Palmsondag-Feesdiens (6de Sondag in Lydenstyd)

Sections

Oorsig

Palmsondag herroep Jesus se intog in Jerusalem. Hierdie Sondag dien as voorbereiding vir die Groot Lydensweek. Dit is ‘n geleentheid om in die regte stemming vir Paasfees te kom. Psalm 118 loof die Here se kragtige dade en sluit só aan by die lofprysing en verwelkoming van die Here in ons midde.

Sleutelteks

Lukas 19:28-41
28Nadat Jesus hierdie dinge gesê het, het Hy voor hulle uit geloop op pad na Jerusalem. 29Toe Jesus naby Betfage en Betanië teen die Olyfberg kom, stuur Hy twee van sy dissipels 30met die opdrag: “Gaan na die dorpie daar oorkant. By die ingang sal julle ‘n vasgemaakte donkievul vind waarop niemand nog ooit gesit het nie. Maak hom los en bring hom hierheen. 31As iemand julle vra, ‘Waarom maak julle hom los?’ moet julle só antwoord, ‘Die Here het hom nodig.’ ” 32Die twee wat gestuur is, het daarheen gegaan en dit aangetref net soos Hy vir hulle gesê het. 33Toe hulle die donkievul losmaak, vra sy eienaars vir hulle: “Waarom maak julle die donkievul los?” 34Hulle het geantwoord: “Die Here het hom nodig.” 35Hulle het toe die donkievul na Jesus geneem. Hulle het hulle boklere oor die donkievul gegooi en Jesus laat opklim. 36Soos wat Hy ry, het hulle hulle boklere op die pad voor Hom oopgesprei.

37Toe Hy al naby die afdraande teen die Olyfberg kom, het die hele skare dissipels God vol vreugde hardop begin prys oor al die kragtige dade wat hulle gesien het. 38Hulle het uitgeroep:
“Geseënd is die Koning,
Hy wat kom in die Naam
van die Here!
Vrede in die hemel
en heerlikheid in die hoogste!”
39Sommige van die Fariseërs in die skare het egter vir Jesus gesê: “Meester, berispe u dissipels!” 40Maar Hy het geantwoord: “Ek sê vir julle, as hulle stilbly, sal die klippe dit uitroep!”

41Toe Hy naby kom en die stad sien, het Hy oor haar gehuil

42en gesê: “As jy maar op hierdie dag dié dinge besef het wat vir jou vrede kan bring! Maar nou is dit vir jou oë verberg. 43Want daar sal dae vir jou aanbreek wanneer jou vyande skanse teen jou oprig, jou omsingel en jou van alle kante af beleër. 44Hulle sal jou en jou kinders met die grond gelyk maak. Hulle sal nie een klip in jou op die ander laat bly staan nie, omdat jy nie hierdie beslissende tyd toe God jou besoek het, herken het nie.”

Ander tekste

Psalm 31:9-16
10Wees my genadig, Here,
want ek is in die nood;
van verdriet het my oë swak geword,
ja, alles in my.
11My lewe vergaan van kommer
en my jare van swaarkry;
deur my ellende word my krag geknak
en teer my liggaam uit.
12Ek is die spot van al my teëstanders,
veral van my bure,
’n verskrikking vir al my bekendes.
Dié wat my op straat sien,
vlug vir my.
13Ek is vergeet
soos iemand wat lankal dood is,
ek het geword soos ’n ding
wat lê en vergaan.
14Ek hoor dreigemente van baie;
dit dreig van alle kante af.
Baie span teen my saam
en smee planne om my lewe te neem.
15Maar ek vertrou op U, Here,
ek sê: U is my God.
16My tye is in u hand.
Red my uit die hande van my vyande
en vervolgers!
17Verskyn tog tot my redding,
red my deur u onfeilbare liefde.
18Here, laat my nie teleurgestel staan
in my verwagting
as ek U aanroep nie.

Jesaja 50:4-9a
4Die Here my God het my geleer
om die regte woorde te gebruik
sodat ek dié wat moeg is,
kan moed inpraat.
Elke môre laat Hy my opnuut
weer luister,
Hy laat my luister
soos ’n leerling moet luister.
5Die Here my God het my geleer
om te luister:
ek was nie teen Hom opstandig nie,
ek was nie ontrou aan Hom nie.
6Ek het my rug gehou
vir dié wat my slaan,
my wang vir dié
wat my baard uittrek.
Ek het my gesig nie weggedraai
toe ek bespot en bespoeg is nie.
7Die Here my God help my,
ek sal nie teleurgestel staan nie;
ek sal my nie ontstel nie,
ek weet ek sal nie
in verleentheid kom nie.
8Hy wat my onskuldig sal verklaar,
is naby;
wie wil ’n aanklag teen my inbring?
Laat ons elkeen sy saak stel.
Wie wil my aankla?
Laat hom vorentoe kom.
9Die Here my God help my;
wie sal my dan skuldig verklaar?
Dit is verby met almal wat my beskuldig,
soos met ’n lap
wat deur motte gevreet word.

Filippense 2:5-11
Die voorbeeld van Jesus Christus
5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
6Hy wat in die gestalte
van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom
moes vasklem nie,
7maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ’n slaaf
aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het,
8het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood,
ja, die dood aan die kruis.
9Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee
wat bo elke naam is,
10sodat in die Naam van Jesus
elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,
die knie sou buig,
11en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.

Lukas 22:14–23:56
Die instelling van die nagmaal

(Matt 26:26–30; Mark 14:22–26; 1 Kor 11:23–25)
14Toe dit tyd was, het Jesus aan tafel gegaan en die apostels saam met Hom. 15Hy sê toe vir hulle: “Ek het baie daarna uitgesien om hierdie paasmaaltyd saam met julle te eet voordat Ek ly. 16Ek sê vir julle: Ek sal dit nie weer eet voordat dit in die koninkryk van God sy volle betekenis gekry het nie.”

17Daarna neem Hy ’n beker, spreek die dankgebed uit en sê: “Neem dit en gee dit vir mekaar aan. 18Ek sê vir julle: Ek sal van nou af nie weer wyn drink voordat die koninkryk van God gekom het nie.”

19Toe neem Hy brood, spreek die dankgebed uit, breek dit en gee dit vir hulle met die woorde: “Dit is my liggaam wat vir julle gegee word. Gebruik dit tot my gedagtenis.”

20Met die beker na die maaltyd het Hy net so gemaak en gesê: “Hierdie beker is die nuwe verbond, beseël deur my bloed, wat vir julle vergiet word.

21“Maar kyk, die hand van die man wat My verraai, is saam met Myne hier op die tafel. 22Met die Seun van die mens sal dit gaan soos dit voorbeskik is, maar wee die man deur wie Hy verraai word!”

23Toe begin hulle mekaar uitvra wie van hulle dit kon wees wat so iets sou doen.

Die ware grootheid
(Vgl Matt 20:24–28; Mark 9:30–37; 10:41–45; Joh 13:4–5, 12–17)
24Daar het onenigheid onder hulle ontstaan oor wie van hulle as die belangrikste beskou moet word. 25Maar Jesus sê vir hulle: “By die nasies is dit so: konings speel oor hulle baas, en dié wat gesag afdwing, laat hulleself weldoeners noem. 26Maar by julle moet dit nie so wees nie. Inteendeel, die belangrikste onder julle moet soos die geringste wees, en die een wat die leier is, soos die een wat dien. 27Wie is die belangrikste: die een wat aan tafel is, of die een wat bedien? Tog hy wat aan tafel is, nie waar nie? Maar Ek is in julle kring soos die een wat dien.

