Lied 511

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Lei U ons, Lig, deur hierdie duisternis,
lei U ons, Heer!
Steil is die pad waarop ons pelgrims is,
lei U ons, Heer!
Wys U die weg, ons wil U ewig volg.
Waar U mag lei, sal ons getrou U volg.

2. Al wou ek self my lewenspad hier meet,
al wou ék lei;
noudat ek weet, nou vra ek U, ek smeek:
Sal U my lei?
Ja, ek was dwaas, verlei deur ydelheid.
Vergeef nou Heer! Vergeet tog daardie tyd.

Geskiedenis

Teks 
John H Newman skryf hierdie lied op 16 Junie 1833 terwyl hy ’n passasier was op ’n Italiaanse vragskip na Corsica. Hy was op pad terug na Engeland na ’n vakansie in Sicilië. Die terugreis was besonder stadig en hulle is deur ’n windstilte oorval in die Straat van Bonifacio (tussen Palermo en Marseilles) vir ’n hele week lank. Newman skryf in sy Apologia (1864) dat dit in daardie omstandighede was wat hy “Lead, kindly light” geskryf het. Dit het deel gevorm van sy gedig “The pillar and the cloud” en is in 1834 in The British Magazine gepubliseer. Al was dit nie aanvanklik bedoel as kerklied nie, het dit gou gewild geword en is na 1840 in liedboeke van verskillende denominasies in Engeland en die VSA opgegeneem. Dit verskyn ook in die Appendix van Hymns Ancient and Modern (1868). 

Die teks het in Nederlands verskyn in Die Halleluja (1903) en in Afrikaans in Die Nuwe Halleluja (1931). Die teks is deur Hans du Plessis (#261) gewysig in Sing onder mekaar (1989) en dit is met geringe wysigings opgeneem in die Liedboek (2001). 

John Henry Newman (*21 Februarie 1801, Londen; †11 Augustus 1890, Birmingham) studeer aan die Great Ealing School (1808-1816) en Trinity College, Oxford (18171820). Nadat sy uitslae ondergemiddeld was, aanvaar hy ’n pos as tutor aan die Oriel College in Oxford in 1822. In 1824 word hy geordineer as Anglikaanse hulpprediker in die Christ Church Cathedral in Oxford en vanaf 1828 is hy vikaris van die University Church of St Mary’s in dieselfde stad. In 1832 onderneem hy saam met sy vriend Richard Hurrell Froude (1803-1836) ’n reis na Griekeland en Italië. In April 1833, tydens ’n besoek aan Sicilië, word hy ernstig siek en moes terugkeer na Brittanje. Op 14 Julie 1833 luister hy na ’n preek deur John Keble (1792-1866) wat volgens hom die begin was van die Oxford Movement. Teologies beweeg Newman weg van die Anglikaanse evangeliese uitgangspunt (wat Calvinistiese invloede vertoon het) na die Katolieke Kerk wat ’n aanklank gevind het by die voor-reformatoriese kerk. In 1833 begin hy en ’n groep aanhangers om ’n reeks traktate te publiseer, getiteld Tracts for the Times (vandaar die verwysing na “Tractarians”). In samewerking met ander digters publiseer hy ’n versameling van gedigte: Lyra Apostolica (1836). Tot hierdie bundel het Newman 109 van die 179 gedigte bygedra. In 1838 verskyn ’n versameling van Latynse himnes, Hymni Ecclesiae, in twee dele. Hy word aangeneem in die Katolieke Kerk op 9 Oktober 1845. In September 1846 vertrek Newman na Rome waar hy hom voorberei op priesterskap. Hy word geordineer in Mei 1847 en keer terug na Engeland waar hy ’n pos aanvaar as hoof van die English Oratory in Birmingham. Newman was ook betrokke by die stigting van die Katolieke Universiteit in Ierland (nou die University College Dublin), waarvan hy in 1851 as president en in 1854 as rektor benoem is. Hy bedank in 1857 om sy volle aandag te wy aan die Birmingham Oratory en die skool daar wat hy in 1859 gestig het. In 1864 gee hy sy geestelike outobiografie uit: Apologia pro Vita Sua. In die volgende jaar publiseer hy The Dream of Gerontius, ’n dramatiese monoloog waarin die reis van die siel na die hiernamaals beskryf word. Hierdie gedig is gepubliseer in Newman se Verses on Various Occasions (1868) en dit word later beroemd in die gelyknamige oratorium (1900) van Edward Elgar. Hy bring die res van sy lewe by die Oratory deur en publiseer verskeie werke wat sy belangrikste teologiese geskrif An Essay on the Development of Christian Doctrine (1878) insluit. Hy word verkies tot kardinaal in 1879. Na ’n periode van swak gesondheid sterf hy aan longontsteking. Kardinaal Newman is op 13 Oktober 2019 tot heilige verklaar. 

Melodie 
Die melodie SANDON is geskryf deur Charles Purday vir Newman se teks“Lead kindly light” en verskyn reeds in Purday se The Church and Home Tune Book (1857), maar met die benaming LANDON. Ook in Purday se The Church and Home Metrical Psalter and Hymnal (1860) word hierdie titel gehandhaaf. Dit is onduidelik hoe die huidige benaming SANDON ontstaan het. Sommige skrywers meen dit was dalk as gevolg van ’n tikfout. 

Charles Henry Purday (*11 Januarie 1799, Folkestone, Kent; †23 April 1885, Kensington, Londen) was musiekuitgewer, redakteur en komponis. Hy was baie geïnteresseerd in die regte van komponiste en kopiereg en publiseer in hierdie verband die volgende werk: Copyright. A Sketch of its Rise and Progress: the Acts of Parliament and Conventions with foreign nations now in force, with suggestions (1877). Naas heelwat enkel uitgawes van liedere, kerkliedere en ballades, is hy ook die redakteur van The Sacred Musical Offering (1833), en One hundred and one popular psalm and hymn tunes (1860). Sy belangstelling in sangonderrig word gereflekteer in Elementary exercises in the art of singing (1851) en A few directions for chanting (1855). Hy het ook heelwat melodieë geskryf vir die liedtekste van Frances Ridley Havergal (#308) wat gepubliseer is in Songs of Peace and Joy: the music by Charles H. Purday, the words selected from ‘The Ministry of Song’ and ‘Under the Surface’, written by Frances Ridley Havergal (1879). Purday word vandag hoofsaaklik onthou vir sy melodie SANDON vir die teks “Lead, kindly Light”. 

Bronne 
CDH; Colquhoun: 205-206; Hymnary.org; PHC: 276; PHH: 396-397. Volume 2