Lied 510

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Genade, onbeskryflik groot
het U aan my bewys:
verlore seun - 'n wegloopkind -
weer in die vaderhuis.

2. Ek is die naam van kind nie werd -
wou self my sake reël.
My lewe, kanse, tyd en geld
is nutteloos verspeel.

3. Maar U sien ver, oneindig ver.
U sien my honger, dors.
Nog voordat ek kon skuld bely,
druk U my aan die bors.

4. Genade, onbeskryflik groot -
daar's fees, ek is weer tuis.
U Seun bring my - verlore mens -
weer in die vaderhuis.

Geskiedenis

Teks 
“Amazing grace, how sweet the sound” is geskryf deur John Newton (#264). Dit verskyn in die eerste bundel van die Olney Hymns (1779) en staan daarin onder die hofie: “Faith’s Review and Expectation” en 1 Kronieke 17:16-17 word hierby aangehaal. Dit het ses strofes gehad. Newton se nalatenskap aan die kerk sluit in sy bydrae en samewerking met William Cowper (1731-1800) in die publikasie van die Olney Hymns (1779) waartoe Newton 280 hymns bygedra het, insluitende “Amazing grace”. Daar word gemeen dat die teks ’n getuienis van Newton se eie bekering en sy lewe as ’n Christen is. “Amazing grace” was ’n gunstelinglied van die VSA president, Jimmy Carter, en baie ander mense wat in die Suide van Amerika groot geword het. Dit kan ook gevind word in Sankey se Sacred songs and solo en Hymns of Faith (1864). 

Attie van der Colf (#169) het die Afrikaanse vertaling gemaak wat in die Jeugsangbundel verskyn het (1984). Hier het dit vyf strofes gehad. Dit teks is weer gepubliseer in Sing onder mekaar (1989), maar die laaste strofe is weggelaat. Hierdie weergawe is onveranderd in die Liedboek (2001) geplaas. 

Melodie 
AMAZING GRACE (ook bekend as NEW BRITAIN) is oorspronklik ’n Amerikaanse volksmelodie en is tiperend van die Apalagiese melodieë uit die suide van die VSA. Dit was aanvanklik bekend as ’n“plantation melody” en gesing op die teks“Loving lambs”. Dit is vir die eerste keer as kerkliedmelodie gepubliseer in Columbian Harmony, or Pilgrim’s Musical Companion (Cincinnati, 1829) en Virginia Harmony (Winchester, Virginia, 1831) by die teks “Arise, my soul, my joyful pow’rs”. Die kombinasie met die “Amazing grace”-teks is gepubliseer in William Walker (1809-1875) se Southern Harmony (New Haven, 1835). Walker het die melodie NEW BRITIAN genoem. Dit is gewysig deur Edwin Excell in sy Make His Praise Glorious (1900) en gestandaardiseer in sy Coronation Hymns (1910). 

Edwin Othello Excell (*13 Desember 1851, Stark County, Ohio; 10 Junie 1921, Louisville, Kentucky) word groot in ’n Duitse gereformeerde pastorie. Hy was ’n messelaar en konstruksiewerker. Sy liefde vir sang lei daartoe dat hy sangskole begin. In die 1870’s raak hy bekeer tydens ’n Metodiste-herlewingsdiens waar hy die musiek gelei het. Excell sluit aan by die Metodiste-evangelis Samuel Porter Jones (1847-1906) as ’n sangleier en die twee het deur die VSA gereis as ’n evangelisasiespan. Hy studeer aan verskeie 19de-eeuse onderwys-opleidingsinstansies – met leiers soos George F Root, wat Lowell Mason se assistent in Boston was. Nadat hy verhuis het na Chicago in 1883 word hy ’n Sondagskoolleier en help om die International Sunday School Lessons te stig. Excell was ’n belangrike figuur in die “Sunday School Movement”. Hy skryf oor die 2 000 “gospel”-liedere en was redakteur van 90 liedboeke. Hy word ’n suksesvolle uitgewer van liedboeke in Chicago. Sy Biglow-Main-Excell Company smelt uiteindelik saam met die Hope Publishing Company. 

Bronne 
CDH; Colquhoun: 166-167; HC: 646-647; Knight: 181; PHH: 627-629.