28“Julle is die mense wat in my beproewings altyddeur by My gebly het. 29Net soos my Vader ’n koninkryk aan My bemaak het, so bemaak Ek ’n koninkryk aan julle, 30sodat julle in my koninkryk aan my tafel kan eet en drink en op trone kan sit om oor die twaalf stamme van Israel te regeer.”

Petrus sal Jesus verloën
(Matt 26:31–35; Mark 14:27–31; Joh 13:36–38)
31“Simon, Simon!” het Jesus gesê. “Luister! Die Satan het daarop aangedring om julle soos koring te sif. 32Maar Ek het vir jou gebid dat jou geloof jou nie begewe nie. As jy weer tot inkeer gekom het, moet jy jou broers versterk.”

33Petrus sê vir Hom: “Here, ek is bereid om saam met U selfs gevangenskap en dood in te gaan.”

34Maar Hy antwoord: “Petrus, Ek sê vir jou: Die haan sal vannag nie kraai voordat jy My drie maal verloën het deur te sê dat jy My nie ken nie.”
Die stryd kom

35Verder het Jesus vir hulle gesê: “Toe Ek julle uitgestuur het sonder beursie en reissak en skoene, het julle iets kortgekom?”
“Nee, niks nie!” was hulle antwoord.

36Toe sê Hy vir hulle: “Maar nou, wie ’n beursie het, moet dit saamneem, en net so ook ’n reissak. En wie nie ’n swaard het nie, moet van sy klere verkoop en een aanskaf. 37Ek sê vir julle: Die Skrifwoord wat sê: ‘En Hy is as misdadiger beskou,’ xmoet aan My bewaarheid word, want wat op My betrekking het, gaan nou in vervulling.”

38Hulle sê toe: “Here, kyk hier is twee swaarde.”
“Ons laat dit daarby,” antwoord Hy hulle.

Jesus in Getsemane
(Matt 26:36–46; Mark 14:32–42)
39Jesus het die stad verlaat en volgens gewoonte Olyfberg toe gegaan, en sy dissipels het Hom gevolg. 40Toe Hy op die plek aankom, sê Hy vir hulle: “Bid dat julle nie in versoeking kom nie.”

41Hy het Hom toe van hulle afgesonder omtrent so ver as ’n mens met ’n klip kan gooi. Daar het Hy gekniel en gebid: 42“Vader, as U wil, neem tog hierdie lydensbeker van My af weg. Laat nogtans nie my wil nie maar u wil geskied!”

43’n Engel uit die hemel het aan Hom verskyn en Hom versterk. 44Hy het in doodsangs geraak en het nog ernstiger gebid. Sy sweet het soos bloeddruppels geword wat op die grond val.

45Toe Hy van die gebed opstaan en by die dissipels kom, kry Hy hulle aan die slaap, uitgeput van droefheid. 46Hy sê toe vir hulle: “Waarom slaap julle? Staan op en bid, sodat julle nie in versoeking kom nie.”

Jesus word gevange geneem
(Matt 26:47–56; Mark 14:43–50; Joh 18:3–11)
47Terwyl Jesus nog praat, kom ’n klomp mense daar aan. Die een wat Judas genoem is, een van die twaalf, het hulle gelei en nader gekom na Jesus toe om Hom te soen. 48Maar Jesus sê vir hom: “Judas, verraai jy die Seun van die mens met ’n soen?”

49Toe dié wat saam met Jesus was, sien wat gaan gebeur, vra hulle: “Here, moet ons hulle met die swaard aanval?”

50Een van hulle slaan toe na die slaaf van die hoëpriester en kap sy regteroor af. 51Maar Jesus sê: “Hou op daarmee!”

Daarna het Hy die oor aangeraak en hom genees.

52Toe sê Jesus vir die priesterhoofde, die offisiere van die tempelwag en die familiehoofde wat teen Hom opgetrek het: “Trek julle met swaarde en stokke uit soos teen ’n rower? 53Dag vir dag was Ek saam met julle in die tempel, en julle het nie ’n hand uitgesteek om My te vang nie. Maar nou dat die tyd vir die duistere magte daar is, het julle julle kans.”

Petrus verloën Jesus
(Matt 26:57–58, 69–75; Mark 14:53–54, 66–72; Joh 18:12–18, 25–27)
54Hulle het Jesus toe gevange geneem en Hom weggelei en in die huis van die hoëpriester gebring. Petrus het op ’n afstand agterna gekom. 55In die middel van die binneplaas was daar ’n vuur, en daar het mense bymekaar gesit. Petrus het tussen hulle gaan sit. 56’n Diensmeisie wat hom in die skynsel van die vuur sien sit het, het hom goed bekyk en gesê: “Dié een was ook saam met daardie man.”

57Maar Petrus het dit ontken deur te sê: “Juffrou, ek ken Hom nie!”

58’n Rukkie later sien iemand anders hom en sê: “Jy is mos ook een van hulle.”

Maar Petrus antwoord: “Man, ek is nie!”

59Na verloop van sowat ’n uur het nog een met beslistheid beweer: “Sowaar, dié een was ook saam met daardie man. Hy is mos ook ’n Galileër!”

60Maar Petrus sê: “Man, ek weet nie waarvan jy praat nie!”

En onmiddellik, terwyl hy nog praat, het daar ’n haan gekraai. 61Die Here het omgedraai en Petrus aangekyk. Toe val dit Petrus by wat die Here vir hom gesê het: “Voordat die haan vannag kraai, sal jy My drie maal verloën.” 62En Petrus het buitentoe gegaan en bitterlik gehuil.

Jesus word bespot
(Matt 26:67–68; Mark 14:65)
63Die manne wat vir Jesus bewaak het, het aangehou om met Hom die spot te dryf en Hom te slaan. 64Hulle het Hom geblinddoek en gesê: “Jy is mos ’n profeet! Sê wie het jou geslaan!”

65En nog baie ander godslasterlike dinge het hulle Hom toegesnou.

Jesus voor die Joodse Raad
(Matt 26:59–66; Mark 14:55–64; Joh 18:19–24)
66Toe dit dag word, het die Raad van die volk—die priesterhoofde en die skrifgeleerdes—vergader en Jesus voor hulle laat bring.

67Hulle sê toe: “As jy die Christus is, sê dit vir ons.”

Maar Hy antwoord hulle: “Al sou Ek dit vir julle sê, sal julle tog nie glo nie; 68en al sou Ek vir julle ’n vraag stel, sal julle ook nie antwoord nie. 69Maar van nou af sal die Seun van die mens aan die regterhand van die almagtige God sit.”

70Toe vra hulle almal: “Dan is jy die Seun van God?”

Hy sê vir hulle: “Dit is soos julle sê: Ek is!”

71Daarop sê hulle: “Waarvoor het ons dan nog getuienis nodig? Ons het dit mos uit sy eie mond gehoor!”

Jesus voor Pilatus
(Matt 27:1–2, 11–14; Mark 15:1–5; Joh 18:28–38)
23 Daarna het die hele vergadering opgestaan en Jesus na Pilatus toe gebring. 2Daar het hulle die aanklag teen Hom begin deur te sê: “Ons het bevind dat hierdie man ons volk ophits: hy belet hulle om aan die keiser belasting te betaal en beweer dat hy die Christus, die koning, is.”

3Pilatus vra Hom toe: “Is jy die koning van die Jode?”
Hy antwoord hom: “Dit is soos u sê.”

4Daarop sê Pilatus vir die priesterhoofde en die skare: “Ek vind geen skuld in hierdie man nie.”

5Maar hulle het sterker aangedring en gesê: “Die hele Joodse land deur stook hy die volk op met sy leer. Hy het van Galilea af begin en tot hier daarmee gekom.”

