9. Bou brûe en breek mure af

Picture of Tema Kategese
Existing members can log in to access this content. If you're not yet a member, consider signing up for Tema-kategese.

Sections

Voor die ontmoeting

Wat ons wil bereik
Hierdie ontmoeting wil jongmense inspireer om as God se gestuurdes op te tree wat mure in gebroke verhoudings afbreek en brûe tussen mense bou, soos Christus vir gelowiges gedoen het.

Kortom
Ons identiteit (wie Christus ons gemaak het) is om gestuurdes van Christus te wees en soos Christus versoening te bewerk. Deur die teks leer ons om aan Christus se versoeningswerk deel te neem deur mure wat mense van mekaar weghou, af te breek en brûe tussen God en mense en tussen mense onderling te bou.

Bybelteks en belydenisskrif

  • 2 Korintiërs 5:16-21
  • Nederlandse Geloofsbelydenis, Artikel 21 en Heidelbergse Kategismus, Vraag 56 en 60

Hulpmiddels

  • Die storie “The bridge builder”
  • Stappe vir konflikhantering en versoening (dit is ook op die jongmense se gespreksblad)

Kwessies wat ons wil aanraak

  • Kan ons onsself met God versoen?
  • Is versoening regtig moontlik wanneer verhoudings eers verbrokkel het?
  • Kan jy versoen raak met iemand sonder dat vergifnis plaasvind?
  • Kan ons praat van versoening as vergifnis net van een kant af kom?
  • Is versoening altyd moontlik?

Info
Die Bybel gebruik verskillende woorde of beelde om verlossing te beskryf. Versoening is nog ’n woord wat met verskillende beelde beskryf kan word en kom uit die sosiale lewe. Versoening is wanneer twee of meer mense in ’n gebroke verhouding staan en daar ’n onoorbrugbare kloof tussen hulle is. Iets gebeur egter wat hulle in staat stel om hierdie kloof te oorbrug en die verhouding word herstel.

Die Bybel sê ons sonde veroorsaak dat ons verhouding met God verbreek is. God het Jesus gestuur om deur sy kruis en opstanding dié verhouding te kom herstel (om ons met Hom te versoen). Wie hierdie versoening aanvaar, leef weer in ’n herstelde verhouding met God. Hierdie nuwe verhouding is totaal anders as voorheen. Dit is juis oor die implikasies van hierdie nuwe en heel verhouding wat Paulus in 2 Korintiërs 5 skryf: Iemand wat versoening beleef het, leef anders en kan nie anders as om vir ander te vertel wat met hulle gebeur het nie. Dit is nie al nie. Hulle word ook ’n agent van Jesus se versoening.

Wat beteken dit vir die gemeente in Korinte wanneer Paulus praat van die bediening van versoening? Dit is ’n stelling wat talle betekenislae het. Eerstens kan ons praat oor hoe iemand wat in Christus glo se lewe verander (letterlik staan hier dat so iemand nuut geskep is en nou in Christus is). Tweedens kan ons praat van die bediening van versoening (iemand wat ander mense begelei om ook in Christus te glo en te help om stukkende verhoudings te herstel) wat as ’n natuurlike uitkoms vanuit hulle eie verlossing en versoening vloei. Dit werk amper soos ’n sonneblom wat na die son toe draai terwyl dit groei. Christus is die “son” na wie toe ons ons hele menswees in ons versoening draai.

Die ontmoeting

Inleiding
Open met ’n gebed.

Lees vir die jongmense die storie “The bridge builder”.

The Bridge Builder
Once upon a time two brothers who lived on adjoining farms fell into conflict. It was the first serious rift in 40 years of farming side by side, sharing machinery, and trading labor and goods as needed without a hitch. Then the long collaboration fell apart. It began with a small misunderstanding and it grew into a major difference, and finally it exploded into an exchange of bitter words followed by weeks of silence.

One morning there was a knock on John’s door. He opened it to find a man with a carpenter’s toolbox. “I’m looking for a few days work,” he said. “Perhaps you would have a few small jobs here and there. Could I help you?”

“Yes,” said the older brother. “I do have a job for you. Look across the creek at that farm. That’s my neighbour, in fact, it’s my younger brother. Last week there was a meadow between us and he took his bulldozer to the river levee and now there is a creek between us. Well, he may have done this to spite me, but I’ll go him one better. See that pile of lumber curing by the barn? I want you to build me a high fence so that I won’t need to see his place anymore. Cool him down, anyhow.”

The carpenter said, “I think I understand the situation. Show me the nails and the post-hole digger and I’ll be able to do a job that pleases you.”

