Lied 548

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Ek weet Jesus lewe,
daarom is ek bly.
Selfs wanneer ek bang is,
weet ek Hy's naby.

2. Jesus is my koning
en van alles Heer,
ek kan Hom vertel van
al my pyn en seer.

3. Selfs wanneer ek stout is
of my sleg gedra,
sal Hy my vergewe
as ek Hom dit vra.

4. Ek weet Jesus lewe,
daarom is ek bly.
Ek is nooit alleen nie,
Hy is saam met my.

Geskiedenis

Teks 
“Freuet euch, ihr Kinder” is ’n Duitse kinderlied wat in die Grossheppacher Liederbuch für Kleinkinderpflegen (1947) voorkom. Die eerste uitgawe van die bundel dateer uit 1916. ’n Engelse weergawe van Harriet Burns MacKeever (1807-1887), “Jesus, high in glory”, is ook baie bekend en is reeds in die Amerikaanse Episkopale Kerk se Sunday School Harmonist (1847) opgeneem. Die Afrikaanse weergawe is geskryf deur Emma Badenhorst (#175) en het vir die eerste keer in die Jeugsangbundel 2 (1993) verskyn. Die teks is gewysig vir die Liedboek (2001) deur Karen de Wet (#267). 

Melodie 
ALLE JAHRE WIEDER (ook bekend as ABEND) is geskryf deur Johann C Rinck in 1827 vir Johann Wilhelm Hey (1789-1845) se gelyknamige teks. Dit verskyn onder meer in Sammlung von Liedern für Sonntagschulen und Jugend Vereine (1878). 

Johann Christian Heinrich Rinck (*18 Februarie 1770, Elgersburg, Thüringen; †7 Augustus 1846, Darmstadt) kry sy aanvangsopleiding in musiek van kerkmusici in omliggende dorpe. In 1786 word hy ’n leerling in Erfurt van Johann Christian Kittel, een van die laaste studente van JS Bach. In 1790 begin sy beroepsloopbaan as stadsorrelis in Giessen en in 1803 word hy benoem tot musiekdirekteur van die universiteit daar. In dieselfde jaar verhuis hy na Darmstadt waar hy, naas kantor en orrelis van die Stadtkirche, ook later as hoforrelis en kamermusikant van die groothertog Ludwig I optree. Hy speel ook viool in die hoforkes en was bekend as orrelboukundige raadgewer, orrelis en musiekonderwyser. In 1840 word ’n eredoktorsgraad deur die Universiteit van Giessen aan hom toegeken. Hy lewer veral ’n bydrae tot die verbetering van die standaard van orrelmusiek en orrelspel deur talryke publikasies wat ’n verskeidenheid koraalgebonde musiek insluit. Van belang is veral sy Praktische Orgelschule (Opus 55). 

Bronne 
Cyber Hymnal; Hymnary.org; Volksliederarchiv; www.deutsche-biographie.de; www.dohr.de