Lied 438

Ilse Pelem

Sections

Downloads

Vir Sang: ‘n PDF-dokument wat ’n melodielyn en lirieke bevat. In sommige gevalle bevat die dokument ook akkoorde.

Vir Begeleiding: ‘n PDF-dokument wat meerstemmige begeleiding vir orrel en/of klavier bevat. In sommige gevalle bevat hierdie dokument ook die lirieke van die lied.

Opname: Opname van van die lied, beskikbaar as mp3-lêer.

Aanbieding: ‘n Powerpoint aanbieding van die lied se lirieke.

Lirieke

1. Gees van God, o Gees van lewe,
ware God van ewigheid,
laat ons nooit u wil weerstrewe,
lei ons tot gehoorsaamheid.
Stel ons in u diens al meer
wil U self u kerk regeer.

2. Lei U self u kerk se lede
om vrymoedig te getuig.
Luister na u volk se bede
as ons smekend voor U buig.
Al ons woorde is te min
tree U self tog vir ons in.

Geskiedenis

Teks 
Die Pinksterlied “Komm, o komm, du Geist des Lebens” is geskryf deur Heinrich Held en het vir die eerste keer in druk verskyn in Johannes Niedling (#434) se Neuerfundener geistlicher Wasserquelle (Frankfurt an der Oder, 1658). Dit is ’n vrye omwerking van die Latynse himne “Veni, Creator, Spiritus” (sien Lied 430). Dit verskyn ook in Johann Crüger se Praxis Pietatis Melica (1659/1664). Held se teks is gedeeltelik gebruik deur Gerjo van der Merwe (#151) vir sy Afrikaanse weergawe in die 1978-bundel. Die teks is gewysig in die Liedboek (2001). 

Heinrich Held (*21 Julie 1620, Guhrau, Silesië; †16 Augustus 1659, Stettin) word beskou as een van die beste Silesiese liedskrywers en stam uit ’n vooraanstaande familie in Guhrau. Hy gaan skool in Guhrau totdat die plaag die dorp tref en sy vader hom verskuif na Glochau. In 1628 verhuis die familie na Fraustadt (toe deel van Pole) om die Katolieke vervolgings vry te spring. Daar leer hy Pools en studeer musiek. In 1637 gaan hy na die Gymnasium in Thorn waar sy digterlike gawes ontwikkel word. Hierna studeer hy vir twee jaar lank regte in Königsberg waarna hy as ’n onderwyser in Oos-Pruise werk tot met sy vader se dood toe hy terugkeer na Fraustadt. In 1642 skryf hy in aan die Universiteit van Frankfurt an der Oder. Hier word die eerste versameling van sy godsdienstige gedigte, Deutscher Gedichte Vortrab, in 1643 gepubliseer. Hierna studeer hy verder in die regte in Stettin en Rostock met behulp van ’n subsidie van die koningin Christine van Swede. Hy dien weer eens as onderwyser in Oos-Pruise en daarna reis hy na Nederland, Engeland en Frankryk met finansiële ondersteuning van die hertog Gustav Adolph van Mechlenburg. Hy vestig hom uiteindelik in Fraustadt waar hy in die regte praktiseer. As gevolg van die ontwrigtinge van die Dertigjarige Oorlog verskuif hy na Stettin waar hy by familie bly. Hy word stadsklerk in Altdamm, ’n voorstad van Stettin, kamerheer en raadslid in 1658. In die volgende jaar word Altdamm beset. Held word siek en teruggeneem na Stettin waar hy in dieselfde jaar sterf. 

Melodie 
Vir inligting oor die melodie, KOMM, O KOMM DU GEIST DES LEBENS, sien Lied 251. 

Bronne 
Cillié: 354-355; HCLBW: 499-410; KLEG: 137-138.