Jesus voor Herodus
6Toe Pilatus dit hoor, vra hy of die man dan ’n Galileër is. 7Nadat hy te wete gekom het dat Jesus uit die magsgebied van Herodes afkomstig was, het hy Hom na Herodes toe gestuur, wat juis in daardie tyd self in Jerusalem was.

8Herodes was baie bly om Jesus te sien. Omdat hy soveel van Hom gehoor het, het hy al ’n geruime tyd die begeerte gehad om Hom te sien. Hy het ook gehoop om Hom een of ander wonderwerk te sien doen. 9Hy het allerlei vrae aan Hom gestel, maar Jesus het hom niks geantwoord nie. 10Die priesterhoofde en die skrifgeleerdes het Hom heftig gestaan en beskuldig. 11Herodes en sy soldate het Hom toe met veragting behandel. Hy het Hom ’n deftige kleed laat omhang, met Hom die spot gedryf en Hom daarna na Pilatus toe teruggestuur.

12Op daardie dag het Herodes en Pilatus vriende geword. Voorheen was daar kwaaivriendskap tussen hulle.

Pilatus lewer Jesus uit om gekruisig te word
(Matt 27:15–26; Mark 15:6–15; Joh 18:39–19:16)

13Daarna het Pilatus die priesterhoofde, die lede van die Joodse Raad en die volk bymekaar geroep 14en vir hulle gesê: “Julle het hierdie man voor my gebring as ’n opruier van die volk. Nou het ek in julle teenwoordigheid die saak ondersoek, en ek het in hierdie man geen grond gevind vir die aanklag wat julle teen hom inbring nie. 15Herodes het ook nie, want hy het hom na ons toe teruggestuur. Hy het beslis niks gedoen wat die dood verdien nie. 16Ek sal hom dus laat gésel en dan loslaat.”

1819Laat Barabbas vir ons los!”
Barabbas was in die tronk oor ’n opstand in die stad en oor moord.

20Omdat Pilatus vir Jesus wou loslaat, het hy weer met hulle gepraat, 21maar hulle het aanhoudend uitgeroep: “Kruisig, kruisig hom!”

22Die derde keer sê Pilatus vir hulle: “Watter kwaad het die man gedoen? Ek het in hom niks gekry wat die doodstraf regverdig nie. Ek sal hom dus laat gésel en dan loslaat.”

23Hulle het egter met ’n harde geskreeu aangehou om te eis dat Jesus gekruisig moes word, en met hulle geskreeu het hulle die oorhand gekry. 24Pilatus het toe besluit dat aan hulle eis voldoen moes word. 25Die man wat oor opstand en moord in die tronk was, het hy vrygelaat, soos hulle geëis het, maar vir Jesus het hy uitgelewer, soos hulle wou hê.

Jesus word gekruisig
(Matt 27:31–44; Mark 15:21–32; Joh 19:17–27)
26Terwyl hulle Hom weglei, gryp hulle ’n sekere Simon van Sirene, wat toe net van buite die stad af gekom het, en sit die kruis op hom om dit agter Jesus aan te dra.

27’n Groot menigte van die volk het agter Jesus aan geloop, onder wie ook vroue wat oor Hom getreur en gehuil het. 28Maar Jesus het na hulle toe omgedraai en gesê: “Vroue van Jerusalem, moenie oor My huil nie, huil oor julleself en julle kinders, 29want daar kom dae waarin hulle sal sê: ‘Hoe gelukkig is die onvrugbare vroue en dié wat nooit ’n kind in die wêreld gebring het of gevoed het nie.’

30“Dan sal hulle vir die berge sê:
‘Val op ons!’
en vir die heuwels:
‘Bedek ons!’

31As hulle dit met die groen hout doen, wat sal dan met die droë hout gebeur?”

32Daar is ook twee ander, albei misdadigers, weggelei om saam met Jesus tereggestel te word.

33Toe hulle by die plek kom wat Kopbeen genoem word, het hulle Hom daar saam met die misdadigers gekruisig, die een aan sy regter- en die ander een aan sy linkerkant. 34Toe sê Jesus: “Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie!”

Hulle het sy klere verdeel deur te loot.

35Die volk het daar gestaan en kyk. Hulle raadslede het Hom ook uitgelag en gesê: “Ander het hy gered. Laat hy homself red as hy die Christus is wat deur God uitverkies is.”

36Ook die soldate het vorentoe gekom en Hom bespot. Hulle het vir Hom suur wyn aangebied 37en gesê: “As jy die koning van die Jode is, red jouself.”

38Daar was ook ’n opskrif bokant Hom: “Dit is die koning van die Jode.”

39Een van die misdadigers wat daar gehang het, het Hom gelaster deur te sê: “Is jy dan nie die Christus nie? Red jouself en ons ook!”

40Maar die ander een het hom tereggewys en gesê: “Is jy nie bang vir God nie? Jy ondergaan tog dieselfde straf as hierdie man! 41In ons geval is dit regverdig, want ons ontvang die verdiende straf vir ons dade. Maar hierdie man het niks verkeerds gedoen nie.” 42Verder sê hy: “Jesus, dink aan my wanneer U in u koninkryk kom.”

43Jesus antwoord hom: “Ek verseker jou: Vandag sal jy saam met My in die paradys wees.”

Jesus sterwe
(Matt 27:45–56; Mark 15:33–41; Joh 19:28–30)
44Dit was al omtrent twaalfuur, toe kom daar duisternis oor die hele land, en dit het tot drie-uur geduur; 45die son het opgehou om te skyn. Die voorhangsel in die tempel het middeldeur geskeur. 46Jesus het hard uitgeroep: “Vader, in u hande gee Ek my gees oor.” a

Na hierdie woorde het Hy die laaste asem uitgeblaas.

47Toe die offisier sien wat gebeur het, het hy God geprys en gesê: “Hierdie man was werklik onskuldig.”

48Al die mense wat saamgedrom het om na die skouspel te kyk en gesien het wat daar gebeur het, het verslae huis toe gegaan. 49Maar al Jesus se vriende, ook die vroue wat Hom van Galilea af gevolg het, het op ’n afstand bly staan. Hulle het al hierdie dinge gesien.

Jesus word begrawe
(Matt 27:57–61; Mark 15:42–47; Joh 19:38–42)
50–51Daar was ’n man met die naam Josef, afkomstig van ’n Joodse dorpie Arimatea. Hy was ’n goeie en opregte man en het die koms van die koninkryk van God verwag. Hoewel hy lid van die Joodse Raad was, het hy nie met hulle besluit en optrede saamgestem nie. 52Hierdie man het na Pilatus toe gegaan en die liggaam van Jesus gevra. 53Nadat hy dit van die kruis afgehaal het, het hy dit in linne toegedraai en in ’n rotsgraf neergelê waarin nog nooit tevore iemand begrawe was nie. 54Dit was Vrydag, en die sabbat het al begin aanbreek.

55Die vroue wat saam met Jesus van Galilea af gekom het, het saamgeloop en die graf gesien en gekyk hoe sy liggaam neergelê word. 56Daarna het hulle huis toe gegaan en reukolie en salf reggemaak.

Op die sabbatdag het hulle gerus, soos die gebod bepaal.

Ekstra stof

Teks en konteks
19:29-31 Die dorpie Betanië was so 3km suid-oos van Jerusalem. Betfage was effens nader en volgens die latere Joodse Talmoed ‘n voorstad of woonbuurt op die buitewyke van Jerusalem. Die Olyfberg is nog nader en steeds aan die oostekant van Jerusalem.

