Lied 528

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Leer my u wil, Heer, u doel met my -
U, Pottebakker, met my, die klei.
Vorm my en maak my volgens u wil;
op U vertrou ek, nederig stil.

2. Leer my u wil, Heer, u plan vir my;
laat ek nie doelloos, nutteloos bly.
Hou my erkentlik, Heer, in u werk:
As ek dan swak is, maak U my sterk.

3. U gee u gawes net soos U wil;
almal is diensbaar, elk met verskil.
Vul met u Gees my, breekbare kruik,
dat U my oral nuttig gebruik.

Geskiedenis

Teks 
“Have Thine own way, Lord” is geskryf deur Adelaide Pollard in 1902. In hierdie tyd was sy onder konstante druk om geld in te samel sodat sy as ’n sendeling na Afrika kon gaan. Sy het in 1902 ’n gebedsbyeenkoms bygewoon waar ’n ouer vrou die volgende gebid het: “It really doesn’t matter what you do with us, Lord – just have your way with our lives”. Pollard is huis toe en het nagedink oor die verhaal van die pottebakker in Jeremia 18 (dieselfde beeld word ook gebruik in Jesaja 64:8). Met die herhaling van die woorde “Have thine own way” aan die begin van elke strofe word die instemming van die gelowige met God se wil beklemtoon. Dit is ’n diep persoonlike gebed. Die teks is gepubliseer in George Coles Stebbins (1846-1945) se Northfield Hymnal with Alexandre’s Supplement (Chicago, 1907). 

Die lied kry ’n Afrikaanse teks in Die Nuwe Halleluja (1931): “Doen slegs u wil, Heer”. Attie van der Colf (#169) het die teks verwerk vir die Jeugsangbundel (1984) en Sing onder mekaar (1989) en dit ook hersien vir die Liedboek (2001). 

Adelaide Addison Pollard (*27 November 1862, Bloomfield, Iowa; †20 Desember 1934, New York City) se doopnaam was Sarah, maar sy eien later die naam Adelaide vir haarself toe. Sy studeer aan die Boston School of Oratory en gee onderrig aan verskeie meisiesskole in Chicago, Illinois. Onder die invloed van die evangelis RA Torrey skryf sy in as ’n student aan die Moody Bible Institute in Chicago en gee later onderrig aan die Missionary Training School of the Christian Missionary Alliance in Nyak-on-the-Hudson, New York. Sy was ’n sendeling in Afrika voor die Eerste Wêreldoorlog en bring die oorlogsjare in Skotland deur. Met haar terugkeer na die VSA wy sy die laaste jare van haar lewe aan Christelike mistisisme. Haar gedigte is gepubliseer in The Vision (Brooklyn, New York, 1912) en Life Lessons in Quatrains. Sy word hoofsaaklik onthou vir die lied “Have thine own way, Lord”. 

Melodie 
George Stebbins het die melodie ADELAIDE gekomponeer vir die teks van Pollard en vernoem die melodie na haar. Geliefd onder baie Christene, is die melodie en teks vir die eerste keer saam gepubliseer in Stebbins se versameling Northfield Hymnal with Alexander’s Supplement in 1907. Dit is ook in dieselfde jaar gepubliseer in verskeie van Ira D Sankey se liedboeke waaronder Hallowed Hymns New and Old. 

George Cole Stebbins (*26 Februarie 1846, East Carlton, New York; †6 Oktober 1945, Catskill, New York) was ’n prominente Baptiste komponis en musiekleier van die herlewingsbewegings in die Verenigde Koninkryk en die VSA van die laat 19de- en vroeg 20ste eeu. Op die ouderdom van 13 skryf hy in vir sanglesse. Hy word so betower deur musiek dat hy besluit om dit sy loopbaan te maak. Hy studeer musiek in Buffalo, New York City en Rochester. In 1869 verhuis hy na Chicago waar hy gewerk het by die Lyon and Healy Music Company en musiekdirekteur word van die First Baptist Church. Daar leer hy ook van die beroemde “gospel”- musici soos GF Root (1820-1895), PP Bliss (1838-1876) en Ira D Sankey (1840-1908) ken. In 1874 verhuis hy na Boston en word musiekdirekteur van die Clarendon Baptist Church en later van die Tremont Temple Baptist Church. Hy word geassosieer met Dwight L Moody en Sankey vanaf 1896 tot 1899. Hy reis saam met hulle op evangelisasieveldtogte deur Engeland en die VSA sowel as Indië, Egipte en Palestina. In samewerking met Sankey en James McGranahan (1840-1907) het hy drie uitgawes van Gospel Hymns (18781891) geredigeer en uitgegee. Hy was ook die redakteur van The Northfield Hymnal (1904) wat gebruik is vir Moody se Bible Conference in Massachusetts. Hy volg vir Sankey op as musiekdirekteur van Moody se somer-Bybelkonferensies. Toe hy na Brooklyn, New York, verhuis, word hy die musiekdirekteur van die Tompkins Avenue Congregational Church. Hy tree ook onder meer op as musiekleier vir internasionale en nasionale konferensies soos die American Sunday School Union, YMCA, en die Christian Endeavor byeenkomste in New York en Boston. Toenemende doofheid het sy openbare loopbaan effektief beëindig in 1908, maar hy bly produktief as ’n komponis en samesteller van liedbundels. Stebbins het ongeveer 1 500 liedere geskryf, baie onder die skuilnaam George Coles. Naas ADELAIDE word sy lied “Softly and tenderly Jesus is calling” van sy gewildste liedere. 

Sy Reminiscences and Gospel Hymn Stories (1924) is ’n waardevolle rapport van gospelmusiek in die stedelike herlewings van die 19de eeu. 

Bronne 
CDH; CWC: 300; Osbeck, 1982: 122-114; PHH: 195, 431, 649.