1. Hee Jesus, ek is klein,
maak u self my lewe rein
Laat ek altyd van U leer
laat ek grootword tot U eer.
O Jesus, neem my,
o Jesus, lei my,
o Jesus, sterk my
en vorm my tot u eer.
Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.
Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.
Teks
Anna Warner skryf die geliefde kinderlied “Jesu loves me, this I know” in 1859. Dit is gepubliseer in Say and Seal (Philadelphia, 1860), ’n novelle wat sy saam met haar suster, Susan, geskryf het. In hierdie nou vergete novelle word ’n sterwende seun getroos deur sy Sondagskoolonderwyser wat vir hom die oorspronklike vier strofes van die lied sing. Dit het in Nederlands bekend geword deur die vertaling in die bundel Kinderharp (1863) wat saamgestel is deur Charles Murray: “Jezus mint mij, zalig lot”. Dit is oorgeneem in Die Nuwe Halleluja (1931) met ’n Afrikaanse weergawe van GBA Gerdener. Attie van der Colf (#169) het Gerdener se teks hersien vir die 1978-bundel en die aanvangsreël lui nou “Here Jesus, ek is klein”. Van der Colf het die teks weer gewysig vir die Liedboek (2001).
Anna Bartlett Warner (*31 Augustus 1827, Long Island, New York; †22 Januarie 1915, Constitution Island, West Point, New York) verhuis saam met haar familie na ’n plaashuis op Constitution Island in 1837. Sy en haar suster, Susan, skryf heelwat populêre novelles. Anna gebruik ook die skuilnaam Amy Lothrop. Saam het die susters begin om Bybelklasse vir die kadette van West Point Military Academy aan te bied. Die soldate is per veerboot na die Warner-huis op Constitution Island geneem. Na haar dood, is Warner met militêre eerbewys begrawe in West Point as eerbetoon vir hierdie werk wat sy gedoen het. Sy skryf toewydingspoësie en stel twee liedversamelings saam: Hymns of the Church Militant (1858) en Wayfaring Hymns, Original and Translated (1869). Warner skryf ook Sondagskoolliedere en vertaal kerkliedere uit Frans en Duits. Bekende liedere deur Anna Warner sluit in “We would see Jesus, for the shadows lengthen” en “The world looks very beautiful”. Die lied wat haar egter beroemd gemaak het, is “Jesus loves me! this I know”.
Melodie
William B Bradbury skryf die melodie JESUS LOVES ME in 1861 vir die teks van Warner en voeg ’n refrein by. Hy publiseer dit in sy Sondagskoolboek The Golden Shower (1862). Die melodie staan ook bekend as CHINA vanweë die gewildheid daarvan onder die Chinese kinders aan wie dit deur sendelinge bekendgestel is.
William Batchelder Bradbury (*6 Oktober 1816, York, Maine; †7 Januarie 1868, Montclair, New Jersey) stam uit ’n musikale familie wat hom op ’n vroeë ouderdom reeds aangemoedig het om verskillende instrumente te leer speel. In 1830 trek sy familie na Boston. Hier studeer hy musiek by die orrelis, Sumner Hill, en woon ook die Boston Academy of Music by waar hy onder Lowell Mason (#201) en George James Webb (#421) studeer. Hy sing ook in Mason se Bowdoin Street Kerkkoor. In 1840 word hy aangestel as koorleier van die First Baptist Church in Brooklyn, New York, en in 1841 as orrelis van die Baptist Tabernacle in New York City. Bradbury studeer van 1847 tot 1849 in Europa. In Leipzig word hy onderrig deur EF Wenzel, Ignaz Moscheles en Moritz Hauptman. Met sy terugkeer na New York word hy orrelis van die Broadway Temple in 1850. Hy word veral bekend vir sy musiekonderrig aan kinders. Hy organiseer sangklasse vir kinders wat later ontwikkel het tot sangfeeste wat die onderrig van musiek in die publieke skole in New York gestimuleer het. In 1854 begin hy en sy broer, Edward, om klaviere te bou – ’n onderneming wat later die Bradbury Piano Company geword het. Hy skryf, redigeer of publiseer meer as 50 versamelings van populêre musiek en talle boeke met kerkliedere in: The Psalmodist (1844) en Golden Shower Sunday School Melodies (1862). Baie van sy liedere was bedoel vir gebruik deur kinders. Daar word soms na hom verwys as die vader van die Amerikaanse Sondagskoolhimnodie. Sy kinderliedversamelings sluit in The Golden Chain (1861), The Golden Censer (1864), en Fresh Laurels (1867). Naas die kerkliedere komponeer hy ook twee kantates: Daniel (1853) en Esther, the beautiful queen (1856).
Baie geliefde populêre Amerikaanse melodieë vloei voort uit sy pen. Hy skryf eenvoudige melodieë wat maklik was om te onthou. Onder die meer as 900 van sy melodieë is die bekendstes “Jesus loves me! this I know” (JESUS LOVES ME), “Just as I am, without one plea” (JUST AS I AM), “Sweet hour of prayer” (SWEET HOUR), “Saviour like a shepherd lead us” (SHEPHERD of BRADBURY), en “He leadeth me! O blessed thought” (HE LEADETH ME). Hierdie melodieë word vandag nog wyd gebruik in Amerikaanse kerke.
Bronne
CDH; Cillié: 433-434; HC: 433-434; PHH: 249, 746-747.