Lied 484

Vers 1

1. Almal wat dors het, kom geniet
die grootste gunsbewys:
Neem wat die Here gee, verniet –
kom koop dit sonder prys.
God gee jul water, wyn en melk –
Hy gee dit as geskenk.

Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.

Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.

Attie van der Colf 1978 / 2001 ©
VAN NAMEN – Arie A van Namen 1978
Inligting oor die verwerking van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.
Inligting oor die uitgewer van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.

Teks 
Vir hierdie lied het Attie van der Colf (#164) ’n nuwe teks geskryf wat gebaseer is op Jesaja 55. Dit is gepubliseer in die 1978-bundel en gewysig in die Liedboek (2001) deur Van der Colf. 

Melodie 
Die melodie VAN NAMEN is vernoem na die komponis Arie A van Namen wat dit in 1978 geskryf het. 

Arie Anthonie van Namen (*16 Maart 1926, Zwijndrecht, Nederland; †9 Julie 2018, Pretoria) het op agtjarige ouderdom met orrelstudie begin by Cor P Visser (19001987) wat vanaf 1933-1976 die orrelis was van die Groote Kerk in Dordrecht. Toe hy 14 jaar oud was, verwerf Van Namen, as jongste orrelis ooit, die “Getuigschrift voor Kerklijke Orgelspel” van die Nederlandse Orrelistevereniging. Vanaf 1944 studeer hy orrel, klavier, musiekteorie en komposisie aan die Koninklijke Conservatorium voor Muziek (later bekend as die Rijks Conservatorium) in Den Haag waar die komponis Henk Badings toe die hoof was. Die studies word egter onderbreek tydens die Tweede Wêreldoorlog en kom eers weer in 1948 op dreef. 

Hy volg mettertyd sy vader, wat 33 jaar orrelis in Zwijndrecht was, op. In 1950 word hy toegelaat as musiekonderwyser tot die Koninklijke Nederlandsche Toonkunstenaars Vereniging. Hy sit sy studies voort deur hom verder te bekwaam as orrelis (voordrag, orrelboukunde, kerkmusiek, improvisasie en komposisie) en voltooi ook ’n kursus in skoolmusiek by Annie Langelaar. Ander vakke waarin hy hom verdiep, sluit in koordireksie, sang, Latyn en Gregoriaanse sang. Die na-oorlogse jare in Nederland was nie gunstig vir ’n musikus nie en hy besluit om na Suid-Afrika te emigreer. Hy kom in Desember 1951 in Kaapstad aan. Sy eerste aanstelling as musiekonderwyser en orrelis was in Molteno. Na ’n verdere aanstelling in Caledon, vestig hy hom in 1958 in Kimberley waar hy by die Diamantveld Hoërskool as musiekonderwyser en die NG gemeente Kimberley-Noord as orrelis aangestel word. Hy lewer ’n aansienlike bydrae tot die ontwikkeling van die musieklewe in Kimberley as voorsitter van die plaaslike musiekvereniging en dirigent van die Kimberley Mannekoor. Sedert 1963 dien hy ook op die Hersieningskommissie van die Algemene Sinodale Raad vir Liturgie en die Kerklied van die NG Kerk en vanaf Augustus 1963 ook as lid van die musiekkomitee van KRUIK. In 1966 word hy aangestel as dosent aan die musiekdepartement van die PU vir CHO en onderrig orrel, orrelboukunde, improvisasie, skoolmusiek, praktiese musiekleer, harmonie en kontrapunt. Hy verbeter sy kwalifikasies deur die verwerwing van die grade BMus en BMus Hons en word mettertyd bevorder tot senior dosent. Hy word ook aangestel as orrelis van die NG gemeente Potchefstroom-Suid. Van Namen tree af in 1986. Hy tree wel nog op as musiekeksaminator vir UNISA tot 1996. Hy lewer ook ’n belangrike bydrae tot die Afrikaanse kerkmusiek. Hy was lid van die Interkerklike Hersieningskommissie van die Psalmmelodieë vir die 1978-bundel en word weer benoem as lid van die Interkerklike Psalmberymingskommissie vir die Liedboek (2001). In 1988 word erelidmaatskap van die SAKOV aan hom toegeken. 

Bronne 
AVN; Cillié: 407-408, e-poskorrespondensie met Sivera Wijnja, 28 Maart 2018; Malan IV: 429-430.