Op pad na Jerusalem stuur Jesus twee van sy dissipels vooruit om by een van die dorpe – Matteus dui dit as Betfage aan – ‘n donkievul vir hom in die hande te kry, ‘n vul waarop niemand nog gery het nie – Matteus dui aan dat beide die donkiemerrie en -vul geleen is. As iemand sou vra hoekom hulle dit doen, moet hulle antwoord wees: “Omdat die Here hom nodig het.” Markus voeg by in sy evangelie dat Jesus belowe het om die donkievul direk na die Intog terug te stuur.

19:32-34 Dit het presies gebeur soos Jesus gesê het. Hulle het die donkievul losgemaak en vir die eienaars gerusgestel dat die Here hom nodig het. Dit was genoeg rede vir hulle om die vul te laat gaan. Die feit dat Jesus egter kon aanspraak maak op die donkievul, getuig ook van die gesag waarmee Hy die donkievul kan opeis om Jerusalem te kan binne ry.

19:35 Die dissipels het hulle mantels op die vul gegooi, en Jesus daarop laat sit. Die Intog kon begin.

19:36 Soos Jesus op die donkievul voortry van Betfage verby die Olyfberg het die skare hulle mantels aanhou oopsprei op die pad. ‘n Duidelike aanduiding van die erkenning van sy koninklike status (vgl 2 Kon 9:13 waar dieselfde met koning Jehu gebeur het).

19:37 Toe hy die pad bereik wat van die Olyfberg afdaal in die stad in, is dit veral die hele skare dissipels wat saam met Hom gereis het wat met blydskap God se wonderdade prys

19:38 Hulle prys Hom met luide stemme uit dele van twee Psalms: “Geseënd is die Koning wat kom in die Naam van die Here; vrede in die hemel en eer in die hoogste hemel.” (Ps 118:26; 148:1). ‘n Mens herken ook die lied van die engeleskaar by Jesus se geboorte (Luk 2:13-14; vgl Jes 6:3).

19:39 Daar was ook Fariseërs in die skare wat beswaar gemaak het. Hulle wou hê Jesus – as Leermeester – moet die dissipels berispe en tot orde roep. Hulle het die koninklike betekenis van hierdie Intog en die lofliedere gesnap. Maar hulle het sy Koningskap verwerp en wou dit met alle koste teenstaan.

19:40 Jesus het die versoek egter geweier, want as sy dissipels sou stilbly, sou die klippe dit uitroep, so swanger van betekenis was hierdie Intog as Koning. Jesus sê daarmee dat as God se skepsels Hom nie sou herken nie, sou die Skepping dit in hulle plek uitgeroep het.

Hy sê dit as ‘n aanklag teen die Jode. Want, die ander plekke in die Bybel waar dié idioom gebruik word, praat telkens van oordeel. Soos dit die geval was met die aarde wat Kain se moord op Abel aan God verkondig het (Gen 4:10). En soos die klippe in die mure van Jerusalem en die balke van sy poorte die oordeel oor Jerusalem in Habakuk se tyd uitgeroep het (Hab 2:11).

19:41 Jesus bars egter in trane uit soos Hy naderbeweeg aan die stad, want hulle blindheid sou tot hulle ondergang lei. Die oordeel oor Jerusalem bring Hom geen vreugde nie. Net hartseer.

19:42-44 Jesus huil dus oor hulle blindheid, want as hulle maar net die insig op hierdie dag gehad het dat Hy vir hulle vrede kon gee, sou hulle baie leed gespaar kon word. Maar, nou is die betekenis van sy Intog vir hulle verberg.

Daarom sal die Here hulle onafwendbaar tref met ‘n vernietigende oordeel. ‘n Voorspelling van wat met die Romeinse oorlog in 70 nC gebeur het. Vyande sal hulle mure beleër, sê Jesus, versperrings sal daarteen opgerig word. Hulle sal omsingel en van alle kante af aangeval word. Hulle kinders sal op gruwelike wyse verpletter word teen die grond en die stad se mure sal tot op die grond afgebreek word. Daar sal nie een klip op ‘n ander gelaat word nie.

Hoekom? Want hulle het die betekenis van hierdie besoek van die Koning nie herken nie. Hulle het die tyd van genade verpas.

Boodskap en betekenis
Dit tref my met hoeveel gesag Jesus optree. Hy is as die Here ten volle in beheer van die situasie. Hy reël die donkievul, omdat dit ‘n belangrike deel van die vervulling van die profesie van Sagaria gaan wees, soos ons in die volgende perikoop sal agterkom. Regdeur hierdie laaste week sal dit een van die uitstaande kenmerke wees van sy optredes, selfs uiteindelik in die gee van Homself vir die kruisdood.

Die gedeelte ruk ‘n mens egter ook tot stilstand. Aan die een kant is daar die lofprysing vir die Koning. Die herkenning van die genadetyd wat in Jesus vir die volk aangebreek het. ‘n Ware vreugde. Die vreugde van verlossing.

Aan die ander kant is daar die verwerping van die Koning. Die blindheid vir die genade. Trouens, hulle sou Hom aan ‘n kruis spyker voor die week verby was. En die oordeel van die gevolglike oorlog sou maar net die begin van hulle smarte wees, die aardse gevolge van hulle blindheid en opstand teen hulle Koning.

Uiteindelik sou die ewige oordeel hulle vir altyd uit die koninkryk van God verwyder.

Liturgie

Palmsondag herroep Jesus se intog in Jerusalem. Hierdie Sondag dien as voorbereiding vir die Groot Lydensweek. Dit is ’n geleentheid om in die regte stemming vir Paasfees te kom.

Ekumeniese gebruike
Een of meer van die volgende gebruike kan ’n ekumeniese karakter aan die erediens verleen:

  • Deel kruisies uit wat uit palmblare gevleg is. Soms word klein houtkruise gebruik.
  • Hou ’n optog met palmtakke deur die strate na die kerkgebou. Dit kan ook ekumenies georganiseer word. ’n Houtesel met ’n Christusbeeld daarop het eens deel van die optog gevorm.
  • Die gemeente vergader buite die kerk en stap saam in prosessie die kerk binne. ’n Kruis kan gedra word. Die eerste gedeelte van die diensorde kan reeds afgehandel word waar die gemeente buite die kerkgebou byeenkom.
  • Kinders dra palmtakke by die aanvang van die erediens of tydens die lofsang in en lê dit voor in die kerk. Sommige gemeentes sluit ’n bede in die openingsgebed in waarin gevra word dat die palmtakke getuienis lewer van die dag wat herdenk word.
  • Die kerk word met palmtakke versier.
  • Drapeer ’n swart doek oor die kansel met die oog op Groot Lydensweek.
  • Waar Groot Lydensweek nie gevier word nie, word die gemeente geleentheid gebied om tydens die diens oor die “stasies van die kruis” na te dink.

Aanvangslied: Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Aanvangswoord  

Seëngroet: Filippense 1:2

Lied 464 “O Heer my God 1,2,3,4”

Wet: Uit Filippense 2

Skuldbelydenis: Uit Psalm 31
of gebed

Vryspraak: 2 Korintiërs 5:17-19

Geloofsbelydenis: (uit Handleiding vir die Erediens)

Doopherinnering: (opsioneel)

Loflied: 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Epiklese

Skriflesing: Lukas 19:28-41

Familie-oomblik
Prediking
Gebed
of
Verbintenis
Offergawes

Wegsending: Lied 519 “Wees stil en weet, ek is die Heer vs 1,2,3,4”

Seën

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. “Laat Dit So Wees (Amen)”
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”)
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1.  Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
of
VONKK 277 ” U is die lig wat deur die donker skyn”
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

U is die lig wat deur die donker skyn.

