1. O almal wat dors het,
kom drink by die waters
en dié wat geen geld het nie,
kom hier en eet.
Al het u geen duit om te koop,
kom tog nader –
vir u staan die Here se tafel gereed
met wyn en met melk
uit die hand van die Koning:
Kom, u is genooi na die Here se woning!
Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.
Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.
Teks
“O alle gij dorstigen” is die oorspronklike Nederlandse teks wat geskryf is deur Jan Wit in 1961 en is gebaseer op Jesaja 55:1-7. Dit is vir die eerste keer gedruk in die Liedboek voor de Kerken (1988). Izak de Villiers (#153) het die Afrikaanse vertaling in die 1978-bundel versorg en hierdie teks is met geringe wysigings oorgeneem in die Liedboek (2001).
Jan Wit (*7 Julie 1914, Nijmegen; †26 Augustus 1980, Groningen) gaan op sesjarige ouderdom na die Protestants-Christelike Blindeninstituut “Bartimeus”. Hier kry hy laer-graad- en Mulo-onderwys wat musiekonderrig en handwerk vir blindes ingesluit het. In 1931 gaan hy na die Instituut tot Onderwijs van Blinden in Amsterdam en in 1932 is hy in Bussum. Hy kry voortgesette onderrig in musiek en ander vakke. Vanaf 1938 was hy vir ’n paar jare orrelis in Bakkum en speel ook in ’n semiprofessionele jazz-orkes. Na 1940 begin hy met teologiese studies in Utrecht. In 1947-1948 bring hy ’n aanvullende studiejaar deur in Parys. Op Kersfees 1948 word hy bevestig as predikant van die Waalse gemeente in Nijmegen. In 1967 lê hy sy amp in Nijmegen neer en emeriteer. In 1969 ken die Rijksuniversiteit van Groningen ’n eredoktorsgraad in teologie aan hom toe. Vanaf 1971 doseer hy himnologie aan dié universiteit. Hy verhuis toe na Groningen. Wit was van die begin af deel van die kommissies vir die psalmberymings en die Liedboek voor de Kerken. Hy lewer drie psalmberymings en sowat 30 liedere en 17 vertalings uit Duits en vier uit Frans vir die Liedboek voor de Kerken (1973). Volume 2
Melodie
Die melodie is gekomponeer deur Tera de Marez Oyens-Wansink in 1961 vir die teks van Jan Wit.
Woltera Gerharda de Marez Oyens-Wansink (*5 Augustus 1932, Velsen; †29 Augustus 1996, Hilversum) studeer aan die Konservatorium van Amsterdam en sluit haar studies in klavier, viool, klavesimbel en orkesdireksie af toe sy 20 jaar oud was. Sy studeer verder in elektroniese musiek aan die Universiteit van Utrecht en tree op as pianis en dirigent. Daarbenewens lei sy ’n improvisasiegroep vir jong kinders en volwassenes en behartig radio-uitsendings. Haar aktiwiteite as kantor van die Diependaals Kerkkoor van Hilversum en dirigent van die Hilversumse Gemengde Koor brei haar belangstelling uit na die kerkmusiek. Sy was jare lank dosent aan die Weense Somerseminaar vir nuwe musiek asook die Amsterdamse Seminaar vir nuwe musiek. Sy onderrig tot 1988 eietydse musiek en komposisie aan die konservatorium in Zwolle waarna sy vryskutwerk doen. Sy skryf meer as 200 komposisies waaronder melodieë vir nuwe Nederlandse kerkliedere. Veertien daarvan is gebruik in die Liedboek voor de Kerken (1988).
Bronne
Cillié: 406-407; CGLB: 1208-1211, 1282-1288; KLEG: 209-210; www.dbnl.org