Lied 530

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Praat ek mense-, eng'letale,
maar dis nie uit liefde nie,
is my woorde hol simbole:
klanke sonder melodie.
Al kan ek geheime uitlê,
berge deur geloof versit,
of al het ek al die kennis -
sonder liefde is ek niks.

2. Sonder liefde sal my gawes,
al my ywer, my nie baat:
Net die liefde, onbaatsugtig,
bly oorwin met goed die kwaad.
Onreg kan dit nie verdra nie,
dit is met die waarheid bly.
Deur vergifnis, hoop, verwagting,
kom die beste in ons vry.

3. Al die tale, profesieë,
met die tyd gaan dit verby.
Net die liefde, die volmaakte,
kom en sal vir altyd bly.
Want geloof gee troos en rigting;
na die toekoms reik die hoop -
liefde is en bly die grootste:
Liefde sluit die lewe oop.

Geskiedenis

Teks 
Hierdie teks van Attie van der Colf (#169) is nuut geskryf vir die Jeugsangbundel (1984) en is gebaseer op 1 Korintiërs 13. Die teks is gewysig toe dit opgeneem is in die Liedboek (2001). 

Melodie 
ODE AN DIE FREUDE (ook bekend as HYMN TO JOY) is gekomponeer deur Ludwig van Beethoven in 1824 vir CF von Schiller (1759-1805) se teks “Freude, schöner Götterfunken, Tochter aus Elysium” wat hy gebruik het in die vierde beweging van die negende simfonie (Opus 125). Dit is aangepas as ’n kerkliedmelodie (drie verskillende tekste) deur Elam Ives in sy Mozart Collection (New York, 1846). Edward Hodges het ’n kerkliedteks hiervan gemaak wat in SP Tuckerman se The Trinity Collection of Church Music (New York, 1864) gepubliseer is. Die melodie is later in die Presbyterian Hymnal (1911) verbind met die teks “Joyful, joyful we adore you”, wat geskryf is deur Henry J van Dyke (1852-1933) in 1907. Daarin word die melodie HYMN TO JOY genoem. Die melodie is ritmies aangepas in die Liedboek (2001). 

Ludwig van Beethoven (*17 Desember, 1770, Bonn; †26 Maart 1827, Wene) is gebore in ’n arm gesin. Sy oupa en vader was albei musikante. Hy studeer aanvanklik musiek by sy vader wat ’n hofsanger was. Hierna ontvang hy onderrig by Christian Gottlob Neefe (1748-1798). Op 11-jarige ouderdom was hy plaasvervanger vir die hoforrelis in Wene, op 12 jaar begeleier vir die hoforkes en op 14 assistent-hoforrelis. In 1788-1792 was hy violis in die teater-orkes. Later word hy ook bekend as dirigent. Beethoven se oeuvre beslaan verskeie genres en sluit in 9 Simfonieë, 32 Klaviersonates, 16 Strykkwartette en die Missa Solemnis. 

Elam Ives (*7 Januarie 1802, Hamden, Connecticut; †10 Februarie 1864, Hamden, Connecticut) was ’n musiekonderwyser en kerkmusikus in Connecticut. Hy werk ook in New Haven en op 19 Oktober 1827 word hy aangestel deur Christ Church in Hartford om musiekonderrig te gee. Hy verhuis na Philadelphia in 1830 waar hy werksaam was by die Philadelphia Musical Seminary as viool-, klavier-en sangonderwyser. In 1836 vestig hy hom in New York waar hy ook ’n musiekskool stig. Hy is beïnvloed deur die Switserse opvoedkundige, Johann H Pestalozzi (1746-1827) en het op sy beurt weer invloed gehad op Thomas Hastings (1784-1872) en Lowell Mason (#201). Naas sy werk in sangpedagogie stel hy saam met Deodatus Dutton (1808-1832) ’n versameling kerkliedmelodieë saam, naamlik American Psalmody (Hartford, 1829). Saam met Mason werk hy aan die Juvenile Lyre (Boston, 1831), ’n versameling met driestemmige kinderliedere wat die gewilde lied “Suffer little children to come unto me” insluit. 

Edward Hodges (*20 Julie 1796, Bristol; †1 September 1867, Clifton) studeer in Cambridge en behaal ’n DMus-graad in 1825. Hy was orrelis in verskeie kerke in Clifton en Bristol. Hy verhuis na Amerika in 1838. Sy eerste aanstelling as orrelis was by die katedraal in Toronto. In 1839 word hy orrelis van die St John Episkopaalse kerk in New York en in 1847 van die Trinity Church in New York. Hy keer terug na Engeland in 1863. Tydens sy verblyf in Amerika publiseer hy An Essay on the Cultivation of Church Music (1841). 

Bronne 
CWC: 97, 270; HC: 718-719; HCHAM: 676; Hymnary.org; PHH: 395.