Lied 541

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Ons bring aan U, Heer Jesus,
ons lof en dank en eer.
Ons wil U met ons lewe,
terwyl ons jonk is, eer.

Beheer ons hart en lewe,
o Here, deur u Gees.
Laat al ons doen en late
vir U 'n vreugde wees.

2. Ons wil U dien, Heer Jesus,
met ywer en met krag.
Help ons om as u kinders,
te doen wat U verwag.

Beheer ons hart en lewe,
o Here, deur u Gees.
Laat al ons doen en late
vir U 'n vreugde wees.

3. Ons wil U volg, Heer Jesus,
soos wat u Woord ons leer.
Leer ons gehoorsaam lewe,
om U al meer te eer.

Beheer ons hart en lewe,
o Here, deur u Gees.
Laat al ons doen en late
vir U 'n vreugde wees.

Geskiedenis

Teks 
Die herkoms van die lied kan teruggevoer word na die teks van eerwaarde Tutin Thomas “We want the young for Jesus”, wat saam met Mountain se melodie in 1877 gepubliseer is in Ira D Sankey se Sacred Songs and Solos. Die latere teks in die Nederlandse Halleluja (1903) het as verwerking daarvan ontstaan. Die Afrikaanse teks “O, bring die dierbre Jesus” is in Die Nuwe Halleluja (1931) gepubliseer onder die kinderliedere. Dit het, soos Thomas se teks, vyf strofes en ’n refrein en sluit nou aan by hierdie teks. Jacques Louw (#304) het ’n nuwe teks geskep vir die Liedboek (2001) toe enkele liedere uit die Halleluja hersien is vir opname in hierdie bundel. 

Richard Tutin Thomas (*1842; †1895) is gebore in Engeland, maar sy ouers emigreer kort na sy geboorte na Kanada. Hy word later ’n lidmaat van die Church of Christ in Toronto. Na teologiese studies aan die Congregational College in Montreal word hy as predikant in Toronto ingeseën. As gevolg van siekte word hy gedwing om terug te keer na die meer gematigde klimaat in Engeland. Hy word bevestig as predikant van die kerk in Pimlico in die suide van Londen. Hy tree uit die pastoraat toe hy aangestel word as die agent vir die Frans-Kanadese Sendingvereniging, maar word tog later weer aangestel as assistant-prediker van die kerk in Mile End, Suid-Londen. Op 18 Mei 1884 word hy bevestig as predikant in United Reformed Church in Great Chishill. Ten spyte van sy swak gesondheid word Thomas beskou as ’n energieke leier en onderneem hy talle projekte in die gemeente. So word ’n orrel aangekoop vir die begeleiding van kerliedere tydens die liturgie. Hy skryf ook self ’n aantal kerkliedere. Hy is ook betrokke by die stigting van die Dorcas Society in 1884 en die Religious Tract Society in 1887. Hy bedank in 1889 weens swak gesondheid, maar herstel in so ’n mate dat hy in 1892 weer ’n pos aanvaar in Therfield, waar hy drie jaar later sterf. 

Melodie 
Die melodie is geskryf deur James Mountain, maar verdere inligting ontbreek. Dit kom wel voor in die uitgebreide en vergrote uitgawe van ID Sankey se Sacred Songs and Solos: Twelve Hundred Pieces (Londen, 1877) waar dit geplaas is onder die afdeling: Hymns for Young People. Die teks lui “We want the young for Jesus” en is geskryf deur R Tutin Thomas. Die melodie in Sacred Songs stem presies ooreen met die weergawe in die Liedboek (2001). 

James Mountain (*16 Julie 1844, Leeds, Yorkshire, Engeland; †27 Junie 1933, Tunbridge Wells, Kent) studeer aan die Gainford Academy (Darlington), Rotherham College, Nottingham Institute en Cheshunt College. Hy studeer ook later in Heidelberg en Tübingen. Hy word pastor van Great Marlow, Buckinghamshire, en bedien ook die kerk van die hertogin van Huntingdon in Tunbridge Wells (1889-1897). Nadat hy ’n Baptis geword het, stig hy die St John’s Free Church in Tunbridge Wells. Mountain is grootliks beïnvloed deur die werk van Moody en Sankey en hou evangelisasieveldtogte in Brittanje (1874-1882) en wêreldwyd (1882-1889). As evangelis fokus hy veral op die sogenaamde “Gospel hymns” en liedere wat handel oor persoonlike verlossing. Sy werk sluit in: Hymns of Consecration and Faith, and Sacred Songs for Missions, Prayer and Praise Meetings (1876) en Evangelical Hymns. Edited and composed by Rev J. Mountain: and sung by him at his evangelistic services (1881). Sy melodieë was welbekend en is gereeld gebruik in die laat 19de eeu in Brittanje en Amerika. Baie van hulle verskyn in die 1896-uitgawe van The Christian Choir, waarvan Ira D Sankey en James McGranahan die redakteurs was. Drie van sy melodieë het veral bekendheid verwerf: EVERLASTING LOVE, TRANQUILITY en WYE VALLEY (“Like a river glorious” op ’n teks van Frances Ridley Havergal). 

Bronne 
CDH; CWC: 308; ehymnbook.org; Hymnary.org; Rooke: 19-20.