Lied 559

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Die dag wat U in guns gegee het,
is weer verby, net soos ons taak,
en dankbaar kom ons lofgebede
tot U wat lig Èn donker maak.

2. Soos wat die een dag vir die ander
'n loflied oor u grootheid sing,
so kan u kinders, Hemelvader,
aan U voortdurend hulde bring.

3. Voortdurend klink die dankgesange,
die smeekroep en die lofgedig
tot U, die God van ons verlange,
wat ewig woon in helder lig.

Geskiedenis

Teks 
Die oorspronklike teks “The day Thou gavest, Lord, is ended” is deur John Ellerton geskryf in 1870 vir ’n versameling getiteld A Liturgy for Missionary Meetings. Dit is hersien vir insluiting in Church Hymns (1871) en weereens vir Ellerton se Hymns Original and Translated (1888). Die 1888-teks is gebruik totdat die lied in die Supplement (1889) tot die tweede uitgawe van Hymns Ancient and Modern (1875) gedruk is. Die lied is gesing tydens die Diamant-jubileum van koningin Victoria in 1897 en word onder meer ook gereeld gebruik by Evensong-dienste. Dit is ook in 1999 gesing tydens die seremonie toe Brittanje die beheer van Hong Kong na China oorgedra het. 

Attie van der Colf (#164) het die teks in Afrikaans verwerk en verkort vir die 1978-bundel en dit is met geringe wysigings oorgeneem vir plasing in die Liedboek (2001). 

John Ellerton (*16 Desember 1826, Londen; †15 Junie 1893, Torquay) was ’n student aan die King William’s College, Isle of Man, en Trinity College, Cambridge. Hy was die president van die Addison Society en verwerf die volgende grade: BA in 1849 en MA in 1854. Hy word ingeseën as diakonus in 1850 en in die volgende jaar as priester gewy. Vir die volgende tien jaar dien hy as kurator in Easebourne, Sussex (1850-1852), St Nicholas, Brighton, en was hy ook “Evening Lecturer” van St Peter’s (1852-1860). In 1860 word hy vikaris van Crewe Green, Cheshire en die kapelaan van Lord Crewe. Hy verhuis na die plattelandse gemeente in Hinstock, Shropshire in 1872. Vanaf 1876 werk hy in die gemeente van Barnes, in die suidooste van Londen. Vir die laaste jare van sy loopbaan was hy vikaris van White Roding, in Essex (1885-1892). 

Ellerton se prosaskryfwerk was van ’n geestelike en toewydingsaard (devotional) en sluit in The Holiest Manhood (1882) en Our Infirmities (1883). Dit is egter as kerkliedskrywer, samesteller van liedbundels, vertaler en himnoloog dat hy vandag onthou word. Hy het die uitgawe van Church Hymns with Notes and Illustrations (1881) saamgestel en ’n versameling van sy eie werke, Hymns Original and Translated (1888), is gepubliseer. Hy het ook belanggestel in kinderhimnodie en publiseer (met insluiting van enkele van sy eie kinderliedere) ’n versameling Hymns for Schools and Bible Classes (Brighton, 1859). Hy help ook met die samestelling van Mrs Carey Brock se Children’s Hymn Book (1881). 

Ellerton skryf altesaam byna 50 liedere. Een van sy eerste kerkliedere was “Sing Alleluia forth in duteous praise”. Van sy mees bekende liedere sluit in “Day by day we magnify thee”, “The day thou gavest, Lord, is ended”, “We sing the glorious conquest” en “Hail to the Lord who comes”. 

Ellerton was ook ’n toonaangewende himnoloog in sy tyd. In 1864 skryf hy vier artikels vir The Churchman’s Family Magazine oor sake rakende die gewensheid al dan nie van ’n enkele amptelike liedboek vir die gebruik in die Church of England en die beginsels waarvolgens liedboeke saamgestel behoort te word. Sy beduidendste bydrae tot die himnologie was egter ’n lesing, “Hymns and Hymn Singing”, wat hy gegee het by ’n kerkkongres in Stoke-on-Trent op 8 Oktober 1875. Hierin beskryf hy die bekendstelling van hymns as plaasvervanger vir die metriese psalms en beklemtoon die waarde daarvan vir evangelisasie en spesiale feeste en byeenkomste. Verder was dit vir Ellerton belangrik dat geestelikes sorg dra met die keuse van kerkliedere vir liturgiese gebruik. 

Melodie 
Vir meer inligting oor die melodie DIE TIEN GEBOOIE (Straatsburg, 1545), sien Lied 382. 

Bronne 
CDH; Cillié: 530.