Lied 461

Sections

Lirieke

1. Na ploegtyd en na saaityd,
na onvermoeide vlyt,
kom steeds die blye oestyd
deur u goedgunstigheid.
U stuur na koue winter
weer lente met sy bloei,
die winde en die reÎn
en sonskyn wat laat groei.

Alle goeie gawes kom van die Hemelheer.
Ons dank U, Heer, ja, dank U, Heer,
en wil U daarvoor eer.

2. Ons eer U as die Skepper
van alles wat hier groei,
van planttyd en van oestyd;
van winter en van bloei.
Neem tog ons danklied aan, Heer,
vir gawes ryk en vry.
Ons wil aan U, die Gewer,
aan U, ons opbrengs wy.

Alle goeie gawes kom van die Hemelheer.
Ons dank U, Heer, ja, dank U, Heer,
en wil U daarvoor eer.

Geskiedenis

Teks 
Die Duitse lied waaruit hierdie lied ontstaan het, is vir die eerste keer gepubliseer in Asinus omnia sua secum portans (1782) en begin met die teks “Im Anfang war’s auf Erden”. Dit is ’n boerelied in Mathias Claudius se skets Paul Eerdmanns Fest waar die boere dit sing op pad na ’n oesdankfees. Dit was oorspronklik ’n gedig met 17 strofes. Dit is verpopulariseer in verskeie 19de-eeuse Duitse kerkliedbundels waar dit verskyn met minder strofes en gewoonlik begin met die oorspronklike derde strofe: “Wir pflügen und wir streuen”. Dit is ook die geval in die Liedboek (2001). Alhoewel dit nie ’n kerklied was nie, het die teks met sy toewydingskarakter sy weg gevind na verskeie Duitse liedboeke in verskillende weergawes en vorms. Dit word veral geliefd onder kinders. Die lied is in Afrikaans vertaal in Die Nuwe Halleluja (1931) en gewysig deur Hans du Plessis vir Sing onder mekaar (1988). Dit is weer gewysig in die Liedboek (2001). 

Mathias Arnius Claudius (*15 Augustus 1740, Reinfeld, Lübeck, Holstein; †21 Januarie 1815, Wandsbeck, Hamburg) was die seun van ’n Lutherse pastor in Reinfeld, naby Lübeck in Holstein, Duitsland. Na skoolopleiding aan die Latynse skool in Plön, studeer hy teologie in Jena van 1759 tot 1763. Hy voel hom egter nie tot die amp geroepe nie en verander na regte, maar hy voltooi ook nie hierdie studie nie. Sonder vaste toekomsplanne reis hy na Kopenhagen waar hy ’n hegte vriendskap smee met die digter Klopstock. In 1771 word hy literêre redakteur van die koerant Der Wandsbecker Bote. Van 1776 tot 1777 dien hy as kommissaris van landbou en fabrieke van Hesse-Darmstadt. Hy raak bevriend met Goethe en vir ’n ruk lank het hy geassosieer met ’n groep vrydenkende filosowe. Na ’n ernstige siekte in 1777 bedank hy in Darmstadt en keer terug na Wandsbeck waar hy, as redakteur, aan die Der Bote ’n meer Christelike karakter gee. Hy was besonder kundig in die werke van Shakespeare en Isaac Newton en hy bring die mens op straat in voeling met fyner kulturele sake deur middel van Der Bote. Al sy gedigte, prosa en artikels van teologiese, filosofiese, opvoedkundige en estetiese aard wat behoue gebly het, het in hierdie blad verskyn. Vanaf 1775 publiseer hy sy versamelde werke in agt volumes onder die titel Sämmtliche Werke der Wandsbecker Bote. Claudius was in wese ’n man van die Verligting, maar bly tog ook ’n ongekompliseerde gelowige. 

