Lied 532

Sections

Lirieke

1. Ons Vader, neem ons hande
en maak ons één.
Versterk u self die bande -
gee ons u seën.
Bind ons in u genade aan U, o Heer,
en leer ons om met dade u Naam te eer.

2. Heer, wees vir ons 'n Vader
wat sorg en sien.
Trek ons in Christus nader
om U te dien.
Laat, Heer, u Gees ons voorgaan,
laat Hy ons lei,
dat ons u Woord gehoorsaam,
ons aan U wy.

3. Leer ons mekaar vergewe,
mekaar vertrou.
Laat ons die hele lewe
op liefde bou.
Laat heers oor ons u vrede,
en bind ons saam.
Verhoor tog ons gebede
in Jesus Naam.

Geskiedenis

Teks 
Julie (von) Hausmann se lied van vertroue “So nimm denn meine Hände” verskyn in die eerste volume van ’n versameling met haar gedigte: Maiblumen, Lieder einer Stille im Lande, dargereicht von G Knak (Berlyn, 1862). Dit is in Afrikaans vertaal in Die Nuwe Halleluja (1931) as “O Heiland, neem my hande”. Hans Du Plessis (#261) het dit gewysig na “O Vader, neem ons hande” in Sing onder mekaar (1988) in navolging van Hausmann se teks. Die teks is gewysig deur Andries Breytenbach (#151) vir die Liedboek (2001). 

Julie Katharina Hausmann (*7 Maart 1826, Riga, Latvië; †15 Augustus 1901, Wösso, nou Võsu, Estonië) se gesin verhuis kort na haar geboorte na Mitau waar haar vader aan die Gymnasium onderrig gegee het. Die familie was van Duitse herkoms, maar het hulle tuiste gevind in die Russiese Baltiese provinsie. Haar vader word ’n stadsraadlid en dit maak hom deel van die aristokrasie. Hulle van word gevolglik verander na Von Hausman. Alhoewel sy skaam was en nie fisies sterk nie, was sy baie slim. Sy word onderrig deur private onderwysers. Sy was van plan om met ’n teologiese graduant wat in Oos-Afrika as sendeling gewerk het te trou, maar toe sy daar aankom, het hy reeds gesterf weens die tropiese koors. Sy keer terug na Latvië waar sy 14 jaar as goewernante werk. Gedurende hierdie tyd skryf sy “So nimm denn meine Hände”. Na haar ma se dood in 1859 moes sy haar sieklike vader versorg. Hulle verhuis na Riga in 1861 waar haar vader gesterf het. Van 1866 tot 1870 bly sy by haar jonger suster, Johanna, wat orrelis was van die Engelse kerk in Biarritz in Suid-Wes Frankryk. In 1870 gaan hulle na St Petersburg om ’n ouer suster te besoek. Hierdie suster, Elizabeth, was die direkteur van die St Anna skool wat aangrensend was aan ’n huis vir armes. Die susters werk gelukkig saam vir baie jare. Na die dood van twee van haar susters in 1896 en 1898 gaan sy na die kusoord Wössö in Estonië. Ten spyte van ’n hoë ouderdom en swak sig het sy voortgegaan om te skryf en vrywilligerswerk onder die armes te doen. Sy publiseer ’n boek met geestelike oordenkings, Hausbrot, maar nooit van haar gedigte nie. Terwyl sy in Riga was, het ’n vriendin, Olga von Karp, sommige van haar gedigte gesien en aan pastor Gustav Knak in Berlyn gestuur. Hy wou die hele versameling publiseer. Julie het ingestem op voorwaarde dat dit anoniem moes geskied en die opbrengs aan ’n hospitaal en kinderhuis in Hong Kong gaan. Die versameling was getiteld Maiblumen, Lieder einer Stillen im Lande, dargerecht von G.Knak. Die eerste volume wat in 1862 gepubliseer is, het “So nimm denn meine Hände” ingesluit. 

Melodie 
SO NIMM DENN MEINE HÄNDE is gekomponeer deur Friedrich Silcher (#352) en gedruk in sy Kinderlieder für Schule und Haus Vol III (Tübingen, 1842) waar dit verskyn by die teks “Wie könnt ich ruhig schlafen”. SO NIMM DENN MEINE HÄNDE is vir die eerste keer gepubliseer met Hausmann se teks in die Grosse Missionsharfe (Gütersloh, 1883). 

Bronne 
CWH: 456-457; KLEG: 134, 301; HC: 629-330; HCLBW: 389-390.