1. Skeppergod, U is die Heer
wat die groot heelal regeer.
Christus aan u regterhand
hou u handewerk in stand.
U deel aan ons gawes uit
om die bronne te ontsluit.
Kry toegang tot die volledige lirieke. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om alle verse se lirieke te sien.
Kry toegang tot alle bladmusiek en ander aflaaibare lêers. Gemeentes met ’n aktiewe kerkmusiek-lisensie wat reeds op Missio.org.za geregistreer is, kan aanteken om af te laai.
Teks
“God of concrete, God of steel” is geskryf deur Richard Jones in 1964 toe hy ’n leier was van die Metodistiese Renewal Group. Dit is vir die eerste keer gesing by die Sheffield Methodist District Synod in Mei 1964. Die lied is gepubliseer in die Methodist Supplement Hymns and Songs (1969) en in Hymns Ancient and Modern (1983). Dit is geïnspireer deur die besef dat “the way in which all the symbols of the exciting modern world had become unrelated to our normal conception of God”. Hierby is ook rekening gehou met die klagte van ’n jeuggroep dat die beelde van die himnodie oudmodies is. Dit was ’n moedige reaksie op hierdie uitgesproke behoeftes en het ’n sensasie tot gevolg gehad wat daartoe gelei het dat die lied onmiddellik gewild geword het.
Die eerste Afrikaanse weergawe “God van yster en beton” deur Louwrens Strydom (#174) is gepubliseer in die bundel Sing onder mekaar (1989). ’n Hersiene teks wat begin met die reël “Skeppergod, U is die Heer” is gepubliseer in die Liedboek (2001).
Richard Granville Jones (*26 Julie 1926, Dursley, Gloucestershire) het studeer aan die Truro School en St. John’s College, Cambridge. Na diens in die Koninklike Vloot is hy na Hartley Victoria College, Manchester, en word ’n Metodistepredikant in 1950. Hy werk saam met die Student Christian Movement (1953-1955) en dien dan in Circuits, Sheffield (1955-1964) en Birkenhead (1964-1969) as predikant. Hy keer terug na Hartley Victoria College as tutor en word later hoof van die kollege (19781982). Jones word voorsitter van die komitee vir Hymns and Psalms in 1980. Hy was ook voorsitter van die East Anglia District of the Methodist Church (1983-1993) en president van die Methodist Conference (1988-1989). Hy skryf verskeie kerkliedere wat insluit: “God of concrete, God of steel”, “Come, all who look to Christ today”, “God who created this garden of earth” en“Lord, here is one to be baptised”. Die Universiteit van Hull ken in 1988 ’n eredoktorsgraad in die teologie aan hom toe.
Melodie
Die oorspronklike melodie waarop hierdie teks gesing is, is NEW HORIZONS van Francis Westbrook (1969). ’n Meer moderne melodie is vir die teks in 1971 geskryf deur Tony Royse (*1939) vir die Dragon School in Oxford. Daar bestaan ook ’n melodie CONCRETE wat geskryf is deur die Kanadese komponis Frederick Clarke (1931-2009). HP van derWesthuizen het egter ’n nuwe melodie geskryf vir“God van yster en beton” en dit is gepubliseer in die bundel Sing onder mekaar (1989) en opgeneem in die Liedboek (2001).
Hercules Pieter van der Westhuizen (*18 Januarie 1931) is in Bloemfontein gebore en het op Wepener sy laerskoolopleiding ontvang. Hier het hy totdat hy 14 was musiekonderrig ontvang van sy moeder, wat die plaaslike orrelis was. Hy matrikuleer in 1948 aan die Grey-Kollege in Bloemfontein. Aan die einde van 1951 verwerf hy die Onderwysdiploma in Musiek in Stellenbosch cum laude en in 1952 word die BMus-graad deur die US aan hom toegeken. In dieselfde twee jaar verwerf hy ook Lisensiaatdiplomas van UNISA: UOLM (klavier) en UOLM (orrel). Hy ontvang praktiese onderrig in verskeie vakke soos klavier en orrel (Maria Fismer en George van der Spuy) en tjello (Walter Swanson). Hy volg ook ’n dirigeerkursus in Kaapstad onder die welbekende Albert Coates (1882-1953). Hierna gee hy musiekonderrig aan verskeie hoërskole: Griekwastad (1953), Jan van Riebeeck (1954), Goodwood-Epping (1955-1956), JJ du Preez (1956-1958) en Bellville (1959-1964). Hy was ook kerkorrelis in Griekwastad, Retreat, Bellville-Wes en vanaf 1965 tot 1990 aan die NG gemeente Stellenbosch-Sentraal/Studentekerk. In 1965 word hy aangestel as orreldosent aan die Konservatorium van die US. In 1977 is hy bevorder tot senior dosent, ’n pos wat hy beklee het tot met sy aftrede in 1991. Sy oorsese studies bring hom in aanraking met vooraanstaande musici soos Helmut Walcha (orrel) in Frankfurt am Main in Duitsland. In 1977 en 1984 studeer hy aan die Westminster Choir College in Princeton in die VSA. Hier ontvang hy onderrig in gevorderde koorkomposisie (Alice Parker), orrel (Joan Lippencott) en koorleiding (Robert Shaw en David Willcocks). Van der Westhuizen verwerf veral bekendheid as koorleier waaronder van die Kerkkoor Bellville-Wes, die Kweekskoolkoor en die Kerkkoor Stellenbosch-Sentraal/Studentekerk. Hy was ook die stigter van die Stellenbosse Koorvereniging en was die eerste koorleier van die KRUIK-operakoor. In opdrag van die SAUK het hy etlike transkripsie-opnames gemaak met psalms en gesange uit die 1944- en 1978-bundel. Hy dien ook op talle kommissies en komitees waarvan die kerkmusiekkommissies van die NG Kerk van groot belang is. So was hy sameroeper van die Kommissie vir die hersiening van die Afrikaanse Psalmmelodieë (1962-1977), verteenwoordiger van die Wes-Kaaplandse Sinode in die Eredienskommissie van die NG Kerk se Algemene Sinode en lid van die interkerklike Hersieningskomitee van die Afrikaanse Psalmbundel wat deel vorm van die Liedboek (2001). Hy dien in bestuursposisies vir SAKOV en word in 2008 ’n erelid van dié organisasie. Hy was lid van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en dien ook sedert 1979 op die FAK-musiekkomitee.
Van der Westhuizen ontvang verskeie toekennings vir sy werk as musikus. Dit sluit in ’n Oorkonde van die Suid-Afrikaanse Koorvereniging in 1989, die Pieter van Drimmelen-medalje van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns op 21 Junie 1991 en ’n ARTES-toekenning in 1993 vir die reeks programme “Sing tot die Heer” wat op die destydse Afrikaans Stereo uitgesaai is.
Van der Westhuizen se komposisies sluit talle bekende koorwerke in. Dit bestaan uit gewyde liedere op Bybeltekste soos die motette “Loof die Here” en “Kom laat ons jubel” en verwerkings van volksliedjies. Hy het 12 psalmmelodieë en die melodie van Lied 474 gekomponeer wat in die Liedboek (2001) opgeneem is. ’n CD getiteld “Pieter van der Westhuizen – Gewyde koorwerke”is in 1997 deur die Singkronies Kamerkoor onder leiding van Johann van der Sandt vrygestel.
Bronne
CDH; De Stadler: ix-xiii; Hymnary.org; Malan IV: 423-425; Wootton: 224.