1. Here, hoe blymoedig
en in dank oorvloedig
maak U my die hart.
U gee ons u seën
soos ‘n milde reën;
U vertroos in smart.
Ja, ons weet, ook in ons leed
leef ons onder u genade;
vrees ons nie die kwade.
Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.
Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.
Teks
Christoph Neander se oorspronklike Duitse teks “Wie getrost und heiter” is gepubliseer onder die opskrif “Freudigkeit des Glaubens” in sy Geistliche Lieder (Riga en Leipzig, 1766). Dit is in Nederlands vertaal as “O hoe blij te moede” deur Ahasverus van den Bergh (#189) en gepubliseer in die Evangelische Gezangen (1806). Die teks is in Afrikaans vertaal in die AGB (1944) en gewysig deur Gerjo van der Merwe (#151) vir die 1978-bundel. Dit is op enkele woordwysigings na, so opgeneem in die Liedboek (2001).
Christoph Friedrich Neander (*28 Desember 1723, Eckau, Kurland; †9 Julie 1802, Grenzland) studeer teologie in Halle (an der Saale) en was aanvanklik ’n tuisonderwyser totdat hy in 1751 in Kabillen geordineer is. Sedert 1756 werk hy as evangeliese pastor in Grenzhof en Kuckern. In 1775 tree hy gelyktydig op as Propst in Doblenz en assessor van die Kurlandse Konsistorium. Hy wys ’n aanstelling as superintendent van Kurland in 1785 van die hand. Sy gedigte en liedere is sterk deur die digters CF Gellert en FG Klopstock beïnvloed en verteenwoordig ’n gematigde stem van die realisme. Reeds in 1766 verskyn sy eerste bundel Geistliche Lieder. Hy vertaal liedere in Lets en dit vind neerslag in die Mitauschen lettischen Gesangbuch. Hy gee in 1773 ’n Neue Sammlung Christlicher Gesänge uit en volg dit in 1774 op met ’n tweede versameling Geistliche Lieder wat ook die invloed van die Aufklärung in Kurland bevestig. Dit vind ook neerslag in ’n Entwurf für eine neue Kirchenordnung im Geiste der Aufklärung (1786).
Melodie
Hierdie melodie het vir die eerste keer verskyn in 1715 by die lied “Jesu, meine Liebe” in ’n bundel van Christian Witt (#186). Witt was moontlik ook die komponis. Die melodie JESU MEINE FREUDE (Lied 412) is aanvanklik by die teks “O hoe blij te moede” in die Evangelische Gezangen (1806) gebruik. Hierdie melodie word ook aangedui in Neander se Geistliche Lieder (1766). Die melodie van Witt het deur middel van die gesangeboeke van die Berlynse Sendinggenootskap, wat dit in verskeie uitgawes met JESU, MEINE LIEBE vervang het, gevestig geraak in Suid-Afrika. In die AGB (1944) word die oorsprong van die melodie aangedui as die Gezangbuch (Barmen, 1841). Hierin is dit reeds ’n aanpassing van die oorspronklike melodie van Witt. Barmen was die setel van die Berlynse Sendinggenootskap.
Bronne
BBKL: 520-521; Cillié: 342; CGLB: 1282-1288.