God nooi ons uit en ons kom tot rus

Rus

Aanvangslied: Lied 391 “Vervul o Heer my hart 1,2,3,4,5,6”

Aanvangswoord
V1: Kom, almal wat dors is, kom na die water!
V2: En wie geen geld het nie, kom koop en eet!

V1: Kom koop sonder geld, sonder koste, wyn en melk!
V2: As julle aandagtig na My luister, sal julle eet wat goed is, sal julle julle aan ryk kos verlustig.

V1: Maak julle ore oop en kom na My toe; luister, sodat julle kan leef!
V2: Ek wil met julle ’n ewige verbond sluit, getrou aan die bestendige liefde vir Dawid.

G: Soek die Here terwyl Hy Hom laat vind, roep Hom aan terwyl Hy naby is.

Seëngroet:  Filippense 1:2
2Genade en vrede vir julle van God ons Vader en die Here Jesus Christus!

Lied 464 “O Heer my God 1,2,3,4”

Wet: Uit Filippense 2
As Wet voorlesing word Paulus se oproep tot lewe met die gesindheid van Jesus gebruik…
5Dieselfde gesindheid moet in julle wees wat daar ook in Christus Jesus was:
6Hy wat in die gestalte
van God was,
het sy bestaan op Godgelyke wyse
nie beskou as iets waaraan Hy Hom
moes vasklem nie,
7maar Hy het Homself verneder
deur die gestalte van ’n slaaf
aan te neem
en aan mense gelyk te word.
En toe Hy as mens verskyn het,
8het Hy Homself verder verneder.
Hy was gehoorsaam tot in die dood,
ja, die dood aan die kruis.
9Daarom het God Hom
ook tot die hoogste eer verhef
en Hom die Naam gegee
wat bo elke naam is,
10sodat in die Naam van Jesus
elkeen wat in die hemel
en op die aarde
en onder die aarde is,
die knie sou buig,
11en elke tong sou erken:
“Jesus Christus is Here!”
tot eer van God die Vader.

Skuldbelydenis: Uit Psalm 31
15Maar ek vertrou op U, Here,
ek sê: U is my God.
16My tye is in u hand.
Red my uit die hande van my vyande
en vervolgers!
17Verskyn tog tot my redding,
red my deur u onfeilbare liefde.
18Here, laat my nie teleurgestel staan
in my verwagting
as ek U aanroep nie.
of gebed
God van liefde en ontferming,
U ken ons sonde en tog belowe U om ons te vergewe.
Hou ons naby aan U sodat ons u teenwoordigheid sal ervaar.
Skenk aan ons u wysheid.
Maak ons harte oop vir u vreugde,
beveel droë bene om te dans
en skenk aan ons opnuut die vreugde van u verlossing.
Amen.

Vryspraak: 2 Korintiërs 5:17-19
17Iemand wat aan Christus behoort, is ’n nuwe mens. Die oue is verby, die nuwe het gekom. 18Dit alles is die werk van God. Hy het ons deur Christus met Homself versoen en aan ons die bediening van die versoening toevertrou. 19Die boodskap van versoening bestaan daarin dat God deur Christus die wêreld met Homself versoen het en die mense hulle oortredinge nie toereken nie. Die boodskap van versoening het Hy aan ons toevertrou.

Geloofsbelydenis:  (uit Handleiding vir die Erediens)
Gemeente: Ek glo in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God die Vader,
Voorganger: Hy wat in die gestalte van God was, maar homself verneder het deur die gestalte van ’n slaaf aan te neem en aan mense gelyk te word.

G: wat gely het onder Pontius Pilatus, gekruisig is, gesterf het en begrawe is.
V: Hy was gehoorsaam tot in die dood, ja, die dood aan die kruis.

G: Hy het op die derde dag weer opgestaan uit die dood, opgevaar na die hemel en hy stel hom aan die regterhand van God die almagtige Vader.
V: God het hom tot die hoogste eer verhef en hom die Naam gegee wat bo elke naam is.

G: In die Naam van Jesus sal elkeen wat in die hemel en op die aarde en onder die aarde is, die knie buit en elke tong sal erken:  Jesus Christus is die Here!
V: Tot eer van God die Vader.

G: Amen.

Doopherinnering: (opsioneel)
V: Glo jy in God, die Vader, die Almagtige, die Skepper van die hemel en die aarde?
G: Ja, ek glo.

V: Weet dan dat die Vader ’n ewige genadeverbond met ons sluit en dat Hy ons tot sy kinders en erfgename aanneem.
G: Die doop is die teken en seël dat ons God se kinders is.

V: Glo jy in Jesus Christus, die eniggebore Seun van God, ons Here?
G: Ja, ek glo.

V: Weet dan dat Jesus Christus vir ons gesterf het en dat Hy ons in die gemeenskap van sy dood en sy opstanding ingelyf het.
G: Die doop is die teken en seël dat God al ons sonde afgewas het.

V: Glo jy in die Heilige Gees?
G: Ja, ek glo.

V: Weet dan dat die Heilige Gees in ons woon en ons tot lidmate van Christus heilig.
G: Die doop is die teken en seël dat die Heilige Gees ons al meer vorm om aan die beeld van God se Seun gelyk te wees.

Loflied: 202 “Prys Hom die Hemelvors 1,2,3”

Liedere

Flam 82. “Hosanna”
(RUBRIEK: Flammekids – Lof / Lydenstyd)
Teks en Musiek: Jan de Wet
© 2002 MAR Gospel Music Publishers
(Opgeneem op Jan de Wet & die lofkleuters, loflied 2)

Hosanna! Hosanna!
Jesus kom verby
Hy ry op ’n donkie
die mense is so bly
Hosanna! Hosanna!
Hoor hul juig en skree.
Hul dink Hy is die koning wat die vrede gee
Hosanna! Hosanna! Jesus kom verby
Hy ry op ‘n donkie
die mense is so bly
Hosanna! Hosanna!
Almal is so bly.
Maar wie het ooit gedink
dat Hy moes sterf vir my

VONKK 158 “Ons Wy Onsself Aan Christus Toe”
Teks: Jacques Louw 2011 ©  Melodie: ELLACOMBE –
Wurtemberg 1784; Mainz 1833
Orrelbegeleiding:  Tradisioneel © Teks: 2011 VONKK Uitgewers (admin BybelMedia) © Musiek: Openbare besit
RUBRIEK: Klassiek – Liefde, Dankbaarheid en Diens / Barmhartigheid en Getuienis

1. Ons wy onsself aan Christus toe,
aan Hom, ons Redder, Heer.
Laat Hy ons lof en eer ontvang,
die Koning wat regeer.
Hy het ons met sy bloed gekoop
en maak van ons sy kerk.
Ons wil Hom met ons gawes dien,
met blydskap vir Hom werk.

2. Sy liefde, so oneindig groot,
laat ons eerbiedig juig.
Dit dring ons na die wêreld toe,
waar ons sal moet getuig.
Laat ons, gehoorsaam aan sy Woord,
ook dáár betrokke raak,
met omgee en deur diensbaarheid,
sy liefde sigbaar maak.

3. Kom open U ons oë, Heer,
vir ander in hul nood.
Maak ons, soos U, barmhartig, Heer,
waar mense vra om brood.
Maar laat ons tog dié nood besef,
wat in hul harte leef.
Deur U alleen, die Middelaar,
word sondeskuld vergeef.