The older brother had to go to town for supplies, so he helped the carpenter get the materials ready and then he was off for the day. The carpenter worked hard all that day measuring, sawing, nailing. About sunset when the farmer returned, the carpenter had just finished his job. The farmer’s eyes opened wide, his jaw dropped.

There was no fence there at all. It was a bridge – a bridge stretching from one side of the creek to the other! A fine piece of work, handrails and all – and the neighbour, his younger brother, was coming across, his hand outstretched. “You are quite a fellow to build this bridge after all I’ve said and done.”

The two brothers met at the middle of the bridge, taking each other’s hand. They turned to see the carpenter hoist his toolbox on his shoulder. “No, wait! Stay a few days. I’ve a lot of other projects for you,” said the older brother.

“I’d love to stay on,” the carpenter said, “but I have so many more bridges to build.”

Gesels saam

  • Wat veroorsaak dikwels dat verhoudings verbreek word?

Riglyn: Natuurlik is daar verskillende redes vir gebroke verhoudings. Die belangrikste hier is nie om ’n lys te maak nie, maar dat die jongmense sal noem wat vir hulle relevant en deel van hulle leefwêreld is sodat vandag se ontmoeting nie net in die lug sal bly hang nie.

  • Wat is nodig (die noodsaaklike eerste stappe) om stukkende verhoudings weer heel te maak?

Riglyn: Vergifnis, om jammer te sê, om as mense radikaal te verander, om die verlede agter ons te sit en oor te begin, en so meer.

  • Watter woorde of dade kommunikeer ons bereidheid tot versoening?

Riglyn: Gewoonlik is die eerste tree na versoening die heel moeilikste tree. Die doel van hierdie vraag is om te konsentreer op watter maniere ons die eerste tree kan gee. Aan die einde van die ontmoeting word meer riglyne hieroor gegee.

  • Hoe help die storie van die brugbouer ons om oor versoening tussen God en mense en tussen mense onderling te dink?

Riglyn: Die bespreking van die Bybelteks en die res van die ontmoeting sal lig hierop werp. Hier kan die jongmense net hulle gedagtes deel. In die storie het die optrede van die bouer as belangrike motivering gedien. God speel hierdie rol in ons verhoudings.

Wat sê die Bybel?
In die Bybelteks wat ons nou gaan lees, beskryf Paulus watter uitwerking ons versoening met God op ons lewe en al ons verhoudings het.

Lees 2 Korintiërs 5:16-21.

Gesels saam

  • Waaraan herinner Paulus die gemeente in vers 16-18a?

Riglyn: Hy herinner hulle aan die verandering (transformasie) wat binne-in hulle plaasgevind het: eers is hulle volgens menslike maatstawwe beoordeel, nou word hulle volgens Christus se maatstawwe beoordeel; hulle is nou nuwe mense, die ou mens bestaan nie meer nie. Dit is nie iets wat hulle self bewerk het nie. God het hulle in en deur Jesus verander. Dink ook aan die radikale verandering wat in Paulus se lewe plaasgevind het toe hy op die pad na Damaskus tot bekering gekom het.

  • Wat gebeur met jou wanneer jy met God versoen word (v 19, 21)?

Riglyn: Paulus gebruik hoftaal wanneer hy met die gemeente oor die betekenis van die kruis praat. Hy herinner die gelowiges wat met hulle verlossing met hulle gebeur het: Die mens (hulle) is aan sonde skuldig bevind (dit is sonde wat ons verhouding met God stukkend breek); die straf vir die sonde is die dood (Rom 6:23); Christus het ons skuld en straf, in ons plek, aan die kruis op Hom geneem (Hy het dit vir en namens ons betaal); omdat die straf vir ons sondes betaal is, is ons nou vrygespreek. Dit bring Paulus by versoening: Die feit dat ons skuld voor God betaal is, beteken ons is nou met Hom versoen. Net soos iemand wat in die skuld is en dit nie kan terugbetaal nie met ongelooflike dankbaarheid optree wanneer hulle skuld afgeskryf word of wanneer iemand dit namens hulle betaal, net so kan niemand se lewe onaangeraak bly wanneer hulle Christus se versoening aanvaar nie. Dit sit ’n hele transformasieproses aan die gang. Paulus gebruik terme soos “nuwe skepping” wat met “nuwe mens” vertaal is. Jy kyk totaal anders na die lewe as voorheen.

  • Waarna verwys die “bediening van versoening” volgens jou?

