Lied 430

Sections

Lirieke

1. Kom, Skepper-Gees, besoek u kerk,
U wat vernuwe, ons versterk.
Vul self u skepping, Heil'ge Gees,
met krag op hierdie Pinksterfees.

2. U is die trooster wat ons lei,
geskenk van God wat by ons bly!
U, Lewensbron, van bo gestuur,
deurgloei ons met u liefdevuur!

3. Bestraal ons, Bron van alle lig,
en toon ons God se aangesig.
Deur U geheilig, spreek ons mond,
eer ons u dade oral rond.

4. Gee helder lig aan ons verstand
en laat u liefde in ons brand.
Ons self is nog so swak, ons wag
dat U ons sterk met Pinksterkrag.

5. Help ons die vyand teen te staan,
in vrede op ons pad te gaan.
Trek U as leidsman voor ons uit,
word alle bose mag gestuit.

6. Gee dat ons geest'lik helder sien,
die Vader, Seun in waarheid dien.
O Gees, van albei uitgegaan,
U't ons kom troos, by ons kom staan.

7. Kom, Skepper-Gees, besoek u kerk,
U wat vernuwe, ons versterk.
Vul self u skepping, Heil'ge Gees,
met krag op hierdie Pinksterfees.

Geskiedenis

Teks 
Dit is nie seker wie die oorspronklike skrywer van die Latynse himne “Veni, Creator Spiritus” was nie en name soos dié van Charlemagne, Ambrosius en pous Gregorius die Grote word genoem. Die negende-eeuse teoloog en wetenskaplike, Hrabanus Maurus, word egter wyd aanvaar as die outeur. Die himne “Veni, Creator Spiritus” word aangeprys as die grootste himne naas die “Te Deum Laudamus” en dit is moontlik geskryf vir die sinode wat in 809 in Aachen vergader het. Die vroegste gebruik van die himne was vir vesperdienste gedurende die week van Pinkster in die 10de eeu. Die gebruik van die himne vir ’n inhuldigingsdiens, dateer uit 1049 by die sinode van Reims. In 1307 is dit ingesluit vir die kroningsplegtigheid van Edward II in die Liber Regalis en word sedertdien gebruik by Engelse kroningsplegtighede. Voor-reformatoriese Duitse weergawes uit die 12de eeu is gedokumenteer, maar die tekste is waarskynlik ouer. Luther (#252) het ’n Duitse vertaling gemaak “Komm, Gott Schöpfer, Heiliger Geist”, wat gepubliseer is in die Erfurt Enchiridion (1524). Die Afrikaanse vertaling in die 1978-bundel is deur Izak de Villiers (#153) en André Hugo (#282) gedoen en dit is so oorgeneem in die Liedboek (2001). 

Hrabanus Maurus (Rabanus/Rhabanus) (*c 780, Mainz; †4 Februarie 856, Winkel aan die Ryn) word beskou as een van die belangrikste geleerdes en skrywers van die vroeë Middeleeue (Karolingiese tydperk). Hy is opgelei in Fulda waarna hy hom aansluit by die Benediktynse orde. Maurus word ’n prominente Frankiese geestelike. In 801 word hy ingehuldig as diakonus en gaan daarna na Tours om verder te studeer onder die geleerde en digter Alciun (735-804). Laasgenoemde gee aan hom die naam Maurus, na aanleiding van St Maurus wat ’n volgeling van St Benedikt was. In 803 word hy aangestel as hoof van die kloosterskool in Fulda. In 814 word hy geordineer as priester en in 822 word hy die ab van Fulda. Twintig jaar later bedank hy en tree af in die klooster van die nabygeleë Petersberg. Hy was die aartsbiskop van Mainz vanaf 847 tot met sy dood. 

Hrabanus skryf verskeie Bybelkommentare en verhandelings oor ’n wye verskeidenheid onderwerpe rakende kerklike sake en dogmatiek. Een van sy mees gewilde werke was ’n uitsonderlike versameling van gedigte oor die kruis: De laudibus sanctae cruces. Ander werke wat vermelding verdien, is die ensiklopedie De universo libri xxii sive etymologiarum opus en De ecclesiastics discipline. 

Melodie 
Die melodie VENI, CREATOR SPIRITUS (KOMM, GOTT SCHÖPFER, HEILIGER GEIST) is sedert die Middeleeue (Kempten, c 1000) verbind met die gelyknamige teks. Dit is in wese ’n aanpassing van die “Veni, creator spiritus”-gelyksang en word vir die eerste keer gepubliseer in die Erfurt Enchiridion (Erfurt, 1524) met die teks van Luther, “Komm, Gott Schöpfer, Heiliger Geist”. Dit is ook gepubliseer in die Gesangbuch (1529) van Klug. Hierdie boek het verlore gegaan, maar die teks is bekend uit latere drukke soos die Geistliche lieder auffs new gebessert (Wittenberg, 1533). Die melodie het verskeie vorms. Party geleerdes meen dat Luther dalk self die aanpassings aan die melodie vir sy teks gemaak het en die oorspronklike melismas verwyder het. 

Bronne 
CDH; CE; Cillié: 352-353; CGLB: 581-582; CWH: 204-205; HC: 417; HCLBW: 351, 473, 494; Hymnary.org