Lied 527

Sections

Lirieke

1. Die werk behoort aan U, ons Heer -
die werk waarin ons staan.
Gee daarom, Heer, dat hierdie werk
nooit sal ten gronde gaan.
Die koringsaad sal eers moet sterf,
dan oes die boer die goue gerf.
Laat ons ook só onsself verloën,
ons werk geen jaag na roem vertoon.
Seën U ons werk,
maak ons in ywer sterk

2. Deur lyding heen het U, ons Hoof,
die vreugde in gegaan.
Laat ons ook met volharding, Heer,
óns pad met vreugde gaan.
Gebruik ons in u koninkryk,
maak ons aan Christus meer gelyk.
En as ons by die einddoel kom,
wanneer ons loflied hiÈr verstom,
laat dan, o Heer,
ons lied U ewig eer.

Geskiedenis

Teks 
Die oorspronklike teks van hierdie lied is “Die Sach ist dein, Herr Jesu Christ” wat geskryf is deur Samuel Preiswerk in 1829. Dit verskyn in Die Nuwe Halleluja (1931) as “Die werk is Uwe, troue Heer”. Hierdie teks is gewysig deur Louwrens Strydom (#174) vir die weergawe in die Liedboek (2001). 

Samuel Preiswerk (*19 September 1799, Rümlingen; †13 Januarie 1871, Basel) was pastor in Rümlingen, in die kanton Basel, Switserland. Hy studeer teologie aan die universiteite van Basel, Tübingen, en Erlangen en was vir ’n tyd lank hulpprediker in Benken. In 1824 is hy aangestel as prediker van die Weeshuis in Basel en in 1829 as tutor in Hebreeus by die Sendinghuis in Basel. In 1830 word hy verkies tot pastor in Muttenz, maar verlaat die pos met die uitbreek van die Revolusie van 1832. Vanaf 1834 tot 1837 is hy professor van Ou-Testamentiese eksegese en Oosterse tale aan die Evangeliese Teologiese Instituut in Genève. Hierna keer hy terug na Basel waar hy in 1843 georden is as pastor van die St Leonard’s Church. In 1859 word hy die hoogste ampsdraer (antistes) in die Katedraal in Basel. Preiswerk was ’n gerekende prediker. Hy skryf sy kerkliedere hoofsaaklik vir gebruik by die Sendingstasie en vergaderings waaraan hy deel gehad het. Sestien van sy liedere is ingesluit in ’n versameling Evangelischer Lieder Kranz (Basel, 1844). Nege van sy liedere verskyn ook in Knapp se Evanglischer LiederSchat (1850). Hy was ook een van die redakteurs van die Switserse GesangBuch (Basel, 1854). 

Melodie 
Die melodie is geskryf deur Johann M Haydn. Dit kom oorspronklik voor in sy Mis in B-mol (MH 560) waar dit as introïtus (“Zum Eingang”) dien. Dit is ’n Duitse mis en die teks van hierdie gedeelte begin soos volg: “Hier legt vor deiner Majestät im Staub die Christen hin”. Die melodie is aangepas in die Liedboek (2001). 

Johann Michael Haydn (*14 September 1737, Rohrau, Oostenryk; †10 Augustus 1806, Salzburg) was die jonger broer van Franz Joseph Haydn (1732-1809). Hy was ’n koorseun, solis en hulporrelis aan die St Stephan’s Katedraal (Dom) in Wene. Vanaf 1757 tot 1762 doen hy diens as musiekdirekteur van die biskop van Grosswardein, Hongarye. Hy aanvaar in 1762 die pos as dirigent van die orkes van die aartsbiskop Hieronymus in Salzburg. In 1781 volg hy WA Mozart op as orrelis van die Salzburg Katedraal. JM Haydn was ’n toegewyde Katoliek en komponeer naas instrumentale musiek ook musiek vir die kerk. Laasgenoemde sluit ondermeer in agt Duitse en 38 Latynse misse, ’n requiem en sewe motette. Hy was ook die redakteur van die hersiene uitgawe van Der Heilige Gesang zum Gottesdienste in der Römischkatholischen Kirche (Salzburg, 1790). 

Bronne 
ADB, Volume XXVI: 552; DBL; Hymnary.org; PHH: 198-199; www.deutsche-biographie.de; www.musiklexikon.ac.at