Riglyn: Net soos iemand jou in ’n restaurant met kos bedien, so word gelowiges iemand wat ander mense met versoening bedien. Dit beteken jy vertel vir ander mense wat Christus vir jou en hulle gedoen het. Die bediening van versoening sluit ook in dat jy juis sal uitkom by mense wat mure om hulleself en tussen hulle en ander mense gebou het en daar God se versoening bedien (vir hulle vertel hoe God se versoening brûe bou).

  • Hoekom dink jy word die bediening van versoening aan gelowiges toevertrou (v 18, 20)?

Riglyn: Wanneer jy vir iemand moet vertel van iets waarvan jy net gelees het, is dit bitter moeilik. Maar wanneer iets met jou self gebeur en jou lewe verander het en jy daardeur diep geraak is, maak dit die saak waaroor jy praat nie net meer geloofwaardig nie; dit laat mense ook dadelik raaksien watter uitwerking dit op jou lewe het. Só behoort die lewe van gelowiges ’n lewende getuigskrif van God se versoening te wees.

Dink terug
Dink ’n bietjie terug aan die storie wat ons aan die begin gehoor en waaroor ons gesels het. Die bouer het die proses van versoening aan die gang gesit. Ons kan sê hierdie daad het daartoe bygedra dat die broers se lewe radikaal verander het.

Gesels saam

  • Hoe het die bou van die brug in die storie die broers se lewe verander?

Riglyn: Laat die jongmense hulle gedagtes deel oor hoe hulle dink die karakters se lewe verander is. Dit kan dinge insluit soos: Die jongste het by homself gedink sy oudste broer bou ’n brug na hom toe ten spyte van wat hy gedoen het; dalk moes hy dan maar ophou kwaad wees en ’n hand van vriendskap uitsteek; die oudste het besef sy jongste broer het, ten spyte van wat gebeur het, sy hand van vriendskap uitgesteek en besluit om dit te aanvaar. Ná die hele versoeningsproses kon hulle weer met mekaar praat en nuut werk aan hulle verhouding.

  • In die Bybelteks wat ons gelees het, sien ons dat dit God is wat deur die dood en opstanding van Jesus hierdie proses van verandering aan die gang sit. Hoe help Jesus se versoening ons om aan die bediening van versoening deel te neem?

Riglyn: Jesus se kruis en opstanding maak ons nuwe mense (’n nuwe skepping): Op grond hiervan kyk ons nie meer deur ons wrokke na ander mense in ons gebroke verhoudings nie, maar deur Jesus se oë. Ons sien nou hoe Jesus se dood en opstanding ons by vergifnis uitbring as iemand anders ons seergemaak het. Ons kry insig in onsself en kan vergifnis vra en ’n hand van vriendskap uitsteek na die ander party/partye as ons die oorsaak van ’n gebroke verhouding was. Natuurlik gebeur dit nie vinnig en vanself nie. Dit neem soms maande en selfs jare om die pyn van so ’n gebroke verhouding te verwerk. Die meeste mense sukkel baie hiermee.

Dink vorentoe

Gesels saam

  • Wat kan ons as groep saam doen om as bedienaars (brugbouers) van versoening in ons omgewing op te tree?

Riglyn: Laat die jongmense hulle gedagtes deel. Die groep kan miskien iets reël om groepe wat van mekaar verwyder is (hulle teenoor ons) by mekaar uit te bring. Reël byvoorbeeld dat almal hulle stories deel en hulle kant van die saak stel. Hier kan ook mense uit verskillende kulture of van verskillende tale aan mekaar bekendstel. Dit hoef nie te gaan oor probleme wat opgelos moet word nie, maar dalk net om as ’n eerste tree beter begrip vir ander mense te ontwikkel (om te leer om in mekaar se skoene te gaan staan).

  • Wat kan jy, alleen of saam met vriende of familie, prakties doen om gebroke verhoudings te help herstel?

Riglyn: Die idee is om “versoening” konkreet te maak. Laat die jongmense hulle gedagtes op die tafel sit sodat hulle kan besef om ’n brugbouer te wees is niks meer nie as om te vertel van die versoening wat God bring. Ons kan die eerste tree na versoening gee omdat God Homself eerste met ons versoen het.

Vat saam
Gesels met die jongmense oor die stappe vir konflikhantering en versoening. Dit is ook op die gespreksblad en sal hulle met versoening en konflikhantering help. Moedig die jongmense aan om by die huis weer daardeur te lees en dit te gebruik wanneer hulle weer in ’n konfliksituasie beland of dalk in verhoudings waar versoening nodig is.

Sluit af met gebed.

