Lied 560

Sections

Lirieke

1. O Heer, wat U in guns oor my ontferm,
wil U my in die nag ook beskerm.
Bewaar my, Heer, van skade.
Gee, n· die nag, 'n nuwe dag
en skenk my ryklik u genade.

2. Heer Jesus, U't my veilig voortgelei -
U is nie ver nie, U staan my by.
U maak my vry van sorge.
U laat my rus; ek weet gewis:
Ek is met U in God geborge.

3. O Gees, U skenk u rus in my gemoed;
ek is verlos deur Jesus se bloed.
Ook eenmaal is my lewe
op aard' verby. Dan wy ek my
aan U vernuut, verlos, vergewe.

Geskiedenis

Teks 
Die teks “Mit meinem Gott geh’ ich zur Ruh” verskyn vir die eerste maal in Seth Calvisius se bundel Harmonia cantionum ecclesiasticarum (Leipzig, 1597). Een jaar later word dit ook gedruk in Johann Eccard (1553-1611) se Preussiche Festlieder (Königsberg). Daarom dink sommige outeurs dat die digter iemand moes gewees het met wie Eccard betrekkinge gehad het. Die naam van Ludwig Helmhold (1532-1598) kom na vore, maar hieroor is onsekerheid. Daar is ook al gespekuleer of Eccard nie self die digter was nie. Ander bronne noem dat die teoloog Cornelius Becker (1561-1604) die digter van die eerste strofe was. Hy was bevriend met Calvisius en digter van Der Psalter Davids (sogenaamde Becker Psalter, Leipzig, 1602). Nog twee strofes is bygevoeg in ’n latere Gesangbuch (Breslau, 1690). G Cillié (#366) het ’n vrye verwerking in Afrikaans gemaak (weliswaar vir koor) vir die FAKsangbundel (1961), maar die teks is gewysig deur Izak de Villiers (#153) toe die lied opgeneem is in die 1978-bundel. Die weergawe in die Liedboek (2001) is weereens gewysig deur De Villiers. 

Melodie 
Die melodie MEIN SCHÖNSTE ZIER UND KLEINOD BIST (ook bekend as IN DICH HAB ICH GEHOFFET, HERR) kom voor in die Lutherse prediker Gregor Sunderreiter se Himmlische Harfen (Leipzig, 1573). Dit is vir die eerste maal gedruk in Davids Himmlische Harpfenn (Nürnberg, 1581) in kombinasie met Adam Reusner (1496 tot c 1575) se teks “In dich hab ich gehoffet, Herr” (Ps 31) – vandaar ook die alternatiewe titel van hierdie melodie. In 1594 het Seth Calvisius die melodie as toonsetting vir Becker se teks gepubliseer in sy Harmonium cantionum ecclesiasticarum. 

Seth Calvisius (Kalbiz, Kallwitz) (*21 Februarie 1556, Gorsleben, Thüringen; †24 November 1615, Leipzig) was die seun van ’n eenvoudige dagloner, maar is vanweë sy mooi sangstem toegelaat tot die skool in Magdeburg as koorknaap. Hy besoek later ook die Gymnasium en Universiteit van Helmstedt. Vanaf 1580 studeer hy in Leipzig. Reeds in 1582 word hy as kantor en onderwyser in Hebreeus na Pforta (Schulpforta, Naumburg) beroep. In 1594 volg hy Valentin Otto (1529-1594) op as kantor in die Thomaskerk in Leipzig. Hy is nie net as komponis aktief nie, maar verwerf ook bekendheid as sterrekundige (hy korrespondeer met Johannes Kepler) en spraakwetenskaplike. Hy was bevriend met die teoloog Cornelius Becker en toonset laasgenoemde se psalmomdigtings drie- en vierstemmig. Van sy komposisies verskyn in Hymni sacri (1594), maar sy bekendste publikasie is Florilegium Portense (1603) waarin sewe motette van hom gepubliseer is. Met sy versameling Harmonia cantionum ecclesiasticarum (Leipzig, 1597) dra hy by tot die invoering van koorbegeleidings met sopraan cantus firmi in Leipzig na aanleiding van die hervormings van Andreas Osiander (1498-1552). 

Bronne 
CGLB: 858-860; Cillié: 531-532; CWH: 464-465, 920; EG: #474; KLEG: 53, 59; www.bach-cantates.com