4. Wat nou?

Picture of Tema Kategese
Existing members can log in to access this content. If you're not yet a member, consider signing up for Tema-kategese.

Sections

Voor die ontmoeting

Wat ons wil bereik
Die jongmense ontdek ons almal is deel van ’n gebroke wêreld en beleef trauma en behoort daarom gesonde hanteringsmeganismes te ontwikkel.

Kortom
Mense het dikwels toekomsplanne of ten minste ’n prentjie van hoe die toekoms behoort te lyk. Wanneer daardie prentjie skielik verander, kan dit vir hulle ’n traumatiese ervaring wees. Jongmense is broos in traumatiese ervarings aangesien hulle nie noodwendig al die nodige hanteringsmeganismes het om trauma of ’n skielike verandering van hulle toekomsvisie te verwerk nie. Trauma vang ons almal onkant. Trauma steel ons hoop en lê ons lam. Hierdie ontmoeting fokus op verskeie meganismes om trauma te hanteer.

Bybelteks
Lukas 24:13-35

Hulpmiddels

  • Ontmoeting 4, Hulpmiddel 1: ’n video oor ’n jongmens wat oor die stres in sy lewe praat
  • Ontmoeting 4, Hulpmiddel 2: ’n video van ’n kundige wat oor die uitwerking kinderjaretrauma op ons lewe praat

Kwessies wat ons wil aanraak

  • Die jongmense weet nie hoe om die uitdagings in hulle lewe te hanteer nie.
  • Hulle word met volwassenes se probleme opgesaal.
  • Die jongmense wonder waarom God sekere dinge toelaat.
  • Hulle gebruik ongesonde hanteringsmeganismes om trauma te verwerk.

Info
Sensitiwiteit vir die jongmense se swaarkry en die probleme wat hulle ervaar, is hier baie nodig. Skep ’n veilige ruimte waarin hulle hieroor kan gesels sonder om te voel hulle word geoordeel. Begelei die groep om ná die ontmoeting met groot sensitiwiteit en respek teenoor mekaar en teenoor slagoffers van trauma op te tree.

Mense se ervaring van swaarkry is persoonlik en die groep behoort aangemoedig te word om mekaar te ondersteun.

Vir agtergrondinligting oor die hantering van trauma in kinderjare en adolessensie kan fasiliteerders na hulpmiddel 2 kyk. Dié video kan ook op ander maniere in die gemeente gebruik word.

Die ontmoeting

Inleiding
Open met gebed.

Laat die jongmense in ’n ry in die middel van die vertrek of in ’n oop ruimte staan. Hulle gaan besluit hoe traumaties ’n gebeurtenis vir hulle kan wees. Wanneer jy ’n probleem noem, laat hulle hulleself op ’n skaal van 1 tot 10 plaas. (Hulle kan dit op ’n denkbeeldige lyn of in die vorm van ’n hoefyster doen.) Aan die een punt van die lyn is 10: “uiters traumaties.” Aan die ander punt is 1: “glad nie traumaties nie”. Jy kan jouself ook op die lyn posisioneer om ’n atmosfeer van vertroue te skep.

Noem die volgende situasies een vir een en gee die jongmense genoeg tyd om hulle plek op die lyn te vind:

  • Jy het nie jou wiskundehuiswerk gedoen nie.
  • Jou ouers skei.
  • Jy is ’n meisie en jy ontdek jy is swanger.
  • Jy gaan saam met jou familie met vakansie.
  • Jy word nie vir ’n sportspan gekies nie.
  • Jy luister na ’n CD van Justin Bieber.
  • Jou is ’n ou en jou meisie raak swanger.
  • Jy gaan op ’n eerste date.
  • Jy laat doen ’n aborsie.
  • Jy gaan saam met jou ma of pa winkel toe.
  • Jou ou of jou meisie los jou.

 

Gaan sit weer saam in ’n groep. Kyk saam na die video van ’n jongmens wat vertel van die druk en stres wat hy beleef.

Wat sê die Bybel?
Kom ons lees ’n verhaal in die Bybel wat ons kan help om stres en trauma in ons lewe te hanteer.

Lees Lukas 24:13-35.

Gesels saam

  • Hoe het die Emmausgangers gevoel toe hulle op pad terug was huis toe?

Riglyn: Hulle was geskok, teleurgesteld en hartseer.

  • Wat het gebeur dat hulle so gevoel het?

Riglyn: Hulle was getraumatiseer ná Jesus se kruisiging. Hulle het geglo Jesus is die Messias, maar toe word Hy gekruisig en begrawe. Van die vroue in die dissipelgroep het gesê sy liggaam is weggeneem uit die graf en dat hulle Hom gesien het. Die gebeure het nie vir hulle sin gemaak nie.

  • Hoe het hulle hierdie gebeure hanteer?

