Lied 481

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Ontwaak, jy wat slaap,
en staan op uit die dood,
laat Christus se lig in jou lewe!
Hy wek jou en roep jou,
o mens in jou nood
Ontwaak en staan op,
die gevaar is so groot -
wie kies, o verdwaasde,
bo lewe die dood?
Hy oordeel as regter verhewe.

2. Ontwaak en staan op
uit jou sonde vir goed!
Die nag het verdwyn met sy duister.
Die lig van genade
met blydskap begroet,
skyn lankal op aarde met luister.
Jou roeping is heilig
en heerlik jou taak,
maar min is die ure -
ontwaak dan, ontwaak!

3. . Gelukkig is almal
wat leef in die lig,
deur Christus gewek tot die lewe.
Geen vrees vir die oordeel,
die laaste gerig,
geen angs vir die dood laat hul bewe.
Ontwaak, jy wat slaap
en staan op uit die dood! -
só roep jou Verlosser,
jou redder uit nood.

Geskiedenis

Teks 
Die oorspronklike Nederlandse teks “Ontwaak, gij die slaapt” is geskryf deur Petro Parson. Dit verskyn vir die eerste keer in die bundel Christelijke Gezangen der Herstelde Evangelisch Lutherse Gemeente in Nederland (1857). Daarna is dit opgeneem in die Vervolgbundel op de Evangelische Gezangen (Amsterdam, 1868) van die Nederlandse Hervormde kerk. Hierdie bundel is egter nooit in Suid-Afrika ingevoer nie en die eerste Afrikaanse vertaling van die teks is eers gedruk in die AGB (1944). Gerjo van der Merwe (#151) het die teks hersien vir die 1978-bundel en dit is weer gewysig deur WD Jonker (#186) in die Liedboek (2001). Die teks is gebaseer op Efesiërs 4:13-17. 

Petro Parson (*11 Maart 1803, Amsterdam; †13 Maart 1878, Steenwijk) studeer in die lettere aan die Athenaeum in Amsterdam en later teologie in Utrecht en Leiden (1822). Hy word in 1829 predikant in Kuinre (1829) en in 1831, tot met sy emeritaat in 1875, in Steenwijk. Naas kinderverse en verhale skryf hy ook gesangtekste. Daar is verder niks oor sy lewe bekend nie. 

Melodie 
Johannes G Bastiaans (#330) komponeer ONTWAAK! vir die teks van Parson. Die melodie was een van 30 wat hy in opdrag van die Nederlandse Hervormde Kerk voorsien het vir die Vervolgbundel (1868). Dit is een van Bastiaans se melodieë wat vandag nog gewild is in die Gereformeerde kerke. In die Liedboek word nog ’n melodie van hom gebruik by Lied 330. 

Bronne 
Cillié: 411-412; CGLB: 1059-1061; PHH: 709-710; www.dbnl.org