Hans du Plessis (*15 Januarie 1945, Pretoria) matrikuleer aan die Afrikaanse Hoër Seunskool, Pretoria en behaal ’n BA aan die UP. Hy tree toe tot die onderwys in 1966 en verwerf mettertyd ook die volgende kwalifikasies aan UNISA: UOD, BA Hons en MA, laasgenoemde twee met lof. In 1975 verwerf hy ’n doktorsgraad in Afrikaanse taalkunde, ook aan UNISA. Hy ontvang ’n beurs van die HSRC in 1976 en volg daarna ’n postdoktorale kursus in die linguistiek aan die Universiteit van Harvard. Hy woon later (1991) ook skryfskole in Iowa en Oklahoma by. Na sy terugkeer van Harvard doseer hy aan UNISA en RAU. In 1981 word hy professor in Afrikaanse taalkunde aan die PU vir CHO. In 1990 word hy direkteur van die ATKV-skryfskool van NWU se Potchefstroom-kampus. Hy tree aan die einde van 2011 af en word voltyds skrywer. Du Plessis is ’n erkende navorser, akademikus, skrywer en digter. Hy debuteer in 1978 met die digbundel Kleinwild. Hy is veral bekend vir sy digbundel met Griekwapsalms Innie Skylte vannie Jirre (2001) en die Griekwagedigte oor Hooglied: Boegoe vannie liefde (2002). Du Plessis ontvang ook verskeie toekennings. Hy word bekroon met die CR Swart-prys vir tienertoneel, die ATKV-kinderboekprys, ’n erepenning van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, en die CBSA-prys vir beste publikasie, algemene Christelike literatuur. 

Melodie 
Die eerste publikasie van die melodie WIR PFLÜGEN UND WIR STREUEN (ook bekend as CLAUDIUS na aanleiding van die digter van die teks) was anoniem in AL Hoppenstedt (1763-1830) se Lieder für Volksschulen (Hanover, 1800). In 1812 is dit ingesluit in FW Lindner (1779-1864) se Musikalischer Jugendfreund en toegeskryf aan Johann Schultz. 

Johann Abraham Peter Schulz (*31 Maart 1747, Lüneburg; †10 Junie 1800, Schwedt an der Oder) is soos baie ander talentvolle kinders van sy tyd ontdek deur sy sang in die kerk. Hy studeer in Lüneburg by die orrelis Johann Christopf Schmügel (1727-1798), wat ’n leerling van Georg Philipp Telemann was. Op 15-jarige ouderdom vertrek hy na Berlyn vir studies by Johann Philipp Kirnberger (1721-1783). Van 1768 tot 1773 was hy die begeleier en klavieronderwyser van die Poolse Gravin Sapieha en hy reis in Italië, Frankryk en Oostenryk waar hy in aanraking kom met FJ Haydn. Met sy terugkeer na Berlyn assisteer hy Kirnberger met sy groot verhandeling oor die komposisiekuns en saam met Kirnberger en JG Sulzer word die Allgemeine Theorie der schönen Künste (1771-1774) gepubliseer. In 1775 word hy die direkteur van die Koninklike Franse teater in Berlyn totdat dit in 1778 gesluit word en hy direkteur van musiek word vir die kroonprinses. In 1780 beklee hy die vooraanstaande posisie as musiekdirekteur vir Prins Heinrich van Rheinsberg in Pruise. Gedurende die 1780’s geniet hy besondere aansien as komponis, veral met sy liedere. Sy geestelike liedere word in 1784 in Deens vertaal en die volgende jaar in Denemarke uitgegee. Toe die pos as musiekdirekteur van die Koninklike Deense teater in 1787 vakant raak, word hy aangestel. Hy raak onder meer betrokke by sosiale en politieke sake soos die bekendstelling van musiek in skole. In 1788 vestig hy sy jaarlikse konserte vir die Heilige Week en samel so geld in vir die weduwees van musici en ander verenigings vir behoeftiges. In 1794 brand die paleis af en in ’n poging om die waardevolle en onvervangbare musiekargiewe te probeer red, doen hy wat sy gesondheid betref groot skade op. Hy bedank in 1795. Nadat hy vir ’n rukkie in Lüneburg, Berlyn, Rheinberg en Stettin gebly het, sterf hy in Schwedt an der Oder. 

Bronne 
Colquhoun: 247-248; HC: 535-536; HCLBW: 155-156, 411-412; KLEG: 287-288; Knight; PHH: 621-622; www.hymntime.com; www.litnet.co.za; www.nb.co.za