Lied 478

Sections

Lirieke

1. Op vaste fondamente
het God sy kerk gebou.
Apostels en profete
het ons dÌt toevertrou:
Die Koning van die hemel
herskep deur Woord en Gees
verlorenes op aarde
dat hul sy volk kan wees.

2. Hy roep uit alle volke
'n volk vir Hom tesaam
één in geloof en werke,
één in sy heil'ge Naam!
Hy gee die brood en beker,
Hy gee die heil'ge doop
om hulle te verseker:
Ek het jul duur gekoop!

3. Bedreig gevaar van buite
met skerp venyn gemik;
vul twyfel ons van binne
met kleingeloof en skrik
dis eie aan die wêreld,
ons sal verdrukking hê,
maar Christus het sy bystand
aan ons hier toegesê.

4. O Heer, skryf in ons harte
dat ons dit nooit vergeet,
al pynig ons die smarte
al martel ons die leed:
Die kruis van ons Verlosser
sluit vergesigte oop!
In 'n verwarde wêreld
bring dit weer vaste hoop!

Geskiedenis

Teks 
Samuel Stone skryf die liedteks “The church’s one foundation” in 1866. Dit sluit aan by die volgende teksgedeeltes: 1 Korintiërs 3:11; 2 Korintiërs 5:17 en Efesiërs 5:25. 

Hierdie beroemde lied het ontstaan uit ’n teologiese kontroversie bekend as die Colenso Affair – dit het dus Suid-Afrikaanse bande. In 1866 het John William Colenso (1814-1883), die Anglikaanse biskop van Natal, ’n boek geskryf waarin hy krities omgegaan het met verskeie weergawes van die Ou Testament. Hy is erg gekritiseer en is geskors deur biskop Gray van Kaapstad. Toe hy voor geestelike outoriteite in Engeland verskyn, was Stone ook betrokke by die debat. Hieruit voortvloeiend skryf Stone ’n stel liedere wat gebaseer is op die Apostoliese Geloofsbelydenis. Gebaseer op die negende artikel van die Apostoliese Geloofsbelydenis, is die oorspronklike weergawe van hierdie kerklied gepubliseer in die skrywer se Lyra fidelium: Twelve Hymns on the Twelve Articles of the Apostles’ Creed (Oxford, 1866). ’n Geredigeerde vorm verskyn in Hymns Ancient and Modern (1868). In 1885 word ’n uitgebreide weergawe (10 strofes) gepubliseer en dit is gebruik as ’n prosessielied in die katedrale van Canterbury, Westminster en St Paul’s toe die biskoppe vergader het vir die Lambeth- Konferensie van 1888. 

Die kontroversie is lankal vergete, maar die lied leef voort in baie liedboeke en vertalings. 

Attie van der Colf (#164) se teks “Op vaste fondamente”is nie ’n vertaling van Stone se teks nie, maar is wel daardeur geïnspireer. Dit verskyn in die 1978-bundel en is net so oorgeneem in die Liedboek (2001). 

Samuel John Stone (*25 April 1839, Whitmore, Staffordshire; †19 November 1900, Londen) was as ’n jong man gevul met ywer om die ortodoksie te verdedig teen die kerkskeurende en geloofsondermynende teologiese diskussies van sy dag. Hy ontvang ’n BA-graad van Pembroke College, Oxford in 1862 en 10 jaar later ’n MA. Nadat hy gedien het as hulpprediker van Windsor (1862-1870) en van St Paul’s, Haggerstone, volg hy sy vader op as vikaris van St Paul’s, Haggerstone in 1874. In 1890 word hy rektor van All Hallows-on-the-Wall in Londen waar hy bly tot sy dood. Stone het verskeie bundels met gedigte en kerkliedere gepubliseer en was ’n lid van die komitee van Hymns Ancient and Modern (1868). In aanvulling tot sy versameling van kerkliedere, sluit Stone se publikasies ook in Sonnets of the Christian Year (1875), Hymns (1886) en Iona (1898). Sy Collected Hymns and Poems is postuum gepubliseer.

Melodie 
Die melodie AURELIA van Samuel Wesley (#354), wat dateer uit 1864, word sedert Hymns Ancient and Modern (1868) suksesvol gekombineer met Stone se teks “The church’s one foundation”. Dit word ook vir hierdie lied gebruik. Vir verdere inligting oor die melodie, sien Lied 354. 

Bronne 
CDH; CGLK: 705; Cillié: 516; CWH: 546-547; Colquhoun: 111-112; HC: 376-377, 503-504; HCLBW: 417; Knight: 134-135; PHH: 672-673.