Lied 583

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. U het ek lief, U roep ek aan!
Na wie toe anders sal ek gaan
in al my donkerhede?
Dis U wat lewenswoorde spreek,
U is die brood vir my gebreek -
net U gee my weer vrede.
Ek wil met Petrus saam bely:
U is die Christus ook vir my.
Verlosser, Heiland, Lam geslag,
o Vors van vrede, lank verwag,
U roep ek aan, o Jesus Heer!
U sal ek eer.
U sien op my in liefde neer.

2. Ag, Heer, laat eng'lehande my
wanneer ek sterwe, juigend bly
gelei tot in u woning!
Die liggaam keer tot stof en puin,
tot met die klank van die basuin,
en U weer kom as Koning!
Dan staan ek op, deur U gewek,
dan word u heerlikheid ontdek
waar U, in majesteit getroon,
vir ewig onder eng'le woon!
Ek roep U aan, o Jesus, Heer!
U sal ek eer.
Sien in genade op my neer!

Geskiedenis

Teks 
Die oorspronklike gedig “Herzlich lieb hab ich dich, o Herr” is geskryf deur Martin Schalling wat dit op 2 Julie 1569 aan die einde van ’n preek ingevoeg het. Dit is die enigste bekende liedteks van Schalling. Dit is waarskynlik tussen 1567 en 1569 in Amberg geskryf en vir die eerste keer gepubliseer in Kurtze und sonderliche Newe Symbola etlicher Fürsten von Gastritz (Nürnberg, 1571). Dit is gebaseer op Psalms 18 en 73 in die Duitse Bybel: “Herzlich lieb hab’ ich dich, o Herr”. 

Izak de Villiers (#153) en André Hugo (#282) het onderskeidelik die eerste en tweede strofes van die Afrikaanse weergawe in die 1978-bundel geskryf na aanleiding van die teks van Schalling. De Villiers het die teks hersien in die Liedboek (2001). 

Martin Schalling (*21 April 1532, Straatsburg; †19 Desember 1608, Nürnberg) was die seun van ’n pastor in Straatsburg waar hy as kind reeds kennis maak met die reformasie soos verkondig deur Martin Bucer (1491-1551). Hy skryf in aan die Universiteit van Wittenberg waar hy teologie studeer by Philipp Melanchthon (14971560) en Nicolaus Selnecker (1532-1592). 

Nadat hy ’n MA-graad behaal het, bly hy vir ’n ruk aan in Wittenberg as dosent voordat hy in 1554 as pastor (diakonus) na Regensburg gaan. Alhoewel hy beskryf word as ’n gematigde en vredeliewende man, werk hy in tye van groot ontwrigting en kontroversie in Protestantse Duitsland. Hy word in 1558 gedwing om sy pos te ontruim vanweë sy preke teen die leerstellings van Matthias Flach (c 1520-1575) en gaan na Amberg, Bavarië. Hy bly daar vir 10 jaar totdat keurvors Friedrich III besluit om die Calvinistiese orde van die diens aan te neem. Alle Lutherse geestelikes, insluitende Schelling, wat nie hiermee wou inval nie, is geskors. In hierdie tyd ontstaan sy gedig: “Herzlich lieb hab ich dich, o Herr”. Schalling word egter toegelaat deur die seun van die keurvors, hertog Ludwig, om die Lutherane in Vilseck naby Amberg te bedien. Toe Ludwig, na die dood van Friedrich III, die keurvors van die Oberpfalz word, maak hy Schelling die superintendent van Oberpfalz en die hofprediker van Heidelberg. Later, toe die geestelikes van Oberpfalz gedwing was om die Formula of Concord (1576/1577) te onderteken waarin die Lutherane sterk afkeur vir Calvinisme uitgespreek het, was Schelling huiwerig en word hy verdryf uit die hof en beperk tot sy huis vanaf 1580-1583. Hy bly daarna vir ’n tyd lank in Altdorf en word in 1585 aangestel as pastor van Marienkirche in Nürnberg. Hy word deur blindheid gedwing om af te tree. 

Melodie
Die komponis van die melodie HERZLICH LIEB HAB ICH DICH, O HERR wat met hierdie lied geassosieer word, was vir lank onbekend. Daar word nou aanvaar dat Matthias Gastritz, orrelis in Amberg, waarskynlik die melodie geskryf het vir die teks van Schalling en dit gepubliseer het as ’n vyfstemmige lied in Kurtze u. sonderliche Newe Symbola etlicher Fürsten und Herrn, neben andern mehr schönen liedlein mit fünff und vier Stimmen, auff alle Instrument zu gebrauchen gantz dienstlich, Componirt (Nürnberg, 1571). Volgens die 16de-eeuse tradisie is die melodie in die tenoorstem geplaas. Die volgende publikasie daarvan was in Zwey Bücher einer neuen Künstlicher Tabulatur auff Orgel und Instrument (Straatsburg, 1577) wat saamgestel is deur Bernhard Schmid. Hierin het die melodie ’n vokale en instrumentale weergawe. Schmid het moontlik die verwerking gedoen. 

Matthias Gastritz (Castricus) (*c 1535; †9 Desember 1596, Amberg) is op 22 Desember 1561 aangestel as orrelis van die stad Amberg en behou hierdie pos tot met sy bedanking in 1589. Hy publiseer etlike belangrike versamelings met meerstemmige liedere in die motetstyl: Novae harmonicae Cantiones et piae ita etiam suaves et jucundae, quinque vocibus concinnatae, et nunc primum in lucem editae (Nürnberg, 1569), Carmina latina quatuor vocum (Nürnberg, 1569) en Kurtze vnd sonderliche Newe Symbola etlicher Fürsten vnd Herrn, neben andern mehr schönen Liedlein mit fünff vnd vier Stimmen (Nürnberg, 1571). Laasgenoemde is deur Gastritz gedateer as 14 Februarie 1571 in Amberg in die Oberpfalz. 

Bernhard Schmid (die ouere) (*c 1535, Straatsburg; †1592/1593, Straatsburg) word in 1560 aangestel as die orrelis van die Thomaskerk in Straatsburg en dien vanaf 1564 tot 1592 as orrelis van Münster in dieselfde stad. Sy Zwey Bücher einer neuen Künstlicher Tabulatur auff Orgel und Instrument (Straatsburg, 1577) is ’n belangrike versameling van 16de-eeuse orrelmusiek en Duitse, Franse en Italiaanse instrumentale musiek. 

Bronne 
Cillié: 458-459; CGLB: 634-636; CWH: 453; Fürstenau: 408; HC: 613-614; HCLBW: 381382; KLEG: 270; www.bach-cantates.com