Lied 476

Vers 1

1. ‘n Vaste burg is onse God,
ons skuil in Hom, die sterke.
Hy is ‘n vesting in die nood
vir ewig staan sy werke.
Al kom die Bose aan
in sy oorwinnaars-waan,
ons weet by al sy lis,
sy lot is reeds beslis
God self stel aan hom perke.

Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.

Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.

Martin Luther 1528; Jan Jacob ten Kate 1868; EC Pienaar 1944; gewysig Attie van der Colf 1978 / 2001
Ein feste Burg ist unser Gott – Martin Luther 1528; melodies aangepas 2001
Inligting oor die verwerking van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.
Inligting oor die uitgewer van hierdie lied is nie tans beskikbaar nie.

Teks 
Martin Luther (#252) het die teks en melodie waarskynlik in 1528 geskryf. Gebaseer op Psalm 46, was hierdie lied bedoel vir die moeilike tye waarin Luther en sy gemeente gelewe het. Miskien sal die presiese datum en tyd nooit bepaal kan word nie, maar as ’n moontlike bron van inspirasie noem sommige geleerdes die Ryksdag van Spyre (Speiere) wat op 20 April 1529 plaasgevind het en waartydens die Duitse prinse geprotesteer het teen die terugtrekking van hulle vryhede – vandaar die term Protestant. Joseph Klug se Geistliche Lieder (Wittenberg, 1529) word as ’n moontlike eerste publikasie genoem, maar daar is himnoloë wat meen dat dit Michael Blum se Enchiridion (Leipzig, 1528-1529) was. Daar is ook menings dat die lied in Hans Weiss se Wittenbergische Gesangbuch van 1528 gepubliseer is. ’n Rekonstruksie van die lied kon gemaak word uit die herdrukke van Rauscher (Erfurt, 1531) en Gutknecht (Nürnberg, 1531). 

’n Augsburgse blaadjie (1529) bevat die volledige teks (sonder melodie) van die lied, maar dit is waarskynlik ’n herdruk van ’n vroeëre Wittenberg-publikasie wat verlore is. Die titel op die blaadjie is insiggewend: “’n Lied van vertroosting”. Indien die lied in 1528 ontstaan het, kan dit wees na aanleiding van die vervolging in 1527 toe Luther se vriend, Leonhard Kaiser, op die brandstapel gesterf het. “Ein feste Burg” het vinnig deur Duitsland versprei en is moontlik ook tydens die Ryksdag van Augsburg (1530) gesing. Volgens oorlewering is dit daagliks deur Luther gesing terwyl hy in die kasteel by Coburg geskuil het. 

Jan Jacob ten Kate (#273) het die lied in Nederlands vertaal as “Een vaste burg is onze God” en dit het verskyn in die Vervolgbundel van die Nederlandse Hervormde Kerk (1868). Aangesien hierdie bundel nie in die Afrikaanssprekende gemeentes ingevoer is nie, het die Afrikaanse teks van die lied van Luther deur EC Pienaar (#250) eers in die AGB (1944) verskyn. Attie van der Colf (#164) het die teks gewysig vir die weergawe in die 1978-bundel. Dit is met wysigings deur Van der Colf gepubliseer in die Liedboek (2001). 

Melodie 
Die melodie EIN FESTE BURG IST UNSER GOTT is ook deur Martin Luther geskryf, waarskynlik in 1528. Dit het moontlik vir die eerste keer in druk verskyn in Klug se liedboek, maar die vroegste oorgelewerde gedrukte bron is Jobst Gutknecht se Kirchen Gesenge, mit vil schönen Psalmen und Melodey (Nürnberg, 1531). Alhoewel Luther die psalms in hulle oorspronklike vorm met psalmtoonaarde wou behou, het hy ook ’n behoefte gehad aan vry metriese weergawes met liedmelodieë soos die geval is met hierdie lied. Die melodie is aangepas in die Liedboek (2001). 

Bronne 
Cillié: 362-363; CWH: 228; HC: 333-337; HCLBW: 307-308; HLH: 192-194.