Lied 471

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

Soek allereers die koninkryk van God;
en sy geregtigheid.
wat jul nodig het sal die Vader dan
vir julle gee uit sy oorvloed.
Hy sal voorsien in sy oorvloed.
Halleluja! Halleluja!
Halleluja!
Amen. Amen.

Geskiedenis

Teks 

Karen Lafferty het “Seek ye first the Kingdom of God” geskryf in 1971. Dit is geïnspireer deur ’n Bybelstudie wat sy bygewoon het by die Calvary Chapel, Costa Mesa, California waartydens Matteus 6:33 bespreek is. Op daardie stadium het sy pas ’n voltydse musiekbediening begin en het finansieel gesukkel. Op dié aand het sy met hernude hoop huis toe gekeer. Ander mense het gou die skoonheid en eenvoud van die melodie waardeer en dit het baie gewild geword. Uiteindelik het dit ook vir haar ’n finansiële inspuiting gegee. Ander verse is mettertyd anoniem toegevoeg as gevolg van die mondelinge tradisie waarin talle Bybelse liedere ontwikkel het. 

Maranatha! Music het die bladmusiek gepubliseer en die lied is ook opgeneem in ’n Praise Album van 1972. Die Afrikaanse weergawe in die Liedboek (2001) is in 1981 gemaak deur Jan de Wet (#163). 

Melodie 
LAFFERTY (ook bekend as SEEK YE) is geskryf deur Karen Lafferty in 1972. Die melodie is vernoem na die komponis. Dit het ’n populêre Scripture Chorus geword wat gou in resente bundels van verskeie denominasies opgeneem is. Dit kan as ’n kanon gesing word – soos aangedui in die Liedboek (2001). Die alternatiewe titel SEEK YE verwys na die aanvang van Lafferty se oorspronklike teks. 

Karen Louise Lafferty (*29 Februarie 1948, Alamogordo, New Mexico) het groot geword in ’n Suidelike Baptistehuis. Sy was ’n hobospeler in die New Mexico All-State Symphony Orchestra en gradueer met ’n BMed van die Eastern New Mexico University in Portales in 1970. Sy gaan vestig haar in Kalifornië en sluit aan by die Calvary Chapel in Costa Mesa. Sy tree op as aanbiddingsleier en verdien ’n inkomste as sanger in nagklubs en hotelle. Sy voel egter dat sy geroepe is om ’n voltydse musikant te word vir Christus en gee ’n florerende loopbaan prys. Dit was in hierdie tyd dat sy finansieel swaar gekry het en “Seek ye first the kingdom of God” geskryf het. Dit word haar mees gepubliseerde werk. Sy is beïnvloed deur die musiek van die jong “Jesus Movement” en neem verskeie albums op vir die Calvary Chapel se Maranatha! Music Organization: Bird in a Golden Sky (1975), Sweet Communion (1978), Country to Country (1983), Life Pages (1989) en Land of no Goodbyes (1989). Na ’n besoek aan Nederland in 1978 stig sy die organisasie Musicians for Mission International (MFMI) in 1981, in samewerking met “Youth With a Mission”. Aanvanklik gebaseer in Amsterdam, het die MFMI-span daarna gestreef om “die wêreld met God se musiek te vul” deur middel van konserte, opnames en seminare. Lafferty en die MFMI-kantoor verskuif in 1995 na Santa Fe, New Mexico en sit die internasionale bediening daar voort. Sy het baie opnames gemaak om haar musiek te bevorder, soos Multitudes – The Sound of Many Nations (2003) wat ’n refleksie is van haar werk met musikante van verskillende nasies. Sy word deel van die “fellowship” van musici, Maranatha! Music (wat later die groot Christelike musiekuitgewery geword het). Sy het verskeie solo-albums opgeneem asook ’n DVD. Haar musikale styl herinner aan die folk-musiek van sangers soos Joni Mitchell, die Kingston Trio en Peter, Paul and Mary. Sy het wêreldwyd saam met Musicians for Missions getoer met hulle musiekbediening. 

Bronne 
CDH; CUMH: 487-488; karenlafferty.com; PHH: 344-345.