Lied 490

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Soos Ú wil, Heer, laat dit gebeur!
U wil is steeds die beste.
Vir almal wat hul tot U keer,
is U 'n veil'ge vesting.
Al kom daar nood, al is daar stryd -
U sal ons nooit verlaat nie.
By U alleen is veiligheid;
by U vrees ons nie kwaad nie.

2. Ons kan ons steeds op U verlaat,
U dra ons deur die lewe.
Kan iemand ooit met woord en daad
u wyse Raad weerstrewe?
Op aarde sal geen mossie val
wat U, Heer, nie van weet nie -
en gaan ek deur 'n donker dal
van dood, vrees ek geen leed nie.

3. Hoe min weet ek! Hoe bitter min
begryp ek van u werke!
U Seun se sterwe is my wins,
ek sien die spykermerke.
Ek sien die wond aan hand en sy
wat my met U versoen het.
Ek weet, o Heer, wat U vir my
in liefde hier gedoen het!

Geskiedenis

Teks 
Albrecht, hertog van Pruise, het die teks “Was mein Gott will, das gescheh’ allzeit” in 1547 geskryf as ’n trooslied na die dood van sy eerste vrou, prinses Dorothea van Denemarke. Hy het aanvanklik drie strofes geskryf, maar met die eerste druk daarvan deur Friedrich Gutknecht (Nürnberg, 1554) het dit vier strofes gehad en was dit anoniem. Daarna word dit ook afgedruk in Fünff Schöne Geistliche Lieder (Dresden, 1556), maar in ’n Deense Gesangeboek (Kopenhagen, 1571) verskyn sy naam wel by die teks. Izak de Villiers (#153) en André Hugo (#282) het ’n vrye verwerking in drie strofes gemaak van Albrecht se teks vir die 1978-bundel. In die Liedboek (2001) is dit gewysig deur De Villiers. 

Albrecht van Pruise (*17 Mei 1490, Ansbach; †20 Maart 1568, Tapiau, Oos-Pruise) behoort tot die huis van Hohenzollern en was vanaf 1525 tot met sy dood die hertog van Pruise en markgraaf van Brandenburg. Hy is goed opgevoed en in 1511 verkies tot Meester van die Duitse Orde. Hy ervaar moeilike politieke omstandighede, veral met die koning van Pole en ’n gevolglike onsuksesvolle oorlog vanaf 1519. Na moeilike onderhandelinge word die vredesverdrag van Krakau (Krakow) op 9 April 1525 onderteken. Tydens ’n verblyf in Nürnberg (1522-1523) word Albrecht bekendgestel aan die leerstellings van Luther deur die prediker Andreas Osiander (1498-1552) en word hy ’n aanhanger van Luther. Hy het persoonlike kontak met Luther, besoek hom in Wittenberg en beywer hom vir die vestiging van die reformasie in Königsberg en omstreke. In 1544 lê hy die grondslag vir die stigting van die Universiteit van Königsberg wat ’n belangrike geestelike en kulturele sentrum in Duitsland word. Hy skryf verskeie liedtekste waaronder “Was mein Gott will” en stel ’n gebedeboekie vir sy eerste vrou saam waarin van sy eie tekste opgeneem is. 

Melodie 
Die melodie WAS MEIN GOTT WILL, GSCHEH’ ALLZEIT, wat toegeskryf word aan Claudin de Sermisy, het verskyn in Joachim Magdeburg se Christliche und Tröstliche Tischgesenge (1572) met die teks van Albrecht. Die melodie is vernoem na die eerste reël van hierdie teks. De Sermisy se musiek is gereeld uitgevoer aan die hof van hertog Albrecht in Königsberg. Dit was oorspronklik die melodie vir die Franse liefdeslied “Il me suffit de tous mes maulx” en gepubliseer in Trente et quatre chansons musicales, deur Pierre Attaignant (Parys, 1529-1534). Dit word vir die eerste maal as ’n geestelike lied gebruik in die eerste beryming van die psalms in Nederland, Souter Liedekens Thantwerpen (Antwerpen, 1540) as die setting vir Psalm 128. 

Claude (Claudin) de Sermisy (*c 1490, waarskynlik in Frankryk; †13 Oktober 1562, Parys) was ’n Franse priester en sanger/komponis. Daar word vir die eerste keer van hom gehoor toe hy in 1508 die clerc musicien van die Sainte-Chapelle du Palais in Parys word. In 1515 was hy onder die sangers van die Royal Chapel wat vir die begrafnis van Louis XII gesing het. In dieselfde jaar vergesel hy François I na ’n vergadering met pous Leo X in Bologna, waar die Franse kapelsangers gewedywer het met die pouslike koor. In 1520 gaan hy saam met François I vir ’n ontmoeting met Henry VIII. Hy was ook teenwoordig toe die twee konings in 1532 in Bologne ontmoet het. Hy word aangestel as die sousmaître van die kapel (toesiener oor die jong koorseuns) en in 1533 word hy die domheer van Sainte-Chapelle, ’n posisie wat aan hom ’n blyplek en ’n groot salaris voorsien het. Hy behou sy pos as sousmaître, maar deel dit later met Louis Hérault in 1547 ten tyde van François I se dood en onder Henry II. Hy bedank skynbaar in 1554, maar sy naam verskyn nog in rolle van die Sainte-Chapelle tot 1561. Gemeet aan die aantal publikasies gedurende en na sy leeftyd moes sy komposisies baie gewild gewees het. Hy skryf verskeie misse, motette en sowat 200 chansons. 

Bronne 
CDH; CGLB: 913-915; CWH: 453-454; HCLBW: 477-479.