Lied 457

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. O Hemel-vader, uit u hand
alleen kom ware seën!
U het opnuut ons dorre land
deurdrenk met milde reën!
Ná uitkoms roep u kleure-boog
'n jubel uit ons hart omhoog:
Ons leef uit u voorsiening!

2. Aan U die lof en dank en eer,
Verhoorder van gebede!
Hoe diep bewus maak U ons weer
van u goedgunstighede;
diÈ wat hul saad met trane saai,
sal, na u Woord, met vreugde maai,
en juig in u voorsiening.

3. Waar, in 'n groot verskeidenheid,
ons land sy opbrengs lewer,
wy ons in diep erkentlikheid
ons gawes aan die Gewer!
Gebieder van die wind en weer,
laat elkeen, soos u Woord ons leer,
U loof vir u voorsiening.

Geskiedenis

Teks 
“O God, U het die dorre land” is geskryf deur EC Pienaar (#250) en gepubliseer in die AGB (1944) waar dit onder die opskrif “Na droogte” geplaas is. ’n Bykans nuwe teks is geskryf deur A van der Colf (#164) vir die 1978-bundel. Dit is so oorgeneem in die Liedboek (2001). 

Melodie 
Die melodie DU LEBENSBROT, HERR JESU CHRIST het vir die eerste keer verskyn saam met ’n nagmaallied van Johann Rist, “Du Lebensbrot, Herr Jesu Christ”, in Praxis Pietatis Melica (Frankfurt am Main, 1668). Die komponis was Peter Sohren. Sohren het die 1668-uitgawe van Praxis Pietatis Melica na Johann Crüger se afsterwe versorg. Die melodie is ritmies aangepas in 2001. 

Peter Sohren (Sohr/Sohrer) (*c 1630, Elbing; †c 1692, Elbing, Pruise) was die seun van Daniel Sohren wat orrelis, kantor en onderwyser van die Heiligleichnam Kirche in Elbing was. Hy onderrig sy seun in musiek en teologie. Peter Sohren was orrelis van die Dreikönigskerk in Elbing en in 1665-1692 kantor en onderwyser aan die Heiligleichnam Kirche daar. Min inligting is oor hom bekend totdat sy melodie, DU LEBENSBROT, HERR JESU CHRIST in bogenoemde publikasie verskyn het. Op die titelblad beskryf hy homself as ’n“Schul- und Rechenmeister”. Sohren se 1668-uitgawe van die Praxis Pietatis Melica bevat sowat 220 en sy bundel Musikalischer Vorgeschmack (1683) 242 van sy melodieë. 

Bronne 
Cillié: 75-76; GCLB: 286-287; HCLBW: 289-290; KLEG: 302.