1. Soek in God jou sterkte;
kry by Hom jou krag;
met sy wapenrusting
klee Hy ons met mag.
Nie teen medemense
is ons worstelstryd,
maar ons veg teen Satan
en sy sluwe listigheid.
Hy stuur bose magte
in die wêreld in,
maar met God se wapens
kan ons hul oorwin.
Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.
Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.
Teks
“Onward, Christian soldiers” is geskryf deur Sabine Baring-Gould in 1864 vir ’n kinderprosessie wat op Pinkstersondag van daardie jaar by Horbury Bridge, Wakefield, plaasgevind het. Dit verskyn dieselfde jaar in The Church Times van 15 Oktober waar dit getiteld is “Hymn for Procession with Cross and Banners”, in ’n advertensie vir Joseph Barnby (1838-1896) se Hymnary, wat in 1872 sou verskyn. Hierin is die teks en die melodie afgedruk. Baring-Gould skryf die volgende oor die ontstaan van die teks: “Vir die Pinkster-prosessie sou ons skool (Wakefield) kragte saamspan met die skool op die buurdorp. Ek wou graag dat die kinders sing terwyl hulle van die een na die ander dorpie marsjeer, maar kon nie aan ’n gepaste lied dink nie. Ek het toe besluit om self iets te skryf. ‘Onward, Christian soldiers’ het so sy onstaan gehad. Dit was met groot haas geskryf en daarom was ek verras toe dit populêr geword het.”
Die teks het in Die Halleluja (1903), Die Nuwe Halleluja (1931) en Die Halleluja (1951) verskyn in Nederlandse en Afrikaanse vertalings: “Voorwaarts Christen stryders”. Attie van der Colf (#169) het in die Jeugsangbundel (1984) ’n nuwe Afrikaanse vertaling gemaak: “Soek in God jou sterkte”. Dit is gebaseer op Efesiërs 6:10-18. Die teks is weer in ’n gewysigde vorm gepubliseer in Sing onder mekaar (1989) en met geringe veranderinge opgeneem in die Liedboek (2001).
Sabine Baring-Gould (*28 Januarie 1834, Exeter; †2 Januarie 1924, Lew-Trenchard, Devonshire) verwerf in 1854 ’n BA-graad aan Clare College, Cambridge, en twee jaar later ’n meestersgraad. Hy word geordineer as hulpprediker in 1864 in die Church of England en as priester in 1865. Hy doen diens in Horbury en Dalton in Yorkshire en Colchester in Essex. Hy was later kurator en rektor in die Church of England.
Baring-Gould word vandag spesifiek vir “Onward, Christian soldiers” onthou alhoewel hy ook die outeur was van talle ander publikasies insluitende boeke oor reis, populêre teologie en Engelse volksliedere. Baie van sy kerkliedere is geskryf vir die kinders van sy gemeentes, dikwels vir hulle prosessies in die dorpies met kruise en baniere. Sy onderskeie versamelings van volksliedere was van belang vir die Engelse volksmusiekbeweging: onder meer Songs and Ballads of the West (1889-1891) en A Garland of Country Song (1894).
Melodie
ST GERTRUDE is geskryf deur Arthur S Sullivan in 1871, ses jaar na die publikasie van Baring-Gould se teks. Dit het vir die eerste keer verskyn as een van vier voorbeelde wat ingesluit is in die Musical Times (Des 1871) waarin The Hymnary geadverteer is. Die melodie verskyn met die teks van Baring-Gould in The Hymnary (1872).
Die melodie is vernoem na Mrs Gertrude Clay-Ker-Seymour, by wie se huis in Hanford, Dorsetshire, die komponis ’n gas was toe hy die melodie gekomponeer het. Sy verskaf inligting oor die melodie aan die Musical Times (Julie 1902) en skryf dat Sullivan ook ander melodieë in Hanford geskryf het, onder meer een wat daarna vernoem is by die teks van “Jesus, my Saviour, look on me” van Charlotte Elliott (17891871). Sy is van mening dat geen van hierdie melodieë dieselfde meriete gehad het as die melodie vir “Onward, Christian Soldiers” wat wêreldwye aandag geniet nie. Sir Arthur het op die harmonium gespeel en aan haar die melodie geleer omdat dit toe nog nie gedruk was nie.
Arthur Seymour Sullivan (*13 Mei 1842, Bolwell Terrace, Lambeth; †22 November 1900, Westminster) is veral bekend vir sy operettes wat geskryf is in samewerking met WS Gilbert (1836-1911). Hy studeer aan die Chapel Royal onder Thomas Helmore. Hy was ook die eerste houer van die Mendelssohn-beurs (1856) en sit sy studies voort aan die Royal Academy of Music onder Sterndale Bennet en John Goss (#203). Hierna studeer hy ook aan die Leipzig Konservatorium waar hy onderrig ontvang van Moritz Hauptmann, Ferdinand David en Ignaz Moscheles. In Leipzig was hy ’n tydgenoot van Edvard Grieg. Tussen 1861 en 1872 was hy die orrelis van St Michaels, Chester Square en van St Peters in Cranley Gardens waar hy bevriend geraak het met sir George Grove. Hy was direkteur van ’n hele paar musiekorganisasies wat insluit die Glasgow Choral Union, Covent Garden Promenade Concerts, Leeds Festival en die Philharmonic Society. Die Universiteit van Cambridge en Oxford het hom vereer met eredoktorsgrade in musiek. Hy word lid van die Legioen van Eer in 1878 en word in 1883 tot ridder geslaan. Sy kerkmusiek sluit in kerkliedere en anthems sowel as kerkliedmelodieë. Hy was ook die redakteur van Church Hymns with Tunes (1874).
Bronne
CWH: 544-545; CUMH: 546-547, 718; HCLBW: 246-247, 347, 510; PHH: 694-695.