1. My volk, Ek self het jou verwek,
met liefde jou na My getrek;
‘n kindjie aan die hand gelei,
sÛ was jy altyddeur by My.
Jy het leer loop, en voor jy vra,
het vaderhande jou gedra.
Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.
Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.
Die eerste Afrikaanse teks van “My volk, Ek self het jou verwek” kom uit die AGB (1944) en is geskryf deur PH van Huyssteen. Attie van der Colf (#164) was verantwoordelik vir die nuwe teks in die 1978-bundel en het dit gebaseer op Esegiël 3:11 en Hosea 11:1-8. Die teks is met geringe wysigings opgeneem in die Liedboek (2001).
Petrus Herodus Hillebrandt van Huyssteen (*28 Januarie 1879 in die distrik Knysna; †30 November 1942, Lindley) studeer aan die Kweekskool op Stellenbosch en word gelegitimeer in 1906. Sy eerste gemeente was die NG Kerk Kareedou waar hy in 1908 georden is. In 1922 aanvaar hy ’n beroep na die NG Kerk Lindley in die Oos-Vrystaat en word op 2 April 1922 daar bevestig. Hy was hier predikant tot met sy dood. Hy werk ook in ’n sendinggemeente. Van Huyssteen dien in verskeie rings-en sinodale kommissies en was tot met sy dood skriba van die NG Kerk Sinode van die Vrystaat. Hy het ’n besondere liefde vir die gewyde lied gehad en dit was vir hom ’n lewenstaak om vir die kerk ’n Psalm- en Gesangbundel in Afrikaans daar te stel. Met sy kundigheid ten op sigte van musiek en taalkunde het hy ’n reuse-bydrae gelewer as lid en sekretaris van die Psalm- en Gesangekommissie wat verantwoordelik was vir die samestelling van die AGB (1944). ’n Aantal van sy berymings is ook aanvaar vir hierdie bundel. Al het hy die voltooiing en ingebruikneming van die AGB nie beleef nie, is dit beskryf as ’n blywende monument vir sy werk. Op 1 Oktober 1944 is sy grafsteen op Lindley onthul. ’n Steen aan die voetenent hiervan is in die vorm van ’n gesangboek met Van Huyssteen se beryming van Jesaja 21:11 daarop: “Brandwag op die heil’ge mure sê: Hoe ver is nog die nag?”
Melodie
John Dykes (#169) se melodie MELITA van 1861, soos dit ritmies aangepas is in 2001, word hier gebruik. Vir meer inligting oor die melodie, sien Lied 422.
Bronne
1978-bundel; AGB (1944); Cillié: 405, 372, 554; Eeufeesgedenkboek NG gemeente Lindley, 1976:49; Jaarboek van die NG Kerke 1944, (95):330; Kerkbode 1943, (LI/2):22; Kerkbode 1943, (LI/10): 19; Kerkbode 1943 (LI/12): 225; Kerkbode 1944 (LIV/16): 329; Notuleboek NG gemeente Kareedouw, 1906-1907.