Lied 518

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Voel jy soms of die Here te vêr is?
Twyfel jy soms aan God se bestaan?
Jy moet glo dat die Heer met jou saamloop,
dat sy Gees oral met jou sal gaan.
Jesus sê Hy kom weer,
Hy kom uit die hemel neer,
met basuin en geskal
kom Hy al sy mense haal.
Deur sy Woord weet ons Jesus gaan t'rugkeer
na ons wêreld met alles daarin.
Wat gebreek is, sal Jesus kom heelmaak;
deur sy Woord weet ons alles maak sin.
Hoor hoe sag waai die wind,
kyk die glimlag van 'n kind.
Maak jou los van die kwaad;
dis jou Skepper wat hier praat.
Voel jy soms of die Here te vér is?
Twyfel jy soms aan God se bestaan?
Jy moet glo dat die Heer met jou saamloop,
dat sy Gees oral met jou sal gaan.

Geskiedenis

Teks 
Gisela de Villiers het hierdie teks geskryf en dit is gepubliseer in die Liedboek (2001). Dit is geïnspireer deur haar persoonlike geloofsbelewenis: alles is nie altyd maklik vir die Christengelowige nie, maar sekerheid kan gevind word in die gawes om jou wat God se teenwoordigheid en beskerming bevestig. 

Melodie 
Die melodie GISELA is saam met die teks hier bo geskryf deur Gisela de Villiers in 2001. 

Gisela de Villiers (*30 September 1955, Kaapstad) voltooi haar BMus (Uitvoerende Kuns) aan die UP en die Lisensiate UOLM en UBLM by UNISA. Sy was ook ’n nasionale wenner (solokunstenaar) van die ATKV-Crescendo-kompetisie. Sy is bekend as sanger, koorleier en komponis. Sy het die volgende kore afgerig: Afrikaans Hoër Meisieskool, Verre-Noord Jeugkoor, Pietersburg Stadskoor en die Hoërskool Waterkloof. De Villiers tree internasionaal op as kabaretkunstenaar in Wene, Venesië en talle stede in Duitsland en bied in hierdie stede ook koor- en sangmeestersklasse aan. Van haar komposisies is plaaslik en internasionaal gepubliseer en word gereeld deur verskeie kunstenaars en kore uitgevoer en opgeneem. Die bekendste onder haar werke is sekerlik Lied 518 (Voel jy soms of die Here te vér is/GISELA) en die drie-stemmige koorwerk “Lemoenliedjie” wat in die nuwe FAKsangbundel (2012) opgeneem is. Jannie du Toit (#358) se opname van “Die eggo van jou oë” is ook baie gewild. Sy het as teksvertaler onder meer 15 liedere van Schubert in Afrikaans vertaal. CD’s van haar werke sluit in “Die deur is oop”, “Tussen vriende”, “Songs of fire and ice” en “The songs/lieder van Gisela de Villiers”. Haar kundigheid as beoordelaar word ook gebruik in musiekkompetisies soos die ATKV se Applous en verskeie eisteddfods. Sy is die direkteur van Infullvoice Productions wat jong sangers oplei en werk as afrigter van vokale soliste vir die organisasie MIAGI (Music is a great investment). In 2018 is haar toonsettings van Spreuke, gedigte en eie tekste op die Stellenbosch Woordfees gehoor. Hierdie produksie sluit in improvisasies op gedigte wat deur die gehoor aan haar gegee word. 

Bronne 
E-poskorrespondensie met Gisela de Villiers, 11 September 2017.