1. Wie op die Heer vertrou in lyding
en op Hom steun, selfs in gevaar,
is deur Hom seker van bevryding
en van sy redding: ewig, waar.
Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.
Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.
Teks
Georg Neumark (#273) het hierdie lied op 20-jarige leeftyd geskryf as danklied na vele uitreddings (sien ook Lied 273). “Wer nur den lieben Gott lässt walten” verskyn vir die eerste maal in Fortgepflanzer musikalischpoetischer Lustwald (Jena, 1657) wat deur Neumark uitgegee is. Dit is nog ’n kerklied wat geskryf is tydens die oproer van die Dertigjarige Oorlog. In die herfs van 1641 het Neumark met ’n groep tussen Leipzig en Lübeck gereis. Buite Magdeburg is hy beroof van alles wat hy gehad het buiten ’n gebedeboekie en ’n bietjie geld wat in die some van sy klere vasgewerk was. In plaas daarvan om, soos hy beplan het, verder te reis na die Universiteit van Königsberg, draai hy terug na Magdeburg. Hier soek hy vergeefs vir werk. Ook reise na Lüneberg, Winsen en Hamburg lewer vir hom geen werk nie. In Desember gaan hy na Kiel waar regter Stephan Henning hom aanbeveel as onderwyser vir ’n plaaslike familie. Neumark skryf oor hierdie gebeure in sy laaste gepubliseerde werk Tränendes Haus Kreuz (1681): “Die goeie geluk wat so skielik en onverwags na my kant toe gekom het, asof uit die hemel, het my hart so verbly dat ek op dieselfde dag die nou bekende lied “Wer nur den lieben Gott lässt walten” ter ere van my geliefde Heer geskryf het. Ek het genoeg rede gehad om God te dank vir die genade aan my bewys”.
Abraham Rutgers (#151) het die teks in Nederlands vertaal en dit is opgeneem in die Evangelische Gezangen (1806). “Wie maar de goeden God laat zorgen” word ook baie geliefd in Suid-Afrika. GBA Gerdener (#157) vertaal dit vir Die Nuwe Halleluja (1931) in Afrikaans en dit word hersien vir opname in die AGB (1944). In die 1978-bundel is die teks gewysig deur Gerjo van der Merwe (#151) en die eerste reël lui soos volg: “Wie op die Heer vertrou in lyding”. Van der Merwe se teks is egter gewysig deur Karen de Wet (#267) vir die weergawe in die Liedboek (2001). Die oorspronklike sewe strofes is verminder tot drie.
Melodie
Die melodie WER NUR DEN LIEBEN GOTT LÄSST WALTEN (NEUMARK) is ook geskryf deur Georg Neumark in 1641. Vir meer inligting sien Lied 273.
Bronne
CGLB: 970-973; CWH: 461; HC: 632-634; PHH: 611-612.