die Nuwe Testament gebruik kan word om haat vir en verwerping van die Jode aan te moedig nie.

Gedeelde wroeging

Daar is baie mense wat tot vandag in Paulus se wroeging deel.

Op ‘n eerste vlak bestaan daar Joodse sendingorganisasies wat in die Naam van Christus na mede-Jode uitreik. Die bekendste voorbeeld is waarskynlik Jews for Jesus. Die organisasie is gestig deur Moishe Rosen, ‘n Jood wat op 17 tot bekering gekom het, en Jhan Moskowitz, die seun van ‘n Holocaust-oorlewende. Die organisasie se doel is om Jesus se Messiasskap wêreldwyd aan Jode oor te dra. ‘n Spesifieke sending na die Jode is nodig, omdat Jesus bekendgestel moet word op ‘n wyse wat sin maak vir Jode.

Jews for Jesus wil Christene ook herinner aan die Joodse oorspronge van die Christelike geloof. Die organisasie het ‘n passie dat die volle getal gelowiges uit die Jode tot bekering moet kom.

Oor familie en vriende

Daar is ook – op ‘n tweede vlak – mense wat in die Here glo, en opregte wroeging beleef omdat huweliksmaats, kinders, ouers, ander familie of nabye vriende die Here verwerp. “Verwerp” is dikwels ook te ‘n sterk woord. Soms is dit net onverskilligheid, of ‘n afwesigheid van belangstelling. Mense kan nie die punt oor Jesus sien nie.

Daar is nietemin ook Christene wat ly onder nabye familielede se ingesteldheid teenoor Christus. Kinders word nie toegelaat om Christelike byeenkomste by te woon nie, eggenotes bespot en verkleineer oor hul geloof, huweliksmaats wat onvrede in die huis veroorsaak as hulle Christelike byeenkomste bywoon.

Ontkering

Die verwerping van Christus is meer intens by mense wat ‘n Christelike opvoeding gehad het, gedoop is en lidmate van ‘n Christelike kerk geword het. Later in hul lewe kom hulle tot die teenoorgestelde oortuiging. Dit word dan vir hulle belangrik om publiek die geloof en doop af te sweer. Dit staan as ontkering bekend.

In Suid-Afrika, waar die oortuiging dat menslike rasionaliteit die hoogste regbank vir die waarheid is, sedert 1994 hand oor hand toeneem, is ontkering vir gelowiges ‘n relatiewe nuwe verskynsel. ‘n Afgetrede predikant het onlangs vir ‘n vorige gemeente (met wie hy ‘n uitstekende verhoudinge gehad het) ‘n brief geskryf om te getuig dat hy nou tot die ware insig gekom het. God bestaan nie, behalwe in mense se gedagtes. Die evangelie van Jesus wat hy destyds aan die gemeente verkondig het, was ‘n leuen.

Die twyfelagtige politieke kante van die geskiedenis van die kerk in Suid-Afrika is ook vir baie mense ‘n aanstoot. Dit maak die evangelie vir hulle ongeloofwaardig, en bevorder die behoefte aan ontkering. Dit is asof mense die kind met die badwater uitgooi. Iemand skryf onlangs in ‘n gesprek op facebook:

Ek/ons was gebreinspoel deur die Kerk en die Apartheidsregering waarvan ek deel was … ek het die kerk verlaat en dankie uiteindelik is ek VRY VRY VRY!!

Natuurlik verlaat nie alle mense kerke weens ongeloof of ontkering nie. Dit is ‘n tema wat baie sensitief hanteer moet word.

Net soos mens soms ongemaklik voel oor mense wat bekering in jou keel wil afdruk, het ontkering sy eie apostels wat hul ongeloof met groot ywer verdedig en as’t ware op ander forseer. Ontkering word met ‘n ywer gepropageer.

Nogtans is al hierdie dinge pynlik om te verwerk. Ons kom uit ‘n resente geskiedenis waar geloof in die Here en die bediening van die kerk sentraal in die groot meerderheid Afrikaners se lewe was. Dit het die publieke domein bepaal.

Binne die kwessie van enkele jare het geloof nie meer vanselfsprekend geword nie, en is die keuse vir Jesus Christus van Nasaret iets wat jou gaan kos.

Tussen lof, belofte en trou

Ons teks, hoofstuk 9 verse 1 tot 5, volg direk op die kragtige lofprysing in die vorige gedeelte van die Romeinebrief. Paulus loof die Here in die voorafgaande hoofstukke vir sy alles-oorwinnende genade. Sy lof bereik ‘n hoogtepunt wanneer hy skryf:

Wat is nou ons gevolgtrekking oor al hierdie dinge? Dít: God is vír ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God, Hy pleit vir ons. Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? (31 – 35)

Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars deur Hom wat vir ons liefhet. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enigiets anders in die skepping kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here. (37-39)

Teen die agtergrond van hierdie uitbundige lof, is Israel se gebrekkige aanvaarding van God se verlossing die oorsaak van soveel droefheid en hartseer (2). Maar God se trou is tegelyk ‘n bron van hoop.

Paulus herinner ons aan God se beloftes. Dit word die groot tema van die volgende gedeelte in die Romeinebrief. God is getrou aan God se beloftes. Ten spyte van Israel se verwerping, sal God nie God se volk verwerp nie. God gaan voort om mense uit die heidennasies in te sluit by God se volk, en daardeur sal God ook die weerspannige Jode uitdaag en binnenooi in die domein van geloof.

Dit is Paulus se troos wanneer sy hartseer hom selfs daartoe dryf om te wens hy kan verwerp word, as Israel maar net Israel se Messias sal aanvaar.

Troos

Vir almal wat vandag wroeging ervaar weens geliefdes se verwerping van Jesus as Here, dien hierdie ook as troos. God is getrou. Selfs die dwaasste keuses wat mense maak, en hul onverskilligheid oor geloof, moet binne die ruimte van God se trou gesien word.

God, wat God se trou oor ‘n gedoopte kleinding uitgespreek het, hou nie op om God te wees bloot omdat daardie selfde mens deur ontkering gaan nie. God, van wie ‘n afgetrede dominee nou sê dat God nie regtig bestaan nie, hef nie sy trou om daardie rede op nie. Aangesien God leef, en Jesus werklik die Messias is, kan ons God vertrou om God te wees. Ons kan ons gebede, wroeging en hartseer in God se hande laat.

Paulus sê dat die Jode en heidennasies wat wel glo, deel word van God se strategie om die verwerping te bowe te kom. Gevolglik is dit oneindig belangrik dat ons ons hoop op Christus bly vestig, in ons gebede aan die mense rondom ons bly dink, en ons liefde op hulle uitstort. Geloof vra dit van ons.

Mense (net soos die uitgewers na wie ons verwys het) faal dikwels om dinge na waarde te skat, en die waarheid te onderskei. Ons getrouheid kan uiteindelik vir hulle die deurbraak bring.

God stuur ons om te leef

Voorbidding
Veral vir sendelinge, mense wat sukkel om te glo…
Vir Israel en Palestina

Dankoffer

Slotsang
Lied 518 “Voel jy soms of die Here te vér is”

Seën
Mag die liefde van die Here Jesus ons na hom toe trek.
Mag die krag van die Here Jesus ons sterk maak in sy diens.
Mag die vreugde van die Here Jesus ons vervul.
Mag die seën van die almagtige God, die Vader, Seun en Heilige Gees, tussen ons wees en vir altyd bly.
(Uit: 2001. Gebedeboek met Liturgiese Voorstelle. Wellington, Lux Verbi.BM.)

Respons:Lied 519 vers 4

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.