Konflikhantering en versoening

Hoekom ontstaan konflik in verhoudings?

  • Twee mense in enige verhouding verskil van mekaar. Ons kom uit verskillende agtergronde en ons het verskillende prioriteite, begeertes, persoonlikhede, sterkpunte en swakhede en opinies.
  • Verskillende mense kyk vanuit verskillende perspektiewe na situasies en kwessies.
  • Soms wil mense ander dwing om dinge op hulle manier te doen.
  • Mense is van nature geneig om selfsugtig te wees.
  • Mense wil nie altyd ter wille van ’n vriendskap of verhouding verander nie.
  • Konflik ontstaan dikwels weens verskillende verwagtings van hoe dinge behoort te wees.

Wat vra dit van ons om konflik op te los en versoening te bewerk?

  • Wees bewus van wat die breuk of skeuring veroorsaak het. Onthou dat die gevolglike woede en haat verkeerd is en almal wat betrokke is, seermaak.
  • Bely jou aandeel in die stukkende verhouding.
  • Vergewe die ander mense vir wat hulle gedoen het.
  • Betoon genade (onverdiende guns) aan die ander betrokke persone.
  • Herstel die skade wat herstel kan word of vergoed enige verliese.
  • Laat gaan wat nie herstel of vergoed kan word nie.
  • Laat alle vergelding en wraak aan God oor.
  • Skep nuwe gemeenskaplike grond om nuwe lewe en ’n nuwe verhouding te skep.

Stappe om konflik op ’n gesonde manier op te los
Arnold Mol, ’n bedryfsielkundige wat gereeld praatjies oor die herstel van verhoudings aanbied, stel die volgende drie stappe voor vir enige konflikhantering:

STAP 1: Begin met die einde in gedagte
Vra: Waar wil ons wees wanneer hierdie konflik opgelos is?

Wanneer julle ’n antwoord hierop gevind het, moenie toelaat dat iets julle keer om daar uit te kom nie. Julle moet ’n gesamentlike eindpunt hê anders vermors julle julle energie.

STAP 2: Ons al twee is reg en ons dink wen-wen
Hierdie stap het twee kante.

  • A: Albei partye glo die ander een is reg of het die reg om te sien wat hulle sien en te beleef wat hulle beleef. Hulle perspektiewe verskil, maar hulle gaan staan in mekaar se skoene en kyk vanuit die ander persoon se perspektief na ’n situasie of saak. Dit beteken nie jy stem saam met die ander persoon of begin alles sien soos hy of sy dit sien nie, maar jy probeer sy of haar kant van die saak insien.
  • B: Albei partye moet wen. Wanneer die een ’n argument wen en die ander een die argument verloor, verloor die verhouding altyd. Daarom moet ons ’n styl aanleer waarin niemand wen of verloor nie, maar waarin albei partye tevrede is met die uitkoms.

STAP 3: Ons veg teen die probleem en nie teen mekaar nieMoenie teen mekaar baklei nie. Stel vas wat die probleem is en baklei teen die probleem. Wanneer twee mense saam vasstel wat die probleem is, kan hulle hulle energie saamvoeg om die probleem op te los en ’n goeie uitkoms te bereik.

Hou ’n dinkskrum oor hoe om die probleem op te los. Maak ’n lys van alle moontlike oplossings. Trek die onrealistiese oplossings dood. Merk dié waarvoor julle kans sien. Só sal daar groter openheid en toegeeflikheid ontstaan en dit bring julle nader aan versoening.

’n Paar belangrike wenke

  • Kies die beste tyd om konflik op te los (nie saans ná tienuur wanneer almal moeg is nie).
  • Sê jy is jammer.
  • Vermy dit om ’n etiket om iemand se nek te hang deur byvoorbeeld te sê: “Jy sal nooit …” of: “Jy is altyd …”
  • Stuur altyd “ek”-boodskappe soos: “Ek voel jy waardeer my nie wanneer …”
  • Luister na jou maat sonder om te dink aan wat jy volgende wil sê.
  • Onthou altyd, niemand is onversoenbaar nie, behalwe as hulle weier om te verander.
  • Ons kan onsself verander, maar ons kan nie iemand anders verander nie.
  • Ons kan net verander as ons weet wat vir die ander persoon saak maak en belangrik is.
  • Ons moet vir mekaar vertel wat ons frustreer en seermaak.
  • Wees altyd bewus van die waardes wat deel van ’n verhouding is.
  • Moenie onrealistiese verwagtings koester nie.
  • Bid saam.

© Missio 2024 | All rights reserved.