VONKK 171 “Jesus Is Koning”
Teks: Uit Laat die kindertjies na My toe kom – kleuterkantate van Gerrit Jordaan 1995/2011 (:1); Jacques Louw 2011 © (:2)
Musiek: JESUS IS KONING – Gerrit Jordaan 1995 Musikale verryking: Gerrit Jordaan 2011
Volledige kleuterkantate beskikbaar by musikale verryking van VONKK 170. © 2012 VONKK Uitgewers (admin Bybel
Media)
RUBRIEK: Kleuterlied – Geloof en Vertroue / Kindwees

Jesus is Koning. Hy woon in my hart.
Hy is oral by my, ek kan altyd met Hom praat.
Hy is lief vir kinders en Hy kom nooi vir my,
dat ek God se kind kan word deur net in Hom te glo.

Jesus is Koning. Hy is groot en sterk.
Oor die hele wêreld is Hy Koning van sy kerk.
Hy roep alle mense en sê ook in sy Woord:
Hul wat soos ’n kindjie glo, ontvang sy Koninkryk.

God praat met ons en ons luister

Epiklese
Liefdevolle Here,
stuur u Gees in ons midde,
en maak ons ontvanklik vir u Woord.
Help ons om nie net te hoor wat U sê nie,
maar om dit ook uit te leef,
sodat die wêreld kan sien en kan glo
dat U die redder van die heelal is.
Amen.

Skriflesing: Lukas 19:28-41

Familie-oomblik
Prediking

Familie-oomblik

Palmsondag is ‘n geleentheid om die intog in Jerusalem en die verwelkoming van Jesus tuis te bring deur ons eie optog te hou. Die kinders kan met palmtakke in of om die kerkgebou loop en dit voor in die kerk kom neerlê. Soos Jesus in Jerusalem verwelkom is, so verwelkom ons vandag die teenwoordigheid van die drie-enige God in ons midde. Vou ook kruisies uit palmtakke en deel dit uit. Verduidelik dat hierdie teken ons herinner dat ons die Here altyd prys in die lig van die kruisgebeure.
of
Carolyn Brown wys daarop dat gemeentes baie keer die lyding van Jesus ignoreer in gesprek met kinders.  Daarmee ontsê hulle egter ook vir kinders die kontras wat kom met die vreugde van die opstanding.  As hulle iets verstaan van die diepte van Jesus se lyding, sal hulle ook beter verstaan watter vreugde die opstanding vir ons bring.

Een lyn wat gevolg kan word om die boodskap van lyding oor te dra, is om oor Jesus se Koningskap te praat.  ‘n goue kroon sowel as ‘n kroon van dorings kan gebruik word.  In gesprek met die kinders kan die betekenis van die twee krone ontgin word.  Die goue kroon staan vir ‘n sterk koning na wie almal moet luister (moenie die koning teken as boos nie, net as outoritêr).  Die doringkroon staan vir iemand wat bereid is om vir mense te sorg en vir hulle lief te wees.

Toe Jesus in Jerusalem inry, het die mense Hom as koning geprys.  Watter tipe koning dink julle was Hy?  Het Hy ‘n goue kroon gedra, of ‘n doringkroon?  ‘n Doringkroon natuurlik.  So wat sê dit vir ons van Jesus as Koning?  Hy sorg vir ons en is vir ons lief.

Wat leer dit ons?  Om soos Jesus eerder ‘n doringkroon te dra as ‘n goue kroon: om eerder om te gee vir mense en vir hulle lief te wees, as om vir hulle te hiet en gebied.

Preekriglyn

[Nota: Hier is verskeie perspektiewe in hierdie preek, wat beteken die prediker moet liefs een of twee daarvan kies.]

Hierdie paragraaf word tradisioneel op Palmsondag gebruik. Palmsondag herdenk Jesus Christus se triomfantelike intog in Jerusalem. Ook in Markus, Matteus en Johannes se Evangelies word die intog in Jerusalem vermeld.

Ons teks

Jesus reis hier op die pad vanaf Betfage en Betanië na Jerusalem. Albei is oos van die Olyfberg geleë. Betanië is die dorp waar Maria, Martha en Lasarus gewoon het. Op hierdie punt begin die pad afdraand loop na Jerusalem. Dit was ongeveer een en ‘n halwe kilometer van die stadsmuur af.

Jesus tref reëlings rondom sy intog in die stad, soos die leen van ‘n donkie waarop Hy sou ry. Dit word gesien as vervulling van die profeet Sagaria se profesie oor die vrederyk van die Messias: “Verheug jou grootliks, o dogter van Sion! Juig, o dogter van Jerusalem! Kyk, jou Koning kom na jou; regverdig en ‘n oorwinnaar is Hy; nederig en Hy ry op ‘n esel – op ‘n jong esel, die vul van ‘n eselin” (Sag 9:9).

Soos Jesus verder ry, gooi die menigte dissipels hulle klere op die grond voor Hom. Naby die afdraand na die Olyfberg begin die menigte dissipels God met blydskap prys oor al die wonders wat hulle Jesus al sien doen het. Die skare het palmtakke van bome afgekap en dit op die grond voor Jesus gegooi (Matt 21:8; Mark 11:8).

Vroue, mans en kinders het met palmtakke in hulle hande “Hosanna” uitgeroep. Hulle kondig Jesus aan as die Koning wat in die Naam van die Here kom. Ook sing die menigte dissipels van “vrede in die hemel en heerlikheid in die hoogste hemele” (v 38).

Toe Jesus naby kom en die stad sien, het hy daaroor geween. Al wenende sê die Man op die eselsvul dat God vrede vir die stad Jerusalem in gedagte gehad het, maar die vrede is helaas vir die oë van Jerusalem bedek. Die stad word gepersonifieer as aanduiding van die volk. Lukas gebruik die sterkste woord vir huil in die Nuwe Testament is. Dit dui op hardop huil

Die woorde “die dinge wat tot jou vrede dien” (v 42) dui op God se universele opsoekende en reddende liefde. Dit is hierdie liefde wat deur Jesus Christus beliggaam is. Daarom maak dit die stad se blindheid soveel erger. Dit kom neer op openlike weiering om Jesus as die Messias en Seun van God te erken. As gevolg van hierdie onbegryplike blindheid en onboetvaardigheid, word die intog, wat ‘n vreugdevolle geleentheid moes wees, ‘n gebeurtenis van trane en skerp veroordeling.

Wenende God

Vir die stad wat God “besoek het” was Jesus maar net nog ‘n man. Vanweë hulle geestelike blindheid kon hulle Hom nie as die Seun van die mens, as ‘n groot Profeet, raaksien nie. Daarom het hulle Hom tot trane gedryf, Hom “gewond”. Ween, wat soos reeds gesê, is die sterkste woord vir huil in die Nuwe Testament. Dit is om hoorbaar te huil weens pyn en sielsangs. Die stad het die Man van Nasaret verwerp. Later sou Pilatus, die stadsleiers en die kerkleiers hierdie Verlosser op Golgota verder wond.

Vandag kan ons in ons tyd en plek vra: Sien ons stad of dorp vir Jesus as die Messias, of as ‘n betekenislose man op ‘n donkie? Sal Jesus ons dorp se “Hosanna” hoor? Sal die Verlosser se intog in ons dorp ten volle ‘n vreugdevolle gebeurtenis wees, of sal Hy ook oor ons dorp huil? Verwag ons ons verlossing van Jesus of van iewers anders? Herken ons Jesus as Koning?

Hoe sal ons hierop antwoord? Dal kyk ons eerder na die wisselkoers, die rentekoers of die repokoers? Dalk verwag ons redding van aardse prinse, van rykdom en voorspoed, eerder as van die Koning van die heelal?

Sal ons onsself herken as dissipels en medewerkers van Jesus. Kan ons in die krag van die Heilige Gees en gesalf deur die Heilige Gees, dinge verander. Kan ons saam met wat die wenende Man op die donkie huil oor wat by ons verkeerd is, en dan opstaan en onsself inspan om as gestuurdes saam te werk om dinge te verander?

