Lied 422

Sections

Lirieke

1. Die Heer, die Heer het opgestaan!
Die Heer het wáárlik opgestaan!
Vir sondaars het die Heer gesterf,
die lewe deur sy dood verwerf!
Oorwinning is vir ons verkry
oor sondemag en -heerskappy.

2. Die Heer, die Heer het opgestaan!
Die Heer het wáárlik opgestaan!
Vir sondaars het die Heer gesterf;
die lewe deur sy dood verwerf.
Hy het oorwin die dood, die hel.
Ons kan dit wÍreldwyd vertel!

3. Die Heer, die Heer het opgestaan!
Die Heer het wáárlik opgestaan!
Aan Hom die lof, die roem en eer,
Hy laat ons mét Hom triomfeer.
Laat ons, o Here, deur u Gees,
afhanklik en oorwinnaars wees.

Geskiedenis

Teks 
Johann Lavater het die oorspronklike Duitse gedig “O, Du der einst im Grabe lag” geskryf en in 1772 gepubliseer in sy Lieder zum Gebrauche des Waysenhauses zu Zürich. Dit is in Nederlands vertaal deur Ahasverus van den Berg (#198) as “De Heer is waarlijk opgestaan” in die Evangelische Gezangen (1806) en ’n Afrikaanse weergawe, “Die Heer het waarlik opgestaan”, verskyn in die AGB 1944. Dit is gewysig deur Attie van der Colf (#164) vir die 1978-bundel. Vir die Liedboek (2001) het Van der Colf feitlik ’n nuwe teks geskep. 

Johann Kaspar Lavater (*15 November 1741, Zürich; †2 Januarie 1801, Zürich) was ’n prominente predikant en digter in Zürich. Hy was die seun van ’n dokter en is opgelei aan die akademiese gimnasium en die teologiese fakulteit van die Universiteit van Zürich. Lavater is ingeseën as priester in 1762 en word aangestel as diakonus van die Weeshuiskerk in 1769 waar hy in 1775 ook pastor word. In 1778 word hy diakonus van die St Peter’s-kerk in Zürich, en in 1786 pastor daar. Gedurende die Franse besetting van Switserland in 1799 is Lavater gearresteer weens sy protes teen die inval. Hy word geskiet deur ’n Franse soldaat in September 1799 en het nooit ten volle van sy wonde herstel nie. Hy is 18 maande later oorlede. 

Naas sy teologiese werke en gedigte, was Lavater in sy tyd bekend as ’n skrywer oor fisionomiek. Sy teologiese werk sluit onder meer in Aussichten in die Ewigkeit (Zürich, 1768-1778). Sy kerkliedere is gepubliseer in verskeie versamelings: Funfzig Christlicher Lieder (Zürich, 1771); Lieder zum Gebrauche des Waysenhauses zu Zürich (1772); Christliche Lieder der Vaterländischen Jugend, besonders auf der Landschaft, gewiedmet (Zürich, 1774); Zweytes Funfzig Christlicher Lieder (Zürich, 1776); Christliche Lieder … Zweytes Hundert, (Zürich, 1780); en Sechszig Lieder nach dem Zürcherischen Catechismus (Zürich, 1780). 

Melodie 
Die melodie MELITA deur John Dykes (#169) is oorspronklik geskryf vir William Whiting (1825-1878) se teks “Eternal Father, Strong to Save”(1860) en is gepubliseer in Hymns Ancient and Modern (1861) met hierdie teks. MELITA is die Romeinse naam vir die eiland Malta waar Paulus ’n skipbreukeling was op pad na Rome as ’n gevangene (Hand 28:1-2). Dit is opvallend dat Whiting se teks oor seevaarders gaan en die moontlikheid van ’n raakpunt met die skipbreuk van Paulus bestaan. 

Die melodie is ritmies aangepas in die Liedboek (2001). 

Van den Berg se Nederlandse teks (1806) is nog gesing op die oorspronklike Duitse melodie AUF DICH, MEIN VATER, WILL ICH TRAUEN. Die Afrikaanse vertaling van die AGB (1944) het egter nie meer hierop gepas nie en PK de Villiers (#250) het toe ’n nuwe melodie gemaak. Dit het egter nie inslag gevind nie. Toe Van der Colf in sy teks dieselfde versmaat behou het as die weergawe van die AGB, is die melodie MELITA vir die teks gekies. 

Bronne 
CDH; CGLB: 1071-1073; Cillié: 264-265; HCLBW: 467; Hymnary.org; Knight: 291-292; PHH: 584-585.