Riglyn: Hulle het met mekaar daaroor gepraat. Hulle het probeer sin maak daarvan.

  • Hoe het Jesus hulle gehelp om sin van hulle swaarkry te maak?

Riglyn: Jesus het hulle gevra om die trauma te verwoord. Hy het vir hulle verduidelik hoekom Hy aarde toe gekom het. Hy het saam met hulle geëet. Hy het hulle toegelaat om te gesels. Sy optrede teenoor hulle het ’n gevoel van deernis en empatie aan hulle oorgedra, maar Hy het hulle ook met hulle werklike probleem gekonfronteer.

Dink terug

Gesels saam

  • Mense beleef vandag nog traumatiese gebeure, net soos die Emmausgangers destyds. Hoe hanteer mense vandag hulle hartseer, skok of verlies?

Riglyn: Mense reageer verskillend op trauma. Party wil nie daaroor gesels nie; ander oefen, eet of slaap te veel. (Hierdie dinge is nie sleg nie, maar party mense doen dit in oormaat om uit hulle situasie te ontsnap.) Sommige mense probeer van die seer ontsnap deur te veel te drink, dwelms te gebruik of ongesonde seksuele gedrag te ontwikkel. Party mense maak hulleself seer om uitdrukking aan hulle innerlike pyn te gee. Daar is nog baie ander voorbeelde wat ons kan noem. Sommige traumatiese ervarings kan tot ernstige probleme lei.

  • Soms trek mense se negatiewe gedrag soveel aandag dat ’n mens nie by die wortel van die probleem kan uitkom nie. Wat is die algemene reaksie op die hanteringsmeganismes wat ons hier bo genoem het?

Riglyn: Negatiewe hanteringsmeganismes (of die oormatige gebruik van positiewe hanteringsmeganismes) is soos die liggies op ’n motor se paneelbord. As jy ’n plakker oor ’n liggie plak sodat die liggie nie meer sigbaar is nie, sal dit niks verander aan die feit dat die motor steeds ’n probleem het of gediens moet word nie. Die ware probleem lê dieper, by die rede hoekom die liggie brand. Negatiewe hanteringsmeganismes kan negatiewe gevolge vir mense inhou.

Dink vorentoe

Gesels saam

  • Hoe kan jy jou hartseer, skok of verlies positief hanteer?

Riglyn: Al kan oefening, genoeg slaap, goeie eetgewoontes, ensovoorts, ’n positiewe bydrae lewer wanneer mense trauma moet verwerk, moet hulle ook erkenning gee aan die oorsaak van hulle probleme. Om ’n vriend te vertrou en oor die trauma te praat, of om met ervare terapeute te gaan gesels om erkenning te gee aan wat in jou lewe gebeur het, kan baie help.

  • Hoe help jou geloof jou in moeilike omstandighede?

Riglyn: Jesus het juis aarde toe gekom vir mense wat seerkry. Al het Hy nie uitsluitlik gesterf vir mense wat deur die samelewing verwerp word nie, is die hoop wat ons uit die evangelie ontvang juis gerig op mense wat behoeftig is of seergekry het. Terwyl die wêreld of omstandighede ons soms uitsny of afsny, trek Jesus ons nader. Soos in die lewe van die Emmausgangers bly ons omstandighede soms presies dieselfde, maar ons gesindheid teenoor ons situasie verander omdat ons vanuit Jesus se lyding en opstanding daarna kan kyk.

Vat saam
Staan saam in ’n kring. Laat almal hulle arms na binne uitstrek en hulle hande opmekaar stapel. Deel dan die volgende met die groep:

Saam is ons God se kinders, deel van sy familie. Ons elkeen is gebroke en deel van ’n stukkende wêreld. Dalk ervaar ons gebrokenheid in ons groep. Ons kies egter om te word wat ons reeds in Christus se oë is. Kyk mekaar in die oë en sê.

  • Ons is die gemeenskap van gelowiges.
  • Ons is hier vir mekaar.
  • Ons is kosbaar.
  • Ons kan mekaar in moeilike tye vashou en ondersteun.

Daag die groep uit om ’n oor, oog en hand vir mekaar te wees.

Deel dan hierdie inligting met die jongmense:

As jy deur ’n moeilike tyd gaan, gaan gesels met iemand wat jou kan ondersteun. Jy hoef nie alleen deur hierdie trauma en seerkry te gaan nie. Gaan praat met jou predikant, ’n sielkundige of iemand wat jy vertrou.

Hier is noodnommers wat julle kan bel:
Bipolêre hulplyn: 0800 70 80 90
Selfdood-krisishulplyn: 0800 567 567 of SMS 31393
Besoek die webwerf: www.sadag.org

 

Sluit af met gebed.

© Missio 2024 | All rights reserved.