Reddende God

Die Man op die geleende donkie is die Verlosser en Vertrooster. Hy bring hoop, redding en vertroosting vir die dissipels en gemarginaliseerdes.

Die verlossing waarna die menigte dissipels daardie dag in Jerusalem smag, is die verlossing van God se komende koninkryk. Dit is geestelike, liggaamlike en emosionele verlossing sowel as verlossing (of bevryding) uit sosiale en politieke onderdrukking.

Dié verstaan van verlossing word in die lofsang van Maria gehoor (1:46-55). Die lofsang van Sagaria, wat na Psalm 111:9 teruggryp, verwoord eweneens die radikale betekenis van verlossing. Sagaria besing dit as “verlossing uit die hand van ons vyande en almal wat ons haat”; dit is geregtigheid, “barmhartigheid” en “vertroosting vir die gebrokenes”, “‘n opgaande lig om te skyn oor almal wat in duisternis en doodskaduwee sit” (1:68-79; sien ook 2:25, 38). So ook in die lofprysing van Simeon (2:30-31) en van die profetes Anna (2:38).

Hierdie verlossing (ook heil genoem) is vir alle mense, want die Saligmaker en Verlosser wat gekom het om te red en te verlos, steek grense oor: rassegrense, geslagsgrense, etniese grense, dorpsgrense. Die verlossing is vir mans, vroue en kinders; vir die Jode, maar ook vir die Samaritane, Kanaäniete en ander volke.

Die intog in Jerusalem weerspieël ook verkeerde verwagtings aangaande die Messias-Koning wat sou kom (19:11). Die hunkering na ‘n menswaardige lewensbestaan onder die Romeinse regering en Sanhedrin het daartoe aanleiding gegee dat sommige in die skare geglo het Jesus gaan as ‘n tipe seloot die Romeinse regering omverwerp. Die “Hosanna”- en “Geseënd is Hy wat kom”-uitroepe weerspieël by sommige in die skare verwagtings dat die Romeinse Ryk verbreek gaan word; dat Jesus nasionale politieke bevryding van die Romeinse onderdrukking gaan bring; dat die Koning op die donkie die keiser of koning gaan vervang. Die verwagtings word voor die Paasfees geuiter. Paasfees is ‘n herinnering aan die Pasga, die fees voor die uittog uit Egipte. Paasfees herinner aan die bevryding uit Egiptiese onderdrukking.

Hoewel Jesus nie bloot ‘n politieke bevryder is nie, is Jesus se lering oor diens en omgee vir mekaar, oor geregtigheid en barmhartigheid, eintlik politieke plofstof. Geen politieke sisteem wat gebou is op onreg en uitbuiting hou voor die Messias stand nie.

Wat is ons lyding en aanvegtings?

  • Dink aan die beproewings, bedreigings, vermoeidhede, vrese, twyfel, verliese en wanhoop vanweë die Covid-19-pandemie
  • Dink aan die impak van krisisse rondom dienslewering en korrupsie op gesondheid, finansies, werk, studies en skool. Hoe verwag ons dat God ons hiervan sal red?
  • Dink aan trauma weens siektetoestande of maatskaplike euwels. Kinders wat dwelms misbruik en lewens verwoes. Bendegeweld. Verlies aan hoop.

Die Man op die donkie is die Verlosser wat omgee; wat medelye met ons swakhede, aanvegtings en twyfel het; wat nuwe hoop bring.

Palmsondag is die voorloper vir Opstandingsondag. En opstanding is die aanbreek van nuwe lewe, nuwe krag, nuwe drome, nuwe vertroue en nuwe lewensmoontlikhede.

Toe vandag se erediens begin het, het ons palmtakke geswaai om die Koning te verwelkom. Nou sit ons op die kerkbanke met ons eie persoonlike stryd.

Die Bybel en die Here is bekend hiermee. Verhale van individue se persoonlike stryd word regdeur die Lukasevangelie aangetref. Palmsondag is enersyds vir mans en vroue, jongmense, studente en kinders ‘n geleentheid vir lofprysing, en andersyds ‘n hunkering na die Man op die geleende donkie se verlossing en vertroosting.

Ons word deur die Man op die geleende donkie geroep om mekaar te vertroos, vir mekaar te bid, mekaar te heel, mekaar te bemoedig en mekaar finansieel te help – en ons doen dit nie net as lidmate nie, maar as mense wat self ook “gewond” is. Ons doen dit as gewonde genesers!

Nederige, dienende God

Die intog in Jerusalem beeld Jesus se identiteit uit as nederig en sagmoedig. Volgens geskiedskrywing was Jesus se intog nie die enigste intog in Jerusalem op Paasfees nie. Pilatus het gewoonlik ook, vergesel van sy soldate en hooggeplaastes, met swier en prag die stad binnegery (Luk 3:1). Natuurlik om hulle mag op die skare af te forseer. Pilatus kom die stad vanuit die weste binnegery op sy eie ampsvoertuig. Jesus Christus kom uit die ooste, nie met prag en praal en swier nie, maar nederig op die rug van ‘n geleende donkie.

Alhoewel Jesus die intog beplan het, is Hy nie hoogmoedig nie. Hy soek nie die publieke kollig nie. Pilatus en sy gevolg ry die stad binne as verteenwoordigers van die Romeinse Ryk. Jesus ry die stad binne as verteenwoordiger van God se koninkryk. Pilatus-hulle kom as verdrukkers die stad binne; Jesus kom as die Verlosser en Profeet. Agter Pilatus en sy staatsmanne is soldate op perde, gevolg deur voetsoldate met wapens in hulle hande. Agter Jesus is gemarginaliseerde en onderdrukte vroue, mans en kinders met net palmtakke in hulle hande. Vir hulle is vrede die afwesigheid van konflik en oorlog. Vir Jesus is vrede die deurbreek van God se shalom.

Denise Ackermann se boek Surprised by the Man on the borrowed donkeyOrdinary blessings, is hier van pas. Sy vertel van haar ervarings tydens die konstituering van die Lambeth-konferensie van die Anglikaanse Kerk in Londen. Dit is in die Katedraal van Canterbury gehou. Terwyl Ackermann daar sit, sien sy hoe die prosessie van biskoppe – mans en vroue – die katedraal binnekom en hulle plekke inneem. Hulle is in pragtige en duur gewade geklee. Hulle togas is van sy en helderkleurige brokaat gemaak. Die omboorsels is van goud. Sy leun vooroor om te kyk wie almal die katedraal binnestap. Wanneer die prosessie binne is, gaan die deur agter die aartsbiskop van Canterbury toe. Dan vra Ackermann in haar gedagtes: “Wie mis ek?” En sy antwoord haarself: “Ek mis Jesus, die Man op die geleende donkie.”

In die boek deel sy openhartig krisisse wat op haar lewenspad gekom het: Meer as een siektetoestand, asook emosionele pyn het tot geloofsworsteling gelei. Sy noem die boek dan ook ‘n “biography of faith”. Die soeke na troos en geestelike heling bring haar daartoe om haar geloof as “faith in the Man on the borrowed donkey” te bely. En soos sy deur die krisisse geworstel het, het sy van wanhoop na hoop, en van vertwyfeling na vertroue gereis. Deur met “some of life’s hardest questions” te worstel, ontdek Ackermann “the ability to view my own life with the eyes of faith and to see, above all else, a history of blessings”.

