Lied 482

Sections

Lirieke

1. "Keer terug en kom na My,
van jou skuld maak Ek jou vry,"
roep die stem van God, die Heer,
na sy volk om trug te keer.
"Soos die dou die veld laat bloei,
sal my liefde jou laat groei.
O, laat niemand jou verlei.
Keer terug en kom na My."

2. "As my volk sy skuld bely,
sal Ek hom daarvan bevry.
Hy sal in my skadu woon,
soos 'n lenteblom vertoon,
soos die bome vas bly staan
op die Libanon se hang.
O, laat niemand jou verlei.
Keer terug en kom na My."

3. "Keer terug en kom na My,
van jou skuld maak Ek jou vry,"
roep die stem van God, die Heer,
deur die eeue altyd weer.
"Al verbreek my volk hul trou,
Ek sal my beloftes hou.
O, laat niemand jou verlei.
Keer terug en kom na My."

Geskiedenis

Teks 
“O my people, turn to Me” is geskryf deur Marie Post in 1981 en in die Psalter Hymnal (1987) gepubliseer. Dit is geskryf ter herinnering aan haar ma in wie se Bybel die teks, Hosea 14, gemerk was. Die Afrikaanse weergawe is geskryf deur Breda Ludik (#384) en opgeneem in die Jeugsangbundel 2 (1993). Die Bybelteks wat in die Liedboek (2001) aangedui word, is Hosea 14:1, 4-7. 

Marie Jeanette (Tuinstra) Post (*8 Februarie 1919, Jenison, Michigan; †24 Mei 1990, Grand Rapids, Michigan) het as kind ’n Nederlandse kerk besoek en is hierdeur blootgestel aan die Geneefse psalms wat ook haar latere skryfwerk beïnvloed het. Sy studeer aan die Calvin College, Grand Rapids, Michigan onder Henry Zylstra. In 19401942 onderrig sy aan die Muskegon Christian Junior High School. Vir meer as 30 jaar skryf sy gedigte vir die Grand Rapids Press en verskeie kerktydskrifte. Sy gee gereeld voorlesings van haar gedigte in kerke en skole en haar werk is gepubliseer in ’n aantal joernale en bloemlesings. Twee belangrike versamelings van haar gedigte is I never visited an Artist before (1977) en die postume Sandals, Sails, and Saints (1993). Sy was ’n lid van die hersieningskommissie van die Psalter Hymnal (1987) en het ’n aansienlike bydrae gelewer ten opsigte van oorspronklike tekste en parafrases. 

Melodie 
Die Psalter Hymnal se hersieningskomitee het ’n soektog na ’n melodie vir die teks van Post geloods. HOSEA is gekomponeer deur Norman Jonkman in 1984 en is gekies uit verskeie moontlike voorleggings. Die titel verwys na die Bybelteks waarop Post se gedig gebaseer is. 

Norman Jonkman (*17 Junie 1944, Paterson, New Jersey) studeer musiekopvoedkunde aan die Calvin College, Grand Rapids, Michigan en het musiekonderrig gegee in Whitinsville (MA) aan die Christian School en die Eastern Christian School in Paterson, NJ. Sedert 1975 was hy ’n elektroniese orreltegnikus vir die McIntyre Organ Service in Seattle, Washington. Hy komponeer verskeie stukke waaronder ’n mis vir koor en orkes (1995) wat hy opdra aan die koor van Overlake Park Presbyterian Church in Bellevue, Washington waarvan hy die koorleier is. 

Bronne 
Hymnary.org; PHH: 129, 336-337.