Lied 582

Sections

Lirieke

1. Bly by my, Heer, terwyl die skemer daal;
laat steeds u lig my lewenspad bestraal!
Daar is geen ander hulp of troos vir my
Hulp van die hulpelose, bly my by!

2. My lewensdag begin alreeds te kwyn;
sy vreugde en sy glans is aan verdwyn;
die tyd laat niks hier onveranderd bly
o Heer wat nooit verander, bly my by!

3. U wat ons nooit verlaat nie, goeie Heer,
weet om met swakke mense te verkeer.
Gaan pyn en lyding soms bo my verstand,
weet ek U hou, onwrikbaar, nog my hand.

4. U bystand is so kosbaar elke uur;
deur u genade leer ek leed verduur.
Waar is daar ooit 'n beter lig te kry?
U Gees bly immer ons onfeilbaar by.

5. Gou daag die lig; die nuwe aarde bly
van alle sonde, dood en smarte vry!
Dood, wie sou skrik?
Graf, wat sou my laat beef?
My toekoms is gewis, want Jesus leef!

Geskiedenis

Teks 
Die teks van die geliefde lied “Abide with me” is geskryf deur Henry Lyte (#203), waarskynlik in 1846 of 1847. Die presiese datum is onseker. In ’n artikel in The Spectator (3 Okt 1925) word dit gestel dat Lyte dit in 1820 geskryf het nadat hy ’n sterwende vriend besoek het. In ’n brief aan sy dogter Julia gedateer Augustus 1847 het Lyte egter ’n kopie van die lied ingesluit en daarna verwys as “my latest effusion”. Volgens oorlewering het hy die teks tesame met die melodie wat hyself daarvoor geskryf het, oorhandig aan ’n familielid op 4 September 1847 nadat hy vir die laaste keer gepreek en die nagmaal in sy gemeente bedien het. Dit is gesing tydens sy begrafnisdiens. 

Die teks verskyn in Nederlands in Die Halleluja (1903) en die aanvangsreël lui: “Blijft met mij Heer! De avondschaduw neigt”. In Die Nuwe Halleluja (1931) is dit vertaal in Afrikaans as “Bly by my, Heer, terwyl die skadu’s daal”. Attie van der Colf (#169) het die teks gewysig en die oorspronklike agt strofes ingekort tot vyf in die 1978-bundel. Hierdie stem ooreen met strofes 1, 2, 5, 6, en 7 van Lyte. Van der Colf het die teks weer effens gewysig vir die weergawe in die Liedboek (2001). 

Melodie 
Die melodie EVENTIDE is geskryf deur Henry Monk (#376) vir Lyte se teks en gepubliseer in die oorspronklike uitgawe van Hymns Ancient and Modern (1861). Lyte se eie melodie is nie aanvaar vir die bundel nie. Tydens die afronding van Hymns Ancient and Modern het Monk besef dat daar geen melodie vir hierdie teks was nie en het hy dit glo gou gaan komponeer in 10 minute. Ander weergawes lui egter dat hy dit in die teenwoordigheid van sy vrou geskryf het terwyl die paar na ’n sonsondergang gekyk het in ’n tyd van droefheid. 

Bronne 
CDH; Cillié: 444-446; HCLBW: 342-343.