Jesus se intog in Jerusalem beteken vir die gemarginaliseerdes hoop. In die Ou Testament word hoop in situasies van benoudheid, pyn en hartseer beskryf met terme soos om te vertrou, om te hoop op, om te wag, om angstig uit te sien na, ‘n verwagting dat God ‘n situasie van swaarkry sal omkeer (Jer. 14:22; 14:8; Ps. 25; 27; 130). Voorbeelde is daar baie in die Lukas-evangelie:

  • Sagaria en Elizabet (wat onvrugbaar was) wag, kyk uit na, verlang na ‘n baba. Hulle hoop word vervul met die geboorte van Johannes die Doper (Luk 1).
  • Simeon kyk met verwagting na (wag met verlange op) die vertroosting van Israel (Luk 2:25-26).
  • Anna, die profetes, prys die Here en praat oor die babaseun Jesus met almal in Jerusalem wat die verlossing verwag en daarop bly hoop het (Luk 2:36-38).
  • Ons hoor ook hoop in die vraag van Johannes die Doper terwyl hy in die gevangenis opgesluit is: “Is U die Een wat sou kom, of moet ons ‘n ander een verwag?” (Luk 7:20). Johannes gryp na hoop in ‘n situasie van wanhoop. Sy vraag word gerig aan Jesus as die Hoop van Israel.
  • In die laaste hoofstuk word hoop ook weerspieël deur die woorde van die twee Emmausgangers wat vir Jesus sê: “Ons het gehoop dat dit Hy was wat Israel sou verlos (Luk 24:21).

Die konteks van die Lukasevangelie is dat God deur die lewe en werk van sy Seun, Jesus Christus, stories van wanhoop en vrees in stories van hoop en moed omskep. Die Man op die geleende donkie is die Hoopbringer.

Gesagvolle God

Die Man op die geleende donkie as Koning en Profeet van reg en geregtigheid boesem vrees in by die politieke heersers soos Pilatus, asook by die Joodse kerkleierskap.

Jesus se uitsprake teen hulle onreg (juridies) en ongeregtigheid (sosiaal, ekonomies, kulties) maak dat hulle Hom as opponent klassifiseer. Die Fariseërs erken Jesus se status as meester soos ook hulle meesters is, maar hulle sien Hom as ‘n bedreiging – ‘n bedreiging vir hulle interpretasie van die Tora, vir hulle aandrang op voorste plekke by feeste in plaas van nederigheid. Die Romeinse goewerneurs se vrese dat Jesus se uitlewing van die koninkryk tot hulle onttroning sal lei, het gemaak dat hulle Hom as opponent aangesien en teengestaan het.

Politieke leiers wat vandag die Man op die donkie se koninkryksetiek as ‘n bedreiging vir partypolitieke doelwitte of beleid beskou, moet die kerk se profetiese stem vanaf die kansel hoor.

Die gedig “First they came …” geskryf deur die Duitse teoloog en Lutheraanse predikant Friedrich Martin Niemöller, is hier van pas. Hy het die gedig in 1930 geskryf as profetiese stem teen die Duitse Ryk van Adolf Hitler:

First they came for the socialists, and I did not speak out –
Because I was not a socialist.
Then they came for the trade unionists, and I did not speak out –
Because I was not a trade unionist.
Then they came for the Jews, and I did not speak out –
Because I was not a Jew.
Then they came for me – and there was no one left to speak for me.

Al hierdie perspektiewe uit ons teks oortuig mens om Jesus es Here en Verlosser na te volg. En om te leer om Hom na te boots.

God stuur ons om te leef

Gebed
of
Verbintenis:
Voorganger: Dank die Here want Hy is goed.
Gemeente: Sy goedertierenheid duur tot in ewigheid.

Voorganger: Almagtige en ewige God, ons dank U dat U ons in hierdie heilige geheimenis met die liggaam en bloed van u Seun ons Verlosser, Jesus Christus, gevoed het. Deur u genade behou U ons in die liggaam van u Seun, die gemeenskap van alle gelowige dissipels. Help ons om as lewende lede van daardie heilige gemeenskap te volhard en om in liefde en gehoorsaamheid volgens u wil toe te neem: deur Jesus Christus, onse Here, wat leef en regeer met U en die Heilige Gees, een God in alle ewigheid.
Gemeente: Amen.

Voorganger: Almagtige Vader,
ons gee onsself aan U
as ’n lewende offer
in Jesus Christus onse Here.
Stuur ons die wêreld in
met die krag van die Heilige Gees
om te lewe en te werk
tot U lof en eer ( ’n Anglikaanse Gebedeboek,1989, Herdruk 2007, bl 129).

Offergawes

Wegsending: Lied 519 “Wees stil en weet, ek is die Heer vs 1,2,3,4”

Seën
Ontvang die seën van die diep geheimenis wat ons God noem:
die Bron van lewe, liefde en hoop;
die Woord van die lewe,
en die ewigteenwoordige Gees van genade
sal met julle wees en bly.
Amen
of
Mag God ons genadig wees en ons seën,
mag Hy tot ons redding verskyn,
sodat sy dade oor die wêreld heen bekend mag word,
sy reddende krag onder alle nasies (Ps 67:2-3).

Antwoord: Lied 312/313/314/315/ of
F361. Laat Dit So Wees (Amen)
(RUBRIEK: Kersflam – Gebed)
Teks en musiek: Neil Büchner
Kopiereg: © Flam Musiek-Uitgewers

Laat dit so wees, Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
Heer, laat ons leef soos U leer
Here, Amen.
Laat dit so wees, Here, Amen.
of
Vonk 38 (Melodie is Lied 582 “Bly by my Heer”) 
Here, Ons God, As Ons Nou Huis Toe Gaan

1. Here, ons God, as ons nou huis toe gaan,
vra ons u seën, waar ons hier voor U staan.
U het u goedheid weer aan ons betoon,
ons saamwees in u Naam met guns bekroon.

2. Ons bid tot U, o Vader, Seun en Gees,
laat ons vir ander ook tot seën wees.
Maak ons getuies van u Naam, o Heer,
dat ook die wêreld U sal dien en eer.

3. U wat in liefde altyd by ons bly,
wees ons tog in ons lief en leed naby.
Sou daar beproewing oor ons pad kom, Heer,
maak ons volhardend in geloof al meer.
of
VONKK 277 – U is die lig wat deur die donker skyn
Teks: Hannes van der Merwe 2014 ©
Melodie: HIGHLAND CATHEDRAL – Uli Rover en Michael Korb
Orrelbegeleiding: Albert Troskie 2014 (Pro Deo)
Musikale verryking 1en 2: Gerrit Jordaan 2014 ©
© Teks, orrelbegeleiding en musikale verrykings: 2014 VONKK-Uitgewers (admin Bybel-Media)
© Melodie: Church Hymnary Trust, Admin SCM-Canterbury Press Ltd. Met toestemming gebruik.

1. U is die lig wat deur die donker skyn.
U is die Een wat duister laat verdwyn.
Skyn in ons harte, dryf die donker uit.
Skyn in ons lewens tot in ewigheid.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

2. U is oorwinnaar, U’t die dood verslaan.
U het as Koning uit die graf gegaan.
Breek nou die bande, gooi die boeie neer.
Ons is oorwinnaars saam met U, ons Heer.
Jesus Christus, ons glo in U,
ons buig voor U neer, buig voor U neer.
Jesus Christus, ons God en Heer,
ons bring nou aan U die eer.

3. U is die Bruidegom en ons u Bruid.
U nooi ons vir die bruilofsmaaltyd uit.
Daar klink ons lof, daar klink ons danklied uit.
Ons bly by U tot in ewigheid.

A ministry platform for faith leaders.

© Copyright Bible Media | This site is protected by reCAPTCHA and the Google Privacy Policy and Terms of Service apply.