Lied 500

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Gods dade is volmaak en goed,
sy wil is altyd heilig.
Hy sal my altyd trou behoed,
en by Hom is ek veilig.
Sy hulp is groot; in al my nood
beskerm Hy teen gevare
deur al my lewensjare.

2. Gods dade is volmaak en goed,
Hy sal my nooit begewe.
Ook as ek deur die dieptes moet,
bly Hy my lig en lewe.
Wie op Hom bou, op Hom vertrou,
vind steeds by Hom beskerming,
genade en ontferming.

3. Gods dade is volmaak en goed,
sy trou is altyd seker.
Waar ons nog na 'n uitweg soek,
weet hy reeds wat is beter.
Voor God se wil word ons dan stil -
in Hom is ons vertroue;
deur Hom bly ons behoue.

Geskiedenis

Teks 
Die grondteks van hierdie lied is “Was Gott tut, das ist wohlgetan” van Samuel Rodigast wat dit volgens oorlewering vir sy vriend, Severus Gastorius (#297), as trooslied tydens ’n siekbed geskryf het. Die teks is gepubliseer in die Bylaag tot Das Hannoverisches Gesangbuch (1676). Paul Geertsema (#196) het in samewerking met Izak de Villiers (#153) ’n nuwe bewerking van Rodigast se teks gemaak vir die 1978-bundel. Dit is gewysig deur Elsabé Kloppers (#154) vir die Liedboek (2001). 

Samuel Rodigast (*19 Oktober 1649, Gröben, Jena; †begrawe 3 April 1708, Berlyn) besoek die Lateinschule in Weimar vanaf 1661-1668. Hier is hy vir ’n tyd lank in dieselfde klas as sy vriend, Severus Gastorius. Rodigast studeer aan die Universiteit van Jena waar hy in 1671 tot “magister”verklaar word. Hierna begin hy ’n akademiese loopbaan en word onder meer in 1676 aangewys as adjunk in die Filosofie-fakulteit. In 1680 word hy mederektor en in 1698 die rektor van die beroemde Gymnasium zum grauen Kloster in Berlyn. 

Melodie 
WAS GOTT TUT, DAS IST WOHLGETAN word toegeskryf aan Severus Gastorius (#297) in 1675. Die titel van die melodie is afgelei van die eerste reël van Rodigast se teks. Die melodie is gepubliseer in Ausserlesenes Weimarisches Gesangbuch (1681). Vir meer inligting oor die melodie, sien Lied 297. 

Bronne 
Cillié: 152-153; KLEG: 259-260.