Lied 463

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Sou ons nie Gods lof besing nie,
eer Hom bring nie
waar Hy deur sy voorsorg spreek?
Hy het weer die sware droogte
uit die hoogte
met 'n milde reÎn gebreek.

2. U het in u groot genade
al ons skade
raakgesien en ons gehelp.
Ons was raadop, het geweifel,
selfs getwyfel.
Nou's ons bly, ons is oorstelp.

3. Hoor, o Heer, vir ander streke
ons gebede;
hoor ons diep bekommernis.
Wil, o Here, hul so seÎn
met u reÎn
dat daar ware uitkoms is.

Geskiedenis

Teks 
“Dat nu elk d’Algoedheid prijze” is die oorspronklike Nederlandse teks van Willem van de Velde wat in die Evangelische Gezangen (1806) gepubliseer is. In hierdie bundel word dit gesing op die melodie van die Datheense Psalm 38. EC Pienaar (#250) skryf die Afrikaanse teks wat in die AGB (1944) staan: “Wie sou nie Gods goedheid prys nie”. Attie van der Colf (#164) se bykans nuwe teks “Sou ons nie Gods lof besing nie” is opgeneem in die 1978-bundel en weer hersien vir die Liedboek (2001). 

Willem van de Velde (*5 September 1751, Amsterdam; †29 Julie 1827, Kleef, Duitsland) was ’n boekhouer van beroep en bekend in Nederlandse digterlike en letterkundige kringe in Amsterdam. Behalwe vir ander gedigte wat in bundels van sy tyd versprei is, was hy ook die digter van gesange 147, 174 en 175 in die Evangelische Gezangen (1806). Hy het skynbaar ook ’n aandeel gehad in die samestelling van sommige gesange in die Grooten Bundel van de Gezangen der Doopsgezinden en die Lutherschen Bundel. Sy vrou, Johanna van de Velde-Helmcke (#255) was ook bekend as digter. 

Melodie 
Die melodie van PK de Villiers (#250) wat in die AGB (1944) vir hierdie teks gebruik is, het nie inslag gevind nie. Dit is in die 1978-bundel vervang met ’n melodie wat FW Jannasch in 1921 geskryf het. Die melodie is behou in die Liedboek (2001). Die melodie heet volgens die aanvangsreël van die teks: JEZUS IS MIJN HEER EN KONING. Nog ’n bekende en geliefde melodie van Jannasch word gebruik by Psalm 23 in die Liedboek.

Friedrich Wilhelm Jannasch (*15 Oktober 1853, Mamre, distrik Malmesbury; †19 April 1930, Stellenbosch) is as seun van ’n Morawiese sendeling na die skool van die Broedergemeente in Christiansfeld (Noord-Sleeswyk) gestuur waar hy sy skoolopleiding ontvang het. Sy besondere musiektalent is vroeg reeds raakgesien en lei tot ’n tweejarige opleiding in kerkmusiek in Stockholm (1869-1870). Dit word opgevolg deur verdere studies in Breslau en Berlyn. Hierna word hy aangestel as orrelis van die Evangeliese Broedergemeente in Gnadenfrei (Silesië) waar hy tegelykertyd ook musiekonderwyser was (1872-1882). Hy verhuis in 1883 na Stellenbosch waar hy musiek onderrig aan die Bloemhof-Meisieskool. Vanaf 1887 is hy ook orrelis van die NG Moedergemeente Stellenbosch. In samewerking met onder andere Hans Endler (1871-1947) word die South African Conservatorium of Music in 1905 gestig met Jannasch as hoof totdat hy weens swak gesondheid die leiding aan Endler oorgedra het in 1921. Hierdie instelling ontwikkel later tot die Konservatorium vir Musiek van die US met Jannasch as die eerste hoof. Hy was bekend as kerkmusikus, komponis, koorleier en musiekopvoedkundige. Hy het ook ’n beduidende bydrae gelewer tot die ontwikkeling van die Afrikaanse kerklied onder andere in samewerking met JD du Toit (Totius) (#249). Uit hierdie samewerking vloei voort Sesendertig Psalms in Afrikaans (Kaapstad, 1923) en Sestig Psalms (Kaapstad, 1929) waarvan Jannasch die musiek versorg het. Verskeie Duitse koor-en kerkliedere is deur hom vertaal en aangepas vir Afrikaanse gemeentes, maar hy lewer ook talle nuutskeppings. So is sy melodieë vir Psalm 13, 23, 90 en 91 ingesluit in die Psalmboek van die Afrikaanse kerke (1937). Hy skryf ook talle ander psalmmelodieë wat ongepubliseer is. Dis egter sy melodieë vir Gesang 51 en 157 in die Gesangboek vir die Afrikaanse kerke (1942) wat inslag gevind het. In die Liedboek (2001) is vier melodieë opgeneem: DE GOD DES HEILS WIL MIJ TEN HERDER WEZEN (Psalm 23), GIJ ZIJT, O HEER, VAN D’ALLERVROEGSTE JAREN (Psalm 90), HIJ, DIE OP GODS BESCHERMING WACHT (Psalm 91, tweede melodie) en JEZUS IS MIJN HEER EN KONING (Lied 463). 

Bronne 
Cillié: 70-71; DBNL; Malan III: 4-7; resources